Help ander om die waarde van die boek Die Mensdom se soeke na God te besef
1 “Die woord van God is lewend en kragtig” (Hebr. 4:12). Aangesien ons Bybelse publikasies mense help om by die krag van God se Woord baat te vind, gebruik ons hulle om belangstelling in die Bybel aan te wakker wanneer ons informeel of van huis tot huis getuig.
2 Die lektuuraanbod vir Januarie is die boek Die mensdom se soeke na God teen ’n bydrae van R4,50. Ons gebruik hierdie publikasie al sedert 1991, en ons is vertroud met sy uitstekende inhoud. Dit is nietemin belangrik om jou aanbieding van die Koninkryksboodskap so voor te berei dat dit by ’n spesifieke punt in die boek inskakel. Hoe kan dit gedoen word?
3 Hoe om voor te berei: Eerstens kan jy ’n stelling in die boek Die mensdom se soeke na God kies wat waarskynlik by opregtes van hart in jou gebied ingang sal vind. Dink vervolgens aan ’n aktuele gebeurtenis of ’n onderwerp van algemene belang wat jy moontlik kortliks met die huisbewoner kan bespreek voordat jy sy aandag vestig op die gedrukte stelling wat jy gekies het. Dalk is daar ’n teksverwysing of ’n aanhaling wat jy uit die Bybel of direk uit die boek kan lees om dit wat jy sê te staaf. Probeer om ’n vraag of ’n gedagte by hom te laat wat jy as grondslag vir ’n herbesoek kan gebruik.
4 Bied Die mensdom se soeke na God aan: Jy kan dalk ’n gesprek begin deur die aandag op ’n nuusberig te vestig wat godsdiens se betrokkenheid by wêreldaangeleenthede beklemtoon, of jy kan andersins toon watter invloed godsdiens op mense se lewe het.
Vra dan ’n vraag soos:
◼ “Hoe dink jy beskou God die godsdiensstelsels wat vandag wêreldaangeleenthede beïnvloed? [Laat die huisbewoner antwoord.] Sal dit jou verbaas om uit te vind dat die basiese leerstellings van al hierdie godsdienste heelwat ooreenstem en dat hulle heeltemal van die Bybel se leerstellings verskil?” As die huisbewoner bereid is om te luister, kan jy hom die inhoudsopgawe wys en kortliks verduidelik dat ’n persoon se lewe, of hy nou godsdienstig is of nie, beïnvloed word deur kragtige godsdienstige invloede. Wys hom dat hy daarby baat kan vind as hy uitvind waarom die mensdom se soeke na God hulle in soveel rigtings gelei het, maar die mensdom verhinder het om die regte godsdiens te identifiseer.
5 In die loop van ons bediening sal iemand hom dalk as ’n lid van ’n vername godsdiensgroep identifiseer. Ons kan die feit vriendelik erken en miskien sê: “Dit is interessant om mense van verskillende godsdienste te ontmoet. Die mensdom se soeke na God het talle verskillende rigtings ingeslaan. [Indien dit gepas is, kan daar op dié stadium na Handelinge 17:26, 27 verwys word.] Stem jy nie saam dat mense oor die algemeen die godsdiens van hulle ouers volg, pleks van self na God te soek nie? Hulle word met ander woorde in ’n sekere godsdiens gebore. Dit is die punt wat in die eerste hoofstuk van hierdie boek Die mensdom se soeke na God gemaak word. [Vestig die aandag op bladsy 8, paragraaf 12.] Dit is insiggewend en opvoedkundig om meer van ander godsdienste te leer. Hierdie boek verduidelik die oorsprong, gebruike en leerstellings van die vernaamste godsdienste van die wêreld.”
6 Soms sal dit meer gepas wees om tydskrifte of ’n traktaat aan te bied. Ons het genoeg rede om ander geesdriftig en ywerig aan te moedig om hierdie publikasie te lees sodat hulle toegerus kan wees om die krag van God se Woord in hulle lewe te ervaar deur op die leiding te reageer wat dit bied.