Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Hebsug kan dodelik wees
    Die Wagtoring – 1984 | Julie 1
    • Hebsug kan dodelik wees

      “DIE beweegrede was hebsug”, het die assistent-aanklaer gesê. Die misdaad was moord. Die nege-en-twintigjarige man wat voor die regter gestaan het, was daarvan aangekla dat hy sy vrou se vader, moeder en sestienjarige broer doodgeskiet het. Waarom? Om R240 000 te erf!

      Hoewel die oorgrote meerderheid nie sal toelaat dat hebsug hulle moord laat pleeg nie, word hebsug dikwels die katalisator wat ’n goeie verhouding bederf. Wanneer hebsug in die Christengemeente insypel, kan dit geestelike skade en selfs die dood tot gevolg hê deur broers te verdeel en haat te laat opvlam tot die punt waar dit tot geestelike “moord” lei.—1 Johannes 3:15; Markus 7:21, 22.

      Wie is vatbaar?

      Die potensiaal om hebsugtig te wees, skuil in ons almal. Weens oorgeërfde onvolmaaktheid is hebsug ’n wilde loot van die normale begeerte na materiële besittings en finansiële sekuriteit (Romeine 5:12). Dit spruit voort uit ’n oordrewe of onversadigbare begeerte na besittings, roem of mag. Dit kan ’n bedagsame persoon meedoënloos maak. In die laaste tyd is daar een groep wat meer vatbaar geword het vir die listige planne van hebsugtige konkelaars as die meeste ander.

      Godsdienstige mense is een van swendelaars se hoofteikens. Waarom? Godsdienstige mense is gewoonlik goedgelowiger en hulpvaardiger as ander. In die oë van hebsugtiges is dit ’n teken van swakheid—liggelowigheid. Nadat Amerikaanse advokaat Brent Ward ondersoek ingestel het na bedrog in Utah wat die lede van een godsdiensgroep oor ’n tydperk van twee jaar of wat R240-miljoen uit die sak gejaag het, het hy gesê: “Wanneer godsdiens by ’n verkoopstegniek betrek word, wil dit voorkom of die verkoopsman die kloof tussen die ongelooflike en die gelooflike kan oorbrug.” Die slagoffers is mislei om te glo dat hulle vinnig en maklik ’n fortuin kon maak deur bloot hulle geld te belê. Kon dit moontlik hebsug gewees het wat sommige van hulle verlok het om afstand te doen van hulle swaar verdiende spaargeld?

      ’n Illusie van veiligheid

      Hoe neem hebsug—met sy sug na besittings en rykdom—toe? Hoekom maak hebsug die versigtige belegger liggelowig? Prediker 4:4 wys op een antwoord: “Ek het gesien dat al die moeite wat mens doen vir sukses uit onderlinge afguns kom. Ook hier kom dit dus tot niks. Dit is ’n gejaag na wind.”—NAV.

      Gewetenlose sakemanne verbind dikwels hulle sakeonderneming met ’n aura van rykdom—’n luuksemotor, duur juwele—en gebruik dit as ’n lokaas aan hebsug se hoek om die onbehoedsames te vang. Hulle wil hê dat jy hulle hulle luukse moet beny. Hulle wil hê dat jy hulle in so ’n mate moet beny dat jy sal glo dat jy ook ’n soortgelyke oorvloed artikels kan besit en met min inspanning ryk kan word deur in hulle onderneming te belê. As jy nie in werklikheid sommer dadelik jou belegging verloor nie, sal jy op die ou end langer en harder as ooit moet werk.

      Hebsug skep die illusie dat mense net geld nodig het. Geld kan weliswaar ’n beskutting wees, maar dit kan nie geluk of die ewige lewe koop nie. Dit het sy beperkings “Wysheid is ’n beskutting, geld is ’n beskutting; maar die voordeel van kennis: die wysheid hou die besitter daarvan in die lewe”, sê Prediker 7:12. Dit is dade wat gebaseer is op juiste kennis van Jehovah God en sy Seun Jesus Christus wat ware geluk bring en tot die ewige lewe lei. Is dit dus nie verstandig om so te belê dat ’n mens geestelik ryk word in God eerder as om materiële rykdom by die mens na te streef nie?—Mattheüs 5:3, NW; Lukas 12:20, 21; Johannes 17:3.

