-
Die glansende vermaaklikheidswêreldOntwaak! – 1992 | November 8
-
-
Die glansende vermaaklikheidswêreld
HOLLYWOOD! Waar jy ook al in die wêreld woon, laat daardie naam jou waarskynlik aan rolprente en vermaak dink. Dit is al die hoofstad van die vermaaklikheidswêreld asook Tinseltown genoem en geen ander plek is só sinoniem met die vermaaklikheidswêreld soos hierdie voorstad van Los Angeles, Kalifornië, nie. Dit lyk beslis asof dit die wêreldsentrum van glorie en glans is. Soos een skrywer gesê het: “Die hele wêreld sien Hollywood as dié plek waar drome oor die glansende rolprentbedryf ’n werklikheid word.”
Vermaak—die wêreld van groot sake
Maar dit is nie net die Hollywood-beeld wat wêreldwyd bekend geword het nie; “Hollywood” is ’n reuseuitvoerbedryf met ’n wêreldwye mark. Trouens, volgens die tydskrif Time is vermaak, naas ruimtevaarttoerusting, die Verenigde State se grootste uitvoerproduk. Die vermaaklikheidsbedryf bring jaarliks honderde miljarde dollars in, en ’n aansienlike deel daarvan—ongeveer 20 persent—kom uit ander lande.
Die Verenigde State ontvang ’n inkomste van 35 persent van die wêreld se boekhandel, 50 persent van sy musiekhandel, 55 persent van sy rolprent- en huisvideohandel en van 75 tot 85 persent van sy TV-handel.
In ruil vir hierdie ontsaglike fortuin verskaf Hollywood vermaak aan die wêreld. Nie dat die wêreld altyd daarvan hou nie—meer as een land het al oor Amerikaanse kulturele imperialisme gekla namate hulle jongmense plaaslike kultuur prysgee vir uitspattige Amerikaanse idees en gebruike. Maar dit is nie te sê dat vermaak net van die Verenigde State af kom nie. Baie lande het hulle eie vermaaklikheidsbedryf—rolprente, TV, musiekopnames, boeke, sport, ensovoorts.
Vermaak—Hoe maklik is dit tog vandag!
Ongeag wie wel vermaak aan die wêreld verskaf of wie dit behoort te doen, wat wel merkwaardig is, is die feit dat vermaak op sigself vandag so maklik bekombaar en so volop is dat ons met ’n soort revolusie te kampe het. Ter toeligting: As jy ’n eeu gelede geleef het, hoe dikwels sou jy die talente van professionele uitvoerende kunstenaars kon geniet? Selfs al het jy in een van die welvarendste lande gewoon, sou jy na die mening van baie van die hedendaagse geslag waarskynlik uitgehonger wees vir vermaak. Jy sou byvoorbeeld die beslommernis gehad het om na ’n opera of ’n simfoniekonsert toe te moet gaan. Vandag luister ons eenvoudig na draagbare radio’s wat enige soort beskikbare musiek speel of ons gaan sit op ons rusbank en, met die druk van ’n knoppie, geniet ons feitlik enige denkbare soort vermaak.
In enige ontwikkelde land sal jy in baie huise minstens een TV, ’n videokasset-opnemer en ’n klankskyfspeler of ’n kassetspeler asook ander elektroniese uitvindsels aantref. Party kinders word in huise groot waar televisiestelle amper net sulke alledaagse verskynsels soos spieëls is. In minder ontwikkelde lande het baie plattelandse dorpies en woonbuurte hulle plaaslike televisiesentrum waar mense saans bymekaarkom om vermaak te geniet. Die mens kan nie meer sonder TV klaarkom nie. Sy vrye tyd word in beslag geneem deur vermaak wat in al hoe meer vorme aangebied word.
Is daar enigiets daarmee verkeerd? Hou hedendaagse vermaak enige gevare in? Of kan die verskillende vorme van vermaak wat vandag aangetref word eenvoudig toegeskryf word aan ’n oormaat van rykdom? Kom ons kyk op ’n gebalanseerde wyse na die glansende vermaaklikheidswêreld.
-
-
’N Gebalanseerde beskouing van vermaakOntwaak! – 1992 | November 8
-
-
’N Gebalanseerde beskouing van vermaak
“NET werk en geen pret maak Jan ’n saaie vent.” Dit is vandag so ’n bekende gesegde dat dit maklik is om te vergeet hoe waar dit presies is. Trouens, “net werk en geen pret” maak Jan nie net ’n saaie vent nie, maar dalk iets veel ergers. Dit kan hom ’n werkverslaafde, ’n kompulsiewe werker, maak wat niks of niemand belangriker as sy werk ag nie.
Neem byvoorbeeld ’n probleem wat in Japan ontstaan het, ’n land wat bekend is vir sy streng opvatting dat werk ’n edele strewe is. Daar word dikwels van werknemers verwag om elke aand asook naweke oortyd te werk. Maclean’s, ’n Kanadese tydskrif, het gesê dat die gemiddelde Japannese werker jaarliks 2088 uur by die werk deurbring in vergelyking met die 1654 uur van die gemiddelde Kanadese werker. Maar die tydskrif het gesê: “Japannese sakeondernemings het met ’n ander probleem te kampe gehad: werknemers wat aan karoshi, of te veel werk, sterf. Koerante het gevalle gemeld van mans in hulle veertigerjare wat hartaanvalle of beroertes gekry het nadat hulle 100 dae lank aaneen gewerk het sonder om ’n dag af te neem.” Die Japannese departement van mannekrag moes selfs ’n advertensieveldtog, wat talle treffende deuntjies bevat het, van stapel stuur om mense aan te spoor om nie naweke te werk nie, maar te ontspan. Wat ’n kontras vorm dit tog nie met party Westerse lande waar mense gesoebat moet word om ’n volle week te werk nie!
Die voordele van pret
Dit is egter heel gepas dat deskundiges werkverslawing oor die algemeen as ’n siekte beskou en nie as ’n deug nie. Jan moet pret hê—en nie net wanneer hy ’n seun is nie; volwassenes sowel as kinders het hierdie selfde behoefte. Waarom? Watter voordele hou vrye tyd, of pret, vir mense in? Een handboek oor die onderwerp het ’n lys van voordele opgestel: “Selfuitlewing, kameraadskap, die ineenskakeling van verstand en liggaam om ’n geheel te vorm, fisiese gesondheid, ’n noodsaaklike kontras of ritme in die streng werkrooster, rus en ontspanning, ’n geleentheid om iets nuuts te probeer en nuwe mense te ontmoet, om verhoudinge te ontwikkel, om die gesinsbande te versterk, om dinge in die natuur te leer ken en te geniet, . . . en om net goed te voel sonder dat jy dit hoef te ontleed. Al hierdie dinge tel onder sommige van die voordele waarby mense in hulle vrye tyd baat vind.”
Sosioloë het talle boeke oor die onderwerp van vrye tyd en pret geskryf, en hulle stem saam dat vrye tyd noodsaaklik is vir die individu en die gemeenskap. Maar daar is seker niemand wat die menslike natuur beter verstaan as die mens se Skepper nie. Wat is sy beskouing van hierdie onderwerp?
In teenstelling met wat party skynbaar dink, keur die Bybel nie pret en ontspanning af nie. Dit sê vir ons dat Jehovah ’n gelukkige God is en dat hy van sy knegte verwag om ook gelukkig te wees (Psalm 144:15b, NW; 1 Timotheüs 1:11, NW). In Prediker 3:1-4 lees ons daar is ’n “bepaalde uur . . . om te lag” en “’n tyd om van vreugde rond te spring”. Die Hebreeuse woord hier vir “lag” hou verband met woorde wat “pret” beteken. Dieselfde Bybelboek sê vir ons dat ‘daar vir ’n mens niks beters is as om te eet en te drink en dat sy siel die goeie dinge sien vanweë sy harde werk’ nie.—Prediker 2:24, NW.
Een van die gewildste maniere om vandag vrye tyd deur te bring is om agteroor te sit en ander se talente te geniet. Dié idee is ook nie heeltemal nuut nie. Die Bybel toon dat mense dit millenniums lank geniet het om te sien hoe ander dans, sing, musiekinstrumente bespeel of op sportgebied met mekaar meeding.
As ’n vorm van ontspanning kan vermaak ons die wêreld se goed doen. Wie geniet nie die prestasies van ’n goeie atleet, die vloeiende grasie van ’n ballerina, ’n goeie avontuurrolprent vol spannende afwagting wat jou op die punt van jou stoel laat sit of die vrolike deuntjie wat in jou gedagtes bly lank nadat die musiek opgehou het nie? En die meeste van ons het dit ongetwyfeld al geniet om met ’n goeie boek te ontspan, terwyl ons die blaaie al vinniger omblaai namate ons verdiep raak in ’n goeie verhaal.
Sulke vermaak laat ons nie net ontspan nie, dit doen veel meer vir ons. Dit kan ons ook stimuleer, ons opbeur, ons ontroer, ons laat lag—en dit kan selfs leersaam wees. Die letterkunde kan ons byvoorbeeld heelwat oor die menslike natuur leer. Daarvan is Shakespeare se werke ’n goeie voorbeeld.
Die gevare wat vermaak inhou
Maar as ons ’n gebalanseerde beskouing van hedendaagse vermaak wil hê, moet ons ag slaan op die gevare asook die voordele wat dit inhou. Daar is al baie gesê oor die verderflike invloed van vermaak, maar die gevare kan oor die algemeen in twee hoofkategorieë ingedeel word: kwantiteit en kwaliteit, hoeveel vermaak beskikbaar is en wat dit uitbeeld. Kom ons bespreek eers die aspek van kwaliteit.
Ons lewe in swaar tye, wat die Bybel “kritieke tye wat moeilik is om deur te kom” noem (2 Timotheüs 3:1, NW). Dit is nie verbasend dat hedendaagse vermaak dikwels die afstootlikste aspekte uitbeeld van die tyd waarin ons leef nie. Sadistiese geweld, onbeskaamde onsedelikheid en die mens se donkerste emosies—soos rassisme—word alles in gewilde vermaak uitgebeeld en besoedel dit in meerdere of mindere mate. Aan die heel anderkant van die spektrum is dít wat veronderstel is om vermaak te wees, weinig meer as pornografie en smerigheid. Neem ’n paar voorbeelde hiervan.
Rolprente: By Hollywood se hoogste eerbetoning, die Oscar-seremonie, het drie van die mans wat hierdie jaar in die kategorie vir “beste akteur” benoem is die rol van psigopatiese moordenaars vertolk, en hulle moorde is in detail uitgebeeld. Een karakter byt na bewering ’n stuk uit ’n vrou se gesig terwyl hy haar verkrag. Een van die rolprente wat dié jaar die meeste geld ingebring het, is die rolprent Basic Instinct. Te oordeel na die resensies, sê hierdie titel nie naastenby genoeg nie. Die rolprent begin met ’n eksplisiete sekstoneel waarin die vrou haar vasgebinde minnaar herhaaldelik met ’n yspriem steek terwyl sy vol bloed gespat word.
Musiek: Rap- sowel as heavy metal-musiek word ook deesdae al hoe meer gekritiseer omdat dit soortgelyke dinge bevat. Liedjies wat die verkragting en mishandeling van vroue, geweld en haat teenoor verskillende rasse en geregsdienaars en selfs Satanisme verheerlik, kom alles op rap- en heavy metal-plate voor. In party plekke moet plate wat sulke eksplisiete materiaal bevat ’n waarskuwingsetiket op hê. Maar soos die rap-kunstenaar Ice-T na bewering erken het, sorg hy juis dat sy liedjies skokkende woorde bevat sodat dit so ’n etiket kan kry; dit waarborg dat mense se nuuskierigheid geprikkel sal word. Die rockster Prince het bloedskande tussen broer en suster verheerlik. Musiekvideo’s is selfs erger omdat dit dikwels sulke growwe onsedelikheid visueel uitbeeld. Die popster Madonna se video Justify My Love het opspraak verwek weens die sado-masochisme en homoseksualiteit wat dit uitbeeld. Selfs MTV, ’n Amerikaanse TV-kanaal wat bekend is vir die onsedelike video’s wat dit al uitgesaai het, het geweier om hierdie een uit te saai.
Boeke: Neem ’n paar voorbeelde van onlangse boekresensies. American Psycho beskryf die grusame dade van ’n reeksmoordenaar wat onbeskryflik afgryslike dinge, waaronder kannibalisme, met die liggame van sy slagoffers doen. Vox handel oor ’n lang telefoongesprek waartydens ’n man en ’n vrou wat mekaar nog nooit ontmoet het nie mekaar seksueel stimuleer deur hulle erotiese gesprek. Raptor handel oor die verdorwe seksavonture van twee sesde-eeuse hermafrodiete, mense wat manlik sowel as vroulik is. Liefdesverhale oor die algemeen verheerlik owerspel en hoerery. Prentverhale, wat vroeër redelik onskuldige leesstof vir kinders was, beeld nou dikwels eksplisiete seks, geweld en die okkulte uit.
Sport: Daar word voortdurend ’n beroep gedoen om boks te verbied. Ondanks verdere bewyse dat elke uitklophou onherstelbare breinskade tot gevolg het, lok groot somme geld en miljoene toeskouers boksers steeds na die kryt. Daar is letterlik honderde boksers wat al op hierdie manier doodgeslaan is.
Maar ander sportsoorte het selfs hoër sterftesyfers. Dit is niks buitengewoons om te lees dat geweld op sportvelde of onder die toeskouers uitgebreek het nie. Oproere wat veroorsaak is deur nasionalisme of ’n misplaaste “spangees” het die dood van honderde in stadions oor die hele wêreld heen tot gevolg gehad. Stiergevegte, wat die Duitse weekblad, Die Zeit, “seker die wreedste sportsoort wat tot in ons dag voortgeleef het”, noem, se gewildheid het onlangs in Spanje en Suid-Frankryk geweldig toegeneem. Nadat ’n bul die beroemde 21-jarige matador, José Cubero, in die hart deurboor het, is die gevalle held later in sy kis om ’n arena in Madrid gedra terwyl 15 000 vererende bewonderaars hom toegejuig het. Die video-opname van sy dood is herhaaldelik oor die Spaanse TV uitgesaai.
Hierdie is nou wel uiterste gevalle en dit beteken nie dat alle vermaak wat onder sommige van hierdie verskillende kategorieë val, sleg is nie. Maar as ’n mens ’n gebalanseerde beskouing van vermaak het, moet jy erken dat hierdie uiterstes wel bestaan en dat hulle gewild is. Waarom? Wel, het jy al ooit opgemerk dat vermaak wat ’n paar jaar gelede as baie erg beskou is, mense nou verveel? Die uiterstes is geneig om stadigaan deur die meeste mense aanvaar te word; mense raak gewoond daaraan. Waaraan sal jy gewoond raak?
Die kwessie van kwantiteit
Maar selfs al was alle vermaak heilsaam, is daar steeds die kwessie van die enorme kwantiteit wat beskikbaar is. Die vermaaklikheidsbedryf produseer ’n ontsaglike hoeveelheid materiaal. In die Verenigde State is daar byvoorbeeld in 1991 alleen meer as 110000 verskillende boeke gepubliseer. As jy elke dag ’n boek van voor tot agter kon lees, sou dit jou meer as 300 jaar neem om net een jaar se boeke te lees! Die Amerikaanse rolprentbedryf produseer meer as 400 rolprente per jaar en baie lande voer hierdie rolprente in en produseer dan ook nog hulle eie. Die rolprentbedryf in Indië produseer jaarliks honderde Hindiese rolprente. En wie kan al die musiekplate, klankskywe en kassette tel wat elke jaar geproduseer word? Dan is daar ook nog TV.
In party ontwikkelde lande is daar ’n hele klomp verskillende TV-kanale—kabeltelevisie, satellietuitsendings en gewone uitsendings. Dit beteken dat vermaak 24 uur van die dag tuis beskikbaar is. Sport, musiek, drama, komedie, wetenskaplike verhale, geselsprogramme, rolprente—dit is alles met die druk van ’n TV-knoppie beskikbaar. ’n Videokasset-opnemer maak dit ook moontlik om na duisende rolprente sowel as ontelbare selfdoenvideo’s, musiekvideo’s en selfs opvoedkundige video’s oor die natuur, geskiedenis en wetenskap te kyk.
Maar waar kry ’n mens die tyd vir al hierdie vermaak? Tegnologie kan nou wel vir ons die wonderwerk van kitsvermaak moontlik maak—stel jou net voor hoe verstom Mozart sou wees om een van sy simfonieë oor ’n draagbare stereoklanktoestel te hoor! Die tegnologie kan egter nie vir ons die tyd skep wat dit neem om al hierdie vermaak te geniet nie. Trouens, in party lande waar die tegnologie ver gevorderd is, is mense geneig om minder vrye tyd te hê, pleks van meer.
As ons dit dus toelaat, kan vermaak maklik al ons vrye tyd in beslag neem. En ons moet onthou dat vermaak maar net een vorm van ontspanning is, gewoonlik die passiefste vorm. Die meeste van ons wil ook graag buite kom en iets meer aktiefs doen, ons wil aan dinge deelneem pleks van net te sit en vermaak te geniet. Daar is wandelpaadjies waarlangs ons kan gaan stap, goeie vriende wie se geselskap ons kan geniet en speletjies om te speel.
As dit verkeerd is om toe te laat dat vermaak al ons vrye tyd in beslag neem, hoeveel erger sal dit tog nie wees om toe te laat dat dit die tyd in beslag neem wat ons aan belangriker verpligtinge, soos aan ons Skepper, ons gesin, ons werk en ons vriende, moet bestee nie! Dit is dus uiters noodsaaklik om ’n gebalanseerde beskouing van vermaak te hê! Hoe besluit ons watter vermaak nadelig vir ons is en hoeveel daarvan te veel is?
[Prente op bladsy 7]
Party vorme van vermaak kan ons ontroer en kan ook leersaam wees
-
-
Watter vermaak sal jy kies?Ontwaak! – 1992 | November 8
-
-
Watter vermaak sal jy kies?
DIT is een ding om ’n gebalanseerde beskouing van vermaak te hê. Maar om gebalanseerd te wees in ons keuse van vermaak is ’n heel ander saak. Dit is redelik maklik om in te sien dat vermaak ’n regmatige plek in ons lewe beklee, maar baie daarvan is waardeloos en blote tydverkwisting. Daar is egter steeds dinge waaroor ons van dag tot dag moet besluit—en dit is nie altyd maklike besluite nie.
Soos ons gesien het, maak die vermaaklikheidsbedryf dit nie makliker om te besluit nie. Daar is ’n verstommende hoeveelheid om van te kies, maar die Bybel gee al duisende jare lank die nodige leiding aan opregtes van hart. Moderne tegnologie het Bybelbeginsels nie ouderwets gemaak nie; inteendeel, in hierdie moeilike tye is hulle nodiger en nuttiger as ooit tevore. Kom ons kyk dus hoe ons sulke beginsels kan gebruik in verband met die twee gevaargebiede van vermaak—dít wat in vermaak uitgebeeld word en die tyd wat dit in beslag neem.
Wat is die Bybel se riglyne?
’n Jongman pleeg selfmoord, en hulle vind uit dat hy diep betrokke was by heavy metal-rockmusiek wat selfmoord aanmoedig. ’n Veertienjarige meisie slaan haar ma met ’n swaar voorwerp dood, en dit lyk asof sy ook behep was met heavy metal-musiek. ’n Vyftienjarige seun vermoor ’n vrou, en sy advokaat beweer dat hy beïnvloed is deur gruwelrolprente waarin naakte geweld uitgebeeld word. ’n Rolprent wat oor geweld tussen bendes handel, begin draai, en gewelddadige gevegte breek uit tussen jeugbendes, reg daar in die bioskoopsale en tussen dié wat vir die rolprent toustaan.
Dit is duidelik dat dít wat in ons keuse van vermaak uitgebeeld word, ’n invloed op ons het. Party deskundiges sê dalk dat die bogenoemde gevalle uniek is en dat dit niks bewys nie. Maar Bybelbeginsels hou regstreeks verband met die probleem. Neem byvoorbeeld hierdie belangrike woorde: “Gaan met die wyse om, dan word jy wys; maar hy wat met dwase verkeer, versleg” (Spreuke 13:20). Kom party vorme van vermaak nie juis daarop neer nie—omgang met mense wat dwaas is, wat nie sedelike beginsels in hulle lewe toepas nie? 1 Korinthiërs 15:33 sê eweneens: “Moenie dwaal nie; slegte gesprekke bederf goeie sedes.” Hierdie woorde is nie dubbelsinnig nie, dit is nie die woorde van deskundiges wat in ’n hewige argument betrokke is omdat hulle menings en statistieke van mekaar verskil nie. Dit is ’n eenvoudige wet van die menslike natuur. As ons gereeld met sedelik verdorwe mense omgaan, sal dit ons eie sedes bederf.
Sulke beginsels is net so nuttig met betrekking tot die verafgoding van sport-, rolprent-, TV- en musieksterre. Hoewel sterre dikwels geweld of onsedelikheid in hulle vertonings sowel as in hulle persoonlike lewe verheerlik, lyk dit asof hulle bewonderaars—veral die jongmense—hulle steeds verafgod. Die koerant The European het onlangs gesê: “Sosioloë wys daarop dat popsterre in ’n toenemend sekulêre gemeenskap die plek inneem wat godsdiens vroeër in baie jongmense se lewe beklee het.” Maar let op wat Psalm 146:3 sê: “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie.” En Spreuke 3:31 sê: “Wees nie afgunstig op ’n man van geweld en verkies geeneen van sy weë nie.”
Daar is nog ’n sleutelbeginsel: Wanneer Christene besluite neem, moet hulle nie net die invloed wat dit op hulle sal hê in gedagte hou nie, maar ook die invloed wat dit op ander in die Christengemeente sal hê, waaronder dié met ’n sensitiewer gewete (1 Korinthiërs 10:23-33). Die positiewe sy van die saak is dat Bybelbeginsels ons ook help om standaarde te bepaal vir vorme van vermaak waaruit ons met vrymoedigheid kan kies. Die apostel Paulus het die volgende raad gegee: “Verder, broeders, alles wat waar is, alles wat eerbaar is, alles wat regverdig is, alles wat rein is, alles wat lieflik is, alles wat loflik is—watter deug en watter lof daar ook mag wees, bedink dit.”—Filippense 4:8.
Hierdie beginsels het deur die eeue heen as ’n riglyn vir God se volk gedien. Christene in eertydse Rome het nie ’n wet nodig gehad wat uitdruklik gesê het dat die gladiatorspele, met al hulle slagting en sadisme, nie gepaste vermaak is nie. Hulle het eenvoudig beginsels soos die bogenoemde toegepas en hulleself, hulle gesinne en hulle gemeentes daardeur beskerm.
Hoe om te kies
Ware Christene doen vandag dieselfde. Wanneer hulle vermaak kies, stel hulle eers ondersoek in om te sien watter sedelike gedrag uitgebeeld word. Hoe? Wel, voordat hulle byvoorbeeld ’n plaat koop, kyk hulle eers na die omslag. Hoe word die musiek geadverteer? Moedig dit verdorwe waardes aan? Haat? Opstandigheid? Woede? Seks en verleidelikheid? Soms is die woorde beskikbaar sodat dit nagegaan kan word. Boekomslae bevat ook dikwels ’n opsomming van die inhoud, en soms is resensies beskikbaar. Wat rolprente betref, is daar ook dikwels resensies in plaaslike koerante en tydskrifte. Party lande het ’n rolprentgraderingstelsel wat as ’n riglyn kan dien. As vandag se verdorwe wêreld sekere vorme van vermaak as te seksueel eksplisiet, onsedelik of gewelddadig beskou, sal dit vanselfsprekend moeilik wees om te glo dat ’n Christen sy standaarde sal verlaag en bereid sal wees om sulke dinge in sy verstand en hart in te neem.
Aan die ander kant het wyse koning Salomo eenkeer gewaarsku: “Wees nie alte regverdig en hou jou nie buitengewoon wys nie: waarom sou jy jouself te gronde rig?” (Prediker 7:16). Dit is baie maklik om selfvoldaan te raak in verband met jou keuse van vermaak. Ons is dalk sterk oortuig van ’n keuse wat ons gemaak het nadat ons Bybelbeginsels sorgvuldig en biddend oorweeg het. Maar ons vind moontlik uit dat ander wat dieselfde beginsels in hulle lewe toepas ietwat anders besluit. Moenie toelaat dat dit jou van jou vreugde ontneem nie. Elkeen van ons moet verantwoordelik wees vir sy eie keuse.—Galasiërs 6:4.
Hoeveel is te veel?
Die wêreld se waardesisteem is verskriklik ongebalanseerd met betrekking tot die voorkeur wat dit aan ontspanning gee. ’n Hoofartikel in die handelsblad Parks & Recreation het ontspanning byvoorbeeld onlangs “die lewensessens” genoem. The New York Times Magazine het eweneens onlangs van Saterdagaand, ’n gewilde tyd vir ontspanning, gesê: “As jy hulle bymekaar tel, sal jy vind dat daar baie meer weeksdae as Saterdagaande in ons lewe is, maar Saterdagaand is dié een wat die lewe die moeite werd maak.” Party sosioloë sê selfs dat die gemeenskap in die wêreld se welvarender lande nou op ontspanning gegrond is en dat godsdiens net nog iets is wat jy in jou vrye tyd doen.
Hierdie verkeerde prioriteite verbaas Christene nie. Die Bybel het lank gelede voorspel dat mense in hierdie kritieke “laaste dae” ‘liefhebbers van hulleself, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God’ sal wees (2 Timotheüs 3:1-4). Maar Bybelbeginsels help ons om ons eie prioriteite reg te kry. Soos Jesus gesê het: “Jy moet die Here jou God liefhê uit jou hele hart en uit jou hele siel en uit jou hele verstand en uit jou hele krag” (Markus 12:30). God se volk stel hulle liefde vir hom dus eerste in hulle lewe. Hulle beperk nie hulle Christelike bediening tot ledige uurtjies nie; dit is eerder hulle eerste prioriteit. Selfs hulle sekulêre werk ondersteun net daardie belangrike loopbaan.—Mattheüs 6:33.
Wat vermaak betref, moet ’n Christen dus die koste bereken en vasstel hoeveel tyd dit in beslag sal neem in vergelyking met hoeveel tyd dit werd is (Lukas 14:28). As dit sal beteken dat ons enige vermaak najaag ten koste van belangrike dinge, soos ons persoonlike of gesins-Bybelstudie, tyd wat ons saam met medegelowiges deurbring, tyd wat ons in die Christelike bediening of noodsaaklike gesinsverpligtinge kan gebruik, dan is dit nie die moeite werd nie.
Wat jou keuse omtrent jou weerspieël
Die hoeveelheid tyd wat ons aan vermaak afstaan, sal baie omtrent ons prioriteite weerspieël, net soos dít wat in ons keuse van vermaak uitgebeeld word, baie omtrent ons sedes en die opregtheid van ons toewyding sal weerspieël. Ons keuse sal aan mense in die gemeenskap toon watter soort mense ons is en watter beginsels ons voorstaan. Ons keuse sal aan ons vriende, ons familie en ons gemeente toon of ons gebalanseerd of dogmaties, beginselvas of huigelagtig, regverdig of selfvoldaan is.
Laat jou besluite jou en jou gesin se beginsels weerspieël, aangesien jy voor die Skepper staan, wat ons almal se hart en motiewe ondersoek. Hebreërs 4:13 sê: “Daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.” Slegs God ken die antwoord op die vraag wat die kern van hierdie onderwerp uitmaak: Sal ons werklik sy beginsels as ’n riglyn in elke aspek van ons lewe gebruik?
-