Noemenswaardige gebeurtenisse in die hedendaagse geskiedenis van Jehovah se Getuies
1870 Charles Taze Russell en ’n groep van Pittsburgh en Allegheny, Pennsilvanië, VSA, begin die Bybel sistematies bestudeer
1870-75 Broer Russell en sy studiemetgeselle besef dat Christus onsigbaar vir mense-oë sal wees wanneer hy terugkeer, en dat een van die redes vir sy wederkoms sal wees om alle geslagte van die aarde te seën
1872 Broer Russell en sy studiegroep kry ’n duidelike begrip van die losprys wat Christus vir die mensdom voorsien het
1876 In Januarie ontvang C. T. Russell ’n eksemplaar van die Herald of the Morning; ontmoet N. H. Barbour, die redakteur, daardie somer in Philadelphia, Pennsilvanië
Artikel deur C. T. Russell, wat in Oktober se nommer van die Bible Examiner, in Brooklyn, New York, verskyn, dui op 1914 as die einde van die Heidense Tye
1877 Die boek Three Worlds word uitgegee as gevolg van N. H. Barbour en C. T. Russell se samewerking
C. T. Russell druk die boekie The Object and Manner of Our Lord’s Return by die kantoor van die Herald of the Morning in Rochester, New York
1879 In Mei onttrek broer Russell alle steun aan die Herald of the Morning as gevolg van N. H. Barbour se gesindheid ten opsigte van die losprys
Eerste nommer van Zion’s Watch Tower and Herald of Christ’s Presence, gedateer Julie 1879
1881 Eerste traktate word deur die Bybelstudente uitgegee; voor 1914 sou die jaarlikse verspreidingsyfer tienmiljoene in 30 tale bereik
Zion’s Watch Tower Tract Society word in die lewe geroep; die oproep word gedoen: “Benodig: 1 000 predikers”, sommige as voltydse kolporteurs, ander om soveel tyd as moontlik aan die verkondiging van Bybelwaarhede te wy
Verspreiding van 300 000 eksemplare van Food for Thinking Christians onder kerkgangers in die vernaamste stede in Brittanje
1883 Watch Tower bereik China; voormalige Presbiteriaanse sendeling begin kort voor lank aan ander in daardie land getuig
1884 Food for Thinking Christians bereik Liberië, Afrika; ’n waarderende leser skryf en vra eksemplare om te versprei
Zion’s Watch Tower Tract Society word wetlik in Pennsilvanië geoktrooieer; op 15 Desember word dit amptelik geregistreer
1885 Wagtoringpublikasies word reeds in Noord- en Suid-Amerika, Europa, Afrika en Asië deur party gelees wat na die waarheid honger
1886 The Divine Plan of the Ages word uitgegee, die eerste boekdeel in die reeks Millennial Dawn (wat later Studies in the Scriptures genoem is)
1889 Die Bible House word in Archstraat, in Allegheny, Pennsilvanië, as die Genootskap se hoofkwartier opgerig
1891 Eerste samekoms van die Bybelstudente wat hulle ’n byeenkoms noem, in Allegheny, Pennsilvanië (19-25 April)
1894 Reisende opsieners, wat later as pelgrims bekend geword het (vandag, kring- en streekopsieners), word uitgestuur in verband met die Genootskap se program om gemeentes te besoek
1900 Die Wagtoringgenootskap se eerste takkantoor word in Londen, Engeland, geopen
Die Bybelstudente se getuieniswerk word nou in 28 lande gedoen, en die boodskap wat hulle verkondig, het al ten minste 13 ander lande bereik
1903 Intensiewe verspreiding van gratis traktate op Sondae van huis tot huis; vroeër is baie van die traktate op straat naby kerke versprei
1904 Preke deur C. T. Russell begin gereeld in die koerante verskyn; binne ’n dekade word hulle deur ongeveer 2 000 koerante gedruk
1909 Die Genootskap se hoofkwartier word in April na Brooklyn, New York, verskuif
1914 Eerste vertoning van die “Fotodrama van die Skepping” in Januarie in New York; voor die einde van die jaar word dit deur gehore van meer as 9 000 000 in Noord-Amerika, Europa en Australië gesien
Op 2 Oktober bevestig C. T. Russell in die Betheleetsaal in Brooklyn: “Die Heidense Tye het geëindig”
Bybelstudente doen nou die predikingswerk in 43 lande; 5 155 neem aan die getuieniswerk deel; die gerapporteerde Gedenkmaalopkoms is 18 243
1916 C. T. Russell sterf op 31 Oktober op 64-jarige ouderdom terwyl hy per trein deur Texas reis
1917 J. F. Rutherford word op 6 Januarie die president van die Genootskap nadat ’n uitvoerende komitee van drie die Genootskap se sake ongeveer twee maande lank behartig het
Die boek The Finished Mystery word op 17 Julie aan die Bethelgesin in Brooklyn vrygestel; vier wat lede van die Genootskap se direksie was, begin die Genootskap vurig teëstaan; baie gemeentes skeur daarna
1918 Die toespraak “Die wêreld het geëindig—Daar leef miljoene vandag wat moontlik nooit sal sterf nie” word vir die eerste keer op 24 Februarie in Los Angeles, Kalifornië, gehou. Op 31 Maart, in Boston, Massachusetts, is die toespraak se titel: “Die wêreld het geëindig—Daar leef miljoene vandag wat nooit sal sterf nie”
J. F. Rutherford en intieme metgeselle se name verskyn op ’n federale lasbrief tot arres wat op 7 Mei uitgereik word; die hofsaak begin op 5 Junie; hulle word op 21 Junie (een op 10 Julie) lang straftye in ’n federale strafgevangenis opgelê
Brooklynse hoofkwartier word in Augustus gesluit en die werksaamhede daarvan word vir langer as ’n jaar weer na Pittsburgh verskuif
1919 Die Genootskap se ampsdraers en hulle metgeselle word op 26 Maart op borgtog vrygelaat; op 14 Mei word die uitspraak van die laerhof deur die appélhof herroep en ’n nuwe verhoor gelas; die volgende jaar, op 5 Mei, onttrek die regering hom aan die saak en weier om te vervolg
Om te toets of die Bybelstudente se werk verlewendig kan word, reël J. F. Rutherford om die openbare toespraak “Die hoop vir die bekommerde mensdom” op 4 Mei in die Clune’s Auditorium, in Los Angeles, Kalifornië, te hou; die skare pas nie almal in nie en die toespraak moet ’n tweede keer gehou word
Die Bybelstudente hou van 1-8 September ’n byeenkoms in Cedar Point, Ohio; aankondiging dat die tydskrif The Golden Age (nou bekend as die Ontwaak!) uitgegee gaan word
Die Bulletin (nou bekend as Ons Koninkryksbediening) word uitgegee om velddiens te stimuleer
Jaarrapport toon dat 5 793 Bybelstudente die predikingswerk in 43 lande doen; ’n Gedenkmaalopkoms van 21 411 word gerapporteer
1920 Die Wagtoringgenootskap begin sy eie drukwerk in Brooklyn doen
1922 Op 26 Februarie word die radio vir die eerste keer deur J. F. Rutherford in Kalifornië gebruik om ’n Bybeltoespraak uit te saai
Byeenkoms van Bybelstudente in Cedar Point, Ohio, 5-13 September; die oproep “Adverteer, adverteer, adverteer die Koning en sy koninkryk” word gedoen
Die geestelikes in Duitsland steek die polisie op om die Bybelstudente te arresteer wanneer hulle Bybellektuur in die openbaar versprei
1924 WBBR (eerste radiostasie wat aan die Wagtoringgenootskap behoort het) begin op 24 Februarie met uitsendings
1925 Waar dit die geboorte van God se Koninkryk in 1914 bespreek, toon Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Maart dat daar twee afsonderlike en opponerende organisasies is—Jehovah s’n en Satan s’n
1926 Die broers word aangemoedig om boeke te gebruik wanneer hulle op Sondae van huis tot huis preek
1928 Die arrestasie van Bybelstudente in New Jersey (VSA) omdat hulle lektuur versprei wanneer hulle van huis tot huis preek; binne ’n dekade is daar meer as 500 sulke arrestasies per jaar in die Verenigde State
1931 Die naam Jehovah se Getuies word op 26 Julie deur middel van ’n resolusie by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, aangeneem en daarna by byeenkomste oor die hele aarde
1932 Regverdiging, Boek 2 (in Engels), verduidelik waarom Bybelse herstellingsprofesieë nie op die natuurlike Jode van toepassing is nie, maar op geestelike Israel
Die reëling om ouere manne in te stem, word beëindig in ooreenstemming met Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 15 Augustus en 1 September
1933 Jehovah se Getuies word in Duitsland in die ban gedoen. Gedurende die geweldige vervolging tot aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog word 6 262 gearresteer en word hulle vir altesaam 14 332 jaar opgesluit; 2 074 word na konsentrasiekampe gestuur, waar hulle altesaam 8 332 jaar aangehou word
Transkripsiemasjiene (waarvan sommige op motors aangebring is) word deur Getuies gebruik om Bybeltoesprake in openbare plekke uit te saai
1934 Draagbare grammofone word deur Getuies gebruik om kort opnames van Bybeltoesprake vir belangstellendes te speel
1935 Op 31 Mei, tydens ’n byeenkomstoespraak in Washington, DC, word die “groot menigte” as ’n aardse klas geïdentifiseer; 840 word by hierdie byeenkoms gedoop; al hoe groter klem word gelê op die hoop dat getroue knegte van God wat nou lewe vir ewig op ’n paradysaarde kan lewe
In Honolulu, Hawaii, word ’n vergaderplek vir die eerste keer Koninkryksaal genoem
1936 Koninkryksverkondigers dra vir die eerste keer advertensieplakkate om die publiek van Bybeltoesprake in kennis te stel
Verkondigers word aangespoor om studies met belangstellendes te begin deur die Genootskap se boek Rykdom saam met die Bybel te gebruik; dit is dikwels groepstudies
1937 Getuies gebruik draagbare grammofone om opnames van Bybeltoesprake by mense se huise te speel
1938 In ooreenstemming met Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 1 en 15 Junie vervang teokratiese reëlings vir die verkiesing van ouere manne in gemeentes die demokratiese prosedure
Sonebyeenkomste (wat nou as kringbyeenkomste bekend staan) word vir groepe gemeentes gereël
1939-45 Dwarsdeur die Britse Ryk en Britse Statebond doen 23 lande Jehovah se Getuies in die ban of plaas hulle ’n verbod op hulle Bybellektuur
1940 Die verspreiding van Die Wagtoring en die Vertroosting op straat word ’n gereelde deel van die bedrywighede van Jehovah se Getuies
Die Amerikaanse Appèlhof se beslissing op 3 Junie dat vlagsaluering verpligtend is ongeag ’n mens se godsdiensoortuiging, ontketen landwye gepeupelgeweld teen Jehovah se Getuies
1941 Bedrywige Getuies steek die 100 000-kerf verby en bereik ’n hoogtepunt van 109 371 in 107 lande; dít ondanks die feit dat die Tweede Wêreldoorlog Europa verswelg het en dat dit in Afrika en Asië uitbrei
1942 J. F. Rutherford sterf op 8 Januarie in San Diego, Kalifornië
N. H. Knorr word op 13 Januarie die Genootskap se derde president
Altesaam 11 325 143 eksemplare van Die Wagtoring word gedurende die jaar in al die tale gedruk
’n Gevorderde Kursus in die Teokratiese Bediening word op 16 Februarie vir die Genootskap se hoofkwartierpersoneel ingestel
Die Wagtoringgenootskap druk die volledige Bybel, die King James Version, op sy eie drukpers (’n rolrotasiepers)
1943 Die eerste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead begin hulle studies op 1 Februarie
Kursus in die Teokratiese Bediening (nou die Teokratiese Bedieningskool) vir gemeentes van Jehovah se Getuies word in April by byeenkomste bekend gestel
Die Amerikaanse Appèlhof gee in 20 uit 24 hofsake ’n uitspraak ten gunste van Jehovah se Getuies; die Hooggeregshof in Australië hef op 14 Junie die verbod op die Getuies in daardie land op
1945 Die Genootskap se direksie word van 1 Oktober af nie meer deur kiesers verkies wat vanweë geldelike bydraes in hierdie hoedanigheid optree nie
Gemiddeld 104 814 gratis tuisbybelstudies word nou maandeliks gehou
1946 Gedurende die voorafgaande sewe jaar is meer as 4 000 Getuies van Jehovah in die Verenigde State en 1 593 in Brittanje gearresteer en vanweë hulle Christelike neutraliteit ’n gevangenisstraf van enigiets tussen ’n maand en vyf jaar opgelê
Gedurende hierdie eerste jaar ná die Tweede Wêreldoorlog neem 6 504 as pioniers aan die voltydse bediening deel
Die Ontwaak! (wat op The Golden Age en die Vertroosting volg) word vir die eerste keer uitgegee; altesaam 13 934 429 eksemplare word gedurende die jaar gedruk
Meer as 470 Getuies word in Griekeland voor die hof gedaag omdat hulle Bybelleringe aan ander verkondig
1947 In Quebec, Kanada, is daar 1 700 hangende hofsake in verband met die evangelisasiewerk van Jehovah se Getuies
Die aantal gemeentes steek die 10 000-kerf verby en bereik ’n totaal van 10 782 oor die hele wêreld
1950 Die New World Translation of the Christian Greek Scriptures word op 2 Augustus by ’n byeenkoms in New York in Engels uitgereik
1953 ’n Uitgebreide opleidingsprogram in die predikingswerk van huis tot huis begin op 1 September vir Jehovah se Getuies
1957 In 169 lande wy Jehovah se Getuies altesaam 100 135 016 uur aan die verkondiging van God se Koninkryk en aan Bybelstudies met belangstellendes
1958 Die Goddelike Wil- Internasionale Byeenkoms in New York trek ’n gehoor van 253 922 uit 123 lande; 7 136 word gedoop
1959 Eerste sessies van die Koninkryksbedieningskool vir gemeentelike opsieners en reisende opsieners begin op 9 Maart in South Lansing, New York
1961 Eerste groep van die Genootskap se takopsieners woon ’n spesiale opleidingskursus van tien maande in Brooklyn, New York, by met die doel om die werk van Jehovah se Getuies dwarsdeur die wêreld verder te verenig
Die New World Translation of the Holy Scriptures, die hele Bybel as ’n enkele boek, word in Engels uitgereik
1963 Die New World Translation of the Christian Greek Scriptures word in nog ses tale (Duits, Frans, Italiaans, Nederlands, Portugees en Spaans) uitgegee, en in latere jare in nog ander tale
Meer as ’n miljoen Getuies van Jehovah is nou in 198 lande bedrywig; die verkondigerhoogtepunt vir die jaar is 1 040 836; nog 62 798 word gedoop
1965 Die eerste Byeenkomssaal, ’n opgeknapte teater, word deur Jehovah se Getuies in New York in gebruik geneem
1967 Vlae van lang en wrede vervolging van Jehovah se Getuies versprei soos ’n veldbrand deur Malawi en hou nog jare daarna aan
1969 Meer as ’n miljoen tuisbybelstudies word gehou; die rapport toon ’n gemiddelde van 1 097 237
1971 Die Bestuursliggaam word vergroot; op 1 Oktober begin voorsitterskap op ’n jaarlikse grondslag onder sy lede roteer
1972 Gemeentes van Jehovah se Getuies kom op 1 Oktober onder plaaslike toesig van ’n liggaam van ouere manne, pleks van ’n enkele persoon
1974 Verkondigerhoogtepunt vir die hele wêreld is nou 2 021 432; pioniers neem toe van 94 604 in 1973 tot 127 135
1975 Die Bestuursliggaam word geherorganiseer; op 4 Desember word die verantwoordelikheid vir ’n groot deel van die werk aan ses komitees opgedra, wat op 1 Januarie 1976 begin funksioneer
1976 Takkantore van die Wagtoringgenootskap kom van 1 Februarie af onder die toesig van ’n komitee van drie of meer geestelik volwasse manne, pleks van een opsiener
1977 Die Pionierdiensskool begin gespesialiseerde opleiding aan tienduisende pioniers oor die hele wêreld voorsien
1984 Gemiddeld 2 047 113 tuisbybelstudies word nou deur Jehovah se Getuies gehou
1985 Reëling vir internasionale vrywilligers word ingestel, en die Genootskap se wêreldwye bouwerk word van die hoofkwartier af gekoördineer
Rapport toon dat 3 024 131 in 222 lande aan die Koninkrykspredikingswerk deelneem; daar is nou gemiddeld 322 821 pioniers; hierdie jaar word daar 189 800 gedoop
1986 Streekboukomitees word aangestel om die bou van Koninkryksale te help koördineer
1987 Die dissipelmaakwerk bly uitbrei, aangesien daar nou met 3 005 048 individue en gesinne Bybelstudies gehou word, baie daarvan weekliks; altesaam 230 843 word gedurende die jaar gedoop
Die Bedieningsopleidingskool begin op 1 Oktober, en die eerste klas word in Coraopolis, Pennsilvanië, gehou
1989 Veranderende toestande in Oos-Europa maak dit moontlik dat drie groot internasionale byeenkomste in Pole, en in daaropvolgende jare in ander lande, gehou word
1990 Die opheffing van verbooie op Jehovah se Getuies in lande in Afrika en Oos-Europa maak evangelisasiewerk onder ’n verdere 100 000 000 mense moontlik
Koninkryksverkondigers bereik ’n hoogtepunt van 4 017 213; die pioniergeledere groei tot 536 508; altesaam 895 229 424 uur word aan die dringende Koninkryksverkondigingswerk gewy
1991 Verbooie wat in Oos-Europa en Afrika opgehef word, maak dit makliker om ’n verdere 390 000 000 mense met die goeie nuus van God se Koninkryk te bereik
1992 Gemiddeld 15 570 000 eksemplare van Die Wagtoring word in 111 tale gedruk; die Ontwaak!, wat in 67 tale beskikbaar is, het ’n gemiddelde oplaag van 13 110 000
Grootste getuienis wat nog gelewer is, met 4 472 787 wat aan die Koninkrykspredikingswerk in 229 lande deelneem; maandelikse gemiddelde van 605 610 pioniers; 1 024 910 434 uur word aan die openbare getuieniswerk gewy; 4 278 127 Bybelstudies word gehou; 301 002 nuwe dissipels word gedoop