Betoon liefde tydens die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms
1 Die 99 broers van Suid-Afrika wat die spesiale internasionale byeenkoms in Kiëf, in die Oekraïne, bygewoon het, het met opwindende verslae van daardie epogmakende byeenkoms af teruggekeer. Daar is altesaam 7402 gedoop, wat die grootste getal ooit is, selfs meer as diegene wat in 1958 by die wêreldbyeenkoms in New York gedoop is. Die afgevaardigdes het die innige liefde wat die Oekraïnse en Russiese broers teenoor hulle betoon het uitsonderlik gevind. Hoewel taal beslis ’n probleem was, het die broers in die Oekraïns- en Russiessprekende dele van die stadion die afgevaardigdes van ander lande in hulle dele van die stadion voor, tussen en ná die sessies besoek. Hulle het ondervindinge vertel, foto’s van hulleself saam met die besoekende afgevaardigdes laat neem en vir mekaar geskenkies as aandenkings gegee. Watter broederlike liefde het hulle tog betoon!
2 Dit moet ons laat nadink. By ons spesiale internasionale byeenkomste wat in Durban, Johannesburg, Kaapstad en Pretoria gehou gaan word, sal ons baie afgevaardigdes van regoor die wêreld hê. Gaan ons dieselfde innige liefde en vriendelikheid teenoor hulle betoon?
3 Ons het ook nou al ’n paar jaar lank die vryheid in hierdie land gehad om veelrassige en veeltalige streekbyeenkomste te geniet. Ons het dit geniet om saam met elkeen te wees wat na die program luister in die saal of deel van die stadion waar sy eie taal gepraat word. Tussen die sessies het ons saam verversings geniet, asook ’n bietjie assosiasie. Maar ons het meestal in die saal of deel van die stadion gebly waar ons taal gepraat word. Ons het nie juis ’n poging aangewend om ons broers te besoek wat ’n ander taal praat of wat van ’n ander ras is nie. Die verskillende ras- en taalgroepe het meestal in hulle eie dele gebly. Ons het derhalwe by hierdie Christenbyeenkomste feitlik by mekaar verbygeleef. Kan ons hierdie jaar by die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkoms hierop verbeter?
4 Watter puik geleenthede sal ons tog by ons byeenkoms, veral by die vier internasionale byeenkomste, hê om aan die wêreld te bewys dat ons waarlik Christus se dissipels is omdat ons liefde onder mekaar het (Joh. 13:35). In Suid-Afrika bejeën die verskillende rasse en etniese groepe mekaar tans met soveel haat. By ons byeenkoms sal ons dus ’n gulde geleentheid hê om te bewys dat ons anders is en dat ons nie ’n deel van die wêreld is nie.—Joh. 17:16.
5 Hierdie jaarlikse byeenkomste is geleenthede om mekaar beter te leer ken. Vra jou af: ‘As ek ’n Zulusprekende broer is, hoe goed ken ek my Engels- of Afrikaanssprekende broers? As ek ’n Engelssprekende broer is, hoe goed ken ek my Xhosa-, Suid-Sotho- of Sepedisprekende broers?’ Maar miskien sê jy: ‘Ek ken nie hulle taal nie. Hoe kan ek met hulle assosieer?’ Die meeste broers in Suid-Afrika ken ten minste ’n paar Engelse woorde, maar die meeste Russiese en Oekraïnse broers het glad niks Engels geken nie. Hulle moes die paar wat ’n bietjie Engels geken het, vra om die gesprek vir hulle te vertaal. Dit was verbasend om te sien hoe die afgevaardigdes ten spyte van die taalprobleem hoofsaaklik deur middel van gebare met die plaaslike broers gekommunikeer het.
6 Die Russiese en Oekraïnse broers, wat baie jare lank van hulle Christenbroers afgesonder was, wou net graag saam met hulle broers van ander lande wees om wedersyds bemoedig te word. Hulle het beslis nie hulle broers besoek om geskenke by hulle te kry nie, selfs al is baie van hulle arm. Dit was hulle begeerte na geestelike samesyn wat die byeenkoms in Kiëf ’n onvergeetlike ondervinding gemaak het vir diegene wat die voorreg gehad het om dit by te woon. Kan ons almal ons dit ten doel stel om by vanjaar se byeenkoms ten minste een gesin of persoon van ’n ander taal of ras te leer ken? Iets wat beslis gehelp het om gesprekke te begin, was die feit dat almal ’n lapelkaart gedra het. Daarom spoor ons almal aan om hulle lapelkaart te dra, selfs wanneer hulle byeenkoms toe gaan.
7 Hulle diepe waardering vir geestelike dinge is nog ’n les wat ons by hulle kan leer. Hulle het uit volle bors gesing sodat hulle sang regdeur die stadion weerklink het. En daardie broers het die voorreg om Koninkryksliedere in die openbaar te sing só waardeer dat hulle ná elke lied handegeklap het. Hulle het selfs ná elke gebed handegeklap om hulle waardering te toon! En hulle het nie halfhartig handegeklap nie; dit was onafgebroke. Kan ons aan die einde van die jaar groter waardering by ons byeenkomste toon? Hoe? Om maar een ding te noem, deur ons pragtige liedere hartlik tot eer van ons God, Jehovah, te sing. Al die liedere wat ons gaan sing, verskyn in die byvoegsel tot Ons Koninkryksbediening vir Oktober. Sit tyd opsy om dit te oefen sodat ons by die byeenkoms uit volle bors kan sing.
8 Op watter ander manier kan ons ons waardering toon? Deur gedurende al die sessies in ons sitplek te bly en aandagtig na al die toesprake te luister. Die buitelandse afgevaardigdes wat die byeenkoms in Kiëf bygewoon het, is gevra om tydens die hele program in hulle sitplek te bly, al was die grootste deel daarvan in Russies en Oekraïns. Net die paar toesprake wat deur die lede van die Bestuursliggaam gehou is en die groete van ander takke af was in Engels. Hulle het in hulle sitplek gebly ondanks die feit dat dit in ’n oop stadion in die bloedige son was en het sodoende ’n goeie voorbeeld gestel. Kan ons ons ook voorneem om gedurende die sessies saam met ons gesin in ons sitplekke te bly? Jehovah het deur sy organisasie vir ons so ’n goeie program gereël. Ons wil beslis geen deel daarvan mis nie.