Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • rs bl. 207-bl. 211
  • Jaartalle

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jaartalle
  • Redenering uit die Skrif
  • Soortgelyke materiaal
  • 1914—’n betekenisvolle jaar in Bybelprofesie
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Wanneer sal die voorspelde wêreldvernietiging kom?
    Ware vrede en veiligheid—Hoe kan jy dit vind?
  • Wat toon Bybelchronologie oor die jaar 1914?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wanneer het Jesus Koning geword?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2012
Sien nog
Redenering uit die Skrif
rs bl. 207-bl. 211

Jaartalle

Definisie: Jaartalle dui die tyd aan wanneer gebeure plaasgevind het. Die Bybel druk jaartalle uit in verhouding tot die lewensduur van individue, die tydperk waartydens sekere heersers aan die bewind was, of ander belangrike gebeure. Dit bevat die enigste volledige chronologie wat terugstrek tot by die skepping van Adam. Bybelchronologie het ook vooraf haarfyn aangedui wanneer sekere belangrike gebeure ter vervulling van God se voorneme sou plaasvind. Die Gregoriaanse kalender, wat nou in ’n groot deel van die wêreld in swang is, word maar eers van 1582 af gebruik. In sekulêre bronne bestaan daar meningsverskil oor jaartalle wat vir gebeure in die vroeë geskiedenis aangegee word. Maar sekere sleuteljaartalle, soos 539 v.G.J. vir die val van Babilon, en gevolglik 537 v.G.J. vir die Jode se terugkeer uit gevangenskap, is goed bevestig (Esra 1:1-3). Met sulke datums as aanvangspunte is dit moontlik om die jaartalle vir Bybelse gebeure in terme van huidige kalenders uit te druk.

Het die wetenskap bewys dat mense al miljoene jare op die aarde is, nie net enkele duisende jare soos die Bybel aandui nie?

Die dateringsmetodes van wetenskaplikes is gebaseer op aannames wat nuttig kan wees, maar dikwels baie teenstrydige resultate tot gevolg het. Die jaartalle wat hulle aangee, word dus voortdurend hersien.

’n Verslag in New Scientist van 18 Maart 1982 lui: “‘Ek is verstom om te dink dat ek net ’n jaar gelede die verklarings gedoen het wat ek wel gedoen het.’ Dit was Richard Leakey se woorde verlede Vrydag voor die elegante gehoor by ’n aandlesing van die Royal Institution. Hy het onthul dat die konvensionele wysheid, wat hy so onlangs in sy BBC-televisiereeks The Making of Mankind voorgestaan het, ‘waarskynlik in ’n aantal kritieke aspekte verkeerd was’. Hy meen nou in die besonder dat die mens se oudste voorouer aansienlik jonger is as die 15-20 miljoen jaar waarvoor hy sterk uitgekom het op televisie.”—Bl. 695.

Van tyd tot tyd word nuwe dateringsmetodes ontwikkel. Hoe betroubaar is hulle? Aangaande een wat bekend staan as termoluminessensie sê The New Encyclopædia Britannica (1976, Macropædia, Dl. 5, bl. 509): “Op die oomblik word die status van termoluminessensie hoofsaaklik deur hoop eerder as kundigheid gekenmerk.” En Science (28 Augustus 1981, bl. 1003) berig dat ’n geraamte wat volgens aminosuurrasemisasie 70 000 jaar oud is, volgens radioaktiewe datering slegs 8 300 of 9 000 jaar oud is.

Popular Science (November 1979, bl. 81) berig dat fisikus Robert Gentry “meen dat al die jaartalle wat deur middel van radioaktiewe verval bepaal word, verkeerd kan wees—nie net met ’n paar jaar nie, maar sommer baie”. Die artikel toon dat sy bevindinge tot die gevolgtrekking sou lei dat “die mens nog net ’n paar duisend jaar hier is en die aarde nie al 3,6 miljoen jaar lank bewoon nie”.

Wetenskaplikes meen egter dat die aarde veel ouer as die mens is. Die Bybel verskil nie daarmee nie.

Is die ouderdomme van mense voor die Vloed, soos in die Bybel aangegee, gemeet volgens dieselfde soort jaar wat ons gebruik?

Indien daar geredeneer word dat die “jare” aan ons maande gelyk is, het Enos ’n vader geword toe hy sewe jaar oud was, en het Kenan ’n seun verwek toe hy slegs vyf jaar oud was (Gen. 5:9, 12). Dit is immers onmoontlik.

Gedetailleerde chronologie wat verstrek word in verband met die Vloed toon hoe lank die maande en jare van daardie tyd was. Wanneer Genesis 7:11, 24 met Genesis 8:3, 4 vergelyk word, toon dit dat vyf maande (van die 17de van die 2de maand tot die 17de van die 7de maand) gelyk was aan 150 dae, of vyf maande van 30 dae elk. Daar word spesifiek van ’n “tiende maand” en van verdere tydperke daarna gepraat voor die koms van die volgende jaar (Gen. 8:5, 6, 8, 10, 12-14). Hulle jare het klaarblyklik uit 12 maande van 30 dae elk bestaan. Op ’n baie vroeë tydstip is hulle streng maankalender periodiek by die lengte van die sonjaar aangepas, soos blyk uit die feit dat Israel seisoenfeeste van insameling op bepaalde datums gehou het. Sodoende het die feeste voortdurend in die gepaste seisoene geval.—Lev. 23:39.

Hou in gedagte dat God mense gemaak het om vir ewig te lewe. Dit was Adam se sonde wat die dood meegebring het (Gen. 2:17; 3:17-19; Rom. 5:12). Diegene wat voor die Vloed gelewe het, was nader aan volmaaktheid as wat ons vandag is, en daarom het hulle langer geleef. Maar elkeen het binne duisend jaar gesterf.

Waarom sê Jehovah se Getuies dat God se Koninkryk in 1914 opgerig is?

Twee soorte getuienis dui op daardie jaar: (1) Bybelchronologie en (2) die gebeure sedert 1914 ter vervulling van profesie. Ons sal hier die chronologie bespreek. Kyk onder “Laaste dae” vir die vervulling van profesie.

Lees Daniël 4:1-17. Verse 20-37 toon dat hierdie profesie ’n vervulling ten opsigte van Nebukadnesar gehad het. Maar dit het ook ’n groter vervulling. Hoe weet ons dit? Verse 3 en 17 toon dat die droom wat God aan koning Nebukadnesar gegee het, handel oor die Koninkryk van God en God se belofte om dit te gee aan “wie Hy wil . . . die nederige onder die mense”. Die hele Bybel toon dat dit Jehovah se voorneme is dat sy Seun, Jesus Christus, as Sy verteenwoordiger oor die mensdom moet regeer (Ps. 2:1-8; Dan. 7:13, 14; 1 Kor. 15:23-25; Openb. 11:15; 12:10). Die Bybel se beskrywing van Jesus toon dat hy inderdaad “die nederige onder die mense” was (Filip. 2:7, 8; Matt. 11:28-30). Die profetiese droom dui dus op die tyd wanneer Jehovah heerskappy oor die mensdom aan sy Seun sou gee.

Wat sou intussen gebeur? Heerskappy oor die mensdom, soos voorgestel deur die boom en sy onderstam, sou “’n dierehart” hê (Dan. 4:16). Die geskiedenis van die mensdom sou oorheers word deur regerings wat die eienskappe van wilde diere openbaar. Vandag word die beer algemeen gebruik om Rusland voor te stel; die arend, die Verenigde State; die leeu, Brittanje; die draak, China. Die Bybel gebruik ook wilde diere as simbole van wêreldregerings en van die hele wêreldwye stelsel van menseheerskappy onder die invloed van Satan (Dan. 7:2-8, 17, 23; 8:20-22; Openb. 13:1, 2). Soos Jesus in sy profesie oor die voleinding van die stelsel getoon het, sou Jerusalem “vertrap word deur die nasies totdat die tye van die nasies vervul is” (Luk. 21:24). “Jerusalem” het die Koninkryk van God voorgestel, want daar is gesê dat sy konings “op die troon van die koningskap van die HERE” sit (1 Kron. 28:4, 5; Matt. 5:34, 35). Die nie-Joodse regerings, wat deur wilde diere voorgestel is, sou dus die reg van God se Koninkryk om mense-aangeleenthede te bestuur, vertrap en sou self onder Satan se beheer die heerskappy voer.—Vergelyk Lukas 4:5, 6.

Hoe lank sou sulke regerings toegelaat word om hierdie beheer uit te oefen voordat Jehovah die Koninkryk aan Jesus Christus gee? Daniël 4:16 sê “sewe tydperke” (“sewe jaar”, AT en Mo, ook JB se voetnoot oor vers 13). Die Bybel toon dat wanneer ’n profetiese tydperk bereken word, ’n dag as ’n jaar gereken word (Eseg. 4:6; Num. 14:34). Hoeveel “dae” is dan by die saak betrokke? Openbaring 11:2, 3 sê duidelik dat 42 maande (3 1/2 jaar) in daardie profesie as 1 260 dae gereken word. Sewe jaar is dubbeld so lank, of 2 520 dae. As die ‘dag vir ’n jaar’-reël toegepas word, is dit 2 520 jaar.

Wanneer het die “sewe tydperke” begin? Nadat Sedekia, die laaste koning in die tipiese Koninkryk van God, deur die Babiloniërs van die troon in Jerusalem afgehaal is (Eseg. 21:25-27). Eindelik, begin Oktober 607 v.G.J., het die laaste spoor van Joodse soewereiniteit verdwyn. Teen daardie tyd is die Joodse goewerneur, Gedalja, wat deur die Babiloniërs in bevel gelaat is, deur sluipmoordenaars om die lewe gebring en het die oorblywende Jode na Egipte gevlug (Jeremia, hoofstukke 40-43). Betroubare Bybelchronologie toon dat dit plaasgevind het 70 jaar voor 537 v.G.J., die jaar waarin die Jode uit gevangenskap teruggekeer het; dit wil sê, dit het begin Oktober 607 v.G.J. plaasgevind. (Jer. 29:10; Dan. 9:2; kyk die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, bladsye 138-141, vir nadere besonderhede.)

Hoe word die tyd dan tot by 1914 bereken? As ons 2 520 jaar vanaf begin Oktober 607 v.G.J. tel, bring dit ons by begin Oktober 1914 G.J., soos in die tabel getoon.

DIE BEREKENING VAN DIE “SEWE TYDPERKE”

“Sewe tydperke” = 7 x 360 = 2 520 jaar

’n Bybelse “tydperk” of jaar = 12 x 30 dae = 360 (Openb. 11:2, 3; 12:6, 14).

In die vervulling van die “sewe tydperke” is elke dag gelyk aan een jaar (Eseg. 4:6; Num. 14:34).

Begin Oktober 607 v.G.J. tot 31 Desember 607 v.G.J. = 1/4 jaar

1 Januarie 606 v.G.J. tot 31 Desember 1 v.G.J. = 606 jaar

1 Januarie 1 G.J. tot 31 Desember 1913 = 1 913 jaar

1 Januarie 1914 tot begin Oktober 1914 = 3/4 jaar

Totaal: 2 520 jaar

Wat het toe gebeur? Jehovah het heerskappy oor die mensdom aan sy Seun, Jesus Christus, wat in die hemele verheerlik was, toevertrou.—Dan. 7:13, 14.

Waarom is daar dan nog soveel goddeloosheid op aarde? Nadat Christus op die troon geplaas is, is Satan en sy demone uit die hemel na die aarde neergewerp (Openb. 12:12). As Koning het Christus nie dadelik begin om almal te vernietig wat geweier het om Jehovah se soewereiniteit en hom as die Messias te erken nie. Soos hy voorspel het, moes daar eers ’n wêreldwye predikingswerk gedoen word (Matt. 24:14). As Koning sou hy ’n skeiding van die mense van alle nasies reël. Die regverdiges sal die vooruitsig op die ewige lewe kry, en die goddeloses sal vir ewig in die dood afgesny word (Matt. 25:31-46). Intussen sou die baie moeilike toestande heers wat vir “die laaste dae” voorspel is. Soos getoon word onder “Laaste dae”, is daardie gebeure sedert 1914 duidelik te sien. Voordat die laaste lede van die geslag wat in 1914 gelewe het van die toneel verdwyn, sal al die dinge wat voorspel is, plaasvind, onder meer die “groot verdrukking” waartydens die teenswoordige goddelose wêreld sal eindig.—Matt. 24:21, 22, 34.

Wanneer sal die einde van hierdie goddelose wêreld aanbreek?

Jesus het geantwoord: “Van dié dag en dié uur weet niemand nie, ook die engele van die hemele nie, maar net my Vader alleen.” Maar hy het ook gesê: “Voorwaar Ek sê vir julle, hierdie geslag [wat gelewe het toe “die teken” van “die laaste dae” in vervulling begin gaan het] sal sekerlik nie verbygaan voordat al hierdie dinge gebeur het nie.”—Matt. 24:36, 34.

En nadat dit vertel het van gebeure wat op die oprigting van die Koninkryk in die hande van Jesus Christus in 1914 sou volg, voeg Openbaring 12:12 by: “Wees verheug, o hemele en die wat daarin woon; wee die bewoners van die aarde en die see, want die duiwel het na julle neergedaal met groot woede, omdat hy weet dat hy min tyd het.”

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel