Waardeer jou heilige diens
OM ENIGE doelwit te bereik wat die moeite werd is, moet ons bereid wees om ’n prys te betaal. Om ’n dokter te word, verg jare van studie en deursettingsvermoë sowel as geld. ’n Gimnas wat sukses behaal, het die grootste deel van sy jeug in ’n onwrikbare strewe na volmaaktheid aan oefeninge bestee wat geleidelik moeiliker geword het. ’n Bedrewe pianis kan eweneens op jare van toegewyde oefening terugkyk.
Daar is egter een doelwit waarvan die belonings veel groter is as enige prys wat betaal moet word. Wat is dit? Dit is die voorreg om ’n kneg van die Allerhoogste, Jehovah God, te wees. Enige opofferings wat ons ten opsigte van tyd, geld of energie doen, kan nie vergelyk word met die belonings wat ons ontvang wanneer ons heilige diens aan ons Skepper verrig nie. Die woorde van die apostel Paulus is waar: “Godvrugtige toegewydheid is voordelig vir alles, aangesien dit belofte inhou vir die teenswoordige en die toekomstige lewe” (1 Timotheüs 4:8, NW). Laat ons sien hoe dít waar is.
Wanneer ons aanvanklik van God leer
Die meeste mense wat gunstig op die goeie nuus reageer en die Bybel begin bestudeer, besef waarskynlik nie die omvang van die veranderinge wat dit in hulle lewe gaan meebring nie. Eers sal die nuwe Bybelstudent miskien vriende verloor wat nie kan verstaan waarom hy nie meer saam met hulle deelneem aan bedrywighede wat hy nou besef godonterend is nie (1 Petrus 4:4). Sommige ondervind miskien gesinsteëstand en voel dalk ontsteld wanneer hulle sien hoe diegene vir wie hulle lief is ’n afkeer van Jehovah het of hom selfs haat (Mattheüs 10:36). Dit kan ’n bitter prys wees om te betaal.
By die werk of by die skool sal daar ook ’n prys wees om te betaal. Die nuwe Bybelstudent sal mettertyd ophou om aan wêreldse partytjies en ander vieringe deel te neem. Hy sal nie meer na die onrein gesprekke van sy werk- of skoolmaats luister nie, en hy sal ook nie saam met hulle onwelvoeglike grappe vertel of daarna luister nie. Hy sal eerder probeer om die vermaning in Efesiërs 5:3, 4 toe te pas: “Hoerery en allerhande onreinheid of hebsug moet onder julle selfs nie genoem word nie, soos dit die heiliges betaam; ook nie gemeenheid en dwase of lawwe praatjies wat nie pas nie, maar liewer danksegging.”
Sulke veranderinge sal die Bybelstudent dalk ’n buitestander maak. Dit kan moeilik wees, veral vir ’n jongmens wat nog op skool is. Met die een vakansiedag ná die ander waarmee jong Christene te kampe het sowel as leerstellings wat God loën, soos evolusie, en die onophoudelike druk om met die stroom saam te gaan, moet hulle voortdurend stry vir die geloof. As hulle God se weë volg, sal dit hulle anders maak en kan dit tot gevolg hê dat klasmaats en onderwysers hulle bespot. Dit is veral gedurende die sensitiewe tienderjare moeilik om te aanvaar, maar God se goedkeuring is daardie prys werd.
Is dit werklik opofferings?
Ander dinge wat aanvanklik lyk of dit opofferings is, is op die ou end seëninge. Sommige moet die rookgewoonte opgee (2 Korinthiërs 7:1). Dit kan ’n stryd wees, maar wat ’n seën is dit tog wanneer daardie skadelike gewoonte uiteindelik oorkom word! Dieselfde kan gesê word van wanneer verslawing aan ander dwelms of alkohol oorkom word. Hoeveel beter is die lewe tog nie sonder sulke vernietigende gewoontes nie! Ander moet hulle huweliksake in orde kry. Diegene wat saamwoon sonder die voordeel van ’n huwelik moet óf trou óf ophou om saam te woon (Hebreërs 13:4). Diegene wat saam met ’n aantal vrouens woon, moet slegs die vrou van hulle jeug behou (Spreuke 5:18). Sulke veranderinge vereis opofferings, maar dit bring vrede in die huis.
Dink aan die belonings
Enigeen wat Jehovah se wette gehoorsaam, word inderdaad bevoordeel. Vir die eerste keer in sy lewe begin die Bybelstudent om sy Skepper op Sy naam, Jehovah, aan te spreek (Psalm 83:18, NW). Die student kry Jehovah lief namate hy van die wonderlike dinge leer wat Hy al gedoen het en nog vir die mensdom gaan doen. In lande waar vrees vir die afgestorwenes iets algemeens is, verloor hy sy bygelowige vrees, want hy weet dat die dooies slaap en op ’n opstanding wag (Prediker 9:5, 10). En wat ’n verligting is dit tog om te besef dat Jehovah mense nie vir ewig in die hel pynig nie! Ja, die waarheid maak hom werklik vry.—Johannes 8:32.
Namate die student sy lewe al hoe meer na Jehovah se standaarde skik, verkry hy ’n rein gewete en selfrespek. Omdat hy leer om soos ’n ware Christen te lewe, help dit hom om beter vir sy gesin te sorg, wat groot tevredenheid en vreugde meebring. Dan is daar die bywoning van vergaderinge by die Koninkryksaal. Wat ’n genotvolle ondervinding is dit tog! Hier is mense wat werklik die innige liefde betoon wat die Bybel sê God se volk moet identifiseer (Psalm 133:1; Johannes 13:35). Hulle spraak is rein en opbouend wanneer hulle oor “die groot dade van God” praat (Handelinge 2:11). Ja, om met “die hele gemeenskap van broers” te kan assosieer, is ’n bron van geluk (1 Petrus 2:17, NW). Sulke goeie omgang help die Bybelstudent om hom “met die nuwe mens [te] beklee wat na God geskape is in ware geregtigheid en heiligheid”.—Efesiërs 4:24.
Die stap van toewyding
Namate iemand se kennis toeneem, word hy uiteindelik deur liefde vir Jehovah beweeg om sy lewe aan hom toe te wy en hierdie toewyding deur waterdoop te simboliseer (Mattheüs 28:19). Jesus se raad is dat sy dissipels eers die koste moet bereken voordat hulle hierdie stap doen (Lukas 14:28). Onthou, ’n toegewyde Christen stel Jehovah se wil eerste en verwerp die dinge van die vlees. Hy werk hard om “die werke van die vlees” af te lê en “die vrug van die Gees” aan te kweek (Galasiërs 5:19-24). Die raad wat in Romeine 12:2 gevind word, speel nou ’n groter rol in sy lewe: “Word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” Sodoende lei ’n toegewyde Christen sy lewe met ’n nuwe doelgerigtheid.
Maar dink aan wat hy ontvang. Om maar een ding te noem, hy het nou ’n persoonlike verhouding met die Skepper van die heelal. Hy word regverdig verklaar sodat hy ’n vriend van God kan wees! (Jakobus 2:23). Hy spreek God met baie meer betekenis aan as “onse Vader wat in die hemele is” (Mattheüs 6:9). ’n Ander seën vir die pas toegewyde persoon is die wete dat die lewe werklik ’n doel het en dat hy in ooreenstemming met daardie doel lewe (Prediker 12:13). Deur Jesus se leiding te volg en getrou te bly, kan hy bewys dat die Duiwel ’n leuenaar is. Hoe verbly dit tog Jehovah se hart!—Spreuke 27:11.
Terwyl ’n Christen op die weg van getrouheid volhard, is daar natuurlik verdere opofferings wat gedoen moet word. Tyd is nodig om ’n betekenisvolle persoonlike en gemeentelike studie van God se Woord te doen (Psalm 1:1-3; Hebreërs 10:25). Tyd vir die veldbediening moet van ander bedrywighede uitgekoop word (Efesiërs 5:16). Tyd en inspanning is ook nodig om vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon en om na hulle kring- en streekbyeenkomste te reis. Dit verg dalk selfopoffering om die Koninkryksaal en die wêreldwye predikingswerk geldelik te ondersteun. Maar soos miljoene Christene kan getuig, bring dit geluk mee as ons heelhartig aan sulke dinge deelneem. Jesus het gesê: “Dit is saliger om te gee as om te ontvang.”—Handelinge 20:35.
Die belonings wat ons ontvang as ons Jehovah se werk ondersteun, oortref die koste verreweg. Namate ons meer ervare word, werp ons bediening meer vrugte af en geniet ons dit meer. Niks kan inderdaad so bevredigend wees as om iemand anders Bybelwaarheid te leer en te sien hoe hy Jehovah begin aanbid nie. En as die nuwe aanbidder ’n gesinslid is, miskien ’n kind wat “in die tug en vermaning van die Here” opgevoed is, bring dit spesiale vreugde mee (Efesiërs 6:4). Ons sien God se ryke seëninge op ons pogings om sy “medewerkers” te wees.—1 Korinthiërs 3:9.
Ander belonings vir getroue diens
Ons sal weliswaar probleme hê solank hierdie stelsel van dinge voortduur. Die probleme sal waarskynlik al hoe ernstiger word namate die Duiwel se tyd minder word. Ons sal dalk vervolging of versoeking moet verduur. Maar die wete dat God met ons is, vertroos ons en gee ons die krag om te volhard (1 Korinthiërs 10:13; 2 Timotheüs 3:12). Sommige mede-Christene het al jare van slegte behandeling verduur, maar hulle volhard vanweë hulle liefde vir God. Diegene wat allerhande soorte beproewinge met welslae verduur, voel soos die apostels toe hulle geslaan en daarna vrygelaat is. Handelinge 5:41 sê: “Hulle het toe van die Raad af weggegaan, bly dat hulle waardig geag was om vir sy Naam oneer te ly.”
Die beloning vir volharding oortref nou reeds die koste verreweg. Maar onthou dat godvrugtige toegewydheid nie net ‘belofte van die teenwoordige lewe’ inhou nie, maar ook van “die toekomende lewe” (1 Timotheüs 4:8). Hoe wonderlik is die vooruitsigte tog van diegene wat volhard! As jy getrou is, sal jy die groot verdrukking oorleef wat op die einde van hierdie stelsel van dinge dui. Of as jy voor daardie epogmakende gebeurtenis sterf, sal jy opgewek word in die nuwe wêreld wat sal volg (Daniël 12:1; Johannes 11:23-25). Stel jou voor hoe uitgelate jy dan sal wees wanneer jy sal kan sê: “Met Jehovah se hulp het ek dit gemaak!” Hoe opwindend sal dit tog wees om op daardie aarde te wees, wat “sal vol wees van die kennis van die HERE soos die waters die seebodem oordek”.—Jesaja 11:9.
Ja, dit kos iets om God te dien. Maar in vergelyking met die belonings is die koste minimaal (Filippense 3:7, 8). In die lig van alles wat God nou vir sy knegte doen en in die toekoms gaan doen, beaam ons die woorde van die psalmis: “Wat sal ek die HERE vergeld vir al sy weldade aan my?”—Psalm 116:12.