Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • si bl. 95-100
  • Bybelboek nommer 18—Job

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Bybelboek nommer 18—Job
  • “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • INHOUD VAN JOB
  • WAAROM NUTTIG
  • Job se onkreukbaarheid—Waarom so merkwaardig?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1986
  • Glanspunte uit die boek Job
    ie Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2006
  • Job het volhard—Ons kan ook!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Job het Jehovah se naam hooggehou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2009
Sien nog
“Die hele Skrif is deur God geïnspireer en is nuttig”
si bl. 95-100

Bybelboek nommer 18—Job

Skrywer: Moses

Waar geskryf: Woestyn

Geskrif voltooi: ca. 1473 v.G.J.

Beskrewe tydperk: Meer as 140 jaar tussen 1657 en 1473 v.G.J.

1. Wat beteken Job se naam, en watter vrae word in die boek Job beantwoord?

EEN van die oudste boeke van die geïnspireerde Skrif! ’n Boek wat baie hoog aangeslaan en dikwels aangehaal word, maar wat nogtans min deur die mens begryp word. Waarom is hierdie boek geskryf, en van watter waarde is dit vandag vir ons? Die antwoord word aangedui deur die betekenis van Job se naam: “Voorwerp van vyandigheid.” Ja, hierdie boek behandel twee belangrike vrae: Waarom ly die onskuldiges? Waarom laat God goddeloosheid op die aarde toe? Ons het die verslag oor Job se lyding en sy groot volharding wat ons kan raadpleeg om hierdie vrae te help beantwoord. Dit is alles opgeteken, net soos Job versoek het.—Job 19:23, 24.

2. Wat bewys dat Job werklik bestaan het?

2 Job het sinoniem geword met geduld en volharding. Maar het Job wel bestaan? Ondanks al die pogings van die Duiwel om hierdie voortreflike voorbeeld van onkreukbaarheid uit die bladsye van die geskiedenis uit te wis, is die antwoord duidelik. Job het werklik bestaan! Jehovah noem hom in dieselfde asem as Sy getuies Noag en Daniël, wie se bestaan deur Jesus Christus aanvaar is. (Eseg. 14:14, 20; vergelyk Mattheüs 24:15, 37.) Die eertydse Hebreeuse nasie het Job as ’n werklike persoon beskou. Die Christenskrywer Jakobus wys op Job se voorbeeld van volharding (Jak. 5:11). Net ’n voorbeeld uit die werklike lewe, nie ’n denkbeeldige een nie, sou van betekenis wees om aanbidders van God daarvan te oortuig dat onkreukbaarheid onder alle omstandighede gehandhaaf kan word. Daarbenewens getuig die intensiteit en gevoel van die opgetekende toesprake in Job van die werklikheid van die situasie.

3. Wat bewys dat die boek Job geïnspireer is?

3 Dat die boek Job eg en geïnspireerd is, word ook bewys deur die feit dat die ou Hebreërs dit altyd in hulle Bybelkanon ingesluit het, ’n merkwaardige feit aangesien Job self nie ’n Israeliet was nie. Benewens die verwysings deur Esegiël en Jakobus haal die apostel Paulus ook uit die boek aan (Job 5:13; 1 Kor. 3:19). Die boek se verbasende harmonie met die bewese feite van die natuurwetenskappe is kragtige bewys dat dit geïnspireer is. Hoe kon mense geweet het dat Jehovah “die aarde ophang oor ’n niks” terwyl die Ou Volke die fantastiesste idees gehad het oor hoe die aarde in posisie gehou word? (Job 26:7). Een beskouing wat in die ou tyd gehuldig is, was dat die aarde op olifante rus wat op ’n groot seeskilpad staan. Waarom sluit die boek Job nie sulke onsin in nie? Klaarblyklik omdat Jehovah, die Skepper, die waarheid deur inspirasie voorsien het. Die talle ander beskrywings van die aarde en sy wonders en van die wilde diere en voëls in hulle natuurlike habitat is so akkuraat dat slegs Jehovah God die Outeur en Inspireerder van die boek Job kon gewees het.a

4. Waar en wanneer het die drama hom afgespeel, en teen watter tyd was die boek Job klaar geskryf?

4 Job het in Us gewoon, wat volgens sommige aardrykskundiges in noordelike Arabië geleë was, naby die land wat deur die Edomiete beset was en oos van die land wat aan Abraham se nakomelinge beloof is. Die Sabeërs was in die suide en die Chaldeërs in die ooste (1:1, 3, 15, 17). Die tyd toe Job beproef is, was lank na Abraham se dag. Dit was ’n tyd toe daar “niemand op die aarde soos [Job was] nie: ’n man vroom en opreg” (1:8). Dit was blykbaar die tydperk tussen die dood van Josef (1657 v.G.J.), ’n man met uitsonderlike geloof, en die tyd toe Moses sy weg van onkreukbaarheid begin bewandel het. Job het uitgemunt in suiwer aanbidding in hierdie tyd waarin Israel deur die demonaanbidding van Egipte besmet is. Daarbenewens dui die gebruike wat in die eerste hoofstuk van Job gemeld word, asook God se aanvaarding van Job as ’n ware aanbidder, op patriargale tye eerder as op die latere tydperk vanaf 1513 v.G.J., toe God onder die Wet uitsluitlik met Israel gehandel het (Amos 3:2; Ef. 2:12). As Job se lang lewe in ag geneem word, lyk dit derhalwe of die boek ’n tydperk tussen 1657 v.G.J. en 1473 v.G.J., die jaar van Moses se dood, dek; die boek is die een of ander tyd na Job se dood en terwyl die Israeliete in die woestyn was deur Moses voltooi.—Job 1:8; 42:16, 17.

5. Wat dui daarop dat Moses Job geskryf het?

5 Waarom sê ons dat Moses die skrywer was? Dit is in ooreenstemming met die oudste oorlewering, onder Joodse sowel as vroeg-Christelike geleerdes. Uit die kragtige, eg Hebreeuse digstyl wat in die boek Job gebruik word, blyk dit dat dit oorspronklik ’n komposisie in Hebreeus, die taal van Moses, was. Dit kon nie ’n vertaling uit ’n ander taal soos Arabies gewees het nie. Bowendien toon die dele wat in prosa geskryf is ’n sterker ooreenkoms met die Pentateug as met enige ander geskrifte in die Bybel. Die skrywer moes ’n Israeliet gewees het, wat Moses wel was, want aan die Jode is “die woorde van God toevertrou” (Rom. 3:1, 2). Na Moses ’n volwasse man geword het, het hy 40 jaar in Midian deurgebring, nie ver van Us nie, waar hy die gedetailleerde inligting wat in Job opgeteken is, kon bekom het. Later, toe Moses gedurende Israel se 40-jarige tog deur die woestyn naby Job se tuiste verbygetrek het, kon hy die laaste besonderhede in die boek te wete gekom en opgeteken het.

6. In watter opsigte is die boek Job veel meer as ’n literêre meesterstuk?

6 Volgens The New Encyclopædia Britannica word die boek Job dikwels “onder die meesterstukke van wêreldliteratuur gereken”.b Die boek is egter nie net ’n literêre meesterstuk nie. Job beklee ’n uitsonderlike plek onder die boeke van die Bybel wat die verheerliking van Jehovah se mag, geregtigheid, wysheid en liefde betref. Dit onthul baie duidelik wat die vernaamste geskil is waarvoor die heelal staan. Dit werp lig op baie dinge wat in ander boeke van die Bybel gesê word, veral in Genesis, Exodus, Prediker, Lukas, Romeine en Openbaring. (Vergelyk Job 1:6-12; 2:1-7 met Genesis 3:15; Exodus 9:16; Lukas 22:31, 32; Romeine 9:16-19 en Openbaring 12:9; ook Job 1:21; 24:15; 21:23-26; 28:28 onderskeidelik met Prediker 5:14; 8:11; 9:2, 3; 12:13.) Dit verskaf die antwoorde op baie lewensvrae. Dit is gewis ’n integrerende deel van die geïnspireerde Woord van God, en gee heelwat nuttige insig daarin.

INHOUD VAN JOB

7. In watter situasie tref ons Job in die begin van die boek aan?

7 Proloog tot die boek Job (1:1-5). Hier word Job aan ons bekend gestel, ’n man ‘vroom en opreg en godvresend en een wat afwyk van die kwaad’. Job is gelukkig, want hy het sewe seuns en drie dogters. Hy is ’n ryk grondeienaar met talryke kuddes. Hy het baie knegte en is “ryker . . . as al die kinders van die Ooste” (1:1, 3). Hy is egter nie materialisties nie, want hy stel nie sy vertroue in sy materiële besittings nie. Hy is ook geestelik ryk, ryk in goeie werke, altyd bereid om iemand te help wat in die nood verkeer of om ’n kledingstuk vir iemand te gee wat dit nodig het (29:12-16; 31:19, 20). Almal respekteer hom. Job aanbid die ware God, Jehovah. Hy weier om hom soos die heidense nasies voor die son, maan en sterre neer te buig, maar is getrou aan Jehovah, bewaar sy onkreukbaarheid teenoor sy God en geniet ’n intieme verhouding met Hom (29:7, 21-25; 31:26, 27; 29:4). Job tree op as priester vir sy gesin deur gereeld brandoffers te bring ingeval hulle gesondig het.

8. (a) Hoe trek Satan Job se onkreukbaarheid in twyfel? (b) Hoe aanvaar Jehovah die uitdaging?

8 Satan daag God uit (1:6–2:13). Op wonderbaarlike wyse word die gordyn van onsigbaarheid oopgetrek sodat ons ’n blik op hemelse dinge kan kry. Ons sien hoe Jehovah ’n vergadering van die seuns van God lei. Satan verskyn ook onder hulle. Jehovah vestig die aandag op sy getroue kneg Job, maar Satan trek Job se onkreukbaarheid in twyfel en maak die aantyging dat Job God dien as gevolg van die materiële voordele wat hy ontvang. As God Satan sou toelaat om dit weg te neem, sal Job sy onkreukbaarheid prysgee. Jehovah aanvaar die uitdaging, met dié voorwaarde dat Satan Job self nie aanraak nie.

9. (a) Watter swaar beproewinge tref Job? (b) Wat bewys dat hy sy onkreukbaarheid handhaaf?

9 Talle rampe tref die niksvermoedende Job. Weens invalle deur die Sabeërs en Chaldeërs verloor hy sy groot rykdom. ’n Storm dood sy seuns en dogters. Hierdie swaar beproewing laat Job God nie vervloek of die rug toekeer nie. Hy sê eerder: “Die Naam van die HERE sy geloofd!” (1:21). Satan, wat die onderspit gedelf het en in dié opsig ’n leuenaar bewys is, verskyn weer voor Jehovah en maak die aantyging: “Huid vir huid, en alles wat iemand het, sal hy gee vir sy lewe” (2:4). Satan beweer dat as hy toegelaat sou word om Job se liggaam aan te tas, hy Job daartoe sal dryf om God in sy aangesig te vloek. Met toestemming om enigiets te doen solank hy nie Job se lewe neem nie, tref Satan Job met ’n vreeslike siekte. Sy vlees “is bekleed met wurms en stofklonte”, en sy liggaam en asem ruik sleg vir sy vrou en familielede (7:5; 19:13-20). ’n Aanduiding dat Job nie sy onkreukbaarheid prysgegee het nie, is sy vrou se aansporing: “Volhard jy nog in jou vroomheid? [Vervloek] God, en sterf!” Job bestraf haar en ‘sondig nie met sy lippe nie’.—2:9, 10, vgl. NW.

10. Watter stilswyende “troos” voorsien Satan?

10 Satan verwek nou drie metgeselle wat Job kom “troos”. Dit is Elifas, Bildad en Sofar. Op ’n afstand herken hulle Job nie, maar dan verhef hulle hulle stemme en ween hulle en strooi hulle stof op hulle hoofde. Vervolgens gaan sit hulle voor hom op die grond sonder om ’n woord te sê. Na sewe dae en nagte van hierdie stilswyende ‘vertroosting’ verbreek Job uiteindelik die stilte deur ’n lang debat met sy sogenaamde vertroosters te begin.—2:11.

11-13. Hoe open Job die debat, watter beskuldiging maak Elifas, en wat is Job se vurige antwoord?

11 Die debat: eerste ronde (3:1–14:22). Van hierdie punt af ontvou die drama hom in verhewe Hebreeuse poësie. Job vervloek sy geboortedag en wonder waarom God hom laat lewe het.

12 In antwoord beskuldig Elifas Job daarvan dat dit hom aan onkreukbaarheid ontbreek. Die opregtes kom nooit om nie, sê hy. Hy onthou ’n naggesig waarin ’n stem vir hom gesê het dat God geen vertroue in sy dienaars stel nie, veral nie in dié van blote klei, die stof van die aarde, nie. Hy gee te kenne dat Job se lyding dissipline van die almagtige God is.

13 Job antwoord Elifas vurig. Hy roep uit soos enige skepsel sou doen wat vervolging en benoudheid ondergaan. Die dood sou ’n uitkoms wees. Hy verwyt sy metgeselle omdat hulle teen hom saamspan en protesteer: “Onderrig my, en ék sal swyg; en maak my duidelik waarin ek my misgaan het” (6:24). Job verdedig sy eie regverdigheid voor God, die “Mensebewaker”.—7:20.

14, 15. Wat is Bildad se argument, en waarom vrees Job dat hy sy saak met God sal verloor?

14 Bildad uiter nou sy argument, waarin hy te kenne gee dat Job se seuns gesondig het en Job self nie opreg is nie, anders sou God hom verhoor het. Hy vermaan Job om hom te laat lei deur die vorige geslagte en deur die dinge wat deur hulle voorvaders nagespeur is.

15 Job antwoord en gee toe dat God nie onregverdig is nie. God is ook geen mens rekenskap verskuldig nie, want Hy doen “groot, ondeurgrondelike dinge . . . en wonders sonder getal” (9:10). Job kan nie teen Jehovah as sy teenparty in die regsgeding wen nie. Hy kan slegs God se guns afsmeek. Maar het dit enige nut om te probeer doen wat reg is? “Die vrome en die goddelose vernietig Hy” (9:22). Daar is geen regverdige regspleging op die aarde nie. Job vrees dat hy selfs met God sy saak sal verloor. Hy het ’n skeidsregter nodig. Hy vra waarom hy beproef word en smeek God om te onthou dat hy uit “klei” gevorm is (10:9). Hy waardeer God se goedheid in die verlede, maar hy sê dat God net nog grimmiger sal wees as hy argumenteer, al het hy ook gelyk. As hy maar kon sterf!

16, 17. (a) Watter selfvoldane raad gee Sofar? (b) Hoe beoordeel Job sy “troosters”, en watter kragtige vertroue spreek hy uit?

16 Sofar tree nou toe tot die debat. Hy sê in werklikheid: Is ons kinders dat ons na leë gepraat luister? Jy sê dat jy werklik rein is, maar as God maar sou praat, sou hy jou skuld openbaar. Hy vra Job: “Kan jy die dieptes van God peil?” (11:7). Hy maan Job om skadelike gebruike te laat vaar, want diegene wat dit doen, sal seëninge ontvang, terwyl “die oë van die goddelose sal versmag”.—11:20.

17 Job roep met skerp sarkasme uit: “Waarlik, ja, julle is die regte mense, en saam met julle sterf die wysheid uit!” (12:2). Hy is miskien wel ’n voorwerp van bespotting, maar hy is nie minderwaardig nie. As sy metgeselle na God se skeppinge sou kyk, sou selfs dit hulle iets leer. Krag en praktiese wysheid is by God, wat alles beheer, wat selfs ‘die nasies grootmaak en hulle laat omkom’ (12:23). Job skep behae daarin om sy saak by God te bepleit, maar wat sy drie “vertroosters” betref—“julle pleister met leuens, kwaksalwers is julle almal” (13:4). Dit sal vir hulle wysheid wees om te swyg! Hy spreek sy vertroue in die geregtigheid van sy saak uit en smeek God om na hom te luister. Hy gaan oor tot die gedagte dat “die mens uit ’n vrou gebore . . . kort van dae en sat van onrus” is (14:1). Die mens vergaan gou, soos ’n blom of ’n skaduwee. Jy kan nie ’n reine uit ’n onreine voortbring nie. Wanneer Job bid dat God hom in Sjeool moet verberg totdat Sy toorn bedaar het, sê hy: “As ’n mens sterwe, sal hy weer lewe?” In antwoord spreek hy die kragtige hoop uit: “Ek hoop al die dae van my stryd totdat my aflossing kom.”—14:13, 14.

18, 19. (a) Met watter spottery begin Elifas die tweede ronde van die debat? (b) Hoe beskou Job sy metgeselle se “troos”, en waarvoor verlaat hy hom op Jehovah?

18 Die debat: tweede ronde (15:1–21:34). Elifas open die tweede ronde en dryf die spot met Job se kennis deur te sê dat hy ‘sy buik met die oostewind gevul het’ (15:2). Hy kleineer weer eens Job se onkreukbaarheidsverklaring en beweer dat Jehovah nie in die sterflike mens of die heiliges in die hemel vertroue kan stel nie. Hy beskuldig Job indirek daarvan dat hy hom beter as God probeer betoon en dat hy skuldig is aan afvalligheid, omkopery en bedrog.

19 Job antwoord vinnig dat sy metgeselle ‘treurige vertroosters met winderige woorde’ is (16:2, 3). As hulle in sy plek was, sou hy hulle nie beskimp het nie. Hy verlang vurig om geregverdig te word en verlaat hom op Jehovah, wat sy verlede ken en sy saak sal beslis. Job vind geen wysheid in sy metgeselle nie. Hulle ontneem hom alle hoop. Hulle “troos” kom daarop neer dat hulle sê nag is dag. Die enigste hoop is om ‘na die doderyk (Sjeool) neer te daal’.—17:15, 16.

20, 21. Waaroor is Bildad bitter, watter protes uiter Job, en waarin stel Job sy vertroue?

20 Die bespreking word heftig. Bildad is nou bitter, want hy meen dat Job sy vriende vergelyk het met diere sonder verstand. Hy vra Job: ‘Sal die aarde om jou ontwil verlate wees?’ (18:4). Hy waarsku dat Job in ’n verskriklike strik sal val as ’n voorbeeld vir ander. Job sal geen nageslag hê wat hom sal oorleef nie.

21 Job antwoord: “Hoe lank sal julle my siel kwel en my met woorde verbrysel?” (19:2). Hy het familie en vriende verloor, sy vrou en huisgenote het hulle van hom afgekeer, en hy self het slegs ‘met sy tandvlees ontsnap’ (19:20). Hy vertrou op die koms van ’n verlosser om die geskil ten behoewe van hom te besleg sodat hy God uiteindelik sal “aanskou”.—19:25, 26.

