Hoofstuk 19
’n Aardse paradys is voor die deur
1, 2. (a) Wat is die normale menslike begeerte, maar watter dinge verhinder dat dit verwesenlik word? (b) Watter toestande sou ideaal wees?
SOU jy graag wou hê dat jou lewe onbepaald moet voortduur en ryk en bevredigend moet wees? Jou antwoord is waarskynlik: Ja. Daar is soveel interessante dinge om te doen, bekorende plekke om te sien en nuwe dinge om te leer.
2 Maar oënskynlik onoplosbare probleme verhinder dat ons die lewe geniet. Daar is byvoorbeeld die betreklike kortstondigheid van ons teenswoordige lewe. Daarbenewens is die lewe dikwels vol siekte, droefheid en moeilikheid. As mense die lewe in alle opsigte ten volle wou geniet, sou die ideale situasie wees om (1) ’n paradysagtige omgewing, (2) volkome veiligheid, (3) interessante werk, (4) blakende gesondheid, en (5) ewige lewe te hê.
3. Wie alleen kan sulke ideale toestande skep?
3 Maar is dit te veel gevra? Uit die menslike standpunt is dit beslis. Die geskiedenis het getoon dat mense, op hulle eie, eenvoudig nie sulke ideale toestande kan skep nie. Maar uit ons Skepper se standpunt is daardie dinge nie alleen moontlik nie, maar onvermydelik! Waarom? Omdat sulke wenslike toestande deel uitgemaak het van God se oorspronklike voorneme met hierdie aarde.—Psalm 127:1; Mattheüs 19:26.
Die Paradys gaan herstel word
4. Wat was God se oorspronklike voorneme met hierdie aarde?
4 Soos in vorige hoofstukke gemeld is, was die eerste twee mense nie soos diere nie. Hulle is eerder volkome menslik geskape. Hulle oorspronklike tuiste, Eden, was “’n paradys van genot” (Genesis 2:8, Douay Version). Hulle moes dit ‘bewerk en bewaak’ (Genesis 2:15). Daarbenewens het hulle rol op aarde hierdie eg menslike, administratiewe taak ingesluit: “Wees vrugbaar en vermeerder en vul die aarde, onderwerp dit” (Genesis 1:28). Namate hulle afstammelinge vermeerder het, sou dit hulle taak wees om die grense van hierdie pragtige tuin uit te brei en die hele aarde in ’n paradys om te skep. Hoe lank sou dit duur? Die Bybel sê deurgaans dat die aarde “vir ewig en altyd” sal bly (Psalm 104:5; Prediker 1:4). Die paradysaarde moes dus permanent ’n genotvolle tuiste vir volmaakte mense wees wat vir ewig daarop sou woon.—Jesaja 45:11, 12, 18.
5. Waarom kan ons seker wees dat God se voorneme verwesenlik gaan word?
5 Hoewel die opstand in Eden tydelik die vervulling van God se voorneme onderbreek het, het dit nie daardie voorneme verander nie. God het die middel voorsien om ’n einde aan die skade te maak en die Paradys te herstel. Die instrument om dit te doen, is die Koninkryk van God, die hemelse regering wat Jesus so ’n belangrike deel van sy boodskap aan die mensdom gemaak het (Mattheüs 6:10, 33). En ons kan daarvan seker wees dat God se oorspronklike voorneme volbring sal word. Die almagtige Skepper verseker ons: “So sal my woord wees wat uit my mond uitgaan: dit sal nie leeg na My terugkeer nie, maar doen wat My behaag en voorspoedig wees in alles waartoe Ek dit stuur.”—Jesaja 55:11.
6, 7. (a) Hoe weet ons dat die Paradys binnekort herstel gaan word? (b) Wie sal deur die einde van hierdie stelsel heen bewaar word, en wie nie?
6 Dit is bemoedigend om in ons dag wêreldgebeure te sien wat “die teken” van “die laaste dae” vervul (Mattheüs 24:3-14; 2 Timotheüs 3:1-5). Dit toon dat die tyd ophande is wanneer God se “woord” ‘voorspoedig sal wees’. Hierdie voorspoed of welslae is gewis omdat die almagtige God in menseaangeleenthede gaan ingryp om te sorg dat sy voornemens volbring word (Jeremia 25:31-33). Ons kan verwag om binnekort die vervulling te sien van die profetiese psalm wat sê: “Die kwaaddoeners sal uitgeroei word; maar die wat die HERE verwag, hulle sal die aarde besit. En nog ’n klein rukkie en die goddelose sal daar nie wees nie . . . Die regverdiges sal die aarde besit en vir ewig daarop woon.”—Psalm 37:9-11, 29; Mattheüs 5:5.
7 Diegene wat verkies om onafhanklik van die Skepper te wees, sal dus “uitgeroei” word. Diegene ‘wat Jehovah verwag’, sal die einde van hierdie stelsel oorlewe en begin om die Paradys te herstel. Dit sal geleidelik uitbrei totdat dit die hele aarde oordek. Hierdie Paradys sal so gewis kom dat Jesus met volkome vertroue vir die dief wat langs hom tereggestel is, kon sê: “Voorwaar ek sê vandag vir jou, Jy sal saam met my in die Paradys wees.”—Lukas 23:43, NW.
Die aarde hernieu
8, 9. Hoe sal toestande op die letterlike aarde radikaal verander?
8 Die Bybel se beskrywing van die Paradys is waarlik asemrowend. Dit vertel byvoorbeeld dat die aarde self ’n dramatiese verandering sal ondergaan. Jy sal onthou dat toe die eerste mense uit Eden verdryf is, hulle meegedeel is dat die grond dorings en distels sou voortbring en dat hulle slegs in die sweet van hul aangesig kos sou kon kweek (Genesis 3:17-19). Van toe af was dit ’n voortdurende stryd teen uitbreidende woestyne, onvrugbare grond, droogte, onkruid, insekte, plantsiektes en misoeste. Alte dikwels het hongersnood geseëvier.
9 Maar hierdie situasie gaan verander word: “Die woestyn en die dor land sal bly wees, en die wildernis sal juig en bloei soos ’n narsing; . . . want in die woestyn breek waters uit en strome in die wildernis. En die gloeiende grond sal ’n waterplas word, en die dorsland fonteine van water.” “Vir ’n doringboom sal ’n sipres opgaan; vir ’n distel sal ’n mirteboom opgaan” (Jesaja 35:1, 6, 7; 55:13). Die verwesenliking van God se voorneme sal dus beteken dat die mensdom die uiters aangename taak sal hê om die aarde om te skep in ’n pragtige plek wat vir ewig aan sy bewoners genot sal verskaf. Maar dit beteken meer as net natuurskoon.
’n Einde aan armoede
10, 11. Hoe sal Jehovah van honger ontslae raak?
10 Die omskepping van groot woestyne en droogtegeteisterde gebiede sal ’n geweldige vermeerdering van bewerkbare grond tot gevolg hê. Met die Skepper se toesig sal die mens daarin slaag om die aarde vrugbaarder as ooit tevore te maak: “Die Here sal voorspoed skenk en ons land sal sy oes gee” (Psalm 85:13, NAV). Daardie “oes” sal “volheid van koring . . . in die land, op die top van die berge” meebring (Psalm 72:16). Nooit weer sal miljoene honger ly nie.—Jesaja 25:6.
11 Werkloosheid sal ook tot die verlede behoort, vir ewig uitgewis wees. En almal sal die vrugte van hulle arbeid geniet: “Hulle sal . . . wingerde plant en die vrug daarvan eet . . . hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie” (Jesaja 65:21, 22). Dit sal die soort ekonomiese sekuriteit tot gevolg hê wat inEsegiël 34:27 beskryf word: “Die bome van die veld sal hulle vrugte gee, en die land sal sy opbrings gee, en hulle sal veilig wees in hul land.”
12. Wie sal behoorlike behuising in die Paradys hê?
12 Maar mense het ook ’n ingeskape begeerte na ’n behoorlike huis en grond om blomme en bome te plant. Is dit behoorlike behuising wanneer miljoene mense in groot woonstelgeboue of krotbuurte ingeprop word of op straat woon? Geeneen van daardie toestande sal in die komende Paradys bestaan nie, want God het hom voorgeneem: “Hulle sal huise bou en bewoon, . . . hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie.” Daardie wêreldwye bouprogram sal volkome geslaag en blywend wees: “My uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet. Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei . . . nie” (Jesaja 65:21-23). Behoorlike behuising sal dus nie net die voorreg van ’n ryk minderheid wees nie, maar sal geniet word deur almal wat hulle aan God se heerskappy onderwerp.
Geen siekte of dood meer nie
13, 14. Wat sal met siekte, gebreke en selfs die dood gebeur?
13 God se Woord verseker ons ook dat die bevredigende toestande in die Paradys nie deur gebreke of siekte bederf of ontydig deur die dood beëindig sal word nie: “Geen inwoner sal sê: Ek is siek nie” (Jesaja 33:24). “God sal al die trane van hulle oë afvee, en daar sal geen dood meer wees nie; ook droefheid en geween en moeite sal daar nie meer wees nie, want die eerste dinge het verbygegaan.”—Openbaring 21:4.
14 Stel jou ’n wêreld voor waar alle kwale en gebreke genees sal wees! God se Woord sê: “Dan sal die oë van die blindes geopen en die ore van die dowes ontsluit word. Dan sal die lamme spring soos ’n takbok, en die tong van die stomme sal jubel” (Jesaja 35:5, 6). Watter wonderlike transformasie! En dink ook aan die wonderlike vooruitsig om daarna so lank soos God te lewe—vir ewig! Nooit weer sal die dood vir die mensdom ’n vloek wees nie, want God “sal die dood vir ewig vernietig”.—Jesaja 25:8.
15. Wat sal gebeur met bejaardes wat hierdie stelsel se einde oorlewe?
15 Maar wat van diegene wat die einde van hierdie stelsel oorlewe en wat reeds bejaard is? Sal hulle bloot as bejaardes goeie gesondheid geniet en vir ewig so bly? Nee, want God het die vermoë om die verouderingsproses om te keer, en hy gaan dit doen. Die Bybel beskryf dit soos volg: “Dan sal sy liggaam weer jonk word, weer word soos in die dae van sy jeug” (Job 33:25, NAV). Bejaardes sal geleidelik die volmaakte manlikheid en vroulikheid terugkry wat Adam en Eva in Eden geniet het. Hierdie proses sal een van die gevolge wees van die “herskepping” waarvan Jesus gepraat het.—Mattheüs 19:28, NW.
Blywende wêreldvrede
16, 17. Waarom sal die Paradys nie deur oorlog of geweld ontwrig word nie?
16 Sal die Paradys ooit deur oorlog of gewelddadigheid ontwrig word? Nee, “want die opregtes sal die land bewoon, en die regskapenes daarin oorbly, maar die goddelose sal uit die land uitgeroei, en die ontroues sal daaruit weggeruk word” (Spreuke 2:21, 22). Daar kan nie meer oorlog of gewelddadigheid wees wanneer rusverstoorders nie langer bestaan nie.
17 Waarom word diegene wat “oorbly” nadat God die goddeloses en die ontroues uitgeroei het die “opregtes” en “regskapenes” genoem? Omdat hulle reeds opleiding ontvang het in God se standaarde vir vreedsame naasbestaan en hulle na daardie standaarde geskik het. Daardie kennis van God, en onderworpenheid aan sy wette, is die sleutel tot vrede in die Paradys, want die Bybel sê: “Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig . . . nie; want die aarde sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek” (Jesaja 11:9). Jesus het ook gesê: “Hulle sal almal deur God geleer wees”, en bygevoeg dat diegene wat hierdie leer aanvaar en daarvolgens lewe “die ewige lewe” sal hê.—Johannes 6:45-47.
18. Wie word reeds vandag opgelei vir vreedsame lewe in die Paradys?
18 Hierdie Godgeoriënteerde, wêreldwye opleidingsprogram sal ’n volkome vreedsame en harmoniese wêreld tot gevolg hê waarin daar geen misdadigheid, vooroordeel, haat, politieke verdeeldheid en oorlog is nie. Die waarde van hierdie opleiding is reeds te sien onder miljoene van Jehovah se Getuies rondom die aarde. Hulle maak ’n internasionale broederskap uit wat gebaseer is op liefde en wedersydse respek (Johannes 13:34, 35). Hulle wêreldwye vrede en eenheid is onverbreeklik. Nie eens vervolging of wêreldoorloë kan hulle oorreed om die wapens teen hulle naaste op enige plek in die wêreld op te neem nie. Aangesien sulke wêreldwye vrede en eenheid selfs in vandag se verdeelde wêreld kan bestaan, sal dit tog seker baie makliker wees om hierdie patroon onder God se heerskappy in die Paradys voort te sit.—Mattheüs 26:52; 1 Johannes 3:10-12.
19. Watter hedendaagse vervulling van profesie sal in die Paradys voortduur?
19 Wanneer die Paradys herstel word, sal aardwye vrede gevolglik uit die staanspoor heers. En die oorlewendes van God se wêreldoorlog te Armageddon sal voortgaan om te lewe volgens die woorde van die profesie wat hulle nou reeds vervul: “Nie meer sal nasie teen nasie die swaard ophef nie, en hulle sal nie meer leer om oorlog te voer nie.” Dit is waarom die profesie kan byvoeg: “Hulle sal sit elkeen onder sy wingerdstok en onder sy vyeboom, sonder dat iemand hulle verskrik” (Miga 4:3, 4). Hoe lank? Die hartverblydende belofte is: “Vrede sonder einde.”—Jesaja 9:6.
20. Wat gaan Jehovah met die nasies en hulle krygstuig doen?
20 Die gemilitariseerde nasies het weliswaar vandag vir hulle krygstuig versamel soos nooit tevore nie. Maar dit beteken niks vir die Een wie se krag die heelal geskep het nie. Hy sê vir ons wat hy binnekort met die krygstuig van die nasies gaan doen: “Kom, aanskou die dade van die HERE, wat verskriklike dinge oor die aarde bring, wat die oorloë laat ophou tot by die einde van die aarde, die boog verbreek en die spies stukkend slaan, die strydwaens met vuur verbrand” (Psalm 46:9, 10). Die verbryseling van die nasies en hulle krygsmag sal die weg baan vir blywende wêreldvrede in die Paradys.—Daniël 2:44; Openbaring 19:11-21.
Vrede met die diereryk
21, 22. Watter verhouding sal tussen mens en dier herstel word?
21 Om die wêreldwye vrede van die Paradys af te rond, sal die harmonie wat in Eden tussen mense en diere bestaan het, herstel word (Genesis 1:26-31). Die mens vrees vandag baie diere en is op sy beurt vir hulle ’n bedreiging. Maar dit sal nie in die Paradys die geval wees nie. Net soos God in Eden die vrede tussen mens en dier bewaar het, sal hy weer in die Paradys doen. Die mens se liefdevolle heerskappy oor die diere sal dus weer eens ’n werklikheid wees.
22 In hierdie verband sê die Skepper: “Verder sluit Ek in dié dag vir hulle ’n verbond met die wilde diere van die veld en met die voëls van die hemel en die kruipende diere van die aarde” (Hosea 2:17). Met watter gevolg? “Ek sal ’n verbond van vrede met hulle sluit en die wilde diere uit die land laat verdwyn; en hulle sal veilig bly in die woestyn en slaap in die bosse.”—Esegiël 34:25.
23. Watter ingrypende verandering in die diereryk het Jesaja voorspel?
23 Die vrede wat dan onder mense, asook tussen mens en dier sal bestaan, sal ook in die diereryk weerspieël word: “Dan wei die wolf by die lam, en die luiperd gaan lê by die bokkie, en die kalf en die jong leeu en die vetgemaakte vee bymekaar, en ’n klein seuntjie sal hulle aanja. Die koei en die berin wei, en hulle kleintjies lê bymekaar; en die leeu eet strooi soos die os; en die suigling speel by die gat van ’n adder, en die gespeende kind steek sy hand uit na die kuil van ’n basilisk. Hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie.”—Jesaja 11:6-9.
24. Hoe beskryfPsalm 37 die vrede wat in die Paradys sal bestaan?
24 Watter pragtige beskrywing gee die Bybel tog van die algehele vrede wat in die Paradys sal bestaan! Dit is geen wonder nie datPsalm 37:11 die volgende oor die lewe in daardie nuwe stelsel sê: “Die ootmoediges . . . sal die aarde besit en hulle verlustig oor groot vrede.”
Die dode keer terug
25, 26. (a) Wat beloof God se Woord oor die dode? (b) Waarom is dit vir die Skepper geen probleem om almal te onthou wat gesterf het nie?
25 Die voordele wat in die Paradys geniet gaan word, is nie beperk tot diegene wat die einde van die teenswoordige stelsel oorlewe nie. Onder die heerskappy van God se hemelse Koninkryk sal ’n uiters verbasende oorwinning behaal word—’n algehele oorwinning oor die dood. Want nie alleen sal die erfdood verslaan word nie, maar diegene wat reeds dood is, sal opgewek word en die geleentheid kry om in die Paradys te lewe! God se Woord waarborg dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges” (Handelinge 24:15). Watter vreugdevolle geleentheid sal dit tog nie wees wanneer geslag na geslag dierbares uit die graf teruggebring word nie!—Lukas 7:11-16; 8:40-56; Johannes 11:38-45.
26 Jesus het gesê: “Daar kom ’n uur wanneer almal wat in die grafte is, sy stem sal hoor en sal uitgaan, die wat goed gedoen het, tot die opstanding van die lewe, en die wat kwaad gedoen het, tot die opstanding van die veroordeling” (Johannes 5:28, 29). Ja, diegene in God se geheue sal weer lewend gemaak word. En ons moenie dink dat dit ’n taak is waarteen God nie opgewasse is nie. Onthou, hy het honderdmiljarde, ja, biljoene sterre geskep. En die Bybel sê dat hy hulle almal “by die naam” roep (Jesaja 40:26). Die getal mense wat al gelewe en gesterf het, is slegs ’n breukdeeltjie van daardie syfer. God se geheue kan dus maklik hulle en hulle lewenspatrone bevat.
27. Watter geleentheid sal almal in die Paradys hê?
27 Al die verresenes sal in ’n paradysomgewing opleiding in God se regverdige standaarde ontvang. Hulle sal nie deur goddeloosheid, lyding of ongeregtigheid gehinder word soos in hulle vorige lewe nie. As hulle God se heerskappy aanvaar en hulle na sy standaarde skik, sal hulle waardig geag word om aan te hou lewe (Efesiërs 4:22-24). Indien die dief wat langs Jesus tereggestel is in die Paradys wil bly, sal hy moet ophou om ’n dief te wees en eerlik word. Maar diegene wat teen God se regverdige heerskappy in opstand kom, sal nie toegelaat word om aan te hou lewe en ander se vrede en vreugde te bederf nie. Hulle sal veroordeel word. Elke persoon sal gevolglik ’n behoorlike en billike geleentheid gegun word om te toon of hy waarlik die lewe waardeer op ’n paradysaarde waar “geregtigheid woon”.—2 Petrus 3:13.
28. Wat is ophande?
28 Saam met die oorlewendes van Armageddon sal die verresenes dan ’n lewe van eindelose blydskap geniet. Die volmaakte mensebrein, met ’n ontsaglike potensiaal vir kennis, sal vir ewig informasie kan absorbeer. Dink net wat ons oor die aarde en die ontsagwekkende heelal met sy miljarde melkweë kan leer! Dink aan die uitdagende en bevredigende werk wat ons sal kan doen op die gebied van konstruksie, parkaanleg, tuinbou, die onderwys, kuns, musiek en op talle ander terreine! Die lewe sal gevolglik nie vervelig of onproduktief wees nie. Elke dag in die Paradys sal eerder ’n ‘verlustiging’ wees, soos die Bybel voorspel (Psalm 37:11). Ja, ons staan op die drempel van ’n wonderlike nuwe tydvak.
[Lokteks op bladsy 232]
Mense kan nie ideale toestande skep nie, maar God kan
[Lokteks op bladsy 236]
Die aarde self sal ’n dramatiese verandering ondergaan
[Lokteks op bladsy 242]
Die verbryseling van die nasies en hulle krygsmag sal die weg vir wêreldvrede baan
[Lokteks op bladsy 244]
Hulle sal “hulle verlustig oor groot vrede”
[Lokteks op bladsy 246]
Ons staan op die drempel van ’n wonderlike nuwe tydvak
[Prent op bladsy 233]
Sulke ideale toestande sal ons in staat stel om die lewe ten volle te geniet
’n Paradysomgewing
Volkome veiligheid
Interessante werk
Blakende gesondheid
Ewige lewe
[Prent op bladsy 234]
Diegene wat verkies om onafhanklik van die Skepper te wees, sal uitgeroei word
[Prent op bladsy 235]
‘Die wat Jehovah verwag’, sal behoue bly
[Prent op bladsy 236, 237]
Die mensdom sal die aangename taak hê om die aarde in ’n paradys om te skep
[Prent op bladsy 238]
Almal sal ekonomiese sekuriteit geniet
[Prent op bladsy 239]
Die Paradys sal nie deur gebreke, siekte of die dood bederf word nie
[Prent op bladsy 240]
“Dan sal sy liggaam weer jonk word, weer word soos in die dae van sy jeug.”—Job 33:25, NAV
[Prent op bladsy 241]
Daar sal geen oorlog of gewelddadigheid in die Paradys wees nie. Alle wapens sal vernietig word.—Esegiël 39:9, 10
[Prent op bladsy 243]
Die vrede tussen mense en diere sal herstel word
[Prent op bladsy 245]
Die dode sal opgewek word en die geleentheid kry om in die Paradys te lewe! God se Woord waarborg dat “daar ’n opstanding sal wees van die dode, regverdiges sowel as onregverdiges”