Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 6/1 bl. 30-31
  • Vrae van lesers

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vrae van lesers
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Soortgelyke materiaal
  • Vertrou op die genadige “Regter van die hele aarde”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2024
  • Voorbereiding vir verlossing tot in ’n nuwe wêreld
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Wee jou, Gorasin”—Waarom?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • “Die Regter van die hele aarde” vernietig Sodom en Gomorra
    Ons Christelike lewe en bediening – Vergaderingwerkboek – 2020
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 6/1 bl. 30-31

Vrae van lesers

◼ Beteken Jesus se woorde in Mattheüs 11:24 dat diegene wat Jehovah in Sodom en Gomorra met vuur vernietig het ’n opstanding sal kry?

Ons het deur die jare heen hierdie vraag konsensieus geantwoord en Jesus se woorde in Mattheüs 10:14, 15; 11:20-24 en Lukas 10:13-15 bespreek. ’n Onlangse hersiening hiervan dui aan dat hierdie verse nie as stellings oor die toekoms van die mense van Sodom/Gomorra beskou hoef te word nie. Kom ons kyk na wat Jesus gesê het voordat ons ander Bybelkommentare ondersoek oor die mense wat in daardie stede vernietig is.

Terwyl hy in Galilea was, het Jesus “die stede waarin die meeste van sy kragtige dade plaasgevind het, . . . verwyt, omdat hulle hul nie bekeer het nie”. Hy het drie gemeld: “Wee jou, Gorasin, wee jou, Betsaida! want as in Tirus en Sidon die kragtige dade plaasgevind het wat in julle plaasgevind het, sou hulle hul lankal . . . bekeer het. . . . Dit sal vir Tirus en Sidon verdraagliker wees in die oordeelsdag as vir julle. En jy, Kapernaüm, wat tot die hemel toe verhoog is, jy sal tot [in Hades, NW] toe neergestort word; want as in Sodom die kragtige dade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hy bly staan het tot vandag toe. . . . Dit [sal] vir die land van Sodom verdraagliker . . . wees in die oordeelsdag as vir jou” (Mattheüs 11:20-24, vgl. NW). Jesus het soortgelyke stellings gemaak toe hy die 12 dissipels, en later die 70, uitgestuur het om te preek.—Mattheüs 10:14, 15; Lukas 10:13-15.

Voor 1964 het ons verstaan dat hierdie verse beteken dat die mense van Gorasin, Betsaida en Kapernaüm ewige vernietiging verdien het. Maar Wagtoring-artikels in 1964 en 1965 het dit duidelik gemaak dat almal in Hades, of Sjeool (die mens se gemeenskaplike graf), in die opstanding sal opstaan en daarna ‘volgens hulle werke geoordeel’ sal word.—Openbaring 20:13.

Die redenasie in daardie artikels was ook: Mattheüs 11:23 (vgl. NW) en Lukas 10:15 sê dat Kapernaüm nie tot die hemel verhoog sal word nie, maar tot “[in Hades] toe neergestort” sal word, wat ten minste dui op vernedering vir die mense van daardie stad. In dieselfde passasie het Jesus eertydse Tirus en Sidon gemeld. Volgens Esegiël 32:21, 30 (vgl. NW) het mense van Sidon wat deur God veroordeel is Sjeool toe gegaan (Jesaja 23:1-9, 14-18; Esegiël 27:2-8). Aangesien Jesus Tirus/Sidon met Sodom vergelyk het, het dit aangedui dat die mense van Sodom ook in Sjeool was.

