Vereenvoudiging by die 1995-Streekbyeenkoms
1 Hoe opwindend is dit tog om by geestelike feeste teenwoordig te wees, hetsy dit gemeentelike vergaderinge, kringbyeenkomste, spesiale byeenkomsdae of streekbyeenkomste is! Waarom? Omgang met godvresende mense is verkwikkend, en die geestelike sake wat by sulke geleenthede aangebied word, herinner ons aan wat die belangriker dinge is.
2 Derduisende is in die laaste jare na sulke geestelike samekomste aangetrek. Tussen 1985 en 1994 het die aantal gemeentes oor die wêreld met meer as 50 persent toegeneem, van 49 716 tot 75 573. Namate Jehovah die insamelingswerk bespoedig, neem die aantal streek- en kringbyeenkomste dienooreenkomstig toe (Jes. 60:22). Selfs die toename in die aantal streekbyeenkomste wat net in die gebied van die Suid-Afrikaanse takkantoor gehou word, van 21 in 1984 tot 30 in 1994, is ’n weerspieëling van hierdie groei in die aantal gemeentes. Die werk wat daarby betrokke is om hierdie streekbyeenkomste te reël en te organiseer, het ook toegeneem. Aangesien ons byeenkom om by die geestelike program baat te vind wat vir hierdie feeste voorberei is, is dit verstandig om sover dit prakties is die reëlings vir fisiese voorsienings te vereenvoudig.
3 Verdere stappe wat gedoen gaan word: Ons maak op Jehovah se seën staat terwyl ons progressief vooruitgang maak. Ons is bly om te sien dat hy sy volk die nodige gees van wysheid en begrip gegee het. Ons moet erken dat Jesus Christus sake op ’n doeltreffende wyse deur middel van die ‘getroue slaaf’-klas gerig het sodat Jehovah se voorneme op ’n wonderlike manier uitgevoer word (Matt. 24:45-47; Kol. 1:9, 10). ’n Aankondiging in Ons Koninkryksbediening vir Julie het gesê: “By die kringbyeenkomste en spesiale byeenkomsdae vanaf September 1995 en by die ‘Vreugdevolle Lowers’-Streekbyeenkomste aan die einde van die jaar sal daar geen voedsel bedien word nie. Elkeen moet sy eie eet- en drinkgoed bring.” Daar was ’n positiewe reaksie op hierdie aankondiging. Jy wil dalk graag weet hoe ons by hierdie verandering baat gaan vind. Die volgende oorsig van wysigings wat in die laaste jare gemaak is, sal moontlik ’n goeie herinnering wees aan hoe ons reeds bevoordeel is deur die werk by streekbyeenkomste te vereenvoudig.
4 Vorige wysigings om te vereenvoudig: Voor die gestandardiseerde en vereenvoudigde streekbyeenkomsreëlings, soos voedselverskaffing, vrywilligerdiens en huisvesting, in werking gestel is, moes duisende plaaslike broers en susters baie voorbyeenkomswerk doen. Vanweë die druk en eise van die daaglikse lewe op ons broers en die voortdurende groei van die organisasie was wysigings om die werk te vereenvoudig beslis nodig. Daarbenewens kon baie broers en susters wat voorheen hard tydens die sessies gewerk het om ons van voedsel te voorsien na die program luister omdat ons reëlings vir voedselverskaffing vereenvoudig is. Hierdie wysigings was baie voordelig, aangesien die werk ligter gemaak is, daar meer aandag aan die geestelike aspekte van die byeenkoms gegee kon word en die werkers na ’n groter deel van die program kon luister en dit geniet (Deut. 31:12). Diegene onder ons wat al baie jare lank getrou dien, kan hierdie vooruitgang nog goed onthou, en hulle het hulle waardering uitgespreek vir die leiding wat hulle ontvang het. Maar watter verdere werk kan uitgeskakel word sodat selfs meer ten volle by die geestelike program baat kan vind?
5 Verwagte veranderinge: Gedurende die jare toe vereenvoudigde maaltye voorberei en bedien is, is daar gesien dat net ’n “paar dinge” werklik “nodig” is. (Vergelyk Lukas 10:38-42.) Maar wanneer ’n mens hierdie paar dinge met die bywoningsyfer vermenigvuldig, was baie voorrade en werk, sowel as bykomende duur toerusting, steeds nodig. Dan was daar ook baie vrywilligers nodig om die reëlings te organiseer en te ondersteun. Voorsiening moes gemaak word vir plekke waar voedsel geberg en vandaan versprei kon word. Daarbenewens het party munisipale gesondheidsdepartemente baie hoë vereistes vir voedselbediening gestel, en dit het die broers wat die leiding neem se werk bemoeilik. Baie broers sal boonop nie meer die groot taak hê om voedselbedieningstoerusting in stand te hou nie.
6 Die gewillige werk van diegene wat as vrywilligers in hierdie onderskeie afdelings gedien het, was van onskatbare waarde en is grootliks waardeer. Maar met hierdie verdere vereenvoudiging sal die duisende in die veld, wat instandhouding doen, vragmotors bestuur sowel as voedsel aankoop, voorberei, versend en bedien, hulle tyd kan gebruik om belangrike Koninkryksbelange te bevorder, en dit sal insluit dat hulle meer by ons streekbyeenkomste assosieer. Dié vrywilligers wat gewoonlik in die Voedselverskaffingsafdeling gedien het, sal nou in ander afdelings kan help, soos die Saalwagter- en Skoonmaakafdeling. Dit sal almal se werk ligter maak en baie sal dan nie laat in die nag, vroeg in die oggend of tydens die sessies hoef te werk nie, soos dit die geval met heelparty in die Voedselverskaffingsafdeling was.
7 Ondersteun die reëlings: Die Genootskap stel die goeie ondersteuning wat julle broers en susters oor die jare “met ’n volkome hart” aan die streekbyeenkomsreëlings gegee het hoog op prys, met inbegrip van voedselverskaffing (1 Kron. 29:9). Dit het op baie maniere gehelp. Dit het dit moontlik gemaak om goeie geboue te huur en die streekbyeenkomsuitgawes te dek. Dit het ook die byeenkomsgangers in staat gestel om gedurende die kort middagpouse by die byeenkomsterrein te bly en om sonder veel moeite kos te kry, hulle te verfris en dan vir die geestelike program teenwoordig te wees. En die vrygewigheid en ondersteuning wat die broers en susters getoon het deur vir hierdie voorsienings by te dra, sal ongetwyfeld voortduur. Dit was ’n sigbare blyk van hulle waardering.—Spr. 11:25; Luk. 16:9.
8 Hoe jy na jou voedselbehoeftes kan om-sien: Met hierdie verdere wysigings sal dit egter vir individue en gesinne nodig wees om gedurende ons middagpouse net vir hulleself voedsel te voorsien. Ons heg groot waarde aan die voortreflike voordele van die geestelike program. Dit sal onverstandig wees om oormatige klem op fisiese voedsel te plaas. Dit is noodsaaklik dat elkeen in dié verband ‘seker maak van wat die belangriker dinge is’ (Fil. 1:9, 10a). Onlangse groot streekbyeenkomste van Jehovah se volk in Pole, Rusland en die Oekraïne, sowel as in ander plekke, is met groot welslae sonder reëlings vir voedselverskaffing gehou. Daarbenewens het party kringe in hierdie land weens plaaslike omstandighede hulle byeenkomste en spesiale byeenkomsdae gehou sonder om voedsel te bedien. Die byeenkomsgangers het in al hierdie gevalle hulle eie middagete saamgebring. As ons net ’n ligte middagete bring, sal dit ons help om wakker te wees sodat ons ten volle by die middagprogram baat kan vind. In ooreenstemming hiermee moet elkeen voedsel bring wat eenvoudig en voedsaam is. Toe Jesus byvoorbeeld die skare gevoed het, het hy net twee items voorsien, naamlik brood en vis. (Matt. 14:16-20; sien ook Lukas 10:42a.) Met daardie doel voor oë wil ons graag ’n paar wenke gee met betrekking tot wat gepas en prakties sal wees in die lig van die verkorte middagpouse en die soort fasiliteite wat ons gebruik.
9 Aangesien voedsel nie meer by die streekbyeenkoms bedien gaan word nie, sal byeenkomsgangers ontbyt by die huis of elders saam met hulle gesin kan geniet as hulle dinge goed beplan. Deur die vorige aand genoeg rus te kry, sal julle vroeg genoeg kan opstaan om ontbyt te eet en vroeg by die byeenkoms aan te kom om met die ander byeenkomsgangers te assosieer. Nog ’n voordeel van die nuwe reëling is dat broers nie so vroeg by die deure van die fasiliteite geplaas hoef te word as toe vrywilligers vir voedselverskaffing saam met hulle gesinne deurgelaat is nie. Die deure van die geboue sal om 8:00vm. vir alle byeenkomsgangers oop wees, met uitsondering van die paar wat spesifieke werktoewysings het wat hulle noodsaak om vroeër daar te wees. Soos voorheen die geval was, sal niemand hom na die byeenkomsterrein hoef te haas om sitplekke te kry nie, aangesien daar genoeg sitplek vir die verwagte skare sal wees.
10 Die middagpouse sal ietwat korter wees as by vorige streekbyeenkomste. Maar dit sal steeds ’n geleentheid bied om iets ligs te eet en omgang met ander te geniet. Ons broers en susters wat in of naby die byeenkomsstad woon en elke aand huis toe gaan, sal sonder veel moeite ’n bietjie kos vir elke gesinslid kan voorberei om vir die dag se middagpouse saam te bring. Dit sal soortgelyk wees aan die kos wat kinders skool toe neem, moontlik ’n toebroodjie en ’n vrug, ’n beskuitjie en iets om te drink. Baie mense neem soortgelyke kos na hulle sekulêre werk.
11 Dit sal ongetwyfeld ’n groter uitdaging vir byeenkomsgangers wees wat nie in of naby die byeenkomsstad woon nie, aangesien hulle vooruit vir hulle middagete sal moet beplan. Items soos servette en weggooipapierkoppies kan van die huis af gebring word vir diegene wat saam in jou groep reis. Vir party is ’n ligte maaltyd wat uit vars vrugte of groente bestaan dalk genoeg, en dit kan ook van die huis af gebring word. Ander voedselitems vir elke dag se middagpouse kan by ’n kruidenierswinkel in die byeenkomsstad gekoop word.
12 ’n Herinnering: MOET ASSEBLIEF NIE KOS IN HOTELKAMERS GAARMAAK NIE tensy hulle ’n kombuisie daarvoor het. Dit is gevaarlik en onwettig om dit te doen en kan vlekke en oliekolle op die meubels laat. Dit veroorsaak reuke wat dae lank in die kamer bly en moeilik is om van ontslae te raak. Dit maak dit dan vir die hotel moeilik om die kamer weer te verhuur sonder die onkoste en werk daaraan verbonde om die kamer skoon te maak en te ontreuk. Daarom is dit dalk verstandig om onbederfbare items, soos neute, droë vrugte en beskuit, te koop of dalk verkies jy om gebakte items, soos brood, broodrolletjies of muffins saam te neem. As jy graag ’n sekere item vir middagete wil hê, soos ’n toebroodjie, kan jy dit in ’n kruidenierswinkel met ’n delikatesse-afdeling koop waar hierdie items voorberei word. As jy voorbereide kos koop, hoef jy nie kos in ’n hotelkamer of in ’n voertuig voor te berei nie.
13 Aangesien die streekbyeenkomsterrein gedurende die byeenkoms eintlik ’n groot Koninkryksaal word, is dit ook verstandig om nie ’n piekniekatmosfeer tydens die middagpouse te skep nie. En net soos ons nie tydens vergaderinge by ons Koninkryksaal eet nie, sal ons ook nie tydens byeenkomssessies eet of drink nie. Gesinsgrootte piekniekkoelhouers sal nie in die byeenkomsterrein toegelaat word nie. Dit kan gevaarlik wees en mag nie in gange of op sitplekke geplaas word nie. Dalk is herbruikbare drasakke of weggooipapiersakke meer geskik vir die ligte maaltye wat vir ons middagpouse nodig sal wees. Indien nodig, kan ’n klein koelhouer gebruik word wat onder, nie op nie, ’n sitplek geplaas kan word.
14 Wees ook versigtig om nie sommer enige vloeistofhouer na die byeenkomsterrein te bring nie. Warm drankies kan in warmflesse gebring word. Enige soort glashouer kan gevaarlik wees. Baie fasiliteite verbied selfs die gebruik daarvan. Ons vra dus dat GEEN GLASHOUERS na die byeenkomsterrein gebring word nie. As die koue drankie waarvan jy hou nie in ’n plastiese of aluminiumhouer gekoop kan word nie, sal dit raadsaam wees om dit in ’n ander soort onbreekbare houer te gooi wat onder jou sitplek geplaas kan word.
15 Bykomende voordele: Ons kan waarlik die wysheid van sulke gewysigde reëlings sien. Almal sal daaraan kan aandag skenk om ten volle by die geestelike program baat te vind—die eintlike doel waarom ons byeenkom. Hierdie voordele word moontlik gemaak deur die omgang wat ons geniet sowel as deur die program self. Dit sal dus baie voordelig wees as ons kos kan saambring, pleks van die fasiliteit tydens die middagpouse te verlaat om kos te koop. Ons sal dan die omgang van ons broers en susters kan geniet, en dit sal voorkom dat ons enigiets van die middagprogram mis.
16 Ná afloop van die middagprogram, wanneer ons geestelik verkwik is, sal party dalk Christelike omgang en gesprekke wil voortsit oor die goeie dinge wat geleer is terwyl ’n groter maaltyd in plaaslike eetplekke met familie en vriende genuttig word. Ander kan net iets by ’n kruideniers- of ’n delikatessewinkel koop. Diegene wat na hulle eie huis kan terugkeer, verkies dalk om aandete daar te nuttig, soos hulle op ander dae doen wanneer hulle sekulêre werk doen of in die velddiens uitgaan.
17 Ons waardeer werklik die geestelike fees by hierdie kring- en streekbyeenkomste, waar ons nuwe publikasies, goeie onderrigting en praktiese raad ontvang. Dit is hierdie seëninge, tesame met die vreugde om saam met God se vergaderde volk te wees, wat almal onthou. Spreuke 10:22 sê: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie.” Dit is omdat ons as Jehovah se volk nie byeenkomste met die oog op materiële begeertes en geriewe bywoon nie. Ons kom met die positiewe begeerte byeen om in ’n geestelike sin die grootste moontlike voordeel daaruit te trek, en Jehovah seën ons ryklik weens die gees wat ons openbaar.—1 Tim. 6:6-8; Heb. 11:6.
18 Hierdie geleenthede vir bemoediging herinner ons ook aan die vooruitgang van die geestelike oes (Joh. 4:35, 36). Die inleidende woorde van Jesaja hoofstuk 54 doen ’n beroep op Jehovah se gemalinorganisasie om vir vreugdevolle vermeerdering voor te berei. Ons verwag verdere groei, uitbreiding en hernieude krag soos Jesaja geprofeteer het: “Maak die plek van jou tent wyd, en laat hulle die doeke van jou tentwonings oopspan. Verhinder dit nie! Maak jou lyne lank en slaan jou penne styf in. Want jy sal regs en links uitbreek.” Die vervulling van hierdie opwindende profesie het die merkwaardige uitbreiding van ware aanbidding tot gevolg gehad wat ons nou sien.—Jes. 54:1-4.
19 Dit wil werklik voorkom asof dit die weg van wysheid is om hierdie verdere vereenvoudigde byeenkomsreëlings in werking te stel sodat almal, met minder dinge wat hulle aandag kan aftrek, die geestelike program wat voorberei is, kan geniet. Ons vertrou dat Jehovah ook hierdie reëling sal seën, aangesien dit die doeltreffender hantering van verdere groei moontlik sal maak. Deur ons aandag te vestig op dit wat nodig is, sal ons ons beplande dae van gelukkige omgang en geestelike goeie dinge kan geniet. Dit is ons opregte bede dat Jehovah al ons pogings sal seën terwyl ons voortgaan om byeen te kom en by sy tafel gevoed te word.—Vergelyk Deuteronomium 16:14, 15.
[Venster op bladsy 6]
Voordele van geen reëlings vir voedselverskaffing
◼ Minder werk voor, gedurende en ná die program, wat meer omgang moontlik maak
◼ Geen toerusting vir voedselverskaffing om in stand te hounie
◼ Meer mense kan hulle volle aandag aan die geestelike programgee
◼ Meer vrywilligers beskikbaar om ander afdelings te help
◼ Meer tyd beskikbaar vir ander teokratiese bedrywighede
Voorgestelde items om vir middagpouse saam te bring
◼ Ligte, eenvoudige en voedsame middagete
◼ Droë vrugte, neute, gebakte items, vars vrugte
◼ Klein koelhouer indien nodig
◼ Koeldranke, vrugtesappe of gebottelde water in onbreekbare houers
MOENIE in byeenkomsfasiliteit inbringnie
◼ Sterk drank
◼ Glashouers
◼ Gesinsgrootte piekniekkoelhouers