God se oordele moet verkondig word
“Maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie.”—JEREMIA 1:17.
1. Hoe het Jehovah se Getuies in Nazi-Duitsland ‘hulle lig laat skyn’?
“DIE vervolging van Jehovah se Getuies in die Slagtingskoninkryk [Nazi-Duitsland] het sy plek onder ander beproewingstydperke in hulle geskiedenis ingeneem” (Holocaust Studies Annual, Volume II—The Churches’ Response to the Holocaust.) Suid-Afrika se Daily News van 15 Julie 1939 het ook oor die Duitse Getuies gesê: “Soos ’n lig wat nooit flikker nie, staan hierdie groepie Christenmanne en -vroue vas in hulle geloof, ’n doring in die vlees van die monarg van Munchen [Adolf Hitler] en ’n lewende bewys van sy sterflikheid.” Hierdie woorde herinner ons daaraan dat Jesus gesê het dat sy volgelinge “die lig van die wêreld” sou wees en hulle lig voor die wêreld moes laat skyn, kom wat wil.—Mattheüs 5:11, 12, 14-16.
2, 3. Watter voorbeeld van onverskrokke prediking was daar in Sri Lanka?
2 ’n Ander berig uit Sri Lanka, waar terrorisme hoogty vier, vertel van ’n jong Tamil-Getuie, David Gunaratnam, wat net soos Jeremia onbevrees vir die militêre owerheid gepreek hat. Hy is saam met ander jongmans vir ondervraging geneem. Die berig lui: “Die offisiere en die mans was baie beïndruk deur die man se belesenheid, en bowenal deur sy klaarblyklike opregtheid, veral toe hy gesê het: ‘En as ek enige sogenaamde terroriste sou teëkom, sou ek ook dieselfde ding vir hulle verkondig.’”
3 Dieselfde nag het terroriste hom uit sy huis ontvoer en hom daarvan beskuldig dat hy met die leër heul. Hy het volgehou dat hy neutraal is en gesê dat hy slegs die boodskap van God se Koninkryk verkondig. “Ek doen God se werk en sal aanhou om dit te doen. Ek preek voor die voet vir enigeen wat sal luister.” Die terroriste het hierdie onverskrokke Getuie doodgeskiet, en hy het ’n jong weduwee en ’n babaseuntjie agtergelaat.—Vergelyk Handelinge 7:51-60.
4. Watter geestelikes het die vervolging van Jehovah se Getuies in ’n Latyns-Amerikaanse land goedgekeur?
4 Die volgende berig kom uit ’n Latyns-Amerikaanse land, waar die vervolging van Jehovah se Getuies deur party Katolieke en Presbiteriaanse geestelikes goedgekeur en verskoon word: “Daar was vyf Getuies van Jehovah in die militêre tronk . . . Hulle is dikwels geslaan en sonder voedsel in afsondering geplaas. Die politieke offisier oor indoktrinering in ons eenheid het hulle gestraf omdat hulle vir die ander soldate gepreek het. Hy het gesê dat Jehovah se Getuies die gevaarlikste van alle godsdiensandersdenkendes is.”
Beweegrede en reaksie
5. Wat sit, net soos in Jeremia se geval, dikwels agter die vervolging van die Getuies?
5 Ja, net soos Jeremia deur die godsdiens- en politieke leiers van sy dag vervolg is, ondervind Jehovah se Getuies vandag wêreldwyd teenstand van dieselfde elemente. Wat sit agter sulke dade? Alhoewel die Getuies die vredeliewendste en mees wetsgehoorsame mense van enige gemeenskap is, beskou hulle vyande die Woord van God as gevaarlik, want hulle neem aanstoot aan en verwerp die boodskap oor die Koninkryk van God daarin. Hulle standvastige prediking en beginselvastheid lê die selfsug en huigelary van die politieke, kommersiële en godsdienselemente van Satan se stelsel bloot.—Johannes 15:18, 19; 1 Johannes 5:19.
6. Hoe het Jehovah se Getuies op vervolging gereageer?
6 Ondanks opsluiting, slae en selfs die dood het Jehovah se Getuies wêreldwyd soos Jeremia van vroeër gereageer. Terwyl hulle liefde en takt aan die dag lê, gaan hulle voort om God se ongewilde oordele aan die nasies te verkondig (2 Timotheüs 2:23-26). Hulle weet dat hulle eerder God as Heerser moet gehoorsaam as mense (Handelinge 4:19, 20; 5:29). Hulle is bewus van Paulus se raad aan die Hebreeuse Christene, naamlik om daarmee vol te hou om God se wil te doen. Dan sal hulle die vervulling van die belofte, die ewige lewe, sien. Soos Paulus en Jeremia moet ons dus kan sê: “By ons is daar geen onttrekking tot verderf nie, maar geloof tot behoud van die lewe.”—Hebreërs 10:35-39.
Die hedendaagse Jeremia ontmasker die Christendom
7. Hoe het die Getuies in die 20ste eeu die voorbeeld gevolg van Jehovah se getroue profete wat na Israel en Juda gestuur is?
7 Net soos Jehovah aaneen sy profete na Israel en Juda gestuur het, het hy sy getuies gestuur om sonder ophou die boodskap van sy naderende oordeel te verkondig (Jeremia 7:25, 26; 25:4, 8, 9). Veral sedert die geestelik versterkende jaar 1919 het die gesalfde oorblyfsel van Christus se broers God se oordele, kragtige boodskappe van onheil, onbevrees aan die Christendom verkondig. (Vergelyk Jeremia 11:9-13.) In daardie jaar is daar begin om die tydskrif The Golden Age te publiseer. Deur die jare heen en met sy verandering van titels, Vertroosting (Consolation, 1937) en Ontwaak! (Awake!, 1946) het dit die Christendom se godsdiensleuens en sy skynchristelikheid blootgelê.
8, 9. (a) Waarom is die kerke in 1922 veroordeel? (b) Watter onheil is vir hulle voorspel?
8 The Golden Age van 11 Oktober 1922 het byvoorbeeld valse godsdiens met hierdie woorde veroordeel: “Al die pogings van die sektariese kerkorganisasies, hulle geestelikes, hulle leiers en hulle bondgenote om die bestel op die aarde te red en te herstel . . . moet noodgedwonge misluk, want hulle maak geen deel uit van die Messias se koninkryk nie. Inteendeel, die geestelikes van hierdie verskillende kerkgenootskappe was gedurende die [Eerste] Wêreldoorlog hierin ontrou jeens die Here Jesus Christus, en het verkeerdelik met die sakewêreld en vername politici verenig om die wêreldoorlog te bevorder.”
9 Die veroordeling het voortgegaan: “Hulle het ook die Here en sy koninkryk verwerp en hulle dislojaliteit getoon deur vrywillig met Satan se organisasie te verenig en met vrymoedigheid aan die wêreld te verkondig dat die Volkebond die politieke beliggaming van God se koninkryk op aarde is.” Uiteindelik het die boodskap van “onheil”, of oordeel, gekom: “Volgens die woorde van Christus Jesus, staan ’n groot tyd van ‘verdrukking soos daar van die begin van die wêreld af tot nou toe nie gewees het nie en ook nooit sal wees nie’ nou voor die deur en staan dit op die punt om die nasies van die aarde te oorval.”
10. Watter veroordeling is in 1926 gedruk?
10 Die Jeremia-rol is deur die gebruik van ander publikasies soos Die Wagtoring, boekies en boeke uitgebrei. In 1926 het die boek Verlossing byvoorbeeld ’n kragtige onthulling van die Christendom se misleidende leerstellings bevat. Dit sê op bladsy 208: “Valse leerstellings is ryklik [in die afvallige Christendom] ingevoer en het die plek van die waarheid ingeneem. Onder die sodanige was en is daar die leerstellings van die drie-eenheid, onsterflikheid van alle siele, ewige pyniging van die goddelose, die goddelike reg van die geestelike[s] en die goddelike reg van konings om te regeer. Mettertyd is Maria, die moeder van die kind Jesus, vergoddelik; en is daar ’n beroep op die volk gedoen om haar as die moeder van God te aanbid.”
Die verdelende Christendom word gewaarsku
11, 12. (a) Hoe is die geestelikes se nie-neutrale standpunt onthul? (b) Watter waarskuwing het die Jeremia-klas gerig?
11 Dieselfde publikasie het die geestelikes se medepligtigheid aan oorloë onthul en gesê: “Die geestelike[s] van hierdie verskillende kerkstelsels seën die krygsmagte wat deur die kommersiële en politieke vleuels uitgestuur word, en hulle seëning word aangebied onverskillig vir watter kant hierdie krygsmagte stry. Die geestelike[s] gee voor dat hulle almal tot dieselfde God bid om ’n seën op die krygvoerende leërs van beide kante.” (Vergelyk Jeremia 7:31.) Toe is ’n naderende oordeel geïmpliseer: “Al hierdie elemente wat tesame die sigbare deel van Satan se organisasie vorm word byeenvergader en versamel vir die groot stryd van Armageddon.”—Openbaring 16:14-16.
12 Net soos in Jeremia se dag toe die leiers gesê het dat hulle veilig was en in vrede met God verkeer het, “bely hierdie kerklike leiers aan hulself dat hulle veilig is, dat hulle maar net met die naam van Christus hoef genoem te word, terwyl hulle voortgaan om met die vuur van die Duiwel te speel. Hulle verblind hulleself vir die ware toestand deur sand in hulle eie oë sowel as in die oë van hulle medemense te strooi” (Verlossing, bladsy 278). Hulle selfbedrog is blootgelê deur daardie ywerige Bybelstudente, soos Jehovah se Getuies destyds bekend gestaan het.—Mattheüs 7:21-23.
13. Watter gebeurtenis het in 1931 plaasgevind, en waarom was dit gepas?
13 Met verloop van tyd het die Bybelstudente se ooreenkoms met Jeremia selfs sterker geword toe daar in 1931 by ’n byeenkoms in Columbus, Ohio, VSA, aangekondig is dat die Bybelse naam vir hierdie moedige groep Christene “Jehovah se Getuies” behoort te wees (Jesaja 43:10-12, vgl. NW). Daardie naam is in die agtste eeu v.G.J. na vore gebring toe Jehovah dit op Israel toegepas het. Toe Jeremia sowat honderd jaar later as ’n profeet gedien het, was hy dus ook ’n getuie vir Jehovah (Jeremia 16:21, vgl. NW). Toe Jesus as ’n Jood aarde toe gekom het, was hy eweneens ’n getuie vir sy Vader, Jehovah (Johannes 17:25, 26; Openbaring 1:5; 3:14). Dit was derhalwe gepas dat God se volk uiteindelik op sy bestemde tyd tereg by hierdie Godgegewe naam—“Jehovah se Getuies”—genoem kon word.—Johannes 17:6, 11, 12.
Die Christendom word ontmasker
14. Hoe is die Christendom gedurende die afgelope 70 jaar aan die kaak gestel?
14 Gedurende die afgelope sewe dekades het Jehovah se Getuies die glorieryke hoop van Jehovah se inkomende Koninkryk rondom die wêreld verkondig en ook ’n ware vloed van veroordeling en oordeel versprei. In honderdmiljoene reguit, kragtige Bybelpublikasies het hulle die Christendom aan die kaak gestel as die kragtigste mag in die godsdienshoer, “Babilon die Grote”, wat in Openbaring hoofstukke 17 en 18 (vgl. NW) veroordeel word. (Kyk “Babylon the Great Has Fallen!” God’s Kingdom Rules!. bladsye 576-615, wat in 1963 deur die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap uitgegee is.)
15. Hoe is die Christendom in 1955 aan die kaak gestel?
15 In 1955 het Jehovah se Getuies miljoene eksemplare van die boekie Die Christenheid of Christelikheid—Watter een is “die lig van die wêreld”? versprei. Duisende is regstreeks aan die geestelikes van die Christendom oorhandig. En wat het daardie boekie vir hulle gesê? Getrou aan Jeremia se styl het dit gesê: “Ondanks al haar voordele wat haar ekonomies, verstandelik en op militêre gebied vorentoe gestoot het, het die Christenheid nie bewys dat sy ‘die lig van die wêreld’ is nie. Waarom nie? . . . Sy preek of beoefen nie die [Bybel se] Christelikheid [nie].” Toe het dit die vraag geopper: “Is aandiekaakstelling van valse gelowe ’n vervolging van hulle aanhangers? Is dit onchristelike dweepsug?”
16. Was dit dweepsugtig van die Getuies om die Christendom aan die kaak te stel? Verduidelik.
16 Die antwoord was: “Nee; anders was Jesus Christus ’n dweepsieke vervolger van die Jode, . . . en was al Jehovah se profete van die ou tye [Jeremia inkluis] voor Jesus vervolgers en dwepers, want hulle het almal die valse godsdiens van afvallige Jode en van die heidense nasies aan die kaak gestel.” As ware Christene “die lig van die wêreld” wil wees, moet geestelike “duisternis” beslis blootgelê word (2 Korinthiërs 6:14-17). Dit beteken nie dat individue aangeval word nie, maar eerder die stelsel wat hulle tot slawe maak. Jehovah het Jeremia dus beveel: “Jy dan, omgord jou heupe en maak jou klaar en sê aan hulle alles wat Ek jou sal beveel; wees nie vir hulle verskrik nie . . . En hulle sal teen jou veg, maar jou nie oorwin nie; want Ek is met jou, spreek die HERE, om jou uit te red.”—Jeremia 1:17, 19.
Die Jeremia-werk loop ten einde
17, 18. (a) Hoe het Jehovah se Getuies in onlangse jare hulle Jeremia-werk voortgesit? (b) Watter raad is aan opregte persone gegee?
17 Het Jehovah se Getuies God se oordeel afgewater? Ons lewe weliswaar in ’n tyd waarin mense meen dat ’n ander godsdiens nie gekritiseer moet word nie. Die publikasies van Jehovah se Getuies bevat nietemin steeds dieselfde oordeelsboodskap vir die Christendom. In die afgelope vier jaar het Jehovah se Getuies byvoorbeeld 32 miljoen eksemplare van die boek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe in 76 tale gedruk. Hierdie publikasie verskaf die antwoorde op talle algemene vrae soos “Wat gebeur by die dood?” “Waarom het God goddeloosheid toegelaat?” en “Hoe om die ware godsdiens uit te ken”. Maar dit gee ook ’n duidelike waarskuwing ten opsigte van die wêreldryk van valse godsdiens.
18 In hoofstuk 25, “Verkies jy Satan se wêreld of God se nuwe stelsel?”, sê dit: “In die Bybel word valse godsdiens uitgebeeld as ’n ‘groot hoer’ of prostituut met die naam ‘Babilon die Grote’. . . . En dit is alom bekend dat godsdiens hom deur die hele geskiedenis heen met die politiek bemoei het en dikwels vir regerings voorgeskryf het wat om te doen.” Watter handelwyse beveel die boek dus aan? Dit vra: “Wil jy deel van Satan se wêreld wees? Of verkies jy God se nuwe stelsel? As jy God se nuwe stelsel verkies, sal jy afgeskeie van die wêreld wees, sy valse godsdiens inkluis. Jy sal ag slaan op die bevel: ‘Gaan uit haar [Babilon die Grote] uit, my volk’ (Openbaring 18:4).”
19. Hoe kan jy toon dat die stem van die hedendaagse Jeremia nie op hierdie laat stadium gedemp is nie?
19 Dieselfde kragtige boodskap van afgeskeidenheid en oordeel weerklink uit die boek Wêreldwye veiligheid onder die “Vredevors”, wat in 1986 gepubliseer is (sesmiljoen eksemplare in 25 tale). Dit stel die geestelikes van die Christendom aan die kaak as persone wat “die jongmanne na die slagvelde [van die Eerste Wêreldoorlog] toe gepreek” het. Dit sê voorts: “Die valse Christendom tree dus tot vandag toe op as ’n vyand van die allerhoogste God. Sy geniet beslis nie goddelike beskerming nie, en om hierdie belangrike rede is haar blote voortbestaan onseker.” (Kyk bladsye 30-32.) Die stem van die hedendaagse Jeremia is nie gedemp nie! Terwyl geestelikes en politici pogings aanwend om die verkondiging van God se oordele te onderdruk, beur sy getroue getuies voort, vasbeslote om die waarskuwingswerk te voltooi.—Jeremia 18:18.
20. Waarom sal Jehovah se Getuies voortgaan om Jehovah se oordele aan die nasies bekend te maak?
20 En waarom moet hierdie werk voltooi word? Want Jehovah, die lewende Soewereine Heer van die heelal, gaan met die nasies en hulle godsdienste afreken. Die vraag wat Jehovah aan bedrieglike Juda en Jerusalem gestel het, is eweseer op die hedendaagse Christendom van toepassing: “Sal Ek hulle dan nie hieroor straf nie? vra die Here. Sal Ek My nie wreek op ’n nasie soos hierdie nie?” Jehovah se Getuies sal derhalwe voortgaan om die mense van die nasies te besoek met ’n boodskap wat die meeste as ’n ongewilde oordeel grief, maar vir ’n minderheid verblydende goeie nuus is—die goeie nuus van God se Koninkryk.—Jeremia 5:9, 29, NAV; 9:9; Handelinge 8:4, 12.
21. Watter wonderlike hoop is daar, ondanks die voorspelde onheil, vir diegene wat op die Jeremia-werk ag slaan? (Psalm 37:9, 11, 18, 19, 28, 29)
21 Hoewel Jeremia dikwels ’n onheilsprofeet genoem is, is dit ook waar dat sy boodskap strale van hoop vir die Jode gebring het (Jeremia 23:5, 6; 31:16, 17). Net so verkondig Jehovah se Getuies, terwyl hulle die naderende “groot verdrukking” met God se oordeel by Armageddon bekendmaak, ook die seëninge van die “nuwe hemel en ’n nuwe aarde” wat tot die herstel van geregtigheid en die Paradys op hierdie planeet, sowel as die ewige lewe, sal lei (Mattheüs 24:21, 22; Openbaring 16:16; 21:1-4). Dit is derhalwe nou die tyd om ag te slaan op Jehovah se oordeelsboodskap en te help met die voltooiing van die groot Jeremia-werk.—Vergelyk Jeremia 38:7-13.
Onthou jy?
◻ Hoe word Jehovah se Getuies, soos Jeremia, vervolg?
◻ Waarom hou die Getuies aan om te preek?
◻ Hoe is die Jeremia-werk uitgebrei?
◻ Watter onlangse voorbeelde toon dat die veroordeling nie verander het nie?
◻ Watter hoop word ook aan mense voorgehou, ondanks die onheilsboodskap?
[Prent op bladsy 23]
Mettertyd is Maria verafgod en is ’n beroep op mense gedoen om haar as die “Moeder van God” te vereer
[Prent op bladsy 24]
In 1931 het die Bybelstudente die naam “Jehovah se Getuies” by hulle byeenkoms in Columbus, Ohio, aangeneem
[Prente op bladsy 25]
Jehovah se Getuies volg wêreldwyd Jeremia se voorbeeld