-
Hoe om ’n teokratiese biblioteek in te rigDie Wagtoring – 1994 | November 1
-
-
Hoe om ’n teokratiese biblioteek in te rig
SHEREZADE, ’n slim Spaanse dogtertjie, was vier jaar oud toe haar onderwyseres vir die klas gesê het dat hulle prente van “Kersvader” gaan inkleur. Sherezade het dadelik gevra of sy verskoon mag word. Sy het verduidelik dat haar gewete haar nie sal toelaat om dit te doen nie.
Die onderwyseres was verbaas oor hierdie beswaar en het vir haar gesê dat dit dieselfde is as om ’n prent van ’n pop in te kleur en dat daar niks mee verkeerd is nie. Sherezade het geantwoord: “As dit net ’n pop is, sal ek liewer self ’n pop teken, as juffrou nie omgee nie.”
By ’n ander geleentheid is daar vir die klas gesê om die landsvlag in te kleur. Weereens het Sherezade gevra of sy iets anders mag doen. Ter verduideliking het sy vir die onderwyseres die verhaal van Sadrag, Mesag en Abednego vertel.—Daniël 3:1-28.
Nie lank daarna nie het die onderwyseres Sherezade se ma gebel om haar te sê hoe verbaas sy is. “Jou dogter het by verskeie geleenthede met my gepraat oor haar gewete”, het sy gesê. “Kan jy jou dit voorstel? ’n Dogtertjie van haar ouderdom wat vir my verduidelik waarom haar gewete haar pla! Kyk, ek stem nie saam met wat julle haar leer nie, maar ek verseker jou dat julle sukses behaal. En ek wil hê jy moet weet dat ek my hoed vir julle dogter afhaal.”
Hoe kan ’n vierjarige dogtertjie ’n Bybelopgeleide gewete hê? Haar ma, Marina, verduidelik dat Sherezade haar eie teokratiese biblioteek in haar kamer het. Die biblioteek bevat haar persoonlike eksemplare van Die Wagtoring, wat sy onderstreep het, haar lektuur vir die predikingswerk en al die publikasies wat die Wagtoringgenootskap sedert haar geboorte uitgegee het. In haar biblioteek is die kassette van My boek met Bybelverhale haar gunsteling, en sy luister elke aand daarna terwyl sy in haar boek volg. Dit was hierdie Bybelse verslae wat haar in staat gestel het om die besluite hierbo te neem.
Kan ’n goed georganiseerde teokratiese biblioteek jou en jou kinders help? Waarom het jy ’n biblioteek by die huis nodig?
“’n Biblioteek is nie ’n luukse nie”
“’n Biblioteek is nie ’n luukse nie, maar een van die noodsaaklikhede in die lewe”, het Henry Ward Beecher gesê. Ons het omtrent almal ongetwyfeld een van hierdie “noodsaaklikhede in die lewe”, al besef ons dit nie. Hoe so? Want selfs al besit ons net ’n Bybel het ons ’n tipe biblioteek.
Die Bybel is in werklikheid ’n teokratiese biblioteek sonder gelyke. In die vierde eeu het Hieronimus die Latynse uitdrukking Bibliotheca Divina (Goddelike Biblioteek) geskep om die hele versameling geïnspireerde boeke wat ons die Bybel noem te beskryf. Jehovah het ons van hierdie heilige biblioteek voorsien om vir ons praktiese hulp, onderrigting en leiding te gee. Dit is iets wat ons nooit as vanselfsprekend moet aanvaar nie. Die blote feit dat ons die volledige Bybel besit, beteken dat ons ’n omvattender biblioteek het as wat die meeste van God se knegte in die verlede gehad het.
Toe daar net duur handgeskrewe manuskripte beskikbaar was, kon min, indien enige, huisgesinne met ’n volledige Bybel spog. Toe Paulus gedurende sy laaste gevangenskap in Rome die Skrif wou bestudeer, moes hy Timotheüs vra om vir hom ’n paar boekrolle van Klein-Asië af te bring—waarskynlik dele van die Hebreeuse Geskrifte (2 Timotheüs 4:13, NW). Sinagoges het egter ’n versameling boekrolle gehad, en Jesus Christus sowel as die apostel Paulus het van hierdie biblioteke in hulle predikingswerk gebruik gemaak (Lukas 4:15-17; Handelinge 17:1-3). Gelukkig is die Skrif nou baie toegankliker as wat dit in die eerste eeu was.
Danksy die ontwikkeling van die drukpers, kan byna al God se knegte vandag—wat ook al hulle taal—die volledige Bybel teen ’n redelike prys bekom. Ons het ook die unieke voorreg om hierdie heilige “biblioteek” aan te vul. Meer as ’n eeu al is die “getroue en verstandige dienskneg” besig om geestelike voedsel op tyd te voorsien.—Mattheüs 24:45-47.
Maar dit is onwaarskynlik dat ons ten volle by hierdie inligting sal baat vind as ons nie vir ons ’n persoonlike teokratiese biblioteek inrig nie. Hoe kan dit gedoen word? Die eerste stap is natuurlik om die boeke te kry wat ons in so ’n biblioteek nodig het. Dit is beslis die moeite werd, aangesien dit ons in staat sal stel om spesifieke inligting byderhand te hê wat ons nodig het om probleme op te los en Bybelvrae te beantwoord.
Watter boeke het ek nodig?
Het jy al ooit gewonder hoe jy ’n kommunikasieprobleem in jou huwelik kan oplos of hoe jy jou kinders kan help om nee te sê vir dwelms? Hoe kan jy ’n vriend help wat aan depressie ly? Kan jy verduidelik watter bewyse ons het dat God bestaan en waarom hy goddeloosheid toelaat? Wat word deur die skarlakenrooi dier van Openbaring hoofstuk 17 voorgestel?
Hierdie en tallose ander vrae kan beantwoord word as jy ’n goed toegeruste teokratiese biblioteek het. Die Wagtoringgenootskap het boeke, brosjures en tydskrifartikels gedruk wat ’n volledige reeks skriftuurlike onderwerpe dek. Daarbenewens handel hierdie lektuur oor gesinsake, bou dit ons geloof in God en in die Bybel op, help dit ons om ons predikingsvaardighede te verbeter en om Bybelprofesieë te verstaan.
Die meeste van die publikasies wat in die afgelope 20 jaar deur die Genootskap gedruk is, is nog beskikbaar. As jy onlangs in die waarheid gekom het, sal dit vir jou die moeite werd wees om al hierdie lektuur wat in jou taal beskikbaar is te bekom. Puik naslaanwerke, soos Insight on the Scriptures en die Comprehensive Concordance, is ook in verskeie tale uitgegee. Maar om hierdie boeke aan te skaf, is maar net die eerste stap.
Rig jou biblioteek in!
Om te weet dat jy die boek iewers het, is een ding, maar om die boek te vind wat jy nodig het, is iets heel anders. As ons baie tyd verspil terwyl ons moet soek na die naslaanwerk wat ons nodig het, sal ons heel moontlik belangstelling verloor. As ons boeke daarenteen goed gerangskik en op ’n gerieflike plek is, sal ons veel meer geneig wees om persoonlike navorsing te doen.
Indien moontlik, sal dit help om die meeste van jou teokratiese boeke op een plek te hê. Boekrakke kan gemaak word, en dikwels heel goedkoop, as ons dit nie kan bekostig om een te koop nie, en dit hoef nie baie plek in beslag te neem nie. Maklike toegang tot die biblioteek is ook belangrik. Boeke wat bo in solders weggebêre word, vergaar gewoonlik net stof.
Die volgende stap is om die boeke te rangskik. As jy ’n bietjie tyd daaraan bestee om die boeke in ’n logiese orde te rangskik, sal dit vrugte afwerp.
Hoe gemaak as die meeste in jou gesin nie Getuies van Jehovah is nie? Hoewel jy dalk nie ’n biblioteek kan inrig soos jy dit sou wou hê nie, het jy moontlik in jou kamer ’n boekrak wat ten minste ’n paar Bybelpublikasies bevat.
’n Teokratiese biblioteek kan geestelikheid help opbou
As ons ons boeke gerangskik het, het ons ’n stelsel nodig wat ons sal help om die inligting te vind. Ons geheue is onvolmaak en ons ken dalk nie die inhoud van elke boek in ons teokratiese biblioteek nie. Al die inligting in die biblioteek is nietemin maklik bekombaar. As die Watch Tower Publications Index in ons taal beskikbaar is, kan dit ons help om spesifieke inligting oor bykans enige onderwerp vinnig te vind.
Julián wat al jare lank as ’n spesiale pionier en ’n ouere man dien, verduidelik dat die Index onontbeerlik is om sy jongste seun te leer om persoonlike studie te doen. “Jairo, wat sewe jaar oud is, het nou die dag van die skool af gekom en my gevra: ‘Pappa, wat het die Genootskap oor dinosourusse gesê?’ Ons het reguit na die Index gegaan en die woord ‘dinosaurs’ nageslaan. Ons het byna onmiddellik ’n Ontwaak! met voorbladartikels oor die onderwerp gekry [8 Februarie 1990]. Jairo het dit nog daardie selfde dag begin lees. Hy weet reeds dat ons teokratiese biblioteek nuttige inligting oor feitlik elke onderwerp het. Ek is daarvan oortuig dat ons kinders gehelp word om geestelik te groei as hulle leer om ’n teokratiese biblioteek goed te gebruik. Hulle leer om te redeneer, en boonop ontdek hulle dat persoonlike studie aangenaam kan wees.”
Fausto, die vader van Sherezade wat aan die begin genoem is, glo dat jy kinders nie te vroeg kan begin leer om ’n teokratiese biblioteek te gebruik nie. “Ons is reeds besig om vir Sherezade, wat nou ses jaar oud is, te wys hoe om die Index te gebruik”, verduidelik hy. “Aangesien die vooruitsig om op die aardse Paradys te lewe haar fassineer, het ons begin deur haar die woord ‘paradise’ in die Index te wys en dan Wagtoring-artikels waarna verwys word na te slaan. Gewoonlik sal ons haar net die prentjies wys. Deur hierdie metode het sy nietemin geleer dat die Index die sleutel tot inligting in ons biblioteek is. Ons het geweet dat sy die punt gesnap het toe sy eendag van die skool af teruggekom het met ’n vraag oor Paasvierings. ‘Hoekom kyk ons nie in die Index nie?’ het sy haar ma gevra.”
Die Bybel moedig ons aan om, ongeag ons ouderdom, ‘alle dinge te beproef en die goeie te behou’ (1 Thessalonicense 5:21). Dit vereis dat ons ondersoek instel na wat die Skrif sê (Handelinge 17:11). As ons ’n goed georganiseerde teokratiese biblioteek het, kan sulke navorsing ’n plesier wees. Elke keer wat ons ons biblioteek gebruik om ’n toespraak voor te berei, praktiese raad te kry oor hoe om ’n probleem op te los of interessante inligting na te slaan, sal dit die praktiese waarde van ons biblioteek by ons tuisbring.
Sherezade se ouers sê: “In ’n Christengesin is ’n teokratiese biblioteek beslis nie ’n luukse nie!”
[Venster op bladsy 30]
HOE KAN JY JOU BOEKE RANGSKIK?
Daar is geen vaste reëls oor hoe jy jou boeke moet rangskik nie. Maar die volgende logiese verdelings toon een manier waarop jy jou boeke volgens hulle inhoud kan rangskik.
1. Boeke met ’n vers-vir-vers-ontleding van sekere dele van die Bybel
(Voorbeelde: Die grootste mens wat nog geleef het, Openbaring—Sy groot klimaks is ophande!, “Die nasies sal weet dat ek Jehovah is”—Hoe?, “Laat u wil geskied op aarde”)
2. Boeke wat oor die gesinslewe handel
(Voorbeelde: Hoe om ’n gelukkige gesinslewe op te bou, Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, My boek met Bybelverhale)
3. Bybels en naslaanwerke
(Voorbeelde: New World Translation of the Holy Scriptures—With References, ander Bybels, Watch Tower Publications Indexes, Comprehensive Concordance, Insight on the Scriptures, The Kingdom Interlinear Translation of the Greek Scriptures, ’n goeie woordeboek)
4. Boeke wat tans in die Gemeentelike Boekstudie en die Teokratiese Bedieningskool gebruik word
5. Kassette en video’s
6. Wagtoring- en Ontwaak!-bundels
7. Die geskiedenis van Jehovah se Getuies
(Voorbeelde: Yearbooks of Jehovah’s Witnesses, Jehovah se Getuies—verkondigers van God se Koninkryk)
8. Boeke en brosjures wat ons gereeld in ons bediening gebruik
(Voorbeelde: Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe, Redenering uit die Skrif, Lewe—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping?, Die mensdom se soeke na God, Verenig in die aanbidding van die enigste ware God)
[Prent op bladsy 31]
Sherezade is reeds ’n goeie Bybelstudent
[Prent op bladsy 31]
Hoewel hierdie seun nog jonk is, gebruik hy ’n teokratiese biblioteek
-
-
’n Toevoeging tot die BestuursliggaamDie Wagtoring – 1994 | November 1
-
-
’n Toevoeging tot die Bestuursliggaam
OM DIE Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies se personeel aan te vul, is daar met ingang van 1 Julie 1994 ’n bykomende lid bygevoeg tot die 11 ouere manne wat tans dien. Die nuwe lid is Gerrit Lösch.
Broer Lösch het die voltydse bediening op 1 November 1961 betree en hy is ’n gegradueerde van die 41ste klas van die Wagtoring-Bybelskool Gilead. Hy het van 1963 tot 1976 as kring- en streekopsiener in Oostenryk gedien. Hy is in 1967 getroud, en hy en sy vrou, Merete, het later 14 jaar lank as lede van die Oostenrykse Bethelgesin in Wenen gedien. Vier jaar gelede is hulle na die Genootskap se hoofkwartier in Brooklyn, New York, verplaas, waar broer Lösch in die Uitvoerende Kantoor en as ’n assistent vir die Dienskomitee gedien het. Met sy wye ondervinding in die Europese veld en sy kennis van Duits, Engels, Roemeens en Italiaans sal hy ’n waardevolle bydrae tot die werk van die Bestuursliggaam lewer.
-