Vermy die strik van hebsug met welslae
“Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke.”—1 TIMOTHEÜS 6:9.
1. Waarom moet ons oor strikke besorg wees?
DIE woord ‘strik’ herinner ’n mens moontlik aan ’n jagter wat ’n versteekte apparaat stel om sy niksvermoedende prooi te vang. Maar God stel dit duidelik dat die strikke wat vir ons die gevaarlikste is nie sulke letterlike apparate is nie, maar dít wat ons geestelik en sedelik kan verstrik. Die Duiwel is uiters bedrewe daarin om sulke strikke te stel.—2 Korinthiërs 2:11; 2 Timotheüs 2:24-26.
2. (a) Hoe help Jehovah ons om gevaarlike strikke te vermy? (b) Op watter spesifieke soort strik word die aandag nou gevestig?
2 Jehovah help ons deur sommige van Satan se baie en verskillende strikke te identifiseer. God waarsku byvoorbeeld dat ons lippe, of mond, ’n strik kan wees as ons onverstandige dinge sê, oorhaastig praat of praat waaroor ons nie moet nie (Spreuke 18:7; 20:25, NAV). Trots kan ’n strik wees, asook om met opvlieënde mense om te gaan (Spreuke 22:24, 25, NAV; 29:25). Maar kom ons kyk na ’n ander strik: “Die wat ryk wil word, val in versoeking en strikke en baie dwase en skadelike begeerlikhede wat die mense laat wegsink in verderf en ondergang” (1 Timotheüs 6:9). Dit wat agter daardie strik sit, of die grondslag daarvan, kan in die woord “hebsug” saamgevat word. Hoewel hebsug dikwels gekenmerk word deur ’n vasbeslotenheid om ryk te word, is dit in werklikheid ’n strik met baie fasette.
Jehovah waarsku ons teen gevaar
3, 4. Watter les oor hebsug word in die eertydse mensegeskiedenis aangetref?
3 Hebsug is basies ’n oordrewe of oormatige begeerte om meer te hê, of dit nou geld, besittings, mag, seks of iets anders is. Ons is nie die eerstes wat deur die strik van hebsug in gevaar gestel word nie. Reeds in die tuin van Eden het hebsug Eva en toe Adam verstrik. Eva se man, wat meer lewensondervinding as sy gehad het, is deur Jehovah self onderrig. God het hulle van ’n paradystuiste voorsien. Hulle kon volop goeie en veelsoortige voedsel geniet wat in onbesoedelde grond verbou is. Hulle sou volmaakte kinders hê saam met wie hulle vir ewig kon lewe en God kon dien (Genesis 1:27-31; 2:15). Sou dit nie genoeg wees om enige mens tevrede te stel nie?
4 Tog voorkom dit nie dat hebsug ’n strik word wanneer iemand genoeg het nie. Eva is verstrik deur die vooruitsig om soos God te wees, groter onafhanklikheid te hê en haar eie standaarde te stel. Adam wou klaarblyklik nie die geselskap van sy pragtige vrou verloor nie, ongeag wat dit sou kos. Aangesien selfs hierdie volmaakte mense deur hebsug verstrik kon word, sal jy verstaan waarom hebsug vir ons ’n gevaar kan wees.
5. Hoe belangrik is dit dat ons die strik van hebsug vermy?
5 Ons moet daarteen waak om deur hebsug verstrik te word, want die apostel Paulus waarsku ons: “Weet julle nie dat die onregverdiges die koninkryk van God nie sal beërwe nie? Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete of diewe of gierigaards . . . sal die koninkryk van God beërwe nie” (1 Korinthiërs 6:9, 10). Paulus het ook vir ons gesê: “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie” (Efesiërs 5:3). Hebsug met die doel om ons onvolmaakte vlees te bevredig, moet dus nie eers ’n onderwerp van ons gesprekke wees nie.
6, 7. (a) Watter Bybelvoorbeelde beklemtoon hoe kragtig hebsug kan wees? (b) Waarom moet daardie voorbeelde vir ons ’n waarskuwing wees?
6 Jehovah het ook baie voorbeelde opgeteken om ons teen die gevaar van hebsug te waarsku. Dink aan Agan se hebsug. God het gesê dat Jerigo vernietig moes word, maar dat die goud, silwer, koper en yster van daardie stad aan Sy skatkamer behoort. Dit was dalk aanvanklik Agan se bedoeling om daardie opdrag te gehoorsaam, maar hy is deur hebsug verstrik. Toe hy eers in Jerigo was, was dit asof hy op ’n inkopietog was waar hy ongelooflike winskopies gesien het, waaronder ’n pragtige mantel wat nommerpas vir hom gelyk het. Terwyl hy goud en silwer ter waarde van duisende rande opgetel het, het hy dalk gedink: ‘Wat ’n fortuin! Dis byna ongelooflik.’ Ja! Hy het hebsugtig begeer wat vernietig of oorhandig moes word en het by God gesteel, en dit het Agan sy lewe gekos (Josua 6:17-19; 7:20-26). Dink ook aan die voorbeelde van Gehasi en Judas Iskariot.—2 Konings 5:8-27; Johannes 6:64; 12:2-6.
7 Ons moenie vergeet dat die drie wat hierbo genoem word nie heidene was wat met Jehovah se standaarde onbekend was nie. Inteendeel, hulle was in ’n toegewyde verhouding met God. Hulle het almal wonderwerke gesien wat hulle moes laat besef het hoe magtig God is en hoe belangrik dit is om sy guns te behou. Die strik van hebsug het nietemin tot hulle ondergang gelei. Ons kan ook ons verhouding met God verwoes as ons toelaat dat ons in enige vorm deur hebsug verstrik word. Watter soorte of vorme van hebsug kan veral vir ons gevaarlik wees?
Verstrik deur ’n begeerte na rykdom of besittings
8. Watter waarskuwing gee die Bybel oor rykdom?
8 Die meeste Christene weet dat die Bybel duidelik waarsku dat ’n mens nie ’n liefde vir weelde, ’n hunkering na rykdom, moet ontwikkel nie. Hersien gerus ’n paar van hierdie waarskuwings, soos opgeteken in Mattheüs 6:24-33; Lukas 12:13-21 en 1 Timotheüs 6:9, 10. Al meen jy dalk dat jy hierdie raad aanvaar en volg, dink jy nie dat Agan, Gehasi en Judas waarskynlik ook sou gesê het dat hulle daarmee saamstem nie? Dit is duidelik dat ons meer moet doen as om net daarmee saam te stem. Ons moet sorg dat die strik van die hebsugtige begeerte na rykdom of besittings nie ons daaglikse lewe beïnvloed nie.
9. Waarom moet ons ons gesindheid ten opsigte van inkopies ondersoek?
9 In ons daaglikse lewe moet ons dikwels dinge koop—voedsel, klere en artikels vir die huis (Genesis 42:1-3; 2 Konings 12:11, 12; Spreuke 31:14, 16; Lukas 9:13; 17:28; 22:36). Maar die handelswêreld wakker ’n begeerte aan na meer en nuwer dinge. Baie advertensies wat gedurig in die koerante, tydskrifte en op TV-skerms verskyn, is verbloemde oproepe tot hebsug. Sulke oproepe kan ook bestaan in winkels met rye bloese, jasse, rokke en truie asook rakke vol nuwe skoene, elektroniese toerusting en kameras. Christene kan hulleself gerus afvra: ‘Het inkopies ’n hoogtepunt of die belangrikste plesier in my lewe geword?’ ‘Het ek werklik die nuwe artikels nodig wat ek sien, of kweek die handelswêreld net saadjies van hebsug in my?’—1 Johannes 2:16.
10. Watter strik van hebsug is veral vir mans ’n gevaar?
10 Terwyl inkopies blykbaar ’n algemene strik vir vroue is, is die verkryging van meer geld ’n strik vir tallose mans. Jesus het hierdie strik toegelig met ’n ryk man wat ’n goeie inkomste gehad het, maar vasbeslote was om ‘sy skure af te breek en groter te bou om al sy opbrengste en sy goed in te samel’. Jesus het duidelik op die gevaar gewys: “Pas op en wees op julle hoede vir die hebsug”, of gierigheid (Lukas 12:15-21). Of ons nou ryk of arm is, ons moet na daardie raad luister.
