Wees daders—nie net hoorders nie
1 Ware Christene van vandag neem die Bybel se vermaning ter harte om daders van die woord te wees, nie net hoorders nie (Jak. 1:22). Dit onderskei hulle baie duidelik van diegene wat, hoewel hulle sê dat hulle Christene is, bloot lippediens aan God lewer (Jes. 29:13). Jesus het duidelik gesê dat slegs diegene wat God se wil doen, gered sal word.—Matt. 7:21.
2 Aanbidding sonder godvrugtige werke beteken niks (Jak. 2:26). Ons moet ons dus afvra: ‘Hoe toon my werke dat ek ware geloof het? Wat toon dat ek werklik lewe in ooreenstemming met wat ek glo? Hoe kan ek Jesus in groter mate navolg?’ Eerlike antwoorde op hierdie vrae sal ons help om te sien watter vooruitgang ons reeds gemaak het of nog moet maak wat die doen van God se wil betref.
3 As volgelinge van Jesus moet ons vernaamste lewensdoel dieselfde wees as wat deur die psalmis uitgespreek is: “In God sal ons die hele dag lof bring, en tot onbepaalde tyd sal ons u naam prys” (Ps. 44:8, NW). Die Christelike geloof is ’n lewenswyse wat elke dag waargeneem kan word in alles wat ons doen. Watter bevrediging smaak ons tog terwyl ons in al ons bedrywighede ons hartgrondige begeerte toon om Jehovah te loof!—Fil. 1:11.
4 Om lof aan Jehovah te bring, behels meer as om net ’n goeie lewe te lei: As onberispelike gedrag al was wat God van ons vereis het, kon ons ons bloot daarop toegelê het om ons persoonlikheid te verfyn. Maar ons aanbidding behels ook dat ons Jehovah se voortreflikhede asook sy naam alom bekend moet maak!—Heb. 13:15; 1 Pet. 2:9.
5 Die openbare verkondiging van die goeie nuus is een van die belangrikste werke wat ons doen. Jesus het hom aan hierdie werk gewy omdat hy geweet het dat dit die ewige lewe sou beteken vir diegene wat luister (Joh. 17:3). Vandag is “die bediening van die woord” net so belangrik; dit is die enigste manier waarop mense gered kan word (Hand. 6:4; Rom. 10:13). Aangesien ons besef watter verreikende voordele dit inhou, kan ons verstaan waarom Paulus ons vermaan het om ‘die woord te verkondig’ en ‘dringend daarmee besig te bly’.—2 Tim. 4:2.
6 In watter mate moet lof aan Jehovah ons lewe vul? Die psalmis het gesê dat dit die hele dag voor hom was. Voel ons nie ook so nie? Ja, en elke keer as ons iemand ontmoet, sal ons dit as ’n potensiële geleentheid beskou om oor Jehovah se naam te praat. Ons sal na gepaste geleenthede soek om ons gesprekke na geestelike sake te stuur. Ons sal ook ’n poging aanwend om gereeld aan velddiensbedrywighede deel te neem wat deur die gemeente georganiseer word. Diegene wie se omstandighede dit toelaat, kan die pionierdiens ernstig oorweeg, aangesien dit ons help om elke dag die predikingswerk voorkeur in ons lewe te gee. God se Woord verseker ons dat ons gelukkig sal wees as ons getroue daders van God se wil is.—Jak. 1:25.