Bybelboek nommer 25—Klaagliedere
Skrywer: Jeremia
Waar geskryf: Naby Jerusalem
Geskrif voltooi: 607 v.G.J.
1. Waarom is die naam van die boek Klaagliedere gepas?
HIERDIE boek van die geïnspireerde Skrif het gewis ’n gepaste naam. Dit is ’n klaaglied wat diepe droefheid uitspreek oor daardie rampspoedige gebeurtenis in die geskiedenis van God se uitverkore volk, naamlik die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. deur Nebukadnesar, koning van Babel. In Hebreeus word hierdie boek genoem na die eerste woord daarvan, ʼÊ·khahʹ!, wat “Hoe!” beteken. Die vertalers van die Griekse Septuagint het die boek Threʹnoi genoem, wat “Klaagliedere; Weeklagte” beteken. Die Babiloniese Talmoed gebruik die uitdrukking Qi·noothʹ, wat “Klaagliedere; Treurdigte” beteken. Hieronimus, wat in Latyn geskryf het, het dit Lamentationes genoem, waaraan die Engelse titel ontleen is.
2. Hoe is Klaagliedere in die Bybel gegroepeer en geplaas?
2 In Afrikaanse vertalings van die Bybel word Klaagliedere ná Jeremia geplaas, maar in die Hebreeuse kanon word dit gewoonlik in die Hagiografa, of Geskrifte, saam met Die Hooglied van Salomo, Rut, Prediker en Ester aangetref—’n groepie wat gesamentlik bekend staan as die vyf Meghil·loothʹ (Rolle). In party hedendaagse Hebreeuse Bybels word dit tussen Rut of Ester en Prediker geplaas, maar in ou eksemplare het dit glo op Jeremia gevolg, soos in ons Bybel vandag.
3, 4. Watter bewys is daar dat Jeremia die boek geskryf het?
3 Die boek noem nie die skrywer nie. Daar bestaan egter min twyfel dat dit Jeremia was. In die Griekse Septuagint het die boek hierdie voorwoord: “En nadat Israel gevange geneem en Jerusalem verwoes is, het Jeremia wenend gaan sit en met hierdie klaaglied oor Jerusalem geweeklaag en gesê.” Hieronimus was van mening dat hierdie woorde oneg was en het hulle uit sy weergawe uitgelaat. Dat Klaagliedere aan Jeremia toegeskryf word, is egter in ooreenstemming met die oorlewering van die Jode en word onder meer bevestig deur die Siriese weergawe, die Latynse Vulgaat, die Targoem van Jonatan en die Babiloniese Talmoed.
4 Sommige kritici het probeer bewys dat Jeremia nie Klaagliedere geskryf het nie. As bewys van Jeremia se skrywerskap noem A Commentary on the Holy Bible egter “die lewendige beskrywings van Jerusalem in hfst. 2 en 4, wat klaarblyklik die penbeelde van ’n ooggetuie is; so ook die sterk medelydende gemoedsaard en profetiese gees van al die gedigte, asook hulle styl, bewoording en gedagtes, wat alles so kenmerkend van Jeremia is”.a Daar is baie parallelle uitdrukkings in Klaagliedere en Jeremia, soos dié van die buitengewoon diepe smart van ‘oë wat afloop in water (trane)’ (Klaagl. 1:16; 2:11; 3:48, 49; Jer. 9:1; 13:17; 14:17) en dié van walging aan die profete en priesters as gevolg van hulle verdorwenheid (Klaagl. 2:14; 4:13, 14; Jer. 2:34; 5:30, 31; 14:13, 14). Jeremia 8:18-22 en 14:17, 18 toon dat Jeremia heeltemal tot die droefgeestige styl van Klaagliedere in staat was.
5. Deur watter redenasie kan ons vasstel wanneer die boek geskryf is?
5 Mense is dit oor die algemeen eens dat die boek kort ná die val van Jerusalem in 607 v.G.J. geskryf is. Die afgryse van die beleëring sowel as die verbranding van die stad was nog vars in Jeremia se gedagtes, en sy sielesmart kom duidelik tot uiting. Een kommentator merk op dat geen enkele faset van droefheid op een gegewe plek ten volle uitgeput word nie, maar dat almal herhaaldelik in die verskeie gedigte terugkeer. Dan sê hy: “Hierdie onstuimige gedagtegang . . . is een van die kragtigste bewyse dat die boek na aan die gebeure en emosies staan wat dit probeer weergee.”b
6. Wat is interessant omtrent die styl en vorm van Klaagliedere?
6 Die vorm van Klaagliedere is van groot belang vir die Bybelgeleerde. Daar is vyf hoofstukke, dit wil sê, vyf liriese gedigte. Die eerste vier is akrostigons, waar elke vers agtereenvolgens met een van die 22 letters van die Hebreeuse alfabet begin. Die derde hoofstuk het andersyds 66 verse, sodat 3 opeenvolgende verse met dieselfde letter begin voor dit tot die volgende letter oorgaan. Die vyfde gedig is nie ’n akrostigon nie, hoewel dit 22 verse het.
7. Aan watter verdriet gee Jeremia uiting, maar watter hoop bestaan nog?
7 Klaagliedere gee uiting aan oorweldigende verdriet oor die beleëring, verowering en vernietiging van Jerusalem deur Nebukadnesar, en dit oortref alle literatuur wat aanskoulikheid en patos betref. Die skrywer spreek diepe smart uit oor die verwoesting, ellende en verwarring wat hy aanskou. Hongersnood, die swaard en ander afgryse het verskriklike lyding oor die stad gebring—alles as ’n regstreekse straf van God as gevolg van die sondes van die volk, die profete en die priesters. Daar is egter nog hoop op en geloof in Jehovah, en die gebede om herstel word tot hom gerig.
INHOUD VAN KLAAGLIEDERE
8. Watter verwoesting word in die eerste gedig beskryf, maar hoe druk die verpersoonlikte Jerusalem haar uit?
8 “Ag, hoe verlate sit die stad wat vol mense was!” So begin die eerste gedig sy weeklag. Die dogter van Sion was ’n vorstin, maar haar minnaars het haar verlaat en haar volk het in ballingskap gegaan. Haar poorte lê verwoes. Jehovah het haar gestraf weens die menigte van haar oortredinge. Sy het haar glorie verloor. Haar teenstanders lag oor haar val. Sy het op wonderbaarlike wyse ondergegaan en het geen trooster nie, en die mense wat in haar oorbly, is honger. Sy (Jerusalem verpersoonlik) vra: ‘Is daar ’n smart soos my smart?’ Sy strek haar hande uit en sê: “Regverdig is Hy, die HERE, want ek was teen sy mond wederstrewig” (1:1, 12, 18). Sy smeek Jehovah om onheil oor haar juigende vyande te bring, net soos hy oor haar gebring het.
9. (a) Van wie is die onheil oor Jerusalem afkomstig? (b) Wat sê Jeremia van die smaad wat oor haar gebring is en van die verskriklike toestande in die stad?
9 “Ag, hoe het die HERE in sy toorn die dogter van Sion met wolke oordek!” (2:1). Die tweede gedig toon dat Jehovah die sieraad van Israel op die aarde neergewerp het. Hy het feeste en die Sabbat vergete laat raak, en hy het sy altaar en heiligdom verwerp. O, watter hartroerende gesigte in Jerusalem tog! Jerusalem roep uit: “My oë teer weg in trane, my ingewande is in beroering, my lewer is op die grond uitgeskud vanweë die verbreking van die dogter van my volk” (2:11). Waarmee sal hy die dogter van Jerusalem vergelyk? Hoe sal hy die dogter van Sion troos? Haar eie profete was nutteloos en onbevredigend. Nou lag verbygangers haar spottend uit: “Is dit die stad waarvan hulle gesê het: Volmaak in skoonheid, vreugde van die hele aarde?” (2:15). Haar vyande het hulle mond geopen en gefluit en op hulle tande gekners en gesê: ‘Dit is die dag waarop ons gehoop het om haar te verslind.’ Haar kinders versmag van honger, en vroue eet hulle eie kinders. Die strate lê vol lyke. “Niemand het op die dag van die HERE se toorn vrygeraak of ontkom nie.”—2:16, 22.
10. Watter eienskappe van God meld Jeremia as ’n grondslag vir hoop?
10 Die derde gedig, wat 66 verse het, beklemtoon Sion se hoop op God se barmhartigheid. Deur baie beeldspraak toon die profeet dat dit Jehovah is wat die gevangenskap en verwoesting gebring het. In die bitterheid van die situasie vra die skrywer God om sy ellende te onthou en spreek hy geloof uit in die liefderyke goedheid en barmhartighede van Jehovah. Drie opeenvolgende verse begin met die gedagte “goed” en wys dat dit gepas is om te wag op redding van Jehovah (3:25-27). Jehovah het verdriet veroorsaak, maar hy sal ook barmhartigheid betoon. Maar nou het Jehovah, ondanks ’n belydenis van wederstrewigheid, nie vergewe nie; hy het die gebede van sy volk nie tot hom laat deurdring nie en het hulle “’n uitvaagsel en ’n wegwerpsel” gemaak (3:45). Met bittere trane onthou die profeet dat sy vyande hom soos ’n voël gejag het. Jehovah het hom egter in die kuil genader en gesê: “Wees nie bevrees nie!” Hy vra Jehovah om die smaad wat deur die vyand veroorsaak word, te vergeld: “U sal hulle in toorn vervolg en hulle verdelg van onder die hemel van die HERE uit.”—3:57, 66.
11. Op watter maniere is Jehovah se toorngloed oor Sion uitgestort, en waarom?
11 “Ag, hoe is die goud verdonker, die goeie goud”! (4:1). Die vierde gedig betreur die verwelkte glorie van Jehovah se tempel, waarvan die stene op die strate weggegooi is. Die kosbare kinders van Sion het van min waarde geword, soos erdekruike. Daar is nie water of brood nie, en diegene wat in luukse grootgemaak is, moes “die ashope omarm” (4:5). Die straf is selfs groter as dié vir die sonde van Sodom. Die nasireërs, wat eens ‘helderder as sneeu en witter as melk was’, het “donkerder as swartsel” geword en is heeltemal verskrompel (4:7, 8). Dit sou beter gewees het om deur die swaard om te kom as weens die hongersnood, waartydens vroue hulle eie kinders gekook het! Jehovah het sy toorngloed uitgestort. Die ongelooflike het gebeur—die teenstander het in die poorte van Jerusalem ingekom! En waarom? “Dit was oor die sondes van haar profete, die ongeregtighede van haar priesters”, wat regverdige bloed vergiet het (4:13). Die aangesig van Jehovah is nie na hulle gekeer nie. Die dwaling van die dogter van Sion het egter tot ’n einde gekom en sy sal nie weer in ballingskap weggevoer word nie. Nou is dit jou beurt, o dogter van Edom, om die bitter beker van Jehovah te drink!
12. Watter nederige versoek word in die vyfde gedig gerig?
12 Die vyfde gedig begin met ’n smeekbede tot Jehovah om sy verweesde volk te onthou. Die inwoners van Jerusalem word as die sprekers uitgebeeld. Dit is hulle voorvaders wat gesondig het, en dit is hulle dwaling wat die volk nou moet dra. Blote knegte heers oor hulle en hulle word deur knaende honger geteister. Die vreugde van hulle hart het opgehou en hulle gedans het in rou verander. Hulle is siek van hart. Hulle gee Jehovah nederige erkenning: “Ú, HERE, sit vir ewig, u troon is van geslag tot geslag.” Hulle roep uit: “Bekeer ons tot U, HERE, dan sal ons ons bekeer; vernuwe ons dae soos in die voortyd. Of het U ons heeltemal verwerp, is u toorn teen ons alte groot?”—5:19-22.
WAAROM NUTTIG
13. Watter vertroue word in Klaagliedere uitgedruk, maar waarom is dit nuttig dat dit die strengheid van God toon?
13 Die boek Klaagliedere druk Jeremia se volkome vertroue in God uit. In die dieptes van droefheid en verpletterende neerlaag, met absoluut geen hoop of vertroosting uit enige menslike bron nie, sien die profeet uit na redding deur die hand van die groot God van die heelal, Jehovah. Klaagliedere moet alle ware aanbidders tot gehoorsaamheid en onkreukbaarheid aanspoor, terwyl dit terselfdertyd ’n vreeswekkende waarskuwing rig oor diegene wat die allergrootste naam en dít wat daardeur verteenwoordig word, veronagsaam. Die geskiedenis meld geen ander verwoeste stad wat met sulke patetiese en roerende taal betreur word nie. Dit is gewis nuttig omdat dit God se strengheid beskryf teenoor diegene wat opstandig, hardnekkig en onberouvol bly.
14. Die vervulling van watter goddelike waarskuwings en profesieë blyk uit Klaagliedere, en watter verband is daar tussen die boek en ander geïnspireerde geskrifte?
14 Klaagliedere is ook nuttig deurdat dit die vervulling van ’n aantal goddelike waarskuwings en profesieë toon (Klaagl. 1:2—Jer. 30:14; Klaagl. 2:15—Jer. 18:16; Klaagl. 2:17—Lev. 26:17; Klaagl. 2:20—Deut. 28:53). Let ook daarop dat Klaagliedere lewendige getuienis van die vervulling van Deuteronomium 28:63-65 verskaf. Daarbenewens bevat die boek ’n aantal verwysings na ander dele van die heilige Skrif (Klaagl. 2:15—Ps. 48:3; Klaagl. 3:24—Ps. 119:57). Daniël 9:5-14 staaf Klaagliedere 1:5 en 3:42 deur te toon dat die onheil as gevolg van die volk se oortredinge gekom het.
15. Na watter ‘nuwe dae’ wys Klaagliedere vooruit?
15 Die tragiese toestand van Jerusalem is inderdaad hartverskeurend! Te midde hiervan spreek Klaagliedere vertroue uit dat Jehovah liefderyke goedheid en barmhartigheid sal betoon en dat hy Sion sal onthou en haar sal terugbring (Klaagl. 3:31, 32; 4:22). Dit spreek hoop uit op ‘nuwe dae’ soos die dae van lank gelede toe konings Dawid en Salomo in Jerusalem regeer het. Jehovah se verbond met Dawid vir ’n ewige koninkryk bestaan nog! “Sy barmhartighede het geen einde nie; hulle is elke môre nuut.” En dit sal steeds betoon word teenoor diegene wat Jehovah liefhet totdat elke skepsel wat lewe onder sy regverdige Koninkryksheerskappy met dankbaarheid sal uitroep: “[Jehovah] is my deel.”—5:21; 3:22-24, vgl. NW.
[Voetnote]
a 1952, onder redaksie van J. R. Dummelow, bladsy 483.
b Studies in the Book of Lamentations, 1954, Norman K. Gottwald, bladsy 31.