22, 23. (a) Waarom voel Sofar gekrenk, en wat sê hy oor Job se sogenaamde sondes? (b) Met watter vernietigende argument antwoord Job?

22 Soos Bildad, voel Sofar gekrenk dat hy moet luister na Job se ‘griewende bestraffing’ (20:3). Hy herhaal dat Job se sondes hom ingehaal het. Die goddelose word altyd deur God gestraf, en hulle het geen rus nie, sê Sofar, selfs nie wanneer hulle voorspoed geniet nie.

23 Job antwoord met ’n vernietigende argument: As God die goddelose altyd só straf, waarom is dit dat die goddelose bly lewe, oud word, buitengewoon ryk is? Hulle slyt hulle dae in voorspoed. Hoe dikwels tref rampspoed hulle? Hy wys daarop dat die rykes sowel as die armes sterf. Trouens, ’n goddelose man sterf dikwels “gerus en tevrede”, terwyl ’n regverdige man moontlik “met bitterheid van siel” sterf.—21:23, 25.

24, 25. (a) Watter lasterlike beskuldigings bring Elifas in sy selfvoldaanheid teen Job in? (b) Met watter weerlegging en uitdaging antwoord Job hierop?

24 Die debat: derde ronde (22:1–25:6). Elifas keer met mening terug tot die aanval en bespot Job se bewering dat hy onberispelik voor die Almagtige is. Hy bring lasterlike beskuldigings teen Job in, want hy beweer dat hy sleg is, die armes uitgebuit het, aan die hongeriges brood onthou het en weduwees en vaderlose seuns mishandel het. Elifas sê dat Job se private lewe nie so suiwer is as wat hy beweer nie en dat dít Job se slegte toestand verklaar. Maar “as jy tot die Almagtige terugkeer”, sê Elifas, “sal [hy] jou verhoor”.—22:23, 27.

25 In antwoord weerlê Job Elifas se verregaande beskuldiging en sê hy dat hy deur God verhoor wil word, wat bewus is van sy regverdige weg. Daar is diegene wat die wese, die weduwee en die armes verdruk en wat moord, diefstal en owerspel pleeg. Dit lyk miskien of hulle ’n ruk lank voorspoedig is, maar hulle sal hulle loon ontvang. Hulle sal tot niet gemaak word. “En is dit nou nie so nie, wie sal my van ’n leuen beskuldig?” daag Job hulle uit.—24:25.

26. Wat het Bildad en Sofar nog te sê?

26 Bildad antwoord kortliks hierop deur vol te hou met sy argument dat geen mens voor God rein kan wees nie. Sofar neem nie deel aan hierdie derde ronde nie. Hy het niks om te sê nie.

27. Hoe verheerlik Job nou die Almagtige se grootheid?

27 Job se slotargument (26:1–31:40). In ’n laaste betoog lê Job sy metgeselle heeltemal die swye op (32:12, 15, 16). Vol sarkasme sê hy: “Hoe goed het jy die onmagtige bygestaan! . . . Hoe mooi het jy die onwyse raad gegee!” (26:2, 3). Maar niks, nie eers Sjeool nie, kan enigiets vir God se oë bedek nie. Job beskryf God se wysheid in die buitenste ruimte, die aarde, die wolke, die see en die wind—wat alles al deur die mens gesien is. Dit is maar die uitlopers van die Almagtige se weë. Dit is nouliks ’n fluistering van die Almagtige se grootheid.

28. Watter onomwonde verklaring maak Job oor onkreukbaarheid?

28 Oortuig van sy onskuld sê hy: “Totdat ek die asem uitblaas, sal ek my onskuld [“onkreukbaarheid”, NW] nie prysgee nie” (27:5). Nee, Job het niks gedoen om die dinge te verdien wat oor hom gekom het nie. In teenstelling met hulle beskuldigings sal God onkreukbaarheid beloon deur toe te sien dat die dinge wat die goddelose in hulle voorspoed vergaar het deur die regverdige geërf word.

29. Hoe beskryf Job wysheid?

29 Die mens weet waar die skatte van die aarde (silwer, goud, koper) vandaan kom, maar “die wysheid dan—waar kom dit vandaan?” (28:20). Hy het dit onder die lewendes gesoek; hy het in die see gesoek; dit kan nie met goud of silwer gekoop word nie. God is die een wat wysheid verstaan. Hy sien tot by die eindes van die aarde en die hemele, meet die wind en die waters af en beheer die reën en die onweerswolke. Job kom tot die slotsom: “Kyk, die vrees van die HERE is wysheid; en om van die kwaad af te wyk, is verstand.”—28:28.

30. Watter herstel verlang Job, maar wat is sy huidige status?

30 Die geteisterde Job beskryf vervolgens sy lewensgeskiedenis. Hy verlang om tot sy vorige intieme verhouding met God herstel te word, toe hy selfs deur die leiers van die stad gerespekteer is. Hy was ’n redder van die ellendiges en oë vir die blindes. Sy raad was goed en mense het op sy woorde gewag. Maar in plaas van ’n eerbare posisie te beklee, word hy nou uitgelag selfs deur dié wat jonger as hy is, wie se vaders nie eens geskik was om by sy herdershonde te wees nie. Hulle spuug op hom en weerstaan hom. Nou, in sy grootste ellende, gun hulle hom geen rus nie.

31. In wie se oordeel spreek Job vertroue uit, en wat sê hy oor die ware verslag van sy lewe?

31 Job beskryf homself as ’n toegewyde man en vra om deur Jehovah geoordeel te word. “Laat Hy my dan weeg op ’n regte weegskaal, sodat God my onskuld kan weet!” (31:6). Job verdedig sy vroeëre doen en late. Hy was nie ’n owerspeler nie en het ook nie teen ander saamgespan nie. Hy het nie versuim om die behoeftiges te help nie. Hy het nie sy vertroue in materiële rykdom gestel nie, hoewel hy ryk was. Hy het nie die son, maan en sterre aanbid nie, want “ook dit sou ’n strafbare misdaad wees, want ek sou God daarbo verloën het” (31:28). Job nooi sy teenparty om aanklagte teen die ware verslag oor sy lewe in te bring.

32. (a) Wie praat nou? (b) Waarom ontvlam Elihu se toorn teen Job en sy metgeselle, en wat dwing hom om te spreek?

32 Elihu spreek (32:1–37:24). Intussen het Elihu, ’n nakomeling van Bus, ’n seun van Nahor, en gevolglik ver langs familie van Abraham, na die debat geluister. Hy het gewag omdat hy gemeen het dat dié wat ouer is groter kennis sou hê. Dit is egter nie ’n hoë leeftyd nie, maar God se gees wat verstand gee. Elihu se toorn ontvlam teen Job “omdat hy homself regverdig beskou het [eerder as] God”, maar dit ontvlam selfs hewiger teen Job se drie metgeselle weens hulle betreurenswaardige gebrek aan wysheid deur God goddeloos te verklaar. Elihu het “vol woorde” geword, en God se gees dwing hom om hieraan uiting te gee, maar sonder om partydig te wees of ‘aan ’n aardse mens titels te verleen’.—Job 32:2, 3, 18-22, vgl. NW; Gen. 22:20, 21.

33. In watter opsig het Job gedwaal, maar watter guns sal God hom betoon?

33 Elihu spreek in opregtheid en erken dat God sy Skepper is. Hy wys daarop dat Job meer bekommerd oor sy eie regverdiging as oor dié van God was. God hoef nie al Job se woorde te beantwoord asof Hy Sy dade moet regverdig nie, en tog het Job teen God getwis. Wanneer Job se siel naby die dood kom, begunstig God hom egter met ’n boodskapper en sê: “Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het ’n losprys gevind—dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid” (Job 33:24, 25). Die regverdige sal herstel word!

34. (a) Watter verdere teregwysings gee Elihu? (b) Wat moet Job doen pleks van sy eie regverdigheid te verheerlik?

34 Elihu versoek die wyses om te luister. Hy wys Job tereg omdat hy sê dat dit geen nut het om onkreukbaarheid te handhaaf nie: “Ver is God van goddeloosheid en die Almagtige van onreg! Veelmeer vergeld Hy die mens na sy werk” (34:10, 11). Hy kan die asem van die lewe wegneem, en alle vlees sal doodgaan. God oordeel sonder partydigheid. Job het sy eie regverdigheid te veel op die voorgrond geplaas. Hy was onbesonne, nie opsetlik nie, maar “sonder kennis”; en God was lankmoedig teenoor hom (34:35). Daar moet meer oor God se regverdiging gesê word. God sal nie sy oë van die regverdige aftrek nie, maar hy sal hulle teregwys. “Hy laat die goddelose nie lewe nie, maar aan die ellendiges verskaf Hy reg” (36:6). Aangesien God die Opperleermeester is, moet Job Sy werk verheerlik.

35. (a) Waarop moet Job ag gee? (b) Aan wie sal Jehovah guns bewys?

35 In die ontsagwekkende atmosfeer van ’n storm wat opsteek, praat Elihu van die groot dinge wat God gedoen het en van Sy beheer oor die natuurkragte. Hy sê vir Job: “Staan stil en gee ag op die wonders van God” (37:14). Beskou die goue prag en vreesinboesemende waardigheid van God, wat lank nie deur die mens deurgrond kan word nie. “Hy is groot van krag, maar die reg en volheid van geregtigheid krenk Hy nie.” Ja, Jehovah slaan ag op dié wat hom vrees, nie op dié wat “eiewys” is nie.—37:23, 24.

36. Deur middel van watter treffende les en deur watter reeks vrae onderrig Jehovah Job nou?

36 Jehovah antwoord Job (38:1–42:6). Job het God gevra om met hom te praat. Nou antwoord Jehovah op majestueuse wyse uit die windstorm. Hy stel ’n reeks vrae aan Job wat op sigself ’n treffende les in die mens se nietigheid en God se grootheid is. “Waar was jy toe Ek die aarde gegrond het? . . . Wie het sy hoeksteen gelê? Toe die môresterre saam gejubel en al die seuns van God gejuig het?” (38:4, 6, 7). Dit was lank voor Job se tyd! Die een vraag na die ander word gestel wat Job nie kan beantwoord nie, terwyl Jehovah wys op die aarde se see, sy wolkkleding, die daeraad, die poorte van die dood en die lig en die duisternis. “Het jy dit te wete gekom omdat jy in daardie tyd gebore is, en omdat die getal van jou dae groot is?” (38:21, NW). En wat van die skatkamers van die sneeu en van die hael, die storm en die reën en die doudruppels, die ys en die ryp, die magtige hemelkonstellasies, die weerligstrale en die wolklae, die diere en die voëls?

37. Watter ander vrae verootmoedig Job, en wat voel hy hom gedronge om te erken en te doen?

37 Job erken nederig: “Kyk, ek is te gering. Wat kan ek U antwoord? Ek lê my hand op my mond” (39:37). Jehovah beveel Job om die geskil onder die oë te sien. Hy stel nog ’n reeks uitdagende vrae wat sy waardigheid, superioriteit en sterkte soos dit in sy natuurskeppings geopenbaar word, verhef. Selfs die seekoei (Behemot, NW) en die krokodil (Leviatan, NW) is baie sterker as Job! Job is heeltemal verootmoedig en erken sy verkeerde standpunt, en hy gee toe dat hy sonder kennis gespreek het. Noudat hy God sien, nie volgens hoorsê nie maar met verstand, herroep hy sy woorde en het hy berou “in stof en as”.—42:6.

38. (a) Hoe reken Jehovah met Elifas en sy metgeselle af? (b) Watter guns en seën skenk hy Job?

38 Jehovah se oordeel en seën (42:7-17). Vervolgens beskuldig Jehovah Elifas en sy twee metgeselle daarvan dat hulle nie die waarheid oor Hom gespreek het nie. Hulle moet offers bring en Job vir hulle laat bid. Hierna verander Jehovah die gevange toestand van Job en seën hy hom met dubbel soveel. Sy broers, susters en vroeëre vriende keer met geskenke na hom terug en hy word met twee keer soveel skape, kamele, beeste en eselinne as voorheen geseën. Hy het weer tien kinders en sy drie dogters is die pragtigste vroue in die hele land. Sy lewe word wonderbaarlik met 140 jaar verleng sodat hy vier geslagte van sy nakomelinge sien. Hy sterf “oud en versadig met dae”.—42:17, NW.

WAAROM NUTTIG

39. In watter opsigte verheerlik en loof die boek Job Jehovah?

39 Die boek Job verheerlik Jehovah en getuig van sy ondeurgrondelike wysheid en mag (12:12, 13; 37:23). In hierdie een boek word God 31 keer die Almagtige genoem, wat meer is as al die ander kere in die Skrif saam. Die verslag loof sy ewigheid en verhewe posisie (10:5; 36:4, 22, 26; 39:35; 42:2), asook sy geregtigheid, liefderyke goedheid en barmhartigheid (36:5-7; 10:12; 42:12). Dit beklemtoon dat Jehovah se regverdiging belangriker as die mens se redding is (33:12; 34:10, 12; 35:2; 36:24; 40:3). Daar word getoon dat Jehovah, die God van Israel, ook die God van Job is.

40. (a) Hoe verheerlik en verklaar die boek Job God se skeppingswerke? (b) Hoe gee dit ’n voorskou van en stem dit ooreen met die leerstellings van die Christelike Griekse Geskrifte?

40 Die verslag in Job verheerlik en verklaar die skeppingswerk van God (38:4–39:33; 40:10, 14; 40:20; 35:10). Dit strook met die verklaring in Genesis dat die mens uit die stof gemaak is en dat hy daartoe terugkeer (Job 10:8, 9; Gen. 2:7; 3:19). Dit gebruik die woorde “Verlosser”, “losprys” en “weer lewe”, wat ons ’n voorskou gee van vername leerstellings in die Christelike Griekse Geskrifte (Job 19:25; 33:24; 14:13, 14). Die profete en Christenskrywers het baie van die boek se uitdrukkings of soortgelyke uitdrukkings gebruik. Vergelyk byvoorbeeld Job 7:17—Psalm 8:5; Job 9:24—1 Johannes 5:19; Job 10:8—Psalm 119:73; Job 12:25—Deuteronomium 28:29; Job 24:23—Spreuke 15:3; Job 26:8—Spreuke 30:4; Job 28:12, 13, 15-19—Spreuke 3:13-15; Job 39:33—Mattheüs 24:28.c

41. (a) Watter teokratiese standaarde word in Job beklemtoon? (b) Waarin is God se kneg Job by uitstek vir ons wat vandag lewe ’n goeie voorbeeld?

41 Jehovah se regverdige lewenstandaarde word in baie gedeeltes uiteengesit. Die boek keur materialisme (Job 31:24, 25), afgodery (31:26-28), owerspel (31:9-12), leedvermaak (31:29), onregverdigheid en partydigheid (31:13; 32:21), selfsug (31:16-21) en oneerlikheid en leuens (31:5) sterk af en toon dat iemand wat hierdie dinge beoefen nie God se guns en die ewige lewe kan verkry nie. Elihu is ’n goeie voorbeeld van diep respek en beskeidenheid, gepaard met vrymoedigheid, moed en verheerliking van God (32:2, 6, 7, 9, 10, 18-20; 33:6, 33). Die manier waarop Job sy hoofskap uitgeoefen het, sy bedagsaamheid teenoor sy gesin en sy gasvryheid verskaf ook ’n goeie les (1:5; 2:9, 10; 31:32). Job word egter allereers vir sy onkreukbaarheid en geduldige volharding onthou, waardeur hy ’n voorbeeld gestel het, wat deur die eeue heen en veral in hierdie geloofbeproewende tye vir God se knegte ’n geloofversterkende bolwerk was en steeds is. “Julle het gehoor van die lydsaamheid van Job, en julle het die einddoel van die Here met hom gesien, dat die Here vol medelye en ontferming is.”—Jak. 5:11.

42. Watter fundamentele Koninkryksgeskil word in Job opgehelder, en watter interessante aspekte van hierdie geskil word verklaar?

42 Hoewel Job nie tot die saad van Abraham behoort het aan wie die Koninkryksbeloftes gedoen is nie, help die verslag oor sy onkreukbaarheid ons grootliks om Jehovah se Koninkryksvoornemens beter te verstaan. Die boek maak ’n noodsaaklike deel van die goddelike verslag uit, want dit onthul die fundamentele geskil tussen God en Satan, waarby die mens se onkreukbaarheid teenoor Jehovah as sy Soewerein betrokke is. Dit toon dat die engele, wat voor die aarde en die mens geskep is, ook toeskouers is en baie belangstel in hierdie aarde en die uitslag van die geskil (Job 1:6-12; 2:1-5; 38:6, 7). Dit dui aan dat die geskil voor Job se dag bestaan het en dat Satan ’n werklike geespersoon is. As die boek Job deur Moses geskryf is, is dit die eerste keer dat die uitdrukking has·Sa·tanʹ in die Hebreeuse teks van die Bybel voorkom, wat “die ou slang” verder identifiseer (Job 1:6, voetnoot in NW-naslaanuitgawe; Openb. 12:9). Die boek bewys ook dat God nie die oorsaak is van die mensdom se lyding, siekte en die dood nie, en dit verklaar waarom die regverdiges vervolg word terwyl die goddeloses en goddeloosheid toegelaat word om voort te bestaan. Dit wys dat Jehovah daarin belangstel om die geskil finaal te besleg.

43. Watter weg moet almal wat in God se Koninkrykseëninge wil deel nou, in harmonie met die goddelike openbaringe in die boek Job, volg?

43 Dit is nou die tyd dat almal wat onder God se Koninkryksheerskappy wil lewe Satan, “die aanklaer”, deur hulle onkreukbaarheid moet antwoord (Openb. 12:10, 11). Selfs onder ‘vreemde beproewinge’ moet handhawers van onkreukbaarheid bly bid dat God se naam geheilig word en dat sy Koninkryk kom en Satan en sy hele spottende saad uitwis. Dit sal God se “dag van stryd en oorlog” wees, wat gevolg sal word deur die verligting en seëninge waaraan Job gehoop het om deel te hê.—1 Pet. 4:12; Matt. 6:9, 10; Job 38:23; 14:13-15.

[Voetnote]

a Insight on the Scriptures, Dl. 1, bladsye 280-1, 663, 668, 1166; Dl. 2, bladsye 562-3.

b 1987, Dl. 6, bladsy 562.

c Insight on the Scriptures, Dl. 2, bladsy 83.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel