Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • g94 9/22 bl. 13-15
  • Waarom oor God praat?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom oor God praat?
  • Ontwaak!—1994
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Waarom sommige nie oor God praat nie
  • ’n Christelike verantwoordelikheid
  • Wat jy kan bereik
  • Hoe kan ek die moed hê om anders te wees?
    Ontwaak!—1992
  • Bied die goeie nuus aan—By jongmense
    Ons Koninkryksbediening—1990
  • ’n Dubbele lewe—Waarom nie?
    Ontwaak!—1993
  • Sê nou ek ontmoet een van my skoolmaats?
    Ontwaak!—2002
Sien nog
Ontwaak!—1994
g94 9/22 bl. 13-15

Jong mense vra . . .

Waarom oor God praat?

“Elkeen het sy eie geloof. Jy moenie jou God op ander mense probeer afdwing nie.”—14-jarige Racish, Guyana.

“Ek is huiwerig om oor God te praat omdat ek bang is dat ek gespot sal word.” —17-jarige Rohan, Guyana.

“Ons behoort oor God te praat omdat hy ons Skepper is en ons ons lewe aan hom verskuldig is.” —13-jarige Marco, Duitsland.

AS JY na ’n groep jongmense se gesprek sou luister, sal jy waarskynlik tot die volgende betreurenswaardige gevolgtrekking kom: God is beslis nie die gewildste onderwerp van bespreking onder die meeste jongmense nie. Maak melding van sport, klere, die jongste rolprente of die ander geslag en jy sal gewoonlik ’n lewendige bespreking aan die gang sit. Waag dit egter om oor God te praat en daar sak gou ’n ongemaklike stilte oor almal.

Party jongmense glo eenvoudig nie aan God nie. Hulle redeneer moontlik dat hy nie kan bestaan nie omdat hulle hom nie kan sien nie—om oor hom te praat, lyk dus na ’n verkwisting van tyd. Maar onder jongmense is ateïste beslis in die minderheid. Volgens ’n Gallup-opname glo ongeveer 95 persent van Amerikaanse jongmense wel aan God. Trouens, George Gallup jr. het tot die gevolgtrekking gekom: “Vir baie jongmense is die God waaraan hulle glo nie ’n vae, abstrakte begrip nie, maar ’n persoonlike God wat hulle dade waarneem en hulle daarvolgens beloon of straf.” Waarom is so baie jongmense dan huiwerig om oor die dinge te praat waaraan hulle glo?

Waarom sommige nie oor God praat nie

Baie jongmense dink blykbaar dat dit onbeleef is om oor geloofsake te praat en dat jy liewer moet stilbly oor jou idees oor godsdiens. Dit lyk asof die blote gedagte om oor God te praat sommige jongmense verleë laat voel. ‘’n Mens doen dit net nie’, meen hulle.

Ongeag wat jou portuurs dink, wat is jou beskouing oor hierdie saak? Hierdie vraag is veral gepas as jy as een van Jehovah se Getuies grootgemaak is. Waarom? Omdat getuieniswerk, om ander van God te vertel, ’n wesenlike deel van daardie godsdiens uitmaak!—Jesaja 43:9, 10; Mattheüs 24:14.

Nietemin versuim sommige jong Getuies om aan die openbare getuieniswerk deel te neem omdat hulle ontmoedig word deur die onverskilligheid wat hulle soms teëkom—of hulle neem daaraan deel net omdat hulle ouers dit van hulle verwag. Ander neem aan die getuieniswerk deel, maar in die geheim hoop hulle dat hulle skoolvriende hulle nie sal sien wanneer hulle hierdie werk doen nie. By die skool probeer party hulle godsdiensoortuiging geheim hou. Dit is dikwels omdat hulle bespotting van hulle klasmaats vrees. “Ek was bang om oor God te praat”, erken jong Ryan, “omdat my maats my sou spot en ek nie die moed gehad het om die gesprek voort te sit nie.”

Dan is daar diegene wat nie aan die getuieniswerk deelneem nie omdat hulle bang is dat hulle nie ten volle aan die Bybel se standaarde kan voldoen nie. Hulle word deur “die begeerlikhede van die jonkheid” aangetrek en redeneer dan dat dit beter sal wees om hulleself nie as Christene te identifiseer nie, ingeval hulle iets verkeerds doen.—2 Timotheüs 2:22.

Sommige praat nie oor God nie omdat hulle meen dat hulle eenvoudig onbekwaam is. Die 19-jarige Wilton het dit so gestel: “Ek het dit moeilik gevind om met my werkmaats oor God te praat omdat ek gevoel het dat ek nie bekwaam is om bevredigende redes te gee vir die dinge wat ek oor hom sê nie. Ek het nie gedink dat ek my geloof sou kon verdedig nie.”

’n Christelike verantwoordelikheid

Versuim jy dalk om soortgelyke redes om oor God te praat? Indien wel, is jy nie alleen nie. Ander jongmense het al met dieselfde gevoelens geworstel. Talle jongmense het egter tot die besef gekom dat daar, ten spyte van al die dinge wat ’n mens kan ontmoedig, gebiedende redes is om met ander oor God te praat. Wat is party van hierdie redes?

Jong Marco, wat aan die begin gemeld is, het dit goed gestel toe hy gesê het dat God “ons Skepper is en ons ons lewe aan hom verskuldig is” (Openbaring 4:11). Ja, die lewe is ’n kosbare gawe. Die psalmis het van God gesê: “By U is die fontein van die lewe” (Psalm 36:10). Behoort jy dan nie dankbaarheid vir hierdie gawe te toon, aangesien jy dit ontvang het nie?

Één manier om dankbaarheid te toon, is deur Jehovah God voor ander te loof. Hy is die Skepper van die son, die maan, die reën, die lug wat ons inasem en die kos wat ons eet (Handelinge 14:15-17). “Elke goeie gif en elke volmaakte gawe daal van bo af neer”, het die dissipel Jakobus gesê (Jakobus 1:17). Dank jy God vir hierdie gawes? (Kolossense 3:15). Watter beter manier is daar om jou dank uit te spreek as om oor God te praat?—Lukas 6:45.

God beveel ons in werklikheid om oor hom te praat. Sy Seun, Jesus Christus, het vir Christene die opdrag gegee: “Gaan dan heen, maak dissipels van al die nasies” (Mattheüs 28:19). Jongmense word nie van die verantwoordelikheid onthef om aan hierdie werk deel te neem nie. Die psalmis beveel: “Loof die HERE . . . jongelinge en ook jongedogters, oues saam met die jonges—laat hulle die Naam van die HERE loof! Want sy Naam alleen is hoog; sy majesteit is oor aarde en hemel!” (Psalm 148:7, 12, 13). Maar jy hoef nie hierdie toewysing as ’n las te beskou nie. Dit is eintlik ’n voorreg—jy kan in werklikheid een van ‘God se medewerkers’ wees.—1 Korinthiërs 3:9.

Sê nou jy meen dat jy net nie bekwaam genoeg is nie. Wat dan? In Bybeltye het die profeet Jeremia so gevoel. “Ag, Here HERE”, het hy gesê. “Voorwaar, ek kan nie praat nie, want ek is jonk.” Wat was Jehovah se reaksie? “Moenie sê: Ek is jonk nie; want na wie Ek jou ook al stuur, moet jy gaan; en wat Ek jou ook al beveel, moet jy spreek” (Jeremia 1:6, 7). Met Jehovah se hulp is dit presies wat Jeremia 40 jaar lank gedoen het!

Dit is ook die geval met hedendaagse Christene, want “die feit dat ons voldoende bekwaam is, kom van God” (2 Korinthiërs 3:5, NW). Selfs as jy van nature skaam en teruggetrokke is, kan God jou help om die moed te hê om te praat. In die Christengemeente is daar voorsienings wat jou kan help om “voldoende bekwaam” te word as ’n onderrigter van God se Woord. As jy dink dat jy persoonlike hulp nodig het, kan jy gerus met een van die gemeentelike opsieners daaroor praat. Al wat dalk nodig is, is dat jy met ’n persoonlike Bybelstudieprogram begin of saam met iemand werk wat meer ervare as jy is.

Wat jy kan bereik

Om oor God te praat, kan jou werklik die gevoel gee dat jy iets bereik het. Om maar een ding te noem, baie van jou portuurs is op soek na antwoorde—dit is asof hulle om hulp roep. Hulle is sonder rigting en het geen hoop vir die toekoms nie. Hulle wonder: ‘Waarom is ons hier? Waarheen gaan ons? Waarom is die wêreld so vol probleme?’ As ’n Christen het jy die antwoorde, en jy is waarskynlik in die beste posisie om sulke kennis aan jou portuurs oor te dra. Hulle kan hulle met jou vereenselwig en sal waarskynlik liewer met iemand van hulle eie ouderdom praat as met ’n volwassene.

Jy sal wel soms voor verwerping te staan kom. Maar jy sal moontlik ook jongmense vind wat ontvanklik is vir die Bybel se boodskap. ’n Jong Getuie het haar persoonlike eksemplaar van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk gelees terwyl sy in ’n bus gesit het.a ’n Seun wat langs haar gesit het, het saam begin lees. “Dis nou vir jou ’n oulike boek!” het hy gesê. “Hierdie boek praat baie oor God. Die meeste mense stel nie in godsdiens belang nie.” Die jong Getuie het dit as ’n geleentheid gebruik om ’n breedvoerige bespreking oor God se naam te hê.

Jy sal weliswaar soos ’n Christen moet optree wanneer jy jou as een geïdentifiseer het (1 Petrus 2:12). Maar voorbeeldige Christelike gedrag sal net tot die geloofwaardigheid van jou boodskap bydra. Beskou die ondervinding van ’n jeugdige genaamd Eric. Hy was beïndruk deur die voorbeeldige gedrag van die jong Getuies in sy skool. Dit het sy belangstelling aangewakker om meer oor God te leer. ’n Bybelstudie is met hom begin, en vandag is hy ’n gedoopte Christen wat by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in New York dien.

Om oor God te praat, kan jou ook help! Dit kan as ’n beskerming dien. As jou maats weet dat jy een van Jehovah se Getuies is, sal baie van hulle jou respekteer. Hulle sal miskien minder geneig wees om jou onder druk te plaas om verkeerd te doen as hulle sien dat jy hoë standaarde het en weet dat jy waarskynlik vir hulle sal getuig as hulle dit doen.

Dit beteken natuurlik nie dat jy tekste moet aanhaal elke keer wanneer jy jou mond oopmaak nie. Jy sal steeds jou belangstelling in sport, klere en musiek hê, en nou en dan sal jy oor hierdie dinge wil praat. Maar onthou: “Uit die oorvloed van die hart praat die mond” (Mattheüs 12:34). As jy God werklik uit jou hart liefhet, is dit natuurlik dat jy oor hom sal wil praat. Ons sal in ’n volgende nommer ’n paar maniere bespreek waarop jy dit doeltreffend kan doen.

[Voetnoot]

a Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.

[Prent op bladsy 15]

Is jy skaam om deur jou skoolmaats gesien te word wanneer jy aan die openbare getuieniswerk deelneem?

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel