Hoofstuk 11
Johannes berei die weg
SEWENTIEN jaar het verstryk sedert Jesus as ’n kind van 12 die leraars in die tempel uitgevra het. Dit is die noordelike lente van die jaar 29 G.J., en almal praat blykbaar van Jesus se neef Johannes wat in die hele gebied om die Jordaanrivier preek.
Johannes is inderdaad ’n indrukwekkende man, as gevolg van sy voorkoms sowel as sy spraak. Sy klere is van kameelhare, en hy dra ’n leergordel om sy heupe. Sy voedsel is sprinkane en wilde heuning. En sy boodskap? “Bekeer julle, want die koninkryk van die hemele het naby gekom.”
Hierdie boodskap maak sy toehoorders opgewonde. Baie mense besef dat hulle hul moet bekeer, dit wil sê, dat hulle hul gesindheid moet verander en hul vorige lewenswyse as ongewens moet verwerp. Mense kom dus in groot getalle uit die hele omtrek van die Jordaan en selfs van Jerusalem af na Johannes toe, en hy doop hulle deur hulle onder die water van die Jordaan te dompel. Waarom?
Johannes doop mense as simbool, of ter erkenning, van hulle hartgrondige bekering van sondes teen God se Wetsverbond. Wanneer sommige Fariseërs en Sadduseërs dus na die Jordaan toe kom, veroordeel Johannes hulle. “Addergeslag”, sê hy. “Dra . . . vrugte wat by die bekering pas. En moenie dink om by julleself te sê: ons het Abraham as vader nie; want ek sê vir julle dat God mag het om uit hierdie klippe kinders vir Abraham op te wek. Maar die byl lê ook al teen die wortel van die bome. Elke boom wat geen goeie vrugte dra nie, word uitgekap en in die vuur gegooi.”
Weens al die aandag wat Johannes geniet, stuur die Jode priesters en Leviete na hom toe. Hulle vra: “Wie is u?”
“Ek is nie die Christus nie”, erken Johannes.
“Wat dan?” vra hulle. “Is u Elia?”
“Ek is nie”, antwoord hy.
“Is u die profeet?”
“Nee.”
Gevolglik dring hulle by hom aan: “Wie is u?—dat ons antwoord kan gee aan die wat ons gestuur het. Wat sê u van uself?”
Johannes verduidelik: “Ek is die stem van een wat roep in die woestyn: Maak die pad van die Here reguit! soos Jesaja, die profeet, gesê het.”
“Waarom doop u dan”, wil hulle weet, “as u nie die Christus of Elia of die profeet is nie?”
“Ek doop in water”, antwoord hy. “Maar onder julle staan Hy vir wie julle nie ken nie—dit is Hy wat ná my kom.”
Johannes berei die weg deur mense in ’n regte harttoestand te kry om die Messias, wat Koning sal word, aan te neem. Johannes sê van Hom: “Hy wat ná my kom, is sterker as ek, wie se skoene ek nie waardig is om aan te dra nie.” Trouens, Johannes sê selfs: “Hy wat ná my kom, het voor my geword, want Hy was eerder as ek.”
Johannes se boodskap: “Die koninkryk van die hemele het naby gekom”, dien dus as ’n openbare aankondiging dat die bediening van Jehovah se aangestelde Koning, Jesus Christus, ophande is. Johannes 1:6-8, 15-28; Mattheüs 3:1-12; Lukas 3:1-18; Handelinge 19:4.
▪ Watter soort man is Johannes?
▪ Waarom doop Johannes mense?
▪ Waarom kan Johannes sê dat die Koninkryk naby gekom het?