Deur Jehovah ondersoek—waarom voordelig?
1 Almal wil graag goeie gesondheid geniet. Dit maak die lewe baie genotvoller. Maar baie mense wat goeie gesondheid geniet, word steeds af en toe deur ’n dokter ondersoek. Waarom? Hulle wil enige ontwikkelende gesondheidsprobleme opspoor sodat stappe gedoen kan word om dit reg te stel. Dit is selfs belangriker om ons geestelike gesondheid te beskerm. As ons Jehovah se goedkeuring wil wegdra, moet ons “gesond in die geloof” bly.—Tit. 1:13.
2 Dit is nou ’n gepaste tyd om deur Jehovah ondersoek te word. Hoe so? Omdat Jehovah in sy heilige tempel is en hy die harte van alle mense ondersoek (Ps. 11:4,5, NAV; Spr. 17:3). Soos Dawid, vra ons Jehovah om ons deeglik te ondersoek: “Ondersoek my, o Jehovah, en stel my op die proef; louter my niere en my hart.”—Ps. 26:2, NW.
3 Ons moet waak teen dinge wat ons geestelike gesondheid kan bedreig en wat weens ons onvolmaakte vlees by onsself kan ontstaan. Spreuke 4:23 vermaan ons: “Bewaak jou hart meer as alles wat bewaar moet word, want daaruit is die oorspronge van die lewe.”
4 Ons geestelike gesondheid kan ook deur die verdorwe, onsedelike wêreld om ons bedreig word. As ons toelaat dat ons te na aan hierdie goddelose stelsel kom, kan ons soos dit begin dink en wêreldse gesindhede ontwikkel. Of ons kan ’n wêreldse lewe begin lei en deur die gees van die wêreld oorweldig word.—Ef. 2:2,3.
5 Satan gebruik dalk vervolging of direkte teenstand in ’n poging om ons geestelik te verwoes. Maar in die meeste gevalle gebruik hy wêreldse verloklikhede op ’n slinkse manier om ons te verlei. Petrus spoor ons aan om ‘nugter van verstand te bly en waaksaam te wees’, want Satan is “soos ’n brullende leeu en is daarop uit om iemand te verslind”. Ons word aangespoor om ‘hom te weerstaan en vas in die geloof te bly’.—1 Pet. 5:8,9.
6 Ons moet ons geestelike gesondheid beskerm deur ons geloof sterk te hou en deur dit elke dag te versterk. Die apostel Paulus beveel aan dat ons ons geloof voortdurend toets. Net soos ons vir ons eie beswil ag slaan op praktiese raad wat ’n bekwame dokter ons gee, luister ons ook na Jehovah wanneer Sy geestelike ondersoek ’n probleem aan die lig bring wat reggestel moet word. Dit maak dit vir ons moontlik ‘om reggehelp te word’.—2 Kor. 13:5,11.
7 Jehovah is waarlik die groot Ondersoeker. Sy diagnose is altyd reg. Hy weet presies wat ons nodig het. Deur sy Woord en ‘die getroue slaaf’ skryf hy ’n gesonde geestelike dieet voor (Matt. 24:45; 1 Tim. 4:6). As ons gereeld tuis en by gemeentelike vergaderinge van hierdie dieet van voedsame geestelike voedsel inneem, kan ons geestelik gesond bly. Gereelde geestelike oefening in die bediening en ander Christelike bedrywighede is ook voordelig. Ons verwelkom dus ’n gereelde ondersoek deur Jehovah, met die volle vertroue dat hy ons geestelik gesond sal hou.