Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 5/15 bl. 21-23
  • Het enigiemand God gesien?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Het enigiemand God gesien?
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Wat Jesus gesê het
  • Hoe Moses God gesien het
  • Engeleverteenwoordigers
  • “Niemand het God ooit gesien nie”
  • Het enigiemand God al ooit gesien?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Leer ken Jehovah se weë
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Die brandende bos
    Lesse wat jy kan leer uit die Bybel
  • Moses—Hoe sy lewe jou raak
    Ontwaak!—2004
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 5/15 bl. 21-23

Het enigiemand God gesien?

ONS Skepper het die welbekende aartsvader Abraham, wat meer as 1 900 jaar voor die geboorte van Jesus Christus gelewe het, met soveel innigheid bejeën dat hy “’n vriend van God” genoem is (Jakobus 2:23). As enigiemand die voorreg gegun sou word om God te sien, sou dit gewis Abraham gewees het. Wel, by ’n sekere geleentheid het drie besoekers ’n goddelike boodskap aan hom gebring. Abraham het een van hulle as Jehovah aangespreek. Beteken dit dat Abraham God werklik gesien het?

Hierdie verslag is opgeteken in Genesis 18:1-3 (vgl. NW). Daar lees ons: “[Jehovah het] aan hom verskyn by die terpentynbome van Mamre terwyl hy by die ingang van die tent sit op die warmste van die dag. Toe hy sy oë opslaan en kyk, staan daar drie manne voor hom. En toe hy hulle sien, loop hy hulle tegemoet van die ingang van die tent of en buig hom na die aarde toe. En hy sê: [Jehovah], as ek nou genade in u oë gevind het, gaan dan tog nie by u kneg verby nie.”

Later, toe Abraham en sy drie besoekers Sodom van ’n hoër plek af beskou het, het twee van hulle ’n besoek aan die stad gebring. Vers 22 (NAV) sê vervolgens: “Maar die Here het by Abraham bly staan.” Hieruit wil dit voorkom asof God in ’n verstoflikte liggaam daar by Abraham was. Dit is wat sommige persone wat glo dat God en Jesus Christus een en dieselfde persoon is, beweer.

Aangaande Genesis 18:3 het Bybelgeleerde Melancthon W. Jacobus geskryf: “Dit is die eerste opgetekende geval waar God as mens onder mense verskyn, om die werklikheid van Sy Wese en van sy toegeneentheid tot die mens te toon en om die aartsvader met hierdie tipiese daad te verseker van die Goddelike gemeenskap en vriendskap.” Diegene wat hierdie beskouing huldig, kan die gevolgtrekking maak dat Abraham Jehovah werklik met sy fisiese oë gesien het en dat persone wat Jesus Christus gesien het ook God gesien het. Maar strook hierdie gevolgtrekking met die Bybel?

Wat Jesus gesê het

Pleks van aan te kondig dat hy God in die vlees is, het Jesus Christus gesê: “Ek is die Seun van God” (Johannes 10:36). As Jehovah God se volmaakte Verteenwoordiger het Jesus ook gesê: “Ek kan uit Myself niks doen nie. Soos Ek hoor, oordeel Ek; en my oordeel is regverdig, omdat Ek nie my wil soek nie, maar die wil van die Vader wat My gestuur het” (Johannes 5:30). Toe Jesus aan die folterpaal was, het hy tot die groot Skepper in die hemele gebid en hom as “My God, My God” aangespreek (Mattheüs 27:46). Na sy opstanding het Jesus vir Maria Magdalena gesê: “Ek vaar op na my Vader en julle Vader, en my God en julle God” (Johannes 20:1, 17). Aangesien Jesus Christus nie God in die vlees was nie, kon niemand wat Jesus gesien het, sê dat hy sodoende God gesien het nie.

Johannes, die apostel vir wie Jesus besonder lief was, het die feit gestaaf dat die apostels nie God gesien het toe hulle na Jesus gekyk het nie. Onder inspirasie het Johannes gesê: “Niemand het God ooit gesien nie” (Johannes 1:18, NAV). Wie het Abraham dan gesien? Moses se ervaring help ons om die antwoord te vind.

Hoe Moses God gesien het

Moses het eenmaal die begeerte uitgespreek om God te sien. In Exodus 33:18-20 lees ons: “Laat my [Moses] tog u heerlikheid sien. Maar Hy [God] antwoord: Ek sal al my majesteit by jou laat verbygaan en voor jou die Naam van die HERE uitroep; maar Ek sal genadig wees vir wie Ek genadig wil wees, en My ontferm oor wie Ek My wil ontferm. Verder het Hy gesê: Jy kan my aangesig nie sien nie, want geen mens kan My sien en bly lewe nie.”

Wat God Moses toegelaat het om te sien, was Sy verbygaande heerlikheid. Verse 21-23 sê: “Ook het die HERE gesê: Kyk, hier is ’n plek by My waar jy op die rots kan gaan staan. En as my heerlikheid verbygaan, sal Ek jou in die skeur van die rots stel en jou met my hand oordek totdat Ek verbygegaan het. En as Ek my hand wegneem, sal jy My van agter sien; maar my aangesig kan nie gesien word nie.”

In ooreenstemming met Jehovah se woorde aan Moses en met wat die apostel Johannes gesê het, het Moses geen verstofliking of materiële gedaante van God gesien nie. Moses het slegs die nagloed van die verbygaande goddelike teenwoordigheid gesien. Selfs toe moes hy goddelike beskerming ontvang. Dit is duidelik dat Moses nie God self gesien het nie.

Toe Moses, volgens Exodus 33:11, “van aangesig tot aangesig” met God gepraat het, het hy nie visuele kontak met Jehovah gehad nie. Hierdie uitdrukking dui die manier aan waarop Moses met God gekommunikeer het en nie wat hy gesien het nie. Kommunikasie “van aangesig tot aangesig” met God dui ’n wederkerige gesprek aan. ’n Mens kan insgelyks ’n wederkerige gesprek per telefoon voer sonder dat jy die ander persoon sien.

Toe Moses met God gepraat en opdragte van hom ontvang het, was die kommunikasie nie deur middel van gesigte soos dit dikwels die geval met ander profete was nie. Dit is die gedagte in Numeri 12:6-8, waar ons lees: “Hoor tog my woorde. As julle profeet van die HERE is, sal Ek deur ’n gesig My aan hom bekend maak, deur ’n droom sal Ek met hom spreek. So is dit nie met my kneg Moses nie: in my hele huis is hy getrou. Mond tot mond spreek Ek met hom, en deur aanskouing en nie deur duister woorde nie; en hy sien die verskyning van die HERE.” In watter sin het Moses “die verskyning van die HERE” gesien?

Moses het “die verskyning van die HERE” gesien toe hy, Aäron en sekere ander manne op die berg Sinai was. In Exodus 24:10 staan daar geskryf: “Hulle het die God van Israel gesien, en onder sy voete net soos ’n vloerwerk van saferstene en so helder soos die hemel self.” Maar hoe het Moses en die ander manne “die God van Israel gesien”, daar God vir hom gesê het: “Geen mens kan My sien en bly lewe nie”? Vers 11 (NW) gee die verduideliking: “Hy het sy hand nie teen die aansienlikes van die seuns van Israel uitgesteek nie, maar hulle het ’n visioen van die [ware] God gehad en geëet en gedrink.” Moses en die ander het die verskyning van God dus deur middel van ’n visioen gesien.

Engeleverteenwoordigers

Dit was nie vir die groot Skepper van die heelal nodig om van sy verhewe plek in die hemel neer te daal om boodskappe aan sekere mense oor te dra nie. Buiten die drie opgetekende gevalle toe God se eie stem gehoor is terwyl sy Seun op die aarde was, het Jehovah altyd engele gebruik om Sy boodskappe oor te dra (Mattheüs 3:17; 17:5; Johannes 12:28). Selfs die Wet wat God aan die nasie Israel by die berg Sinai gegee het, is deur engele oorgedra, al word Moses in regstreekse gesprek met God uitgebeeld. In hierdie verband het die apostel Paulus geskryf: “Watter doel dien die wet dan? Dit is later bygevoeg as gevolg van die sonde, en dit is bedoel vir die tyd totdat die nakomeling op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger aan die volk gegee.”—Galasiërs 3:19, NAV.

Handelinge 7:38 dui ook aan dat Moses in werklikheid met ’n engel gepraat het wat God regstreeks verteenwoordig het: “Dit is hy wat in die vergadering in die woestyn was saam met die Engel wat met hom op die berg Sinai gespreek het, en saam met ons vaders.” Daardie engel was die persoonlike woordvoerder vir Jehovah God, die Skepper, en daarom het hy met Moses gepraat asof God self gespreek het.

Die engel wat God se boodskap by die brandende doringbos aan Moses oorgedra het, was ook ’n woordvoerder. Hy word in Exodus 3:2, as Jehovah se engel geïdentifiseer, waar ons lees: “Die Engel van die HERE [het] aan hom in ’n vuurvlam uit ’n doringbos [verskyn].” Vers 4 sê: “Toe die HERE sien dat hy nuuskierig nader kom, roep God na hom uit die doringbos.” Hierdie engelewoordvoerder vir God het in vers 6 gesê: “Ek is die God van jou vader, die God van Abraham, die God van Isak en die God van Jakob.” Daarom het Moses met hierdie persoonlike verteenwoordiger van God gepraat asof hy met Jehovah self gepraat het.—Exodus 4:10.

In die 6de hoofstuk van Rigters vind ons nog ’n voorbeeld van ’n man wat deur middel van ’n engeleverteenwoordiger met God gepraat het. Vers 11 identifiseer die boodskapper as “die Engel van die HERE”. Daar lees ons: “Toe het die Engel van die HERE gekom en gaan sit onder die terpentynboom wat by Ofra staan, wat aan Joas, die Abiësriet, behoort het, terwyl sy seun Gideon juis koring uitslaan in die parskuip om dit te beveilig teen die Midianiete.” Hierdie boodskapper, “die Engel van die HERE”, word daarna uitgebeeld asof hy Jehovah God self is. In verse 14 en 15 lees ons: “Toe draai die HERE na hom [Gideon] toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos?” Die verstoflikte engel vir wie Gideon gesien en met wie by gepraat het, word dus in die Bybelverslag uitgebeeld asof hy God self was. In vers 22 sê Gideon: “Ek het die Engel van die HERE gesien van aangesig tot aangesig!” Die engel het presies gesê wat God hom beveel het om te spreek. Gideon het dus deur middel van hierdie engelewoordvoerder met God gepraat.

Beskou ook die geval van Manoag en sy vrou, die ouers van Simson. Hierdie verslag praat ook van die engeleboodskapper as “die Engel van die HERE” en “die Engel van God” (Rigters 13:2-18). In vers 22 sê Manoag vir sy vrou: “Ons sal sekerlik sterwe, omdat ons God gesien het.” Hoewel hy Jehovah God nie werklik gesien het nie, was Manoag hierdie mening toegedaan omdat hy die verstoflikte persoonlike woordvoerder vir God gesien het.

“Niemand het God ooit gesien nie”

Nou kan ons verstaan waarom Abraham die verstoflikte engelewoordvoerder van God aangespreek het asof hy met Jehovah God self gepraat het. Aangesien hierdie engel presies gesê het wat God vir Abraham wou sê en Hom daar persoonlik verteenwoordig het, kon die Bybelverslag sê dat ‘Jehovah aan hom verskyn het’.—Genesis 18:1, vgl. NW.

Onthou dat ’n engelewoordvoerder vir God Sy boodskappe net so akkuraat kon oordra as wat ’n telefoon of ’n radio ons woorde na ’n ander persoon kan oorbring. Daarom kan ons verstaan hoe Abraham, Moses, Manoag en ander met ’n verstoflikte engel kon praat asof hulle met God gepraat het. Hoewel sulke individue hierdie engele en die heerlikheid van Jehovah wat hulle weerspieël het, kon sien, kon hulle God nie sien nie. Dit weerspreek dus geensins die apostel Johannes se verklaring nie: “Niemand het God ooit gesien nie” (1 Johannes 1:18, NAV). Wat hierdie manne gesien het, was engeleverteenwoordigers en nie God self nie.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel