-
Hou aan om mekaar op te bouDie Wagtoring – 1992 | Augustus 15
-
-
oor die kudde wat onder hulle is’, moet doen wat Petrus gesê het, dit wil sê, hulle moenie ‘heersers oor God se erfdeel wees nie’ (1 Petrus 5:2, 3). Tydens hulle liefdevolle werk kan daar vrae ontstaan oor sake waaroor daar verskillende voorkeure kan wees. Miskien is dit ’n plaaslike gebruik om te staan wanneer die paragrawe gedurende die Wagtoring-studie gelees word. Groepreëlings vir velddiens en baie ander prosedure in verband met die bediening kan op ’n gebruiklike manier gedoen word. Maar sou dit ’n ramp wees as iemand dit net ’n bietjie anders doen? Liefdevolle opsieners wil graag hê dat “dinge welvoeglik en ordelik toegaan”, ’n uitdrukking wat Paulus ten opsigte van die wonderdadige gawes gebruik het. Maar die konteks toon dat Paulus hoofsaaklik daarin belanggestel het om ‘die gemeente op te bou’ (1 Korinthiërs 14:12, 40, vgl. NAV). Hy het nie die neiging getoon om ’n eindelose klomp reëls voor te skryf nie, asof absolute eenvormigheid of volkome doeltreffendheid sy hoofdoel was nie. Hy het geskryf: ‘Die Here gee ons die gesag om julle op te bou en nie neer te werp nie.’—2 Korinthiërs 10:8.
23. Wat is party maniere waarop ons Paulus se voorbeeld kan navolg om ander op te bou?
23 Paulus het ongetwyfeld hard gewerk om ander op te bou deur positiewe en aanmoedigende spraak. Pleks van met net ’n klein groepie vriende om te gaan, het hy uit sy pad gegaan om baie broers en susters te besoek, dié wat geestelik sterk was sowel as dié wat opgebou moes word. En hy het liefde beklemtoon—nie reëls nie—want “liefde bou op”.—1 Korinthiërs 8:1, NAV.
-
-
Gesellige vermaak—Geniet die voordele, vermy die strikkeDie Wagtoring – 1992 | Augustus 15
-
-
Gesellige vermaak—Geniet die voordele, vermy die strikke
“In die geval van ’n mens is daar niks beters as dat hy eet en inderdaad drink en sy siel die goeie laat sien weens sy harde werk nie.”—PREDIKER 2:24, NW.
1. Op watter maniere help God se leiding sy volk wat vermaak betref?
JEHOVAH se leiding hou baie voordele vir sy knegte in. Ons sien dit wanneer dit by vermaak kom. Sy riglyne help Christene om uiterstes na albei kante toe te vermy. Sommige godsdiensyweraars, wat aandring op streng reëls ten opsigte van kleredrag en gedrag, beskou byna enige plesier as sonde. Aan die ander kant jaag die meeste mense plesier na selfs al bots dit met Jehovah se wette en beginsels.—Romeine 1:24-27; 13:13, 14; Efesiërs 4:17-19.
2. Wat het vroeg al getoon wat God se beskouing oor vermaak is?
2 Maar wat van God se volk? Baie wat die Bybel begin bestudeer, is verbaas om uit te vind dat God mense in werklikheid geskep het met die vermoë om die lewe te geniet. Hy het ons eerste ouers werk gegee om te doen—maar nie die neerdrukkende sleurwerk wat die lewe van die meeste onvolmaakte mense kenmerk nie (Genesis 1:28-30). Dink aan die talle opbouende maniere waarop almal wat in ’n aardse paradys woon genot sal kan vind. Stel jou hulle vreugde voor as hulle kyk na wilde diere wat hulle nie bedreig nie en na ’n verskeidenheid huisdiere wat ’n deel van die daaglikse lewe kan wees! En watter maaltye sal hulle tog nie geniet van ‘allerhande bome, begeerlik om te sien en goed om van te eet’ nie!—Genesis 2:9; Prediker 2:24, NW.
3-5. (a) Aan watter doel moet vermaak beantwoord? (b) Waarom kan ons seker wees dat God nie die Israeliete ontmoedig het om vrolik te wees nie?
3 Trouens, daardie bedrywighede kan as vermaak beskou word, waarvan die doel in die Paradys dieselfde sal wees as nou: om ’n mens te verkwik en jou lewenskrag te hernieu vir nog produktiewe bedrywighede (werk). Wanneer vermaak dít tot stand bring, is dit nuttig. Beteken dit dat ware aanbidders plek in hulle lewe kan inruim vir vermaak selfs al woon hulle nog nie in die Paradys nie? Ja. Insight on the Scriptures sê die volgende oor vermaak onder Jehovah se eertydse volk:
4 “Die vermaaklikhede en ontspanning van die Israeliete word nie prominent in die Bybelverslag weergegee nie. Dit toon nietemin dat dit as gepas en as iets goeds beskou is wanneer dit in ooreenstemming met die godsdiensbeginsels van die nasie plaasgevind het. Die vernaamste ontspanningsvorme was die speel van musiekinstrumente, sang, danse, geselsery, asook party speletjies. Iets wat baie gewild was, was om raaisels en moeilike vrae te vra.—Rig 14:12.”—Deel 1, bladsy 102.
5 Wanneer Dawid as oorwinnaar teruggekeer het, het Hebreeuse vroue luite en tamboeryne gebruik terwyl hulle feesgevier (Hebreeus, sa·chaqʹ) het (1 Samuel 18:6, 7, NW). Die grondbetekenis van die Hebreeuse woord is “lag”, en sommige vertalings praat van “vrolike vroue” (Byington, Rotherham, The New English Bible). Terwyl die Ark verskuif is, het “Dawid en die hele huis van Israel . . . voor die aangesig van die HERE gespeel [“feesgevier”, NW] met allerhande instrumente”. Migal, Dawid se vrou, het ’n ongebalanseerde beskouing gehad, want sy het daarteen beswaar gemaak dat Dawid aan die vermaaklikhede deelgeneem het (2 Samuel 6:5, 14-20). God het voorspel dat die terugkerende bannelinge uit Babilon aan soortgelyke vreugdevolle bedrywighede sou deelneem.—Jeremia 30:18, 19; 31:4; vergelyk Psalm 126:2.
6. Hoe help die Christelike Griekse Geskrifte ons om vermaak te beskou?
6 Ons moet ook daarna strewe om gebalanseerd te wees ten opsigte van vermaak. Besef ons byvoorbeeld dat Jesus nie ’n askeet was nie? Hy het tyd ingeruim vir verkwikkende maaltye, soos vir die “groot feesmaal” wat deur Levi gehou is. En toe eiegeregtige mense Jesus gekritiseer het omdat hy geëet en gedrink het, het Jesus hulle opvattinge en weë verwerp (Lukas 5:29-31; 7:33-36). Jy sal ook onthou dat hy ’n troue bygewoon en tot die feestelikhede bygedra het (Johannes 2:1-10). Jesus se halfbroer Judas meld dat Christene “liefdemaaltye” gehad het, wat blykbaar maaltye was waar behoeftiges voedsel en aangename, ontspanne geselskap kon geniet.—Judas 12.
Gesellige vermaak op sy tyd en plek
7. Hoe moedig God se Woord ons aan om balans te handhaaf wat vermaak betref?
7 Prediker 10:19 praat in ’n gunstige sin van ‘maaltye wat hulle vir plesier klaarmaak en wyn wat die lewe vrolik maak’. Dit klink nie asof vermaak op sigself verkeerd of sleg is nie, nie waar nie? Tog sê dieselfde boek: “Alles het sy bepaalde uur, . . . ’n tyd om te ween en ’n tyd om te lag, ’n tyd om te weeklaag en ’n tyd om van vreugde rond te spring” (Prediker 3:1, 4). Ja, hoewel die Bybel nie gepaste vermaak veroordeel nie, spoor dit ons tog aan om versigtig te wees. Dit maan onder andere dat ons vermaak op sy plek hou ten opsigte van die tyd wat ons daaraan bestee en hoe gereeld ons daaraan deelneem. Dit waarsku ons ook teen slaggate wat alte dikwels tydens groot gesellighede voorkom.—2 Timotheüs 3:4.
8, 9. Waarom moet die tyd waarin ons lewe en ons godgegewe opdrag ’n invloed op ons vermaak hê?
8 Ons het gesien dat die Jode wat uit Babilon teruggekeer het—en wat baie, harde werk gehad het om te doen—aan vreugdevolle ontspanning deelgeneem het. Tog het Jeremia vroeër gesê dat hy ‘nie gesit het in ’n vergadering van spotters of uitgelate was nie’ (Jeremia 15:17). Hy het die goddelike toewysing ontvang om ’n boodskap van naderende straf te verkondig, en dit was dus nie die regte tyd vir hom om vrolik te wees nie.
9 Hedendaagse Christene het die opdrag om God se boodskap van hoop te verkondig sowel as om sy oordele teen Satan se goddelose stelsel uit te spreek (Jesaja 61:1-3; Handelinge 17:30, 31). Dit behoort dus duidelik te wees dat ons nie moet toelaat dat vermaak ’n prominente plek in ons lewe begin inneem nie. Ons kan die punt toelig met ’n knippie sout of ’n spesiale smaakmiddel wat die geur van kos verbeter. Sal jy soveel geursel op die kos gooi dat dit die voedsel oorheers? Nee, beslis nie. In ooreenstemming met Jesus se woorde in Johannes 4:34 en Mattheüs 6:33 is ons belangrikste werk—ons voedsel—om God se wil te doen. Ontspanning word dus soos ’n smaakmiddel. Dit moet verkwik en verbeter, nie uitput of oorweldig nie.
10. Waarom moet ons almal weer ondersoek instel na die hoeveelheid tyd wat ons aan vermaak bestee?
10 Maar dink ’n bietjie hieroor na: Sou die meeste mense nie sê dat hulle betreklik min tyd en aandag aan vermaak bestee nie? As hulle anders daaroor gevoel het, sou hulle ’n verandering aangebring het. Is dit nie ’n aanduiding dat elkeen van ons moet stilstaan en ernstig en eerlik moet ondersoek instel na die plek wat vermaak werklik in ons lewe inneem nie? Het dit dalk algaande baie belangrik in ons lewe geword? Sit ons byvoorbeeld outomaties die TV aan wanneer ons ook al by die huis kom? Het ons in die gewoonte verval om ’n groot deel van ons tyd elke week vir vermaak opsy te sit, soos elke Vrydag- of Saterdagaand? Sal ons teleurgesteld voel as daardie tyd aanbreek en ons tuis is en geen ontspanning gereël het nie? Nog twee vrae: Vind ons dat ons so laat uitgebly of so ver gereis het ná ’n geselligheid dat ons die dag daarna uitgeput is, miskien te moeg om aan die Christenbediening deel te neem of om ’n goeie dag se werk vir ons werkgewer te lewer? Is ons vermaak werklik gepas en gebalanseerd as dit soms, of dikwels, daardie uitwerking op ons het?—Vergelyk Spreuke 26:17-19.
11. Waarom is dit gepas dat ons die aard van ons vermaak weer in oënskou neem?
11 Dit sal ook goed wees as ons die aard van ons vermaak ondersoek. Die feit dat ons knegte van God is, is nie ’n waarborg dat ons vermaak gepas is nie. Beskou die woorde wat die apostel Petrus aan gesalfde Christene geskryf het: “Dit is genoeg dat ons die afgelope lewenstyd die wil van die heidene volbring het deur te wandel in ongebondenheid, begeerlikheid, dronkenskap, brasserye, drinkpartye en ongeoorloofde afgoderye” (1 Petrus 4:3). Hy het nie as ’t ware die vinger na sy broers gewys en hulle daarvan beskuldig dat hulle doen wat mense in die wêreld doen nie. Tog is dit noodsaaklik dat Christene (destyds en nou) op hulle hoede moet wees omdat ’n mens maklik die slagoffer van skadelike vermaak kan word.—1 Petrus 1:2; 2:1; 4:7; 2 Petrus 2:13.
Waak teen strikke
12. Op watter soort strik vestig 1 Petrus 4:3 die aandag?
12 Vir watter soort strik behoort ons op ons hoede te wees? Wel, Petrus het “dronkenskap, brasserye, drinkpartye” genoem. ’n Duitse kommentator het verduidelik dat die Griekse woorde wat gebruik is “hoofsaaklik van toepassing was op sosiale drinkery by die feesmaal”. ’n Switserse professor het geskryf dat daardie gebruike destyds iets algemeens was: “Die beskrywing moet betrekking hê op georganiseerde gesellighede of selfs gereelde klubs waar die skandelike dinge bedryf is wat hier beskryf word.”
13. Hoe was die gebruik van alkohol by gesellighede al ’n strik? (Jesaja 5:11, 12).
13 Die gebruik van alkohol by groot gesellighede het talle al verstrik. Dit is nie asof die Bybel die matige gebruik van drank verbied nie, want dit is nie die geval nie. ’n Bewys hiervan is die feit dat Jesus wyn gemaak het by ’n huweliksfees in Kana. Die mense het nie te veel gedrink nie, want Jesus sou gehoor gegee het aan God se raad om nie onder strawwe drinkers te wees nie (Spreuke 23:20, 21). Maar beskou hierdie gedagte: Die feesleier van daardie fees het gesê dat die goeie wyn by ander feeste eerste bedien is, ‘en wanneer die mense dronk was, is die swak wyn’ bedien (Johannes 2:10, NW). Dit was dus iets algemeens dat Jode dronk geword het by troues waar daar baie wyn vir almal was.
14. Hoe kan Christengashere die strik wat alkohol kan inhou die hoof bied?
14 Sommige Christengashere het gevolglik besluit om wyn, bier, en ander alkoholiese drank te voorsien net as hulle persoonlik kan toesig hou oor wat daar aan hulle gaste bedien word of hoeveel hulle drink. As ’n groep te groot is vir ’n gasheer om persoonlik daaroor toesig te kan hou, soos by die Joodse troues wat genoem is, kan te veel alkohol ’n gevaarlike strik wees. Daar kan dalk iemand teenwoordig wees wat gesukkel het om ’n drankprobleem te oorkom. Dit is te begrype dat algemene, onbeperkte toegang tot alkohol hom in die versoeking kan stel om te veel te drink en die geleentheid vir almal kan bederf. ’n Opsiener en vader in Duitsland het gesê dat sy gesin baat vind by aangename omgang tydens gesellighede met medegelowiges. Maar hy het bygevoeg dat die potensiaal vir probleme beslis groter is wanneer bier geredelik beskikbaar is.
15. Hoe kan daar behoorlike toesig by gesellighede gehou word?
15 Die bruilof by Kana het ’n “feesleier” gehad (Johannes 2:8, NW). Dit beteken nie dat ’n gesin wat ’n groep mense vir ’n maaltyd of kuiertjie na hulle huis toe nooi ’n feesleier moet aanstel nie. Die eggenoot sal verantwoordelik wees om toesig oor die geleentheid te hou. Maar dit moet duidelik wees dat iemand die verantwoordelikheid dra vir wat gebeur, ongeag of ’n groep uit twee gesinne bestaan of ietwat groter is. Baie ouers maak hiervan seker wanneer hulle seun of dogter na ’n geselligheid genooi word. Hulle tree met die gasheer in verbinding om te vra wie oor die hele geleentheid gaan toesig hou, en hulle maak seker dat hy tot aan die einde daar gaan wees. Christenouers het al selfs hulle eie rooster aangepas om teenwoordig te wees sodat jong en ouer mense wedersydse omgang kan geniet.
16. Wat moet gepas in aanmerking geneem word wat die grootte van gesellighede betref?
16 Die takkantoor van die Wagtoringgenootskap in Kanada skryf: “Die raad dat die grootte van gesellighede beperk moet word, het ’n paar ouere manne laat dink dat groot huweliksonthale ’n veronagsaming van hierdie raad is. Hulle het tot die gevolgtrekking gekom dat as ons gemaan word om ons gesellighede tot ’n klein, beheerbare grootte te beperk dit verkeerd sal wees om 200 of 300 mense by ’n huweliksonthaal te hê.”a Pleks van te veel klem op die grootte te lê, moet daar hoofsaaklik aandag geskenk word aan behoorlike toesig, ongeag hoeveel mense daar sal wees. Die hoeveelheid wyn wat Jesus voorsien het, toon dat ’n taamlike groot groep die bruilof in Kana bygewoon het, maar daar was klaarblyklik gepaste toesig. Dit was destyds nie die geval met ander feeste nie; die grootte van daardie feeste was moontlik ’n faktor wat tot onvoldoende toesig gelei het. Hoe groter ’n geselligheid, hoe groter die uitdaging, want dit is moeiliker vir swakkes wat geneig is om hulle te buite te gaan om hulle beginsels te handhaaf. Waar daar nie toesig by gesellighede is nie, kan hulle twyfelagtige bedrywighede aanmoedig.—1 Korinthiërs 10:6-8.
17. Hoe kan Christene balans handhaaf wanneer ’n geselligheid gereël word?
17 Goeie toesig by ’n geselligheid sluit onder meer beplanning en voorbereiding in. Dit vereis nie dat ’n mens ’n treffende tema moet uitdink om dit uniek of onvergeetlik te maak nie, want dit sal ’n na-aping wees van wêreldse partytjies, soos kostuum- of maskerbals. Kan jy jou voorstel dat getroue Israeliete in die Beloofde Land ’n partytjie sou reël waar almal soos heidene in Egipte of ’n ander land aangetrek het? Sou hulle gereël het vir sensuele danse of wilde musiek wat hoog in die mode onder die heidene was? Hulle het by die berg Sinai verstrik geraak in musiek en dansery wat moontlik destyds algemeen en gewild in Egipte was. Ons weet hoe God en sy ryp kneg Moses daardie vermaak beskou het (Exodus 32:5, 6, 17-19). Die gasheer of opsiener van ’n geselligheid moet dus goed nadink of daar gesing en gedans sal word; en indien wel, moet hy seker wees dat dit met Christenbeginsels strook.—2 Korinthiërs 6:3.
18, 19. Wat kan ons leer uit die feit dat Jesus na ’n troue genooi is, en hoe kan ons dit toepas?
18 Ten slotte moet ons onthou dat ‘Jesus en sy dissipels na die bruilof genooi is’ (Johannes 2:2). ’n Individuele Christen of ’n gesin kan weliswaar bloot by ander gaan kuier om ’n aangename, opbouende tyd te geniet. Maar die ondervinding het geleer dat dit help om probleme te voorkom as ’n mens by beplande gesellighede vooraf bepaal wie daar gaan wees. Die belangrikheid hiervan is beklemtoon deur ’n ouere man in Tennessee, VSA, wie se seuns en dogters die voltydse bediening betree het toe hulle groot was. Voordat hy of sy vrou ’n uitnodiging aanvaar het of sy kinders toestemming gegee het om dit by te woon, het hy met die gasheer in aanraking gekom om seker te maak of daar vooraf besluit is wie dit sou bywoon. Sy gesin is beskerm teen strikke waarin sommige getrap het by gesellighede wat vir almal oopgestel was, hetsy dit ’n maaltyd, ’n piekniek of oefening, soos voetbal, was.
19 Jesus het mense afgeraai om net familielede, ou vriende of mense van dieselfde ouderdom of ekonomiese status na ’n geselligheid te nooi. (Lukas 14:12-14; vergelyk Job 31:16-19; Handelinge 20:7-9.) As jy versigtig besluit wie jy gaan nooi, sal dit makliker wees om Christene van verskillende ouderdomme en met verskillende agtergronde in te sluit (Romeine 12:13; Hebreërs 13:2). ’n Paar van hulle kan dalk geestelik swak persone of nuwelinge wees wat kan baat vind by omgang met ryp Christene.—Spreuke 27:17.
Vermaak op sy plek
20, 21. Waarom is dit gepas dat vermaak ’n plek in ons lewe het?
20 Dit is gepas dat ons as godvresende mense in ons vermaak belangstel en daaroor besorg moet wees dat dit gepas is en dat ons balans handhaaf in die hoeveelheid tyd wat ons daaraan bestee (Efesiërs 2:1-4; 5:15-20). Die geïnspireerde skrywer van Prediker het so daaroor gevoel: “Daarom het ek die vreugde geprys, dat daar niks beters is vir die mens onder die son nie as om te eet en te drink en hom te verheug, en dat dit hom mag begelei by sy moeitevolle arbeid gedurende die dae van sy lewe wat God hom gee onder die son” (Prediker 8:15). Sulke gebalanseerde plesier kan die liggaam verkwik en ’n teëwig vorm vir probleme en frustrasies wat algemeen in die huidige stelsel is.
21 Ter toeligting: ’n Oostenrykse pionier het aan ’n ou vriend geskryf: “Ons het nou die dag ’n aangename uitstappie geniet. Ongeveer 50 van ons het na ’n meertjie naby Ferlach gegaan. Broer B—— het voor gery in sy bakkie waarin drie roosters, opvoustoele, tafels en selfs ’n tafeltennistafel was. Ons het dit geweldig geniet. Een suster het ’n trekklavier by haar gehad, en daar is baie Koninkryksliedere gesing. Die broers, jonk en oud, het die omgang geniet.” Sy het aangename herinneringe gehad aan ontspanning waaroor daar goeie toesig gehou is en wat vry was van strikke soos oormatige drinkery en losbandigheid.—Jakobus 3:17, 18.
22. Watter waarskuwing moet elkeen van ons altyd in gedagte hou terwyl ons gesellige vermaak geniet?
22 Paulus het ons aangespoor om versigtig te wees dat ons nie toegee aan die begeertes van die onvolmaakte vlees nie; ons moenie eens reëlings tref wat ons aan versoekings kan blootstel nie (Romeine 13:11-14). Dit sluit reëlings vir gesellige vermaak in. Wanneer ons sy raad in hierdie verband toepas, sal ons situasies kan vermy wat sommige geestelik skipbreuk laat ly het (Lukas 21:34-36; 1 Timotheüs 1:19). Ons sal eerder verstandig wees deur opbouende ontspanning te kies wat ons sal help om ons verhouding met God te handhaaf. So sal ons baat vind by gesellige vermaak wat as een van God se goeie gawes beskou kan word.—Prediker 5:18.
[Voetnoot]
a Die Wagtoring van 1 Mei 1984 het gebalanseerde raad oor troues en huweliksonthale bevat. ’n Voornemende bruidegom en sy bruid, sowel as ander wat hulle gaan help, sal dit raadsaam vind om hierdie materiaal te hersien voordat hulle reëlings vir die troue tref.
Wat het ons geleer?
◻ Watter gebalanseerde beskouing tref ons in die Bybel aan ten opsigte van gesellige vermaak?
◻ Waarom moet die aspek van tyd en die aard van die vermaak in aanmerking geneem word?
◻ Wat is sommige van die dinge wat ’n Christengasheer kan doen om teen strikke te waak?
◻ Wat kan gepaste en gebalanseerde vermaak vir Christene doen?
[Prent op bladsy 18]
’n Gasheer of ’n feesleier by ’n geselligheid is daarvoor verantwoordelik om te sien dat gaste nie verstrik raak nie
-