Hoofstuk 1
Waarom die Bybel lees?
Ons lewe in ’n wêreld met te veel probleme en heeltemal te min oplossings. Miljoene mense is voortdurend honger. Al hoe meer is verslaaf aan dwelms. Al hoe meer gesinne verbrokkel. Bloedskande en gesinsgeweld is gedurig in die nuus. Die lug wat ons inasem en die water wat ons drink, word stadig vergiftig. Intussen word al hoe meer van ons die slagoffers van misdadigheid. Dink jy dat hierdie probleme ooit opgelos sal word?
1. (Sluit die inleiding in.) Watter hedendaagse probleme toon dat die mensdom leiding nodig het?
DAARBENEWENS lewe ons in ’n tyd van moeilike besluite. Baie is byvoorbeeld onversoenlik gekant teen aborsie en noem dit moord op die ongeborenes. Ander voel ewe sterk dat vroue gesag oor hulle eie liggaam het en self oor so ’n saak moet besluit. Talle beskou homoseksualiteit, owerspel en voorhuwelikse seks as flagrante onsedelikheid. Ander meen dat elkeen self oor hierdie gebruike kan besluit. Wie kan sê wie reg en wie verkeerd is?
2, 3. Hoe beskou baie die Bybel vandag?
2 Die Bybel gee voorligting oor sedelikheid, en dit beskryf doeltreffende oplossings vir probleme soos misdadigheid, honger en besoedeling. Die haakplek is dat die meeste mense die Bybel nie meer as ’n gesag ten opsigte van sulke sake beskou nie. Voorheen het mense—ten minste in die Weste—met respek daarna geluister. Hoewel die Bybel deur mense op skrif gestel is, het die meeste mense in die Christendom dit in die verlede as die Woord van God aanvaar en geglo dat God self die inhoud daarvan geïnspireer het.
3 Maar vandag is dit in die mode om skepties te wees oor alles: oor gebruike, idees, sedes, selfs die bestaan van God. Mense twyfel veral aan die waarde van die Bybel. Dit lyk of die meeste meen dat dit ouderwets en ontoepaslik is. Min hedendaagse intellektuele beskou dit as die Woord van God. Die meeste mense stem eerder saam met geleerde James Barr, wat geskryf het: “My verslag oor die ontstaan van die Bybelse tradisie is ’n verslag oor ’n menslike werk. Dit is die mens se uiteensetting van sy opvattinge.”1
4, 5. Waarom is dit lewensbelangrik om te weet of die Bybel deur God geïnspireer is of nie? Wat is die doel van hierdie publikasie?
4 Is dit jou mening? Dink jy die Bybel is God se woord, of die mens s’n? Ongeag hoe jy daardie vraag beantwoord, oorweeg hierdie punt: As die Bybel bloot die mens se woord is, dan is daar logieserwys geen duidelike oplossing vir die mensdom se probleme nie. Mense sal maar eenvoudig moet deursukkel so goed as hulle kan en hoop dat hulle hulself op die een of ander manier nie deur vergiftiging sal vernietig of in ’n kernoorlog sal opblaas nie. Maar as die Bybel wel die Woord van God is, is dit juis wat ons nodig het om ons deur hierdie moeilike tyd te help.
5 Hierdie publikasie sal bewys lewer dat die Bybel werklik God se Woord is. En die uitgewers hoop dat jy, nadat jy die getuienis ondersoek het, sal besef dat die Bybel die enigste betroubare oplossings vir die mensdom se probleme bevat. Maar eers wil ons graag jou aandag vestig op ’n paar feite wat op sigself toon dat die Bybel verdien om deur jou ondersoek te word.
’n Onoortroffe suksesboek
6, 7. Watter merkwaardige feite omtrent die Bybel verdien ons aandag?
6 Vir eers is dit ’n suksesboek, die wyds verspreide boek in die hele geskiedenis. Volgens die Guinness Book of World Records vir 1988 is daar na raming 2 500 000 000 eksemplare tussen 1815 en 1975 gedruk. Dit is ’n ontsaglike syfer. Geen ander boek in die geskiedenis het selfs naby die Bybel gekom wat sy verspreidingsyfer betref nie.
7 Daarbenewens is geen ander boek in soveel tale vertaal nie. Die Bybel kan nou, in sy geheel of ten dele, in meer as 1 800 tale gelees word. Die Amerikaanse Bybelgenootskap sê dat dit nou vir 98 persent van die bevolking van ons planeet beskikbaar is. Dink net hoeveel inspanning nodig was om soveel vertalings te produseer! Watter ander boek het soveel aandag geniet?
’n Invloedryke boek
8, 9. Wat het sommige gesê wat toon hoe invloedryk die Bybel is?
8 The New Encyclopædia Britannica noem die Bybel “waarskynlik die invloedrykste versameling boeke in die mensegeskiedenis”.2 Die 19de-eeuse Duitse digter Heinrich Heine het erken: “My verligting is doodeenvoudig te danke aan die lees van ’n boek . . . die Bybel. Dit word heel tereg die Heilige Skrif genoem. Iemand wat sy God verloor het, kan Hom in hierdie boek herontdek.”3 In daardie selfde eeu het William H. Seward, ’n aktivis teen slawerny, gesê: “Die hele hoop van menslike vooruitgang is afhanklik van die immer toenemende invloed van die Bybel.”4
9 Abraham Lincoln, die 16de president van die Verenigde State, het die Bybel bestempel as “die beste gawe wat God die mens ooit gegee het . . . Daarsonder kan ons nie tussen reg en verkeerd onderskei nie.”5 Britse regsgeleerde sir William Blackstone het die invloed van die Bybel beklemtoon toe hy gesê het: “Alle mensewette berus op hierdie twee grondslae, die natuurwet en die wet van openbaring [die Bybel], dit wil sê, geen mensewette moet toegelaat word om hierdie wette te weerspreek nie.”6
Gehaat en gelief
10. Hoe het teenstand teen die Bybel tot uiting gekom?
10 Terselfdertyd moet ons daarvan kennis neem dat geen ander boek deur die geskiedenis heen so venynig teengestaan en selfs gehaat is nie. Bybels is van die Middeleeue tot in ons 20ste eeu in die openbaar verbrand. En mense wat die Bybel gelees of versprei het, is selfs in ons tyd met boetes en gevangenskap gestraf. In vorige eeue het sulke “misdade” dikwels tot marteling en die dood gelei.
11, 12. Hoe het Tyndale sy liefde vir die Bybel getoon?
11 Die Bybel het terselfdertyd toegewydheid ingeboesem. Baie het ondanks meedoënlose vervolging aangehou om dit te lees. Beskou William Tyndale, ’n 16de-eeuse Engelsman wat aan die Universiteit van Oxford gestudeer en ’n gesiene dosent aan die Universiteit van Cambridge geword het.
12 Tyndale was lief vir die Bybel. Maar in sy tyd was die godsdiensowerheid vasberade om dit in Latyn, ’n dooie taal, te hou. Tyndale het hom dus voorgeneem om die Bybel in Engels te vertaal en dit sodoende vir sy landgenote beskikbaar te stel. Aangesien dit teen die wet was, moes Tyndale sy aangename akademiese loopbaan prysgee en na die Europese Vasteland vlug. Hy het lank genoeg die moeilike lewe van ’n vlugteling gelei om die Griekse Skrifte (die “Nuwe Testament”) en ’n gedeelte van die Hebreeuse Skrifte (die “Ou Testament”) in sy eie taal te vertaal; maar hy is uiteindelik in hegtenis geneem, skuldig bevind aan kettery en verwurg, waarna sy liggaam verbrand is.
13. Wat is een opsig waarin die Bybel waarlik uniek is?
13 Tyndale is net een van talle mense wat alles opgeoffer het om die Bybel te lees of dit vir ander beskikbaar te stel. Geen ander boek het soveel gewone manne en vroue besiel om so besonder moedig te wees nie. In hierdie opsig is die Bybel waarlik sonder weerga.
Die bewering dat dit God se Woord is
14, 15. Watter bewering maak Bybelskrywers dikwels?
14 Die Bybel is ook uniek weens die bewering wat baie van sy skrywers maak. Sowat 40 individue, waaronder konings, herders, vissers, staatsamptenare, priesters, ten minste een generaal en ’n geneesheer, het die verskillende dele van die Bybel op skrif gestel. Maar die skrywers het herhaaldelik dieselfde bewering gemaak: dat hulle nie hulle eie gedagtes neergeskryf het nie, maar God s’n.
15 Ons lees dus dikwels in die Bybel verklarings soos: “Die Gees van die HERE spreek in my, en sy woord is op my tong” of, “So sê die Here, die HERE van die leërskare” (2 Samuel 23:2; Jesaja 22:15). In ’n brief aan ’n mede-evangeliedienaar het die apostel Paulus geskryf: “Die hele Skrif is deur God ingegee en is nuttig tot lering, tot weerlegging, tot teregwysing, tot onderwysing in die geregtigheid, sodat die mens van God volkome kan wees, vir elke goeie werk volkome toegerus.”—2 Timotheüs 3:16, 17.
16. Watter vrae word in die Bybel bespreek?
16 In ooreenstemming met die bewering dat dit God se woord is, nie die mens s’n nie, beantwoord die Bybel vrae wat net God kan beantwoord. Dit verduidelik byvoorbeeld waarom menseregerings nie blywende vrede kan bring nie, hoe mense die grootste bevrediging in die lewe kan vind en wat die toekoms vir die aarde en die mensdom daarop inhou. As ’n denker het jy seker al dikwels oor hierdie en soortgelyke vrae gewonder. Waarom oorweeg jy nie ten minste die moontlikheid dat die Bybel God se Woord is en gevolglik op unieke wyse gesaghebbende antwoorde kan gee nie?
17, 18. (a) Wat is party van die aantygings teen die Bybel wat in hierdie publikasie bespreek word? (b) Watter ander onderwerpe gaan bespreek word?
17 Ons spoor jou aan om die getuienis wat in hierdie boek voorgelê word sorgvuldig te ondersoek. Party van die hoofstukke sal die algemene kritiek op die Bybel bespreek. Is die Bybel onwetenskaplik? Weerspreek die Bybel homself? Bevat dit ware geskiedenis of net mites? Het die wonderwerke wat in die Bybel opgeteken is werklik plaasgevind? Logiese getuienis word voorgelê om hierdie vrae te beantwoord. Daarna word kragtige bewyse van die Bybel se goddelike inspirasie bespreek: die profesieë en groot wysheid daarvan, asook die merkwaardige uitwerking wat dit op mense se lewe het. Ten slotte sal ons sien watter uitwerking die Bybel op jou lewe kan hê.
18 Ons gaan egter eers bespreek hoe ons die Bybel gekry het. Selfs die geskiedenis van hierdie verbasende boek bewys dat dit meer as bloot ’n menslike oorsprong het.
[Volbladillustrasie op bladsy 4]
[Prent op bladsy 6]
Die Bybel is die wyds verspreide en die mees vertaalde boek in die hele geskiedenis
[Prent op bladsy 9]
Soos hierdie 15de-eeuse houtsnee uitbeeld, is talle mense wat die Bybel gelees het weens daardie “misdaad” lewend verbrand
[Prent op bladsy 11]
Bybelskrywers het beweer dat hulle deur God geïnspireer is