Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w88 10/1 bl. 15-20
  • “Hou sulke manne in eer”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Hou sulke manne in eer”
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ‘Betoon eer aan mekaar’
  • Werk saam as ’n liggaam
  • Onderlinge respek in liggame van ouere manne
  • Gepaste respek vir reisende opsieners
  • “Erken sulke manne”
  • Hoe die Christengemeente georganiseer word
    Geniet die lewe vir ewig! – Bybellesse wat jou kan help
  • ‘Julle moet respek hê vir dié wat hard onder julle werk’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Wees gehoorsaam aan diegene wat die leiding neem
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1989
  • Ouermanne – Hou aan om die apostel Paulus na te volg
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2022
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1988
w88 10/1 bl. 15-20

“Hou sulke manne in eer”

“Erken sulke manne.”—1 KORINTHIËRS 16:18.

1. Vir watter soort manne het die apostel Paulus besondere agting gehad, en wat het hy oor een sodanige Christen geskryf?

DIE soort manne vir wie die apostel Paulus besondere agting gehad het, was diegene wat bereid was om hulle krag sonder voorbehoud ten behoewe van Jehovah en hulle broers te gebruik. Paulus het van een sodanige medewerker geskryf: “Ontvang hom dan in die Here met alle blydskap en hou sulke manne in eer. Want ter wille van die werk van Christus het hy tot naby die dood gekom en sy lewe gewaag.”—Filippense 2:29, 30.

2. Vir wie moet ons besondere agting hê, en waarom?

2 Vandag is daar in meer as 55 000 gemeentes van Jehovah se Getuies talle eersteklas Christenmanne wat ons in die besonder moet waardeer weens hulle harde werk onder hulle broers. Paulus het getoon dat ons agting vir sulke manne moet hê en het gesê: “Ons vra julle, broeders, erken die wat onder julle arbei en julle voorgangers in die Here is en julle vermaan; en bewys hulle in liefde die hoogste agting ter wille van hulle werk. Hou vrede onder mekaar.”—1 Thessalonicense 5:12, 13.

3. (a) Wat sal ons help om vreedsaam met mekaar te verkeer? (b) In watter opsig moet ouere manne die voorbeeld stel?

3 Gepaste waardering vir al ons broers en susters, en in die besonder vir hardwerkende ouere manne, is ongetwyfeld ’n belangrike faktor by vreedsame samesyn in ons gemeentes. Die ouere manne moet hierin, soos op alle gebiede van die Christelike leefwyse, “voorbeelde vir die kudde” wees (1 Petrus 5:2, 3). Terwyl ouere manne tereg kan verwag dat die broers hulle weens hulle harde werk moet waardeer, moet hulle egter ook die voorbeeld daarin stel om vir mekaar die verskuldigde agting te toon.

‘Betoon eer aan mekaar’

4, 5. (a) Wat toon dat die apostel Paulus hardwerkende ouere manne waardeer het? (b) Wat het hy aan Christene in Rome geskryf, en waarom is sy woorde in die besonder op ouere manne van toepassing?

4 Die apostel Paulus het in hierdie opsig ’n goeie voorbeeld gestel. Soos ons in die vorige artikel gesien het, het hy na die goeie dinge in sy broers en susters gesoek. En hy het Christene nie net aangespoor om hardwerkende ouere manne lief te hê en te respekteer nie, maar hy het self ook gepaste waardering vir hulle getoon. Dit is duidelik dat hy agting vir sulke manne gehad het.—Vergelyk Filippense 2:19-25, 29; Kolossense 4:12, 13; Titus 1:3-5.

5 In sy brief aan Christene in Rome het Paulus geskryf: “Julle moet in broederliefde tere geneentheid vir mekaar hê. Neem die leiding in die betoning van eer aan mekaar. Moenie julle werk traag doen nie. Wees vurig van gees. Dien Jehovah as slawe” (Romeine 12:10, 11, NW). Hierdie woorde is gewis by uitstek op Christen- ouere manne van toepassing. Meer as alle Christene moet hulle die leiding neem in die betoning van eer aan mekaar.

6. (a) Wat moet ouere manne nie doen nie, en waarom nie? (b) Hoe kan ouere manne die gemeente se vertroue in die hele liggaam van ouere manne versterk?

6 Ouere manne moet veral oppas dat hulle nie neerhalende aanmerkings oor medeopsieners maak nie. Nie een ouere man besit al die Christelike eienskappe in die volste mate nie, want almal is onvolmaak. Party blink in sekere eienskappe uit, maar hulle is swakker in ander. As ouere manne gepaste broederliefde en tere geneentheid vir mekaar het, sal hulle mekaar se swakhede op die agtergrond skuif. In hulle gesprekke met die broers sal hulle hulle mede- ouere manne se sterk punte na vore bring. Deur so die leiding te neem in die betoning van eer aan mekaar, sal hulle die gemeente se vertroue in die liggaam van ouere manne as ’n geheel versterk.

Werk saam as ’n liggaam

7. Wat sal ouere manne help om eensgesind saam te werk, en hoe sal hulle dit toon?

7 Na Paulus gepraat het van die “gawes in mense” wat Christus aan sy gemeente op die aarde gegee het vir die opleiding van die broers en vir bedieningswerk het hy geskryf: “Terwyl ons . . . in alles sou opgroei in Hom wat die Hoof is, naamlik Christus” (Efesiërs 4:7-15, vgl. NW). Die besef dat Christus die aktiewe Hoof van die gemeente is, en dat ouere manne hulle aan sy regterhand van gesag moet onderwerp, is ’n verenigende faktor in elke liggaam van ouere manne (Efesiërs 1:22; Kolossense 1:18; Openbaring 1:16, 20; 2:1). Hulle sal sy leiding soek deur middel van die heilige gees, Bybelbeginsels en die leiding wat deur die Bestuursliggaam van “die getroue en verstandige dienskneg” gegee word.—Mattheüs 24:45-47; Handelinge 15:2, 28; 16:4, 5.

8. Wat moet alle ouere manne onthou, en hoe sal hulle eer aan mekaar bewys?

8 Ouere manne sal besef dat Christus, deur middel van die heilige gees, die verstand van enige ouere man in die liggaam van ouere manne kan rig om die Bybelbeginsel te verskaf wat nodig is om ’n situasie die hoof te bied of ’n belangrike besluit te neem (Handelinge 15:6-15). Geen enkele ouere man het die monopolie van die gees in die liggaam nie. Ouere manne sal eer aan mekaar bewys deur aandagtig te luister na enigeen onder hulle wat ’n Bybelbeginsel of ’n riglyn van die Bestuursliggaam ophaal wat op die onderwerp onder bespreking van toepassing is.

9. (a) Watter geestelike eienskappe sal ’n opsiener help om nie baasspelerig teenoor sy mede- ouere manne te wees nie? (b) Hoe sal ’n ouere man toon dat hy “redelik” is, en hoe het die eerste-eeuse bestuursliggaam die voorbeeld in hierdie opsig gestel?

9 Christelike beskeidenheid, sagmoedigheid en nederigheid sal voorkom dat enige ouere man probeer om oor sy broers te heers en sy mening aan hulle op te dwing (Spreuke 11:2; Kolossense 3:12). ’n Christenopsiener het dalk besliste en opregte menings oor ’n sekere saak. Maar as hy sien dat sy mede- ouere manne om Skriftuurlike en teokratiese redes met hom verskil, sal hy ‘hom as ’n mindere gedra’ en toon dat hy “redelik” is deur hom by die meerderheid se beskouing neer te lêa (Lukas 9:48, NW; 1 Timotheüs 3:3, NW). Hy sal die goeie voorbeeld van die eerste-eeuse bestuursliggaam volg wat, na ’n Skriftuurlike bespreking, en onder die leiding wat Christus deur die heilige gees gegee het, “eenparig besluit” het.—Handelinge 15:25.

10. (a) Wat bewys dat die aanstelling van ’n liggaam van ouere manne in elke gemeente ’n Bybelse reëling is? (b) Hoe verduidelik die boek Georganiseer om ons bediening te vervul die voordele van hierdie reëling?

10 Die aanstelling van ’n liggaam van ouere manne in elke gemeente om die leiding te gee, is gebaseer op die voorbeeld wat deur die vroeë Christengemeente gestel is. (Filippense 1:1; 1 Timotheüs 4:14; Titus 1:5; vergelyk die voetnoot oor die woord “elders” in Titus 1:5 in The Jerusalem Bible.) Die boek Georganiseer om ons bediening te vervul (bladsy 37) som die wysheid van hierdie reëling op en sê: “Party ouere manne sal een eienskap in ’n groter mate as ’n ander openbaar, terwyl ander in die liggaam uitmunt in eienskappe waarin sommige swakker vaar. Die gevolg is dan dat die liggaam as ’n geheel in die reël al die goeie eienskappe sal besit wat nodig is om behoorlik toesig te hou oor die gemeente van God.”

Onderlinge respek in liggame van ouere manne

11, 12. (a) Waarom kan ’n liggaam van ouere manne meer bereik as wanneer sy lede individueel optree? (b) Hoe het Christus Jesus en die apostel Paulus met liggame van ouere manne as sodanig gehandel, en watter raad is gegee?

11 ’n Liggaam van ouere manne is derhalwe ’n Skriftuurlike entiteit waarvan die geheel groter is as die som van sy dele. Wanneer hulle vergader en bid om Jehovah se leiding deur Christus en die heilige gees kan hulle besluite neem wat hulle nie sou geneem het as hulle individueel geraadpleeg is nie. Wanneer die ouere manne saam vergader, speel hulle verskillende eienskappe ’n rol en lewer dit resultate wat Christus se leiding van sake weerspieël.—Vergelyk Mattheüs 18:19, 20.

12 Die feit dat Christus met liggame van ouere manne as sodanig gehandel het, word getoon deur die boodskappe wat hy aan “die sewe sterre”, of “engele van die sewe gemeentes”, in Klein-Asië gestuur het (Openbaring 1:11, 20). Die eerste van daardie boodskappe is aan die gemeente in Efese via die gemeente se ‘engel’, of liggaam van gesalfde opsieners, gestuur. Sowat 40 jaar vroeër het die apostel Paulus die liggaam van ouere manne in Efese na Milete laat reis vir ’n spesiale vergadering met hom. Hy het hulle daaraan herinner om op hulleself ag te gee en om as herders die gemeente te versorg.—Handelinge 20:17, 28.

13. Waarom moet ouere manne let op die gees wat hulle in hulle plaaslike liggaam van ouere manne openbaar en in hulle gesamentlike verhouding met ander liggame van ouere manne?

13 Liggame van ouere manne moet besondere aandag daaraan skenk om ’n goeie, positiewe gees onderling en in hulle gemeente te behou (Handelinge 20:30). Net soos ’n individuele Christen ’n sekere gees openbaar, kan liggame van ouere manne en hele gemeentes eweneens ’n spesifieke gees ontwikkel (Filippense 4:23, NW; 2 Timotheüs 4:22; Filemon 25). Dit gebeur soms dat ouere manne wat mekaar in hulle eie gemeente respekteer ’n gebrek aan harmonie met ’n ander liggaam van ouere manne openbaar. In stede waar etlike gemeentes in dieselfde saal vergader, ontstaan daar soms ’n meningsverskil tussen liggame van ouere manne oor vergaderingtye, gebiedsgrense, Koninkryksaaltoebehore, en so meer. Dieselfde beginsels van beskeidenheid, sagmoedigheid, nederigheid en redelikheid wat die ouere manne in elke liggaam rig, moet die verhoudinge tussen liggame van ouere manne rig. Die apostel Paulus het gemaan: “Sorg dan dat alles tot opbou van die gemeente verloop.”—1 Korinthiërs 14:26, NAV.

Gepaste respek vir reisende opsieners

14. Watter ander klas ouere manne verdien om met agting bejeën te word, en waarom?

14 Nog ’n Bybelse reëling in die gemeentes van Jehovah se Getuies is dat hulle gereeld besoek word deur reisende ouere manne, wat kring- of streekopsieners genoem word (Handelinge 15:36; 16:4, 5). Hulle is by uitstek ouere manne “wat goeie leiding gee”. Net soos ander ouere manne behoort hulle “dubbele erkenning te kry, veral dié wat hard werk deur te preek en onderrig te gee”.—1 Timotheüs 5:17, NAV.

15. Watter raad het die apostel Johannes oor reisende evangeliedienaars gegee?

15 In sy derde brief het die apostel Johannes Diotrefes gekritiseer omdat hy geweier het om ‘die broers met respek te ontvang’ (Vers 10, NW). Hierdie broers was reisende Christene wat ‘vir Jehovah se naam uitgegaan het’ (Vers 7). Hulle is blykbaar uitgestuur as evangeliedienaars om die goeie nuus te verkondig en die gemeentes op te bou in die dorpe wat hulle besoek het. Johannes het beveel dat hierdie hardwerkende reisende predikers ‘voortgehelp moes word op ’n wyse wat voor God waardig is’ (Vers 6). Die apostel het bygevoeg: “Ons behoort dan sulke mense goed te ontvang, sodat ons mede-arbeiders van die waarheid kan word” (Vers 8). Hulle moes met respek ontvang word.

16. Hoe kan alle Christene vandag die voorbeeld van Gajus volg wat ‘getrou gehandel het’ in wat hy vir eerste-eeuse evangeliedienaars gedoen het, en waarom is dit gepas?

16 Die reisende opsieners wat deur die Bestuursliggaam uitgestuur word om die goeie nuus te verkondig en die gemeentes te help, moet vandag eweneens gasvry en met respek ontvang word. Hierdie broers en hulle vroue (as hulle getroud is, soos met baie die geval is) was bereid om ’n vaste woonplek prys te gee. Hulle reis van plek tot plek en is dikwels afhanklik van die broers se gasvryheid vir hulle kos en ’n bed om in te slaap. Aan Gajus, wat reisende evangeliedienaars in die eerste eeu G.J. liefdevol ingeneem het, het Johannes geskryf: “Geliefde, jy handel getrou in alles wat jy doen vir die broeders, en dit vir vreemdelinge” (3 Johannes 5). Diegene wat vandag ‘vir Jehovah se naam’ reis, verdien eweneens om met agting bejeën te word en liefde en respek te ontvang.

17. Hoe moet gemeentelike ouere manne gepaste respek vir besoekende verteenwoordigers van die Bestuursliggaam toon?

17 Ouere manne in die besonder moet gepaste respek vir hierdie besoekende verteenwoordigers van die Bestuursliggaam toon. Hulle word na die gemeentes gestuur weens hulle geestelike eienskappe en hulle ervaring, wat gewoonlik groter is as dié van talle plaaslike ouere manne. Party van hierdie reisende opsieners is moontlik jonger as sommige ouere manne in die gemeentes wat hulle besoek. Maar dit is nie ’n grondige rede om nie respek vir hulle te toon nie. Hulle moet moontlik, gedagtig aan Paulus se waarskuwing aan Timotheüs, die plaaslike ouere manne maan om ’n broer nie haastig as ’n bedieningskneg of ’n ouere man aan te beveel nie (1 Timotheüs 5:22). Hoewel die besoekende opsiener die argumente van die plaaslike ouere manne deeglik moet oorweeg, moet laasgenoemdes bereid wees om na hom te luister en by sy ruime ervaring baat te vind. Ja, hulle moet ‘aanhou om sulke manne in eer te hou’.—Filippense 2:29.

“Erken sulke manne”

18, 19. (a) Hoe het Paulus sy waardering vir sy medewerkers uitgespreek? (b) Watter voorbeeld toon dat Paulus nie ’n wrok teen sy broers gekoester het nie?

18 In sy eerste brief aan die Korinthiërs het Paulus geskryf: “Ek versoek julle, broeders—julle weet dat die huisgesin van Stefanas die eersteling van Achaje is en dat hulle hul tot diens van die heiliges gestel het—dat julle ook onderworpe moet wees aan sulke mense en aan elkeen wat saamwerk en arbei. En ek verbly my oor die aankoms van Stefanas en Fortunatus en Achaïcus, omdat hulle my gemis aan julle vergoed het. Want hulle het my gees verkwik en julle s’n ook. Erken sulke manne dan.”—1 Korinthiërs 16:15-18.

19 Wat ’n mooi, edelmoedige gesindheid het Paulus tog teenoor sy broers gehad, waarvan party nie baie bekend was nie. Maar Paulus het hulle liefgehad omdat hulle ‘saamgewerk’ en hard ‘gearbei’ het in hulle pogings om die heiliges tot diens te wees. Paulus het ook ’n grootmoedige voorbeeld daarin gestel om nie ou koeie uit die sloot te grawe nie. Hoewel Johannes Markus hom gedurende sy eerste sendingreis teleurgestel het, het Paulus hom later hartlik by die gemeente in Kolosse aanbeveel (Handelinge 13:13; 15:37, 38; Kolossense 4:10). Toe Paulus ’n gevangene in Rome was, het hy gevra dat Markus na hom toe moet kom, want, soos hy gesê het, “[Markus] kan my baie tot diens wees” (2 Timotheüs 4:11). Hy het nie kleingeestig ’n wrok gekoester nie!

20. Hoe moet Christene in die algemeen, en ouere manne in die besonder, toon dat hulle getroue opsieners waardeer en dat hulle ‘aanhou om sulke manne in eer te hou’?

20 Vandag is daar onder God se volk talle toegewyde opsieners wat, soos Stefanas, hulle broers dien. Hulle het ongetwyfeld hulle foute en tekortkominge. Maar hulle ‘werk saam’ met “die getroue en verstandige dienskneg” en sy Bestuursliggaam, en “arbei” hard in die predikingswerk en om hulle broers te help. Ons moet voortdurend ‘aan sulke mense onderworpe wees’, hulle waardeer vir hulle eienskappe en nie na hulle tekortkominge soek nie. Ouere manne moet die leiding neem om die verskuldigde waardering en respek vir hulle mede- ouere manne te toon. Ouere manne moet in ’n gees van liefde en eenheid met mekaar saamwerk. Almal sal die waarde van sulke getroue broers besef en ‘aanhou om sulke manne in eer te hou’.—Filippense 2:29.

[Voetnoot]

a ’n Voetnoot in die NW-naslaanuitgawe toon dat die woord “redelik” in 1 Timotheüs 3:3 (NW) ’n vertaling van ’n Griekse woord is wat letterlik “toegeeflik” beteken.—Vergelyk NAV.

Gedagtes ter hersiening

◻ Vir watter soort manne het Paulus besondere agting gehad, en vir wie moet ons vandag spesiale agting toon?

◻ Hoe moet ouere manne toon dat hulle mekaar eer?

◻ Waarom kan ’n liggaam van ouere manne meer bereik as wanneer sy lede individueel optree?

◻ In watter opsigte sal ’n liggaam van ouere manne toon dat hulle ’n ander liggaam van ouere manne eer?

◻ Watter klas opsieners verdien besondere agting, en hoe kan hierdie gepaste respek getoon word?

[Prent op bladsy 15]

Ouere manne moet gepaate waardering vir mekaar toon

[Prent op bladsy 18]

Toon liefde en respek vir reisende opsieners

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel