Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • km 9/94 bl. 3-6
  • Uitbreiding by Bethel duur voort

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Uitbreiding by Bethel duur voort
  • Ons Koninkryksbediening—1994
Ons Koninkryksbediening—1994
km 9/94 bl. 3-6

Uitbreiding by Bethel duur voort

1 Hier in Suidelike Afrika, soos elders in die wêreld, hou die Koninkryksverkondigingswerk net aan groei. Jehovah is verantwoordelik vir die groei, soos die apostel Paulus verduidelik het: “Ek het geplant, Apollos het natgemaak, maar God het laat groei” (1 Kor. 3:6). Alle eer en heerlikheid kom dus ons Vader, Jehovah, toe wat die werk bespoedig.—Jes. 60:22.

2 Die groei is so groot dat dit vir ons takkantoor moeilik is om met die voortdurende vermeerdering tred te hou. Soos julle op die prente op die middelste bladsye van hierdie byvoegsel kan sien, het ons die woongebou uitgebrei en weens die toenemende uitvoer na ander takkantore ook ’n groot, nuwe pakskuur gebou. Maar dit is net die begin van die bouprogram. Veel meer is nodig.

3 Die Bestuursliggaam het dus goedkeuring verleen dat nog twee woongeboue aangebou word wat elk 64 kamers het; die kantoorgebou met twee verdiepings vergroot en ons eetsaal, kombuis en wassery vergroot word. Die eetsaal sal sitplek aan 1000 persone voorsien. Dit sal met die vinnige toename in die Bethelgesin tred hou. Die drukkery sal ook met ten minste 50persent vergroot word.

4 Waarom is al hierdie uitbreiding nodig? Die Suid-Afrikaanse takkantoor speel ’n noodsaaklike rol in die groei van die werk. Die tydskrifte, brosjures, traktate en vorms vir al die takkantore in Suidelike Afrika, en selfs party in Sentraal-Afrika, word hier gedruk. Toe die nuwe takkantoor in Maart 1987 toegewy is, is 29 nommers van die tydskrifte per maand gedruk. Nou word 51 nommers per maand gedruk. Die aantal tydskrifte wat gedruk word, het van net meer as 8miljoen tot byna 11,5 miljoen per jaar toegeneem. Ons het ook begin om Die Wagtoring in al die landstale gelyktydig met die Engels uit te gee. Ons druk meer as driemiljoen items elke maand, wat tydskrifte insluit! In onlangse jare is nuwe publikasies gelyktydig by byeenkomste vrygestel. Benewens Engels, is die Verkondigers-boek byvoorbeeld in sewe tale by die “Goddelike Onderrigting”-Streekbyeenkomste vrygestel. Dit was ’n reusetaak wat in die aande en oor naweke baie ure van ekstra werk geverg het. Daarbenewens word die New World Translation in ’n hele paar van die plaaslike tale vertaal. Dit alles het daartoe bygedra dat ons Vertaaldepartement gegroei het van ongeveer 40 vertalers in 1987 tot meer as 100 op die oomblik. Trouens, ons het tans die grootste Vertaaldepartement ter wêreld. Al hierdie faktore vereis dat ons ons fasiliteite uitbrei.

5 Daarbenewens help die Suid-Afrikaanse takkantoor nabygeleë takkantore met hulle bouprojekte. Mosambiek en Madagaskar bou tans nuwe takkantore. Zimbabwe, Zaïre en Kenia sal binnekort begin bou. Boumateriaal moet gekoop en na hierdie lande vervoer of verskeep word. Gevolglik is groot Aankope- en Uitvoerdepartemente nodig. Vyf groot vragmotors word gebruik om voorrade na party van die takke te stuur.

6 Wat kan jy doen om te help? Hierdie uitbreiding beteken dat daar ’n reusetaak vir ons voorlê. Ons beoog om al hierdie werk binne die volgende vier of vyf jaar te voltooi, en met Jehovah se seën kan dit gedoen word. Hoe kan ons almal help?

7 Persone met spesiale vaardighede: Is jy bedrewe in die hantering van swaar toerusting, die lê van tapyte, betonbekisting en -afwerking, die lê van keramiekteëls, die oprigting van staalskotstylrame, elektriese werk, die installering van hangplafonne, plaatmetaalwerk, staalvlegtery, sweiswerk, timmerwerk, loodgieterswerk, die isolering van pype, verfwerk, die aanlê van pype en installering van stapelmure?

8 Indien dit die geval is en jy ’n week, ’n maand, ’n jaar of langer kan kom help, moet jy asseblief dadelik skryf en ’n aansoekvorm vir bouwerk aanvra.

9 Is jy ’n jong, gesonde broer? Doen dan aansoek. As jy nie oor ’n vaardigheid beskik nie, sal jy een geleer word. Party van die jong broers hier het gekwalifiseerde bouers geword. Jehovah het belowe dat jong manne hulle in hierdie tyd van die einde gewillig sal aanbied (Ps. 110:3). Nog talle jong manne is nodig om die werk te bespoedig.

10 Persone wat aansoek doen, moet geestelike manne wees, toegewy en ten minste een jaar gedoop wees, tussen die ouderdom van 19 en 55 wees en bereid wees om hard te werk. Voorkeur word gegee aan diegene in die pionierdiens en/of diegene wat ouere manne of bedieningsknegte is. As jy kwalifiseer en jou gewillig kan aanbied, moet jy dadelik skryf en ’n aansoekvorm vir bouwerk aanvra.

11 Finansiële en ander ondersteuning: Die broers in Suid-Afrika en naburige lande moet geprys word vir die manier waarop hulle die laaste projek ondersteun het. Talle het getrou elke maand hulle bydrae gestuur en doen dit steeds. Jehovah beloon diegene wat so ’n onselfsugtige gees aan die dag lê.

12 Die uitbreiding sal miljoene rande kos. Die Bestuursliggaam besef dat die broers hier nie die algehele koste daarvan kan dek nie; daarom het hulle belowe om te help, maar het die hoop uitgespreek dat ons ons volle ondersteuning aan hierdie projek sal verleen. Indien almal die raad van die apostel Paulus in 1 Korinthiërs 16:2 toepas om elke week of maand iets, na gelang van ‘hulle voorspoed, opsy te sit’, is ons seker dat daar plaaslik ’n aansienlike bydrae tot hierdie belangrike bouprojek gemaak sal word.

13 Die gemeentes naby Bethel kan ons ook baie help deur hulle volle ondersteuning te verleen elke keer as hulle gemeente genooi word om Saterdae te kom werk.

14 Ons sien daarna uit om saam met talle van julle te werk. Die tyd is min en die oes is groot. Vra asseblief Jehovah se seën op hierdie projek sodat ons kan voortgaan om in die behoeftes van die veld te voorsien.

[Prente op bladsy 4, 5]

Uitvoerskuur

Middel bo: Die dak se staalwerk word op die nuwe skuur vasgeskroef

Voorbereidingswerk word vir Woongebou 7 gedoen

Woongebou 6—die verbindingsbrug (bo) entwee van die nuwe kamers kan gesienword

Huidige Bethelkompleks Woongebou 6 kan regs bo gesien word

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel