Behou ’n gebalanseerde beskouing van rekenaartegnologie
1 Die apostel Paulus het Christene in die eerste eeu aangespoor om nie afgelei te word nie, want “die oorblywende tyd is kort” (1 Kor. 7:29). Hoe dringend is dit tog dat ons ‘eers die Koninkryk en God se regverdigheid soek’ en ‘die geleë tyd uitkoop’ namate die einde van hierdie ou stelsel van dinge nader kom! Tyd is kosbaar.—Matt. 6:33; Ef. 5:15, 16.
2 Tegnologie word as ’n groot bespaarder van tyd bestempel. ’n Gebruiker kan byvoorbeeld met die druk van ’n rekenaarknoppie oombliklik toegang verkry tot ’n ontsaglike hoeveelheid inligting. Rekenaars kan dikwels binne sekondes doen wat andersins ure of weke sou neem. Wanneer ’n rekenaar reg gebruik word, is dit ’n nuttige instrument.
3 Sal dit werklik tyd bespaar?: Aan die ander kant kan die gebruiker slegs teen aansienlike koste—wat geld sowel as tyd betref—by sulke tegnologie baat vind. Dit kan ure neem om te leer hoe om die rekenaar party take te laat verrig. Bowendien gebruik iemand wat hom in die tegnologie self verdiep dalk tyd wat beter bestee kon word. Ons moet ’n gebalanseerde beskouing behou en die beginsel in gedagte hou wat betrokke is by die apostel Paulus se vermaning om ‘as wyses te wandel, terwyl ons die geleë tyd vir onsself uitkoop’.—Sien 1 Korintiërs 7:31.
4 ’n Aantal welmenende persone het rekenaarprogramme ontwerp om boek te hou van gemeentelike verslae. Hoe iemand sy rekenaar gebruik, is natuurlik ’n persoonlike besluit. Maar gemeentelike verslae waarvoor daar vorms voorsien is, moenie op rekenaars gehou word nie, aangesien kinders of ander ongemagtigde persone toegang daartoe kan verkry. Alle gemeentelike verslae—rekeningverslae, gemeentelike verkondigerverslagkaarte, ensovoorts—moet op die vorms ingevul word wat die Genootskap voorsien, en die inligting op hierdie gemeentelike vorms moenie op ’n rekenaar geberg word nie. Sodoende sal die vertroulike verslae van die gemeente beskerm word.
5 Verantwoordelike opsieners moet onderskeidingsvermoë aan die dag lê wanneer hulle dele op die program vir die Teokratiese Bedieningskool en Diensvergadering toewys. Hulle moet die materiaal wat in ’n sekere deel gedek moet word in gedagte hou. Op die skool is daar byvoorbeeld sekere materiaal wat dalk nie gepas sal wees vir net enige student om te behartig nie. Die doel van die toespraak sowel as die kwalifikasies van die persoon en die aard van die materiaal moet in aanmerking geneem word. Dit moenie aan die rekenaar oorgelaat word om te besluit nie.
6 ’n Broer wat toegewys is om ’n deel op ’n gemeentelike vergadering te behartig, moenie op materiaal staatmaak wat deur iemand anders voorberei is, veral as dit iemand is wat hy nie ken nie, net omdat dit op ’n rekenaarnetwerk beskikbaar gestel is en hom werk spaar as hy dit gebruik nie. Verantwoordelike Christene veroorloof hulle nie die vryheid om Bybeltoesprake of vergaderingdele voor te berei en dit op rekenaarnetwerke beskikbaar te stel sodat ander dit kan gebruik nie. Maar die rekenaar en die Genootskap se Watchtower Library op CD-ROM kan vir die individuele broer waardevolle instrumente wees, wat hom kan help om doeltreffende navorsing te doen in die beperkte tyd wat beskikbaar is.
7 Wat betref die reprodusering en verspreiding van rekenaarprogramme, lyste en verwante dokumentasie onder die broers, sowel as die voorbereiding en verspreiding van dele op die Diensvergadering en Teokratiese Bedieningskool deur elektroniese of ander middele, dit is gewoonlik beter as broers hulle eie materiaal voorberei sodat hulle dit plaaslik kan toepas (1 Tim. 4:13, 15). Teokratiese kennisse moet in geen omstandighede gebruik word om profyt te maak nie.
8 Wat van die verspreiding van rekenaardrukstukke van tekste wat in die Wagtoring-studie of in die Gemeentelike Boekstudie gebruik word. Wel, dit is dalk beter dat verkondigers hulle eie aantekeninge maak en voorbereiding in die Bybel en publikasies doen wat bestudeer word. By die vergadering kan die gebruik van rekenaardrukstukke met Bybeltekste wat in die publikasies aangegee word die gehoor ontmoedig om die Bybel self te gebruik om tekste te vind. Maar dit maak deel uit van die opleiding wat ons ontvang wanneer ons Bybeltekste tydens ’n Bybelstudie of by ’n gemeentelike vergadering naslaan en berei ons voor vir die doeltreffende gebruik van die Bybel in die veldbediening. In die meeste gevalle, en veral met langer aanhalings, is dit nuttiger om direk uit die Bybel te lees, veral wanneer die gehoor aangemoedig word om saam in die Bybel te volg.
9 Ander ernstige valstrikke: Soos in Die Wagtoring van 1 Augustus 1993 op bladsy 17 bespreek is, kan dit die deur vir ernstige geestelike gevare oopmaak wanneer iemand ’n rekenaar aan ’n elektroniese kennisgewingbord koppel. Net soos ’n beginsellose persoon ’n virus—’n program wat ontwerp is om rekenaarlêers te korrupteer en te vernietig—op ’n kennisgewingbord kan plaas, kan afvalliges, geestelikes en mense wat daarop uit is om ander sedelik of andersins te verderf hulle giftige idees vryelik op kennisgewingborde plaas. Tensy daar behoorlik toesig gehou word oor ’n kennisgewingbord, selfs een wat “Slegs JG” gemerk is, en die gebruik daarvan beperk word tot diegene wat ryp, getroue knegte van Jehovah is, kan dit Christengebruikers aan “slegte omgang” blootstel (1 Kor. 15:33). Die Genootskap het verslae ontvang dat sulke sogenaamde privaat netwerke nie net gebruik is om oor geestelike sake te spekuleer nie, maar ook om slegte raad te gee, skinderpraatjies en valse inligting te versprei, negatiewe idees te laat posvat, vrae te opper en twyfel te wek wat die geloof van party ondermyn asook om persoonlike uitleggings van die Skrif te versprei. Op die oog af lyk van die inligting dalk interessant en leersaam, en tog kan dit giftige elemente bevat. Christene maak op “die getroue en verstandige slaaf” vir tydige geestelike voedsel en verduidelikings staat. (Sien Die Wagtoring van 1 Julie 1994, bladsye 9-11.) ’n Christen het die ernstige verantwoordelikheid om sy geloof teen alle verderflike invloede te beskerm en moet gevolglik altyd weet met wie hy omgaan.—Matt. 24:45-47; 2 Joh. 10, 11.
10 Dieselfde Wagtoring-artikel het die belangrikheid daarvan beklemtoon om kopieregwette te respekteer. Die meeste maatskappye wat rekenaarprogramme voorberei en verkoop, het die kopiereg daarop voorbehou, en hulle voorsien ’n lisensie wat beskryf hoe die programme volgens wet gebruik kan word. Die lisensie sê gewoonlik dat die eienaar nie reproduksies van die program aan ander kan gee nie; trouens, volgens die internasionale kopieregwet is dit onwettig om dit te doen. Talle hebsugtige mense sal sonder die minste kwelling die wet oortree. Christene moet egter pligsgetrou in wetlike sake wees en aan Caesar gee wat aan Caesar behoort.—Matt. 22:21; Rom. 13:1.
11 Party groot firmas verkoop rekenaars waarop daar vooraf geïnstalleerde en gelisensieerde programme is. Maar party rekenaarhandelaars voorsien nie lisensies nie omdat die programme wat hulle vooraf installeer onwettige reproduksies is, wat beteken dat die koper die wet oortree deur die programme te gebruik. In lyn hiermee moet Christene ook nie materiaal waarop kopiereg voorbehou is (soos in die geval van die Genootskap se publikasies) en wat sonder die wettige toestemming van die eienaars gereproduseer word op elektroniese kennisgewingborde plaas of kopieë maak van materiaal wat daarop is nie.—Heb. 13:18.
12 Die waarde van enige toepassing van tegnologie moet teen die potensiële gevare eie aan die gebruik daarvan opgeweeg word. Net soos televisie tot ons voordeel gebruik kan word, veroorsaak die onheilsame uitwerking wat dit vandag op die mensdom het dat selfs wêreldse bronne ernstige kommer daaroor uitspreek. Rekenaarnetwerke reik tot in alle wêrelddele en kan onbeperkte kosbare inligting tot in die huis of werkplek bring. Hulle bied belangrike dienste aan sakeondernemings en organisasies sowel as aan mense wat in die vinnig veranderende samelewing waarin ons lewe, moet tred hou met persoonlike of sakebelange. Terselfdertyd word rekenaarnetwerke geteister deur probleme soos pornografie, verdelende haatpropaganda en uitvoerige inligting oor maniere om veragtelike en goddelose dade uit te voer.
13 Daar is dus talle belangrike redes waarom ’n Christen ’n gebalanseerde beskouing van rekenaartegnologie moet behou. Baie persone geniet dit om die New World Translation, Insight-bundels en GetVerse-program te gebruik, wat die Genootskap op rekenaardisket beskikbaar gestel het. Ander vind baat by die Genootskap se Watchtower Library op CD-ROM wat bykomende navorsingsmoontlikhede skep. Hoewel ’n mens die waarde van sekere tegnologie besef, moet iemand wat sulke moderne tegnologie vir nuttige doeleindes gebruik ook op sy hoede wees om homself en ander teen enige negatiewe aspekte daarvan te beskerm. Ons moet ’n balans handhaaf sodat selfs die onskadelike gebruik van tegnologie nie te veel van ons toegewyde tyd in beslag neem of ons van ons vernaamste werk en doelwitte aflei nie.—Matt. 6:22; 28:19, 20.