11. Hoe kan ’n Christen deur ’n hebsugtige begeerte na meer geld verstrik word?
11 Die hebsugtige begeerte na meer geld, of dinge wat geld kan koop, word dikwels op ’n bedekte wyse bevorder. Dit kan aangebied word as ’n skema om gou ryk te word—miskien ’n eenmalige kans op finansiële sekuriteit deur ’n gewaagde belegging. Of ’n mens kan in die versoeking kom om geld deur twyfelagtige of onwettige sakegebruike te maak. Ja, hierdie hebsugtige begeerte kan oorweldigend, verstrikkend, raak (Psalm 62:10, NW; Spreuke 11:1; 20:10). Sommige in die Christengemeente het al sakeondernemings begin met die verwagting dat hulle broers, wat vertroue in hulle het, die vernaamste bron van klandisie sal wees. As hulle doel nie bloot is om ’n noodsaaklike produk of diens te lewer deur te ‘arbei deur met hulle hande te werk wat goed is’ nie, maar om vinnig geld te maak ten koste van mede-Christene, tree hulle uit hebsug op (Efesiërs 4:28; Spreuke 20:21; 31:17-19, 24; 2 Thessalonicense 3:8-12). Die hebsugtige begeerte na geld lei daartoe dat sommige begin dobbel deur aan die een of ander soort lotery deel te neem. Ander het, sonder om empatie of redelikheid aan die dag te lê, oorhaastig hofsake begin in die hoop om ’n groot vergoeding of uitbetaling te ontvang.
12. Waarom weet ons dat ’n hebsugtige begeerte na rykdom oorkom kan word?
12 Die voorgaande is gebiede waarop selfondersoek gepas is sodat ons eerlik kan sien of hebsug in ons wortelgeskiet het. Selfs al het dit, kan ons verander. Onthou dat Saggeüs verander het (Lukas 19:1-10). As enigiemand vind dat ’n hebsugtige begeerte na rykdom of besittings vir hom ’n probleem is, moet hy net so vasbeslote soos Saggeüs wees om uit daardie strik te ontsnap.—Jeremia 17:9.
Hebsug in ander aspekte van die lewe
13. Watter ander strik van hebsug word in Psalm 10:18 onder ons aandag gebring?
13 Sommige vind dit makliker om die gevaar van hebsug ten opsigte van geld of besittings raak te sien as ander maniere waarop dit te voorskyn kom. Een Griekse woordeboek sê dat die groep woorde wat met “gierigheid” of “hebsug” weergegee word, beteken om “‘meer te wil hê’, met verwysing na mag, ens. asook eiendom”. Ja, ons kan verstrik word deur ’n hebsugtige begeerte om mag oor ander uit te oefen, en miskien te wil hê dat hulle in vrees onder ons gesag moet lewe.—Psalm 10:18, NAV.
14. Op watter gebiede was ’n begeerte na mag al gevaarlik gewees?
14 Sedert vroeë tye reeds het onvolmaakte mense dit geniet om mag oor ander te hê. God het voorsien dat ’n droewige gevolg van die mens se sonde sou wees dat baie mans oor hulle vrouens sou “heers” (Genesis 3:16). Maar hierdie tekortkoming is nie net tot die huwelik beperk nie. Duisende jare later het ’n Bybelskrywer gesê “die een mens heers oor die ander tot sy ongeluk” (Prediker 8:9). Jy weet waarskynlik hoe waar dit in politieke en militêre aangeleenthede is, maar kan dit wees dat ons in ons eie kringe na groter persoonlike mag of beheer strewe?
15, 16. In watter opsigte kan ’n Christen deur ’n begeerte na meer mag verstrik word? (Filippense 2:3).
15 Ons het almal met ander mense te doen—in ons gesin of met ons familie, by ons werk of by die skool, onder vriende en in die gemeente. Ons het moontlik soms, of dikwels, ’n sê in wat gedoen gaan word, asook hoe en wanneer dit gedoen gaan word. Dit op sigself is nie verkeerd of sleg nie. Maar geniet ons dit uitermatig om die gesag wat ons het te gebruik? Kan dit wees dat ons daarvan hou om die laaste woord te hê, en dat ons dit al hoe meer wil hê? Wêreldse bestuurders of base lê dikwels hierdie gesindheid aan die dag deur hulleself te omring met jabroers wat altyd met hulle beskouings saamstem en wat nie hulle baas se wêreldse soeke (hebsugtige begeerte) na mag betwis nie.
16 Dit is ’n strik wat vermy moet word in ’n mens se optrede teenoor mede-Christene. Jesus het gesê: “Julle weet dat die owerstes van die nasies oor hulle heers en die groot manne oor hulle gesag uitoefen; maar so moet dit onder julle nie wees nie; maar elkeen wat onder julle groot wil word, moet julle dienaar wees” (Mattheüs 20:25, 26). Sulke nederigheid moet aan die dag gelê word in Christen- ouere manne se handelinge met mekaar, met bedieningsknegte en met die kudde. Kan dit byvoorbeeld ’n begeerte na mag weerspieël as ’n presiderende opsiener sy mede- ouere manne net oor kleiner sake raadpleeg, maar alle belangrike besluite self neem? Is hy werklik bereid om take te delegeer? Probleme kan ontstaan as ’n bedieningskneg wat ’n vergadering vir velddiens behartig onredelike eise in sy reëlings stel en selfs reëls voorskryf.—1 Korinthiërs 4:21; 9:18; 2 Korinthiërs 10:8; 13:10; 1 Thessalonicense 2:6, 7.
17. Waarom is dit gepas om voedsel te bespreek wanneer die strik van hebsug bespreek word?
17 Voedsel is nog ’n gebied waarop baie deur hebsug verstrik word. Dit is net natuurlik om voedsel en drank te geniet; die Bybel meld dit in ’n gunstige lig (Prediker 5:17). Tog is dit nie ongewoon dat ’n begeerte in hierdie verband al hoe groter word en naderhand alle redelike perke van wat genotvol en genoeg is, oorskry nie. As dit nie nodig was dat God se knegte op hierdie gebied sorg aan die dag moes lê nie, waarom sê Jehovah se Woord dan in Spreuke 23:20: “Wees nie onder die wynsuipers nie, onder die wat as vrate hulle hart ophaal”? Maar hoe vermy ons hierdie strik?
18. Watter selfondersoek oor voedsel en drank kan ons doen?
18 God verwag nie dat sy volk volgens die een of ander oninteressante dieet leef nie (Prediker 2:24, 25). Maar hy is ook nie ten gunste daarvan dat ons voedsel en drank ’n oorheersende deel van ons gesprekke en planne maak nie. Ons kan ons afvra: ‘Raak ek dikwels uitermatig geesdriftig wanneer ek die een of ander maaltyd beskryf wat ek gehad het of beplan om te hê?’ ‘Praat ek altyd oor voedsel en drank?’ Nog ’n aanduiding kan wees hoe ons optree wanneer ons ’n maaltyd geniet wat ons nie voorberei het of waarvoor ons nie betaal nie, moontlik wanneer ons ’n gas in iemand anders se huis is of wanneer daar voedsel by ’n Christelike byeenkoms beskikbaar is. Kan dit wees dat ons dan geneig is om baie meer as gewoonlik te eet? Ons onthou dat Esau toegelaat het dat voedsel te belangrik word en dat dit vir hom blywende nadele ingehou het.—Hebreërs 12:16.
19. Hoe kan hebsug ’n probleem met betrekking tot seksuele genot word?
19 Paulus gee ons insig in ’n ander soort strik: “Maar hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam” (Efesiërs 4:17-19; 5:3). ’n Mens kan inderdaad ’n hebsugtige begeerte na seksuele genot ontwikkel. Daar word natuurlik gepas in die huwelik aan hierdie genot uiting gegee. Die intieme liefde wat met hierdie genot verband hou, speel ’n rol om die man en vrou te help om deur baie huweliksjare heen geheg aan mekaar te bly. Maar min mense sal ontken dat die hedendaagse wêreld seks uitermatig beklemtoon en as normaal voorstel wat in werklikheid ’n weerspieëling is van die hebsug waarvan Paulus gepraat het. Dit is veral diegene wat hulle blootstel aan die onsedelikheid en naaktheid wat vandag so algemeen in rolprente, video’s en tydskrifte asook vermaaklikheidsplekke voorkom wat hierdie verkeerde beskouing van seksuele genot aanneem.
20. Hoe kan Christene toon dat hulle wakker is vir die gevaar van hebsug in seksuele aangeleenthede?
20 Die verslag van Dawid se sonde met Batseba toon dat God se knegte in die strik van seksuele hebsug gevang kan word. Hoewel Dawid vry was om seksuele omgang in sy eie huwelik te geniet, het hy toegelaat dat ’n ongeoorloofde seksuele begeerte in hom groei. Toe hy sien hoe mooi Uria se vrou is, het hy vrye teuels gegee aan sy gedagtes—en optrede—deur ongeoorloofde omgang met haar te hê (2 Samuel 11:2-4; Jakobus 1:14, 15). Ons moet beslis hierdie vorm van hebsug vermy. Dit is selfs gepas om hebsug binne die huwelik te vermy. Dit sal onder andere behels dat ’n mens uiterste seksgebruike verwerp. ’n Man wat vasbeslote is om hebsug op hierdie gebied te vermy, sal opreg in sy huweliksmaat belangstel sodat enige keuse wat hulle twee oor gesinsbeplanning gedoen het, sal weerspieël dat hy nie sy genot bo sy vrou se huidige of toekomstige gesondheid stel nie.—Filippense 2:4.
Bly vasbeslote om hebsug te vermy
21. Waarom moet ons bespreking van hebsug ons nie ontmoedig nie?
21 Jehovah voorsien nie vermanings of waarskuwings omdat hy ons wantrou nie. Hy weet dat sy toegewyde knegte hom lojaal wil dien, en hy is oortuig dat die meeste dit sal aanhou doen. Hy kan iets soortgelyks oor sy hele volk sê as wat hy oor Job gesê het toe Hy met Satan gepraat het: “Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad” (Job 1:8). Ons liefdevolle hemelse Vader wat vertroue in ons het, waarsku ons teen gevaarlike strikke, soos dié wat verband hou met vorme van hebsug, omdat hy wil hê dat ons moet aanhou om vlekkeloos en getrou aan hom te wees.
22. Wat moet ons doen as ons studie toon dat daar ’n gebied is waarop ons in persoonlike gevaar verkeer of ’n swakheid het?
22 Elkeen van ons het ’n neiging tot die een of ander vorm van hebsug geërf, en ons het dit moontlik onder die invloed van die goddelose wêreld ontwikkel. Gestel jy het tydens ons studie van hebsug—ten opsigte van rykdom, besittings, mag en gesag, voedsel of seksuele genot—die een of ander swakheid gesien? Dan moet jy Jesus se raad ter harte neem: “As jou hand jou laat struikel, kap dit af. Dit is beter vir jou om vermink die lewe in te gaan, as om twee hande te hê en in die hel gewerp te word” (Markus 9:43). Bring die nodige veranderinge in gesindheid of belange aan. Vermy die dodelike strik van hebsug. Sodoende kan jy met God se hulp ‘die lewe ingaan’.
Wat het ek geleer?
◻ Waarom moet ons besorg wees oor die strik van hebsug?
◻ Op watter maniere kan ’n hebsugtige begeerte na rykdom of besittings ons verstrik?
◻ Hoe kan hebsug op ander lewensterreine werklike gevare inhou?
◻ Wat moet ons gesindheid wees oor enige swakheid wat ons met betrekking tot hebsug het?