-
Jehovah sorg nog altyd goed vir myDie Wagtoring – 1992 | September 1
-
-
toestand het kritiek geword. Ná ’n besoek het ’n dokter my na my motor toe gevolg en nadruklik gesê dat my vrou se enigste kans ’n operasie met bloed was, en hy het my gesmeek om daartoe in te stem. Maar ek en my vrou het op Jehovah vertrou—al sou gehoorsaamheid aan sy wet tot die verlies van ’n paar jaar van hierdie lewe lei.
Skielik was daar ’n duidelike verbetering in my vrou se toestand. Toe ek eendag daar aankom, het sy regop in die bed gesit en lees. Op daaropvolgende dae het sy aan pasiënte en die verpleegpersoneel begin getuig. Toe het die chirurg my na sy kantoor laat kom. Hy het gesê: “Mnr. Wharerau, jy is inderdaad ’n gelukkige man! Ons meen dat jou vrou se kwaal genees is.” Haar bloeddruk het onverwags gestabiliseer. Ek en my vrou het Jehovah saam gedank en ons opnuut voorgeneem om ons bes in Jehovah se diens te doen.
Ek het weer ’n toewysing na die Cook-eilande ontvang en dien weer eens in Rarotonga. Wat ’n geseënde voorreg is dit tog! As ek en my vrou terugkyk, is ons dankbaar vir Jehovah se sorg oor bykans vyf dekades in sy diens. Materieel was ons nog nooit sonder die lewensmiddele nie. In ’n geestelike sin is die seëninge te veel om te tel. ’n Vername seën is dat soveel van my familielede die waarheid aangeneem het. Ek kan meer as 200 tel, waaronder 65 nakomelinge, wat tans gedoopte Getuies van Jehovah is. Een kleinseun is ’n lid van die Nieu-Seelandse Bethelgesin terwyl ’n dogter saam met haar man en twee seuns met konstruksiewerk by takke help.—3 Johannes 4.
As ek vorentoe kyk, koester ek die vooruitsig om in ’n paradys te lewe waar die natuur selfs mooier sal wees as dié van die mooi, groen vallei waar ek gebore is. Wat ’n voorreg sal dit tog wees om my ma en pa in die opstanding terug te verwelkom en hulle te vertel van die losprys, die Koninkryk en al die ander bewyse van Jehovah se sorg.
My voorneme, wat versterk word deur die wete dat God vir my sorg, is dieselfde as dié van die psalmis in Psalm 104:33: “Ek wil sing tot eer van die HERE solank as ek lewe, ek wil psalmsing tot eer van my God solank as ek daar is.”—Soos vertel deur Sarn Wharerau.
-
-
Vrae van lesersDie Wagtoring – 1992 | September 1
-
-
Vrae van lesers
Vermy Jehovah se Getuies die viering van verjaarsdae omdat die gebruik in die ou tyd die een of ander godsdienstige betekenis gehad het?
Die viering van verjaarsdae is gewortel in bygelowigheid en valse godsdiens, maar dit is nie die enigste of vernaamste rede waarom Jehovah se Getuies die gebruik vermy nie.
Hoewel party gebruike vroeër godsdienstig van aard was, is dit op baie plekke nie meer so nie. Die trouring het byvoorbeeld vroeër ’n godsdienstige betekenis gehad, maar op die meeste plekke is dit vandag nie meer die geval nie. Gevolglik aanvaar talle ware Christene die plaaslike gebruik om ’n ring te dra wat toon dat ’n persoon getroud is. Wat gewoonlik in sulke sake die deurslag gee, is of die gebruik nou met valse godsdiens verband hou of nie.—Sien “Vrae van lesers” in Die Wagtoring van 1 April 1972 en 15 Oktober 1991.
Maar talle naslaanwerke toon ongetwyfeld dat die geskiedenis van die viering van verjaarsdae bygelowig en godsdienstig van aard is. The Encyclopedia Americana sê: “Die eertydse wêreld van Egipte, Griekeland, Rome en Persië het die verjaarsdae van gode, konings en die adelstand gevier.” Dit sê dat die Romeine die geboorte van Artemis en die dag van Apollo gevier het. Daarteenoor sê dit: “Hoewel die eertydse Israeliete geslagsregisters van hulle manlike burgers gehou het, is daar geen bewys dat hulle enige feeste op die geboortedag gevier het nie.”—1991-uitgawe.
Ander naslaanwerke bespreek die oorsprong van verjaarsdagvierings breedvoerig: ‘Verjaarsdagpartytjies het jare gelede in Europa begin. Mense het aan goeie en bose geeste geglo, wat soms goeie en bose feë genoem is. Almal was bang vir hierdie geeste, bang dat hulle die persoon wat verjaar skade kan berokken, en hy is derhalwe deur vriende en familielede omring wie se goeie wense en blote teenwoordigheid hom teen die onbekende gevare van die verjaarsdag sou beskerm. Die gee van geskenke het selfs groter beskerming gebring. Om saam te eet het ’n verdere beskerming gebied en gehelp om die seën van die goeie geeste te verkry. Die oorspronklike doel van die verjaarsdagpartytjie was dus om die persoon teen die bose te beskerm en om te verseker dat die jaar wat kom voorspoedig sou wees.’—Birthday Parties Around the World, 1967.
Die boek verduidelik ook waar baie verjaarsdaggebruike hulle oorsprong het. Byvoorbeeld: “Die rede [vir die gebruik van kerse] kan teruggevoer word tot die vroeë Grieke en Romeine wat gedink het dat fakkeltjies of kerse magiese eienskappe besit. Hulle het gebede gedoen en wense uitgespreek wat dan deur die vlamme van die kerse na die gode daarbo gedra moes word. Die gode sou dan hulle seën uitstort en miskien die gebede verhoor.” Nog soortgelyke agtergrondinligting is saamgevat op bladsy 413 en 414 van Redenering uit die Skrif, uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
Maar soos reeds gemeld, is daar meer by hierdie saak betrokke as die vraag of verjaarsdagvierings godsdienstig was of steeds is. Die Bybel roer die onderwerp van verjaarsdae aan, en ryp Christene slaan wyslik ag op enige aanduidings wat dit gee.
God se eertydse knegte het mense se geboortedatums aangeteken, en dit het hulle in staat gestel om ouderdomme te bereken. Ons lees: “Noag was vyfhonderd jaar oud, en Noag het die vader geword van Sem, Gam en Jafet.” “In die seshonderdste jaar van die lewe van Noag, . . . is al die fonteine van die groot watervloed oopgebreek.”—Genesis 5:32; 7:11; 11:10-26.
Soos selfs Jesus gesê het, was die geboorte van ’n kind ’n geseënde, vreugdevolle geleentheid onder God se volk (Lukas 1:57, 58; 2:9-14; Johannes 16:21). Tog het Jehovah se volk nie die geboortedatum gevier nie; hulle het wel ander gedenkdae gevier, maar nie verjaarsdae nie (Johannes 10:22, 23). Die Encyclopaedia Judaica sê: “Die viering van verjaarsdae is onbekend in tradisionele, Joodse rituele.” Customs and Traditions of Israel sê: “Die viering van verjaarsdae is ontleen aan die gebruike van ander volke, aangesien Die Bybel, die Talmoed of die geskrifte van die latere Wysgere geen melding van hierdie gebruik onder Jode maak nie. Trouens, dit was ’n eertydse Egiptiese gebruik.”
Daardie Egiptiese verband blyk duidelik uit ’n verjaarsdagviering wat in die Bybel gemeld word, maar wat nie deur ware aanbidders gevier is nie. Dit was die verjaarsdag van die Farao wat geheers het terwyl Josef in ’n Egiptiese gevangenis was. Party van daardie heidene was moontlik bly oor die fees, maar dit het met die onthoofding van die voorman van Farao se bakkers gepaardgegaan.—Genesis 40:1-22.
Die verjaarsdag van Herodes Antipas, ’n seun van Herodes die Grote, word in ’n soortgelyke ongunstige sin in die Skrif gemeld. Hierdie verjaarsdag word nie in die Bybel as bloot ’n onskuldige feesviering beskryf nie. Inteendeel, dit het aanleiding gegee tot die onthoofding van Johannes die Doper. Toe het “sy dissipels . . . sy liggaam kom haal en begrawe; en hulle het dit vir Jesus gaan vertel”, wat ‘daarvandaan weggegaan het na ’n stil plek om alleen te wees’ (Mattheüs 14:6-13, NAV). Dink jy daardie dissipels of Jesus het verjaarsdagpartytjies as iets aangenaams beskou?
Gesien in die lig van die bewese oorsprong van verjaarsdagvierings en, nog belangriker, die ongunstige sin waarin dit in die Bybel gemeld word, het Jehovah se Getuies genoeg rede om hulle van die gebruik te weerhou. Hulle hoef nie hierdie wêreldse gebruik te volg nie, want hulle kan wanneer hulle ook al wil gedurende die jaar vreugdevolle maaltye geniet, en hulle doen dit ook. Hulle gee nie geskenke omdat hulle moet of omdat daar ’n partytjie is nie; hulle gee te eniger tyd spontaan geskenke uit vrygewigheid en uit ware liefde.—Spreuke 17:8; Prediker 2:24; Lukas 6:38; Handelinge 9:36, 39; 1 Korinthiërs 16:2, 3.
-