Behou jou gevoel van dringendheid
WAT is een onfeilbare manier wat God se goedkeuring wegdra om Jehovah heelhartig te bly dien? Dit is om ’n opregte gevoel van dringendheid diep in ons hart te hê. Om God op ’n heelhartige manier te dien, beteken om hom met ons hele wese te dien, en dit vereis opregte, stipte gehoorsaamheid aan alles wat hy ons vra om te doen.
Die profeet Moses het die belangrikheid hiervan beklemtoon toe hy die nasie Israel beveel het: ‘Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag’ (Deuteronomium 6:5). Eeue later is dieselfde bevel deur Christus Jesus herhaal: “Jy moet Jehovah jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand” (Matteus 22:37). Die apostel Paulus het op hierdie selfde vereiste gesinspeel toe hy vir die Efesiërs gesê het om “die wil van God met hulle hele siel” te doen, asook toe hy die Kolossense aangespoor het: “Wat julle ook al doen, doen dit met julle hele siel soos vir Jehovah en nie vir mense nie.”—Efesiërs 6:6; Kolossense 3:23.
Maar dit is moeilik om ons met hart en siel op ons diens aan God toe te lê as ons nie ’n gevoel van dringendheid diep binne ons het nie of as die gevoel van dringendheid wat ons eers gehad het nou verflou het—miskien heeltemal verdwyn het. Ons lewe vandag in ’n tyd van dringendheid wat met geen ander tydperk in die mens se geskiedenis vergelyk kan word nie.
Spesifieke tydperke van dringendheid
In voor-Christelike tye was daar verskeie tydperke van dringendheid. Noag se tyd en die tydperk voor die vernietiging van Sodom en Gomorra was beslis tye wat waarlik dringend was (2 Petrus 2:5, 6; Judas 7). Die jare voor die Vloed was ongetwyfeld gevul met dringende bedrywighede. Selfs al het Noag en sy gesin nie presies geweet wanneer die Vloed sou begin nie, sou hulle “godvrugtige vrees” verseker het dat hulle nie uitstel nie.—Hebreërs 11:7.
Voor die vernietiging van Sodom en Gomorra het die engele eweneens sterk “by Lot aangedring” en vir hom gesê: “Vlug vir jou lewe!” (Genesis 19:15, 17). Ja, ook by daardie geleentheid het dringendheid regverdige lewens gered. Eeue later is Joodse gevangenes in Babilon gemaan: “Vertrek, vertrek, gaan weg daarvandaan, raak nie aan wat onrein is nie; gaan uit hulle midde uit” (Jesaja 52:11). In 537 v.G.J. het ongeveer 200 000 bannelinge haastig uit Babilon vertrek uit gehoorsaamheid aan daardie dringende profetiese opdrag.
In elk van daardie situasies het die gevoel van dringendheid tot heelhartige diens gelei aan die kant van diegene wat die oortuiging dat hulle in dringende tye lewe, gehad het en wat dit lewendig gehou het.
Dringendheid in Christelike tye
Dwarsdeur die Christelike Griekse Geskrifte word herhaaldelik getoon hoe belangrik ’n gevoel van dringendheid is. “Bly op die uitkyk”, “bly wakker”, ‘hou aan waak’, ‘betoon julle gereed’—al hierdie uitdrukkings is deur Christus Jesus gebruik om sy volgelinge met ’n behoorlike gevoel van dringendheid te vervul (Matteus 24:42-44; Markus 13:32-37). Daarbenewens skep sy illustrasies oor die tien maagde, die goddelose slaaf, die talente en die skeiding van die skape en die bokke afwagting en dit wek ’n gevoel van dringendheid.—Matteus 25:1, 14, 15, 32, 33.
Jesus het nie net gepráát van dringendheid nie, maar hy het ook die realiteit van sy woorde bevestig deur met dringendheid te werk. Toe die skare hom by een geleentheid probeer teëhou het, het hy vir hulle gesê: “Ook aan ander stede moet ek die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak, want hiervoor is ek uitgestuur” (Lukas 4:42, 43). Verder het hy sy dissipels aangespoor om die Heer van die oes te smeek om meer werkers in Sy oes uit te stuur omdat ‘die oes groot, maar die werkers min is’ (Matteus 9:37, 38). So ’n biddende versoek tot God openbaar beslis ’n gees van dringendheid.
Was sulke dringendheid misplaas?
Party opper dalk die logiese vraag: Waarom was ’n gevoel van dringendheid destyds nodig as die voorspelde “groot verdrukking” nog eeue in die toekoms gelê het?—Matteus 24:21.
Ons kan daarvan seker wees dat dit nie net ’n slim plan was wat Jesus gebruik het om sy volgelinge in die predikings- en onderrigtingswerk besig te hou nie. Nee, dit was Christus se liefde vir sy dissipels, sowel as sy volmaakte begrip van Jehovah se beskouing van tyd, wat die grondslag vir sy raad oor dringendheid was. Ja, Christus Jesus het geweet dat ’n gees van dringendheid nodig was om Jehovah se wil volgens God se voorneme te volbring. Daarbenewens het hy geweet dat sy dissipels self geestelik daarby sou baat vind as hulle tot sy terugkeer ’n gevoel van dringendheid behou het.
Jesus Christus het duidelik te kenne gegee dat daar ’n wêreldwye getuieniswerk binne ’n beperkte tyd verrig moet word (Matteus 24:14; Markus 13:10). Die progressiewe stadiums van hierdie toewysing is slegs geopenbaar namate die werk ontwikkel het. Maar dringendheid was nodig om elke stap uit te voer. Jesus het aangedui hoe progressief hierdie toewysing sou wees toe hy gesê het: “Julle sal getuies van my wees in Jerusalem sowel as in die hele Judea en Samaria en tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). En dit is hoe die toewysing tot vandag toe ontwikkel het. Dit het deur die jare heen sekere verrassings vir God se knegte ingehou, wat soms vereis het dat begrippe aangepas word.
Die Christelike gevoel van dringendheid het Jehovah se voorneme help volbring. Dit het Christus se dissipels gehelp om hulle toewysing progressief volgens Jehovah se onfeilbare rooster uit te voer. En wanneer ons dus vandag terugkyk op bykans 2 000 jaar het ons ’n beter begrip van daardie Goddelike rooster.
Christelike dringendheid het die dissipels gehelp om ’n deeglike getuienis in Jerusalem, Judea, Samaria en aan die verspreide Jode te gee voor 36 G.J., toe spesiale guns ten opsigte van Israel ten einde geloop het (Daniël 9:27; Handelinge 2:46, 47). Christelike dringendheid het die vroeë gemeente eweneens gehelp om ’n duidelike waarskuwing aan alle Jode te gee dat hulle stelsel spoedig tot ’n einde sou kom (Lukas 19:43, 44; Kolossense 1:5, 6, 23). En nadat dit onverwags in 70 G.J. geëindig het, het dringendheid Christus se eerste-eeuse getuies gehelp om die hemelse hoop aan baie te verkondig voor die voorspelde afvalligheid sy dodelike geestelike duisternis versprei het (2 Tessalonisense 2:3; 2 Timoteus 4:2). Toe, gedurende die duister Middeleeue het die paar koringagtige Christene die Koninkrykshoop lewendig gehou, soos Christus Jesus voorspel het (Matteus 13:28-30). Uiteindelik het Jehovah op sy vasgestelde tyd ’n ywerige, hedendaagse gemeente verwek, wat aangedryf word deur sy dringende boodskap van oordeel oor diegene wat in hierdie laaste geslag lewe.—Matteus 24:34.
Soos Daniël van die ou tyd sal God se getroue hedendaagse Getuies dit nooit waag om Jehovah te ondervra nie en hom te vra: “Wat doen U?” (Daniël 4:35). Hulle is vol vertroue dat Jehovah presies weet wat nodig is om sy werk op tyd te volbring. Ons bevraagteken dus nie die manier waarop Jehovah sake reël nie; ons is eerder bly dat God ons die geleentheid gebied het om in hierdie betekenisvolle tye saam met hom te werk.—1 Korintiërs 3:9.
’n Verdere aansporing tot dringendheid
Nog ’n rede vir dringendheid is ons onvermoë om presies aan te wys wanneer die dag en uur vir die skielike uitbreek van die groot verdrukking sal kom. Christus Jesus was seker dat niemand op aarde die voorafbepaalde dag en uur of die begin van daardie belangrike gebeurtenis weet nie (Matteus 24:36). By ’n ander geleentheid het hy vir sy gretige apostels gesê: “Dit is nie vir julle om kennis te verkry van die tye of tydperke wat die Vader onder sy eie jurisdiksie geplaas het nie” (Handelinge 1:7). Ja, die uiteinde is duidelik, maar al die besonderhede is eenvoudig nie vir ons om te weet nie.
Die apostel Paulus het die regte gesindheid van dringendheid gehad. Hy het dalk Jesus se woorde in gedagte gehad toe hy aan die Tessalonisense oor Christus se teenwoordigheid geskryf het: “En wat die tye en die tydperke betref, broers, het julle nie nodig dat iets aan julle geskryf word nie” (1 Tessalonisense 5:1). Hy het hierdie brief geskryf omtrent 17 jaar nadat Jesus gesê het: “Julle sal getuies van my wees . . . tot in die mees afgeleë deel van die aarde” (Handelinge 1:8). Op daardie tydstip kon daar niks meer geskryf word nie, want daar is niks meer geopenbaar nie. Hulle kon nogtans vol vertroue wees dat Jehovah se dag beslis sal kom “soos ’n dief in die nag” wanneer Christene die predikingswerk steeds dringend sal doen.—1 Tessalonisense 5:2.
Dit is heel onwaarskynlik dat eerste-eeuse Christene, met hierdie woorde in gedagte, gedink het dat Jehovah se dag eeue in die toekoms lê. Hulle het wel Jesus se gelykenisse geken oor die koning wat na ’n ver land gegaan het en oor die man wat na die buiteland gereis het. Hulle het ook geweet dat die gelykenisse getoon het dat die koning “uiteindelik” en die reisiger “ná ’n lang tyd” sou terugkeer. Maar hulle het ongetwyfeld gewonder oor vrae soos: Wanneer is “uiteindelik”? En wat word bedoel met “ná ’n lang tyd”? Tien jaar? Twintig jaar? Vyftig jaar? Of langer? (Lukas 19:12, 15; Matteus 25:14, 19). Jesus se woorde sou gedurig in hulle ore weerklink: “Ook julle moet julle gereed hou, want die Seun van die mens kom op ’n uur wat julle dit nie waarskynlik ag nie.”—Lukas 12:40.
Die positiewe uitwerking van dringendheid
Ja, die gevoel van dringendheid wat deur God aangewakker is, het ’n wonderlike, aanmoedigende uitwerking op die eerste-eeuse Christene gehad, wat hulle gehelp het om besig te bly in die allerbelangrikste predikings- en onderrigtingswerk. Dit spoor ons vandag nog in baie opsigte aan. Dit voorkom dat ons oorgerus raak of “moeg word om goed te doen” (Galasiërs 6:9, AB). Dit beskerm ons teen oorbetrokkenheid by die wêreld en om deur sy materialisme verstrik te raak. Dit hou ons verstand gerig op “die werklike lewe” (1 Timoteus 6:19). Die Here Jesus het gesê dat sy dissipels soos “skape onder wolwe” sou wees, en hy het geweet hoe belangrik dit vir ons is om ’n vasberade, standvastige beskouing te hê sodat ons teen die wêreld kan stry. Ja, ons is beveilig, beskerm deur ons Christelike gevoel van dringendheid.—Matteus 10:16.
Jehovah God het in sy oneindige wysheid altyd vir sy knegte genoeg inligting gegee sodat hulle hulle gevoel van dringendheid lewendig kan hou. Hy het ons goedgunstiglik verseker dat ons in “die laaste dae” van hierdie verdorwe stelsel van dinge lewe (2 Timoteus 3:1). Ons word voortdurend daaraan herinner dat ons as ligte moet skyn totdat die geslag waarin ons lewe in die groot verdrukking, met sy klimaks by Armageddon, verbygaan.—Filippense 2:15; Openbaring 7:14; 16:14, 16.
Ja, ’n goddelike gevoel van dringendheid is ’n integrerende deel van heelhartige diens aan Jehovah. Dit keer en help om die Duiwel se pogings te dwarsboom om God se knegte te laat ‘moeg word en in hulle siele te beswyk’ (Hebreërs 12:3). Heelhartige toegewydheid sal tot in alle ewigheid maak dat Jehovah se knegte hom gehoorsaam, maar nou, in hierdie dae voor Armageddon, is ’n diepe, opregte gevoel van dringendheid ’n noodsaaklike deel van heelhartige toegewydheid.
Mag Jehovah ons God ons almal help om ons gevoel van dringendheid te behou terwyl ons die woorde van die apostel Johannes ons eie maak: “Amen! Kom, Here Jesus.”—Openbaring 22:20.