Hulle het nie teruggehou om te getuig nie
1 Ons naam, Jehovah se Getuies, identifiseer ons en beskryf wat ons doen. Ons getuig van die voortreflikhede van ons God, Jehovah (Jes. 43:10, 12). Elkeen moet aan hierdie getuieniswerk deelneem as hy ’n lid van die gemeente wil word. Die getuieniswerk word hoofsaaklik deur ons openbare bediening gedoen, wat behels dat ons van huis tot huis gaan, straatwerk en herbesoeke doen asook Bybelstudies hou. Ons almal word met reg aangespoor om daarna te streef om ’n volle deelname daaraan te hê.—1 Kor. 15:58.
2 Sommige lede van die gemeente kan egter nie baie doen nie. Ernstige siekte of gebreke beperk hulle miskien. Opponerende familielede kan groot struikelblokke wees. ’n Jongmens se ongelowige ouer lê hom moontlik beperkinge op. Persone wat in afgeleë gebiede woon en sonder vervoer is, meen miskien dat dit ’n groot struikelblok is. Ingebore teruggetrokkenheid kan skugter persone laat terugdeins. Party verkondigers wat hulle in hierdie of soortgelyke situasies bevind, meen miskien dat hulle nie volwaardige Christene is nie omdat wat hulle kan doen baie minder is as wat ander doen en minder is as wat hulle graag sal wil doen. Daar is geen rede waarom hulle hulle eie pogings gering moet ag nie (Gal. 6:4). Hulle kan vertroosting put uit die wete dat dit Jehovah genoeë verskaf wanneer hulle hulle bes doen in watter situasie hulle hulle ook al bevind.—Luk. 21:1-4.
3 Vind ’n manier om ’n deelname te hê: Duisende ondervindinge het al getoon hoe persone in moeilike omstandighede nie toegelaat het dat struikelblokke hulle verhinder om te getuig nie. Hulle het inisiatief aan die dag gelê en ’n groot verskeidenheid maniere uitgedink om informeel te getuig. Diegene wat tot hulle huis beperk is, het die telefoon gebruik om ’n groot deur tot die getuieniswerk oop te maak. Elke besoeker word as ’n potensiële luisteraar beskou. Hoewel ’n vrou met ’n gesin wat haar teëstaan nie tuis kan getuig nie, maak sy van geleenthede gebruik om met bure en ander te praat wat sy in haar daaglikse roetine teëkom.
4 ’n Jongmens word dalk deur ’n ongelowige ouer verbied om aan ons openbare getuieniswerk deel te neem. Pleks van dit as ’n onoorbrugbare struikelblok te aanvaar, kan hy sy klasmaats en onderwysers as sy persoonlike “gebied” beskou en sodoende ’n goeie getuienis lewer en miskien selfs Bybelstudies hou. Baie wat in afgeleë gebiede woon, kon ’n deelname hê deur briewe te skryf. Diegene wat deur Christelike ywer gemotiveer word, sal altyd die een of ander manier vind wat sal voorkom dat hulle “onbedrywig of onvrugbaar word met betrekking tot die juiste kennis van ons Here Jesus Christus”.—2 Pet. 1:8, NW.
5 Jehovah het vir almal dieselfde standaard gestel wat ons aandeel aan die getuieniswerk betref, naamlik dat ons dit ‘met ons hele siel’ moet doen (Kol. 3:23, NW). Hoewel die hoeveelheid tyd wat ons daaraan bestee en dít wat ons bereik, sal verskil, is die onderliggende motivering dieselfde—opregte liefde wat uit “’n volkome hart” kom (1 Kron. 28:9; 1 Kor. 16:14). As ons ons bes doen, sal ons nooit rede hê om te dink dat ons ’n gebrek aan geloof het of dat ons as lede van die gemeente van geen nut is nie omdat die hoeveelheid wat ons kan doen so klein is. Ons kan, soos Paulus, waarlik sê dat ons ‘nie teruggehou het wat voordelig is toe ons in die openbaar gepreek het nie’.—Hand. 20:20, NAV.