      Maar geld op sigself is nie die geskil nie. Die ware geskil is: Hoe kry ons die geld in die hande, en wat doen ons daarmee?—Mattheüs 6:24.

      Christelike kontakte

      ’n Aantal verkooporganisasies spoor hulle verteenwoordigers aan om al hulle kennisse as voornemende klante te beskou—onder meer diegene in hulle kerk. Medegelowiges word ’n natuurlike mark vir enigiets wat verkoop word. Dit is een kunsie wat die verkoopwêreld gebruik om sy klantetal te vergroot. Maar sal ’n ware Christen sy Christelike kontakte, sy broers en susters in die geloof, geldelik wil uitbuit?—1 Korinthiërs 10:23, 24, 31-33.

      Nadat die apostel Paulus drie jaar saam met die gemeente in Efese deurgebring het, kon hy met ’n rein gewete sê: “Niemand se silwer of goud of klere het ek begeer nie” (Handelinge 20:33). Paulus het nie alleen geweier om ’n ander persoon se materiële besittings vurig te begeer nie, maar hy was ook nie bereid om die waarheid vir persoonlike, finansiële gewin te gebruik nie.

      Sommige ondernemings gebruik die goddelike naam in hulle advertensies en spits hulle verkoopveldtog deur middel van die Koninkryksaal op Jehovah se Getuies toe. Kan daar gesê word dat hierdie gebruik strook met die beginsel in Handelinge 20:33? Nouliks! Koninkryksale of Bybelstudiegroepe of byeenkomste van Jehovah se Getuies is nie die plek vir persoonlike handelsake of vir die werwing van werknemers nie, maar hulle is eerder sentrums vir geestelike bespreking en omgang voor, gedurende en na die vergadering (Hebreërs 10:23-25). Indien die geestelike skoonheid van Christelike omgang met kommersialisme beklad sou word, sou dit van ’n skreiende gebrek aan waardering vir geestelike waardes getuig.

      Daar is ook die kwessie om buite die Koninkryksaal gebruik te maak van Christelike kontakte. Beteken dit dat mede-Christene nie met mekaar sake kan doen of saam ’n onderneming kan begin nie? Nee, dit is ’n persoonlike besluit. Maar sommige Christene begin met sakeondernemings wat hebsug bevorder en probeer om medegelowiges te verlok om hulle vennote of verkoopsverteenwoordigers te word. Baie van hierdie ondernemings misluk en kos die bedriegde beleggers groot bedrae.

      In sommige gevalle word die beleggers self aangedryf deur ’n sterk begeerte om gou geld te maak. Maar moet elke organiseerder nie ’n verantwoordelikheidsgevoel hê oor die finansiële uitslag vir ander in sakeondernemings nie? Moet hy nie vooraf deeglik nadink oor die moontlike geestelike gevolge vir ander indien die sakeonderneming sou misluk nie? Bring groter verantwoordelikheid dan nie gewoonlik groter aanspreeklikheid mee nie?

      Enkele Christenopsieners het twyfelagtige ondernemings voorgestaan wat hulle medegelowiges tot nadeel gestrek het. Hulle moet besef dat sulke dinge hulle voorregte in die gemeente kan raak. Daar kan vir niemand voorgeskryf word hoe hy sy sekulêre aangeleenthede moet behartig nie. Maar niemand moet sy Christelike kontakte vir sakedoeleindes uitbuit nie.—2 Korinthiërs 6:3, 4; 7:2; Titus 1:7.

      Pas op vir planne om gou ryk te word

      ’n Christen wat gou besef hoe gevaarlik dit is om betrokke te raak by ’n wêreldlike plan om gou ryk te word, kan sy waaksaamheid verslap wanneer medegelowiges daarby betrokke is en mislei word deur hierdie redenasie: ‘Hierdie saketransaksie is natuurlik anders, dit kom van mede-Christene af, en ek kan die ekstra geld gebruik. Ek is seker dat hulle nie betrokke sal raak by ’n gewaagde onderneming en die belegging van hulle medegelowiges in die gevaar sal stel nie. Dit sal my bowendien meer tyd vir geestelike sake gee. Ek sal dalk selfs ’n pionier kan word.’ Pas op! “Bedrieglik is die hart bo alle dinge, ja, verdorwe is dit”, waarsku die Bybel. Dit sluit ook jou hart in. Hebsug kan ons verblind sodat ons ’n gewaagde weg inslaan of ons broers om selfsugtige doeleindes misbruik. Ons moet ons beweegredes eerlik in die lig van God se Woord ondersoek.—Jeremia 17:9, 10.

      Dit is nie verstandig om blindelings met enigiemand, nie eens met medegelowiges, by ’n sakeonderneming betrokke te raak nie. Dit is verstandig om eers ‘die koste te bereken’ (Lukas 14:28, 29). Ken die feite—jou perke, die perke van die onderneming.

      Dink aan hierdie gelykenis: ’n Veilige bestuurder ken die perke van sy motor en die pad. Hy weet dat ander motors teen ’n hoër snelheid beter om draaie kan gaan en vir hindernisse kan uitswaai as syne. Hy weet ook hoe vinniger ’n motor ry, des te moeiliker word dit om dit te beheer as iets gebeur en des te groter is die gevaar van ’n botsing. Daarom weier hy om ander bestuurders en hulle motors te probeer ewenaar—hy ken die perke. Dit is eweneens nie nou die tyd om te sien hoe ver en vinnig ons in hierdie stelsel kan gaan nie. Die feit dat een Christen welslae in die sakewêreld behaal, beteken nie noodwendig dat ’n ander ook welslae sal behaal nie. Net soos alkohol in ’n bestuurder kan hebsug ’n Christen sy perke laat oorskat, en dit kan lei tot ’n geestelike ineenstorting en besering of, nog erger, geestelike dood.—Galasiërs 5:26.

      Voordat jy by ’n sakeonderneming betrokke raak, moet jy jouself afvra: Is dit werklik nodig? Buit die verkoopsbenadering hebsug uit, of sal dit in ’n ware behoefte voorsien? Kan ek bekostig om al die geld wat ek belê te verloor? Sal ek myself of my gesin van die nodige finansiële sekuriteit beroof as die onderneming misluk? Hoe gewaagd is my belegging? Gestel ek word die eienaar van of ’n vennoot in die onderneming. Hoeveel sakeondervinding en -vernuf het ek? Is ek vertroud met belastingwette? Het ek ingegaan op die getuigskrifte en beginsels van die eienaars en die onderneming? Is daar ’n groeiende mark vir die onderneming? Sal ek die onderneming soveel verskuldig wees dat ek dit moeilik sal vind om my daaraan te onttrek? Hoe sal dit die onderneming raak as ek ernstig siek word?

      En nog belangriker, vra: Sal ek werklik meer tyd hê vir geestelike sake, of sal ek minder tyd daarvoor hê? Hoeveel van diegene wat reeds by die onderneming betrokke is, wy sedertdien werklik meer tyd aan geestelike sake?

      Die antwoorde op daardie vrae hou regstreeks verband met jou geestelikheid. Slegte sakegebruike, -idees of -planne verander nie in goeies net omdat mede-Christene daarby betrokke is nie, net so min as wat ’n huis wat met goeie materiaal gebou is, veilig is gedurende ’n storm as die fondament op sand gebou is. Die gevaar vir die Christen lê nie alleen in finansiële verlies nie, maar ook in geestelike ineenstorting.—Mattheüs 7:24-27.

      Daniël, ’n vader van ses kinders, het gevind dat sy onderneming wat vir hom ’n inkomste van R240 000 per jaar besorg het, hom te veel van sy gesin af weggeneem het en sy geestelikheid ondermyn het. Wat het hy dus gedoen? “Ek het besluit om my aan die onderneming te onttrek”, het hy gesê. Dit was 12 jaar gelede, en hy voeg by: “Dit het my nog nooit berou nie; ek het baie seëninge van Jehovah ontvang, en ons hele gesin dien ons Grootse Skepper Jehovah verenig.”

      ’n Sluipende neiging

      Die sluipende neiging tot materialisme ontstel baie en het besorgde Christene laat sê: “Die wêreld is vol planne om vinnig baie geld te maak—voltyds of deeltyds, veral op die gebied van regstreekse, meervlakkige verkope. Baie van my mede-Christene is verlok—slegs om kosbare tyd en geld te verloor. Ek self het al drie keer my geld verloor. Dit spyt my dat ek sommige van my medegelowiges by die saak betrek het. Hulle het geld verloor wat hulle nie kon bekostig om te verloor nie.”

      “Sommige prominente Christene hier staan verskeie beleggings en sakeondernemings onder die broers voor. Die afgelope week is ek drie keer genader: om ’n produk by ’n broer te koop, om geld in ’n onderneming te belê wat deur en vir broers gestig is en om ’n broer se vennoot te word.”

      “Dit wil voorkom of Christene so opgewonde geraak het oor hierdie geleentheid [piramidale versekeringsonderneming] dat enigiemand, nuwe belangstellendes, gelowiges met geestelike probleme, net mooi enigiemand, beskou word as ’n moontlike rekruut vir hulle onderneming.”

      “Soms maak die voorstanders van ‘vinnige en maklike rykdom’ ’n bespotting van geestelike waardes, soos wanneer diegene wat hulle onderneming voorstaan te kenne gee, of reguit sê, dat hulle pasgevonde rykdom of welslae ’n regstreekse gevolg van God se seën op hulle onderneming is.”

      ’n Godvrugtige beskouing van rykdom sal die Christen op sy hoede stel vir die strikke van hebsug en sal hom help om nie voor die wêreld se neiging tot materialisme te swig nie. Hoe moet rykdom dus beskou word om nie tot hebsug aanleiding te gee nie?

      [Prent op bladsy 24]

      Gewetenlose sakemanne wil hê dat jy hulle hulle luukse moet beny

      [Lokteks op bladsy 25]

      Wanneer hebsug in die gemeente insypel, kan dit geestelike skade aanrig

      [Lokteks op bladsy 25]

      Hebsug skep die illusie dat mense net geld nodig het

      [Lokteks op bladsy 26]

      Die Koninkryksaal is nie die plek om werknemers te werf of besigheid te bevorder nie

      [Lokteks op bladsy 26]

      ‘Ek is spyt dat ek medegelowiges by die saak betrek het. Hulle het geld verloor wat hulle nie kon bekostig om te verloor nie’

      [Prent op bladsy 27]

      ’n Godvrugtige beskouing van rykdom stel Christene op hulle hoede teen hebsug se strikke

  • ’n Christelike beskouing van rykdom
    Die Wagtoring – 1984 | Julie 1
    • ’n Christelike beskouing van rykdom

      HET jy onlangs die apostel Paulus se brief aan Timotheüs, veral hoofstuk 1Ti 6:6-19, gelees? Dit toon die ewewig in die rol wat rykdom in die lewens van Christene moet speel. Timotheüs het destyds in die fabelagtig ryk stad Efese gewoon. Christene wat in daardie groot handelsentrum gewoon het, moes veg teen die neiging om wêreldse rykdom as die belangrike saak te beskou. Daardie verse vermaan kortliks: Wees vergenoeg met wat jy het, en moenie probeer om ryk te wees nie; rykes, moenie julle hoop op materiële dinge stel nie. Almal moet eerder ryk wees in goeie werke en almal moet vrygewig wees.

      ’n Ongebalanseerde beskouing van rykdom laat mense oorhel tot hebsug. Hebsug word die wig wat stadig maar seker ’n Christen se greep op die gesonde leerstellings van Christus kan oopbreek. Wanneer hy dan van die helder denke van die waarheid geskei is, val hy in die een stormagtige botsing na die ander saam met persone binne en buite die gemeente. Hierdie pad lei net tot “afguns, twis, beledigings, gemene verdagmakery, voortdurende rusie van mense wat verstandelik verward en van die waarheid beroof is. Hulle dink dat die godsdiens iets is om geldelike wins mee te maak.”—1 Timotheüs 6:3-5, NAV.

      Dit is hoe dit gaan met diegene wat hulle Christelike kontakte uitbuit vir persoonlike “geldelike wins”. Hulle mis die ware rykdom wat slegs deur godsvrug verskaf kan word, die “belofte van die teenwoordige en die toekomende lewe”.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel