Volg jy instruksies?
’N LIEFDEVOLLE vader sal sy kinders onderrig sodat hulle, wanneer hulle eendag groot is, sukses in die lewe kan behaal en gelukkig kan wees. En kinders wat hulle ouers liefhet en eerbiedig, sal sulke onderrigting aanvaar omdat hulle weet dat dit vir hulle eie beswil is. Ons liefdevolle hemelse Vader, Jehovah, voorsien insgelyks leiding aan sy knegte wat vir hulle sukses en vreugde in hulle lewe meebring. Dit is dus belangrik dat ons die instruksies volg wat God deur sy Woord, die Bybel, en sy aardse organisasie aan ons gee.
Binne die gesin
Daar is verskeie gebiede waarop ons instruksies ontvang. Een is binne die gesinskring. Die huwelik en die gesin is deur God ingestel. Die Bybel sê dat God die eerste mensepaar in die huwelik bevestig het en hulle beveel het om kinders te hê (Genesis 1:27, 28; 2:22-24). Die Skepper het vir alle gesinslede instruksies in verband met hulle onderskeie pligte gegee. Byvoorbeeld, die man en vader is die gesinshoof, wat beteken dat dit sy verantwoordelikheid is om onderrigting, voedsel, klere, skuiling, beskerming en dissipline te verskaf. Hy neem ook belangrike gesinsbesluite. As eggenoot moet hy bedagsaam teenoor sy vrou wees en aan haar eer as die swakkere bewys (Efesiërs 5:22, 23; 1 Timotheüs 5:8; 1 Petrus 3:7). Die vrou moet onderdanig aan haar man wees, hom diepe eerbied betoon en vir hom ’n hulp en komplement wees. En die Skrif toon dat kinders aan hulle ouers gehoorsaam moet wees.—Genesis 2:18, vgl. NW; Efesiërs 6:1-3; 1 Petrus 3:1, 2.
Wat gebeur as hierdie instruksies veronagsaam word? Onenigheid en geskille ontstaan wanneer mans nie hulle vrouens in ag neem nie, en wanneer vrouens weinig eerbied vir die man se hoofskap toon. Trouens, sulke dinge het al menige huwelik laat skipbreuk ly. Kinders se ongehoorsaamheid en opstandigheid het groot smart oor baie ouers gebring. Dit is dikwels grotendeels die ouers se skuld omdat hulle nie hulle kinders met behoorlike dissipline opvoed nie en hulle gevolglik irriteer.—Efesiërs 6:4, NW.
Hoewel maatskaplike werkers, sielkundiges en ander ’n groot verskeidenheid wenke gegee het oor hoe om gesinsprobleme te hanteer, is daar geen raad wat doeltreffender is as die instruksies wat die Skepper van die gesin in die Bybel vir ons voorsien het nie. As ons hulle volg, lei dit tot ware geluk en tevredenheid.—Psalm 19:8-10.
In die gemeente
Ons moet die instruksies volg wat die Hoof van die Christengemeente, Jesus Christus, gee deur die “getroue en verstandige dienskneg”, die aangestelde kanaal van God se organisasie hier op aarde (Mattheüs 24:45-47; Efesiërs 5:23). Om vrede en eenheid in die gemeente te geniet moet al die lede daarvan in ooreenstemming met die gegewe voorligting handel. Diegene wat die leiding neem in die onderwysing van die gemeente en om ander te help, moet byvoorbeeld hou by die voorskrifte wat hulle van Jehovah se organisasie ontvang. Dit sal hulle werk doeltreffender maak. Die instruksies kan wees oor hoe om aan die predikingswerk deel te neem, hoe om probleme in die gemeente te hanteer, hoe om raad en aanmoediging te gee, hoe om geteisterdes te troos, ensovoorts. Daar is ook riglyne oor hoe om leersame en opbouende vergaderinge voor te berei vir almal wat met die Christengemeente assosieer.—Handelinge 20:20; Romeine 12:6-8; Galasiërs 6:1; 1 Thessalonicense 3:1-3.
Veral gemeentelike ouere manne, of opsieners, moet ’n goeie voorbeeld in hierdie opsig stel. Die Bestuursliggaam stuur instruksies uit wat ouere manne noukeurig en getrou moet volg. Hulle moet hierdie instruksies by hulle plaaslike omstandighede aanpas en dan uitvoer. Ons moet in gedagte hou dat dit Jesus Christus is wat die Christengemeente rig. Hy neem die behoeftes van al die gemeentes oor die wêreld heen volkome waar, en hy voorsien die nodige bemoediging en hulp. Daarom moet ouere manne nie aarsel om enige voorskrifte wat hulle van God se teokratiese organisasie ontvang uit te voer nie. Dit sal vir almal in elke gemeente ’n goeie voorbeeld stel en sal hulle help om onderling asook met die res van die Christelike broederskap oor die aarde heen verenig te wees.—Handelinge 15:1-31; Hebreërs 13:7; Openbaring 5:6.
Vreugdevolle resultate
Wanneer ’n bouer ’n groot gebou optrek, volg hy die planne van die argitek noukeurig sodat die gebou wat hy bou lank sal bly staan. In die dae van geweld voor die Vloed het Noag die opdrag ontvang om ’n ark te bou. Hy is aangesê hoe om dit te bou en watter mense en diere hy daarin moes bring sodat hulle deur die komende Vloed behoue kon bly. Hoe het Noag gehoor gegee? Die Bybel sê: “Noag het alles gedoen wat God hom beveel het. Hy het presies so gedoen.” Slegs Noag en diegene wat saam met hom in die ark was, het die Vloed oorleef (Genesis 6:5, 13-22, NW; 7:23). Vandag lewe ons in tye wat baie ooreenkom met dié van Noag se dag, en daarom gaan God al die goddelose mense uitwis. Die Bybel deel ons mee watter stappe ons moet doen as ons onder diegene wil wees wat behoue gaan bly.—Mattheüs 24:37-39; 2 Petrus 3:5-7, 11.
Laat ons derhalwe die instruksies wat Jehovah deur sy geskrewe Woord en sy aardse organisasie gee met waardering aanvaar en uitvoer. As ons dit doen, sal ons met welslae en vreugde bekroon word en sal ons ook ons lewe red.