-
‘Dit gaan baie groot skade berokken’Die Wagtoring – 1987 | Mei 15
-
-
‘Dit gaan baie groot skade berokken’
DIE Eerste Wêreldoorlog het ’n enorme tol in menselewens en eiendom geëis. Die skade wat die oorlog die beeld van die Christendom se sendelinge in Afrika berokken het, is egter minder bekend. Volgens Katolieke sendeling Francis Schimlek in sy boek Medicine Versus Witchcraft was die nuus van hierdie wêreldwye oorlog “soos ’n aardbewing, waarvan die trilling so ver soos die laaste sendingstasie in die bosse van Afrika gevoel is. . . . Die boodskappers van Christus is in verleentheid gebring, en die boorling-Christene was verward.”
Waarom? Schimlek haal sendeling Albert Schweitzer aan, wat verduidelik het: “Ons weet almal dat talle Boorlinge nie kan verstaan hoe die Blankes, wat die Evangelie van Liefde gebring het, mekaar nou kan vermoor, en die bevele van die Here Jesus kan veronagsaam nie. Wanneer hulle die vraag aan ons stel, is ons hulpeloos. . . . Ek is bevrees dat dit baie groot skade gaan berokken.”
-
-
Vrae van lesersDie Wagtoring – 1987 | Mei 15
-
-
Vrae van lesers
◼ Moses het vir die Israeliete gesê: “Die geopenbaarde dinge is vir ons en ons kinders tot in ewigheid” (Deuteronomium 29:29). Sluit hierdie “geopenbaarde dinge” die lig in wat gedurende hierdie laaste dae op God se Woord gewerp word?
Nee, dit sou nie korrek wees om die begrip van profesieë wat ons gedurende hierdie laaste dae ontvang het op dieselfde vlak te plaas as “die geopenbaarde dinge” wat Moses bespreek het nie.
Volgens die konteks van Moses se woorde het “die geopenbaarde dinge” waarvan hy gepraat het met die Wetsverbond verband gehou (Deuteronomium 29:25). Moses het getoon dat hierdie “geopenbaarde dinge” verantwoordelikhede meegebring het. Die versuim om hierdie verantwoordelikhede na te kom, sou Jehovah sy volk laat tugtig.
Die Wetsverbond was natuurlik ’n openbaring van Jehovah God. Dit is voorafgegaan deur ander openbaringe aan die aartsvaders, aan Noag, en terug tot by Adam. Moses is gebruik om die dinge wat tot op sy dag geopenbaar is op skrif te bring, en dit is in die eerste vyf boeke van die Bybel vir ons bewaar. Soos die artikel “Die geopenbaarde dinge is vir ons” (Die Wagtoring, 15 Mei 1986) verduidelik het, het hierdie “geopenbaarde dinge” later al die inligting ingesluit wat in die Bybel opgeteken is.—2 Timotheüs 3:16.
Die Bybel bevat derhalwe “die heilige uitsprake van God”, die dinge wat hy geopenbaar het (Romeine 3:2, NW). Toe die natuurlike Jode ontrou geword het, het gesalfde Christene die rentmeesters van hierdie “geopenbaarde dinge” geword, en die Christengemeente het “’n pilaar en ondersteuning” daarvoor geword (1 Timotheüs 3:15, NW; 1 Korinthiërs 4:1, vgl. NW). Lede van daardie gemeente kan vandag dus gepas Moses se woorde tot hulle eie maak: “Die geopenbaarde dinge is vir ons.”
Jehovah het vandag baie lig op hierdie “geopenbaarde dinge” gewerp, Soos Daniël voorspel het, het Jehovah se volk die geïnspireerde Woord ‘deursoek’, en ‘die ware kennis het oorvloedig geword’ (Daniël 12:4, vgl. NW). Ons weet derhalwe wie die “ander skape” is (Johannes 10:16). Ons herken die “groot menigte” (Openbaring 7:9-17). Ons sien die vervulling van die gelykenis van die skape en die bokke (Mattheüs 25:31-46). Sulke dinge is aan ons geopenbaar, of bekend gemaak, maar nie in die sin van “die geopenbaarde dinge” wat in Jehovah se geïnspireerde Woord opgeteken is nie.
Dit sou dus nie korrek wees om sulke vooruitgang in begrip op dieselfde vlak te plaas as die geïnspireerde openbaringe wat “die geopenbaarde dinge” uitmaak wat in die Bybel opgeteken is nie. Jehovah se volk het eerder deur ’n intensiewe studie van die Bybel biddend ’n korrekte begrip van daardie “geopenbaarde dinge” gesoek. Jehovah het, deur middel van heilige gees, daardie begrip op sy bestemde tyd gegee.
Die Bybel sê vir ons: “Die pad van die regverdiges is soos die lig van die môreglans, wat al helderder word tot die volle dag toe” (Spreuke 4:18). Die toenemende lig wat Jehovah op “die geopenbaarde dinge” gewerp het, toon dat daardie “dag” nader kom en bewys dat sy seën vandag op die Christengemeente rus.
-