’n Nadere ondersoek van Mattheüs 11:20-24 het egter die vraag laat ontstaan of Jesus daar ewige oordeel en die opstanding bespreek het. Hy het probeer toelig hoe onverskillig die mense in Gorasin, Betsaida en Kapernaüm was, en gevolglik hoe gepas dit was dat hulle ook straf ondergaan. Toe hy gesê het dat dit vir Tirus/Sidon en Sodom/Gomorra “verdraagliker [sou] wees in die oordeelsdag”, was dit ’n soort hiperbool (oordrywing om ’n gedagte te beklemtoon) wat Jesus nie noodwendig bedoel het letterlik opgeneem moet word nie, net so min soos enige ander beeldende hiperbole wat hy gebruik het. Byvoorbeeld:

“Dit is makliker dat die hemel en die aarde verbygaan as dat een tittel van die wet sou val.” “Die hemel en die aarde sal verbygaan, maar my woorde sal nooit verbygaan nie.” (Lukas 16:17; 21:33; Mattheüs 5:18; vergelyk Hebreërs 1:10-12.) Ons weet dat die letterlike hemele en aarde nooit sal verbygaan nie (Psalm 78:69; 104:5; Prediker 1:4). Jesus het ook gesê: “Dit is makliker vir ’n kameel om deur die oog van ’n naald te gaan as vir ’n ryk man om in die koninkryk van God in te gaan” (Markus 10:25). Jesus het sekerlik nie bedoel dat geen ryk man ooit ’n dissipel kon word nie; sommige in die eerste eeu het gesalfde Christene geword (1 Timotheüs 6:17-19). Jesus het ’n oordrywing gebruik om te beklemtoon hoe moeilik dit vir ’n ryk man is om God bo materiële rykdom en geriewe te stel.—Lukas 12:15-21.

Toe Jesus gesê het dat dit ‘vir Tirus en Sodom verdraagliker sal wees in die oordeelsdag’ het dit dus nie noodwendig beteken dat daardie mense in die oordeelsdag teenwoordig sal wees nie. Hy kon eenvoudig beklemtoon het hoe onverskillig en strafwaardig die meeste mense in Gorasin, Betsaida en Kapernaüm was. Ons sê die meeste omdat sommige in Kapernaüm Christus wel aanvaar het (Markus 1:29-31; Lukas 4:38, 39). Maar in wese het daardie stede hom verwerp. Sommige van hulle inwoners soos die skrifgeleerdes en die Fariseërs, het moontlik selfs teen die heilige gees gesondig, waarvoor vergifnis selfs in die ‘toekomende stelsel van dinge’ nie moontlik is nie. Sulke individue gaan na Gehenna.—Mattheüs 12:31, 32, vgl. NW; 23:33, NW

Behalwe Jesus se woorde oor die saak, sê Esegiël 32:21, 30 (vgl. NW) vir ons dat heidense mense van eertydse Tirus/Sidon in Sjeool is; hulle sal dus vir ’n opstanding in aanmerking kom. Wat dan van die inwoners van “die land van Sodom . . . in die oordeelsdag”? Die blote feit dat Jesus Sidon met Sodom vergelyk het, bevestig nie die toekomsverwagtinge van daardie goddeloses wat God met swawel en vuur vernietig het nie. Maar kom ons kyk wat die Bybel nog oor die kwessie sê.

Een van die pertinentse kommentare is in Judas 7. Judas het net tevore gepraat van (1) Israeliete wat weens gebrek aan geloof vernietig is, en (2) engele wat gesondig het en “vir die oordeel van die groot dag met ewige boeie . . . bewaar” word. Toe het Judas geskryf: “Soos Sodom en Gomorra . . . as ’n voorbeeld gestel is, terwyl hulle die straf van die ewige vuur ondergaan.” Hierdie teks is toegepas op die stede wat vir ewig vernietig is, nie op die mense nie. Maar, met die oog op Judas 5 en 6, sal die meeste mense waarskynlik verstaan dat vers 7 op ’n geregtelike straf van individue slaan. (Net so sal dit verstaan word dat Mattheüs 11:20-24 mense, nie klippe of geboue nie, afkeur.) Met die oog hierop sal Judas 7 beteken dat die goddelose mense van Sodom/Gomorra geoordeel en vir ewig vernietig is.a

As ons elders kyk, vind ons dit opmerklik dat die Bybel die Vloed en Sodom/Gomorra meer as een keer met mekaar verbind. In watter konteks?

Toe Jesus oor “die voleinding van die wêreld” gevra is, het hy die naderende “einde” en ’n “groot verdrukking . . . soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het” nie, voorspel (Mattheüs 24:3, 14, 21). Hy het voorts “die dae van Noag” en wat “gebeur het in die dae van Lot” gemeld as voorbeelde van mense wat nie op waarskuwings oor komende vernietiging ag geslaan het nie. Jesus het bygevoeg: “Net so sal dit wees in die dag wanneer die Seun van die mens geopenbaar word.” (Lukas 17:26-30; vergelyk Mattheüs 24:36-39.) Het Jesus net ’n gesindheid geïllustreer, of dui die konteks waarin hy hierdie voorbeelde gebruik het daarop dat dit ewige oordele behels het?

Petrus het later geskryf oor God se oordele en dat Hy diegene wat dit verdien, straf. Petrus het toe drie voorbeelde gebruik: Die engele wat gesondig het, die eertydse wêreld van Noag se tyd en diegene wat in Sodom/Gomorra vernietig is. Petrus het gesê dat laasgenoemdes “as ’n voorbeeld gestel [is] vir die wat in die toekoms goddeloos sou wees” (2 Petrus 2:4-9). Hy het daarna die vernietiging wat mense in die Sondvloed ondergaan het met die komende “dag van die oordeel en die verderf van die goddelose mense” vergelyk. Die beloofde nuwe hemele en nuwe aarde word hierdeur voorafgegaan.—2 Petrus 3:5-13.

Sal diegene wat deur God aan die einde van die huidige goddelose stelsel tereggestel word eweneens ’n finale oordeel ondergaan het? Dit is wat 2 Thessalonicense 1:6-9 te kenne gee: “Dit [is] reg . . . by God om aan die wat julle verdruk, verdrukking te vergelde, en aan julle wat verdruk word, verligting te gee saam met ons in die openbaring van die Here Jesus uit die hemel met sy magtige engele in vuur en vlam, wanneer Hy wraak uitoefen op die wat God nie ken nie en op die wat aan die evangelie van ons Here Jesus nie gehoorsaam is nie. Hulle sal as straf ondergaan ’n ewige verderf, weg van die aangesig van die Here en van die heerlikheid van sy sterkte.”

Daar is ’n interessante ooreenkoms in bewoording tussen hierdie beskrywing en wat volgens Judas met Sodom gebeur het. Verder dui Mattheüs 25:31-46 en Openbaring 19:11-21 aan dat “die bokke” wat in die komende oorlog van God vernietig sal word “ewige straf” sal ondergaan in “die poel van vuur”, wat ’n simbool van permanente vernietiging is.b—Openbaring 20:10, 14.

Benewens wat Judas 7 sê, gebruik die Bybel Sodom/Gomorra en die Vloed derhalwe as voorbeelde van die vernietigende einde van die huidige goddelose stelsel. Dit is dus duidelik dat diegene wat deur God in daardie vroeëre strafgerigte tereggestel is onherroeplike vernietiging ondergaan het. Elkeen van ons kan dit natuurlik bevestig deur nou getrou aan Jehovah te bly. Op daardie manier sal ons aan die vereistes voldoen om in die nuwe wêreld te lewe en te sien wie hy opwek en wie hy nie opwek nie. Ons weet dat sy oordele volmaak is. Elihu het ons verseker: “Waarlik, God handel nie onregverdig nie, en die Almagtige verdraai nie die reg nie.”—Job 34:10, 12.

[Voetnote]

a In Esegiël 16:53-55 (vgl. NW) word ‘Sodom en haar onderhorige plekke’ nie in verband met die opstanding nie, maar in figuurlike sin met betrekking tot Jerusalem en haar dogters gemeld. (Vergelyk Openbaring 11:8.) Kyk ook Die Wagtoring van 15 Augustus 1952, bladsye 245, 246 (The Watchtower van 1 Junie 1952, bladsy 337).

b Vergelyk “Vrae van lesers” in The Watchtower van 1 Augustus 1979.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel