Verkondig daagliks die waarheid in navolging van Jesus
1 Jesus het ’n spesifieke werk gehad om te volbring toe hy na die aarde toe gekom het. Dit was besonder eenvoudig: “Om van die waarheid te getuig” (Joh. 18:37). Hy het die waarheid oor sy Vader se wonderlike eienskappe en voornemens verkondig. Hierdie werk was vir hom soos voedsel; sy hele lewe het daarom gedraai (Joh. 4:34). Volgens Lukas se verslag was Jesus “daagliks besig om in die tempel te leer” (Luk. 19:47). Jesus het die beskikbare tyd ten volle benut (Joh. 9:4). Kort voor sy dood kon hy aan sy Vader verklaar: “Ek het u op die aarde verheerlik, aangesien ek die werk volbring het wat u my gegee het om te doen.”—Joh. 17:4.
2 Wanneer ons harte vol waardering is vir alles wat Jehovah gedoen het, voel ons ons eweneens genoodsaak om daagliks oor hom te praat. Ons word net soos Jesus se dissipels wat moedig verklaar het: “Ons kan nie ophou praat oor die dinge wat ons gesien en gehoor het nie” (Hand. 4:20). Hulle het voortdurend oor Jehovah gepraat, want die verslag sê dat ‘hulle elke dag sonder ophou voortgegaan het’ (Hand. 5:42). Ons moet ons afvra: ‘Is ek ’n navolger van my Leermeester, Jesus?’
3 Doen die predikingswerk met ’n gevoel van dringendheid: Jesus het voorspel dat die Koninkryksboodskap eers in die hele aarde verkondig sal word, en “dan sal die einde kom” (Matt. 24:14). Dit moet ons die belangrikheid en dringendheid van ons werk laat besef. Met die lewens van letterlik miljoene op die spel is dit die belangrikste en nuttigste werk wat ons kan doen. Aangesien hierdie stelsel van dinge sy einde nader, is daar min tyd oor om hierdie werk te voltooi!
4 Verslae toon dat Jehovah die insameling van skaapgeaardes bespoedig (Jes. 60:22, NW). In baie wêrelddele stroom mense letterlik na die waarheid terwyl hulle as ’t ware vreugdevol verklaar: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is”! (Sag. 8:23). Jesus se woorde geld nou meer as ooit tevore: “Die oes is groot, maar die werkers is min. Smeek . . . die Heer van die oes om werkers in sy oes uit te stuur” (Matt. 9:37, 38). Spoor dit ons nie aan om ywerig te wees soos Jesus se dissipels wat ‘voortdurend in die tempel was en God geseën het’ nie?—Luk. 24:53.
5 Maak daagliks die waarheid bekend: Ons moet elke dag na maniere soek om die waarheid aan ander mee te deel. Geleenthede is geredelik beskikbaar. Kan jy ’n paar minute neem om ’n vriend of ’n kennis te bel wat jy dink dalk ontvanklik sal wees? Of jy kan dalk ’n brief skryf aan iemand wat jy nie tuis gevind het nie. Het jy al daaraan gedink om vir die winkelier ’n traktaat aan te bied wanneer jy jou inkopies doen? Jy kan waarskynlik aan baie ander geleenthede dink wat jy elke dag het om vir ander van jou hoop te vertel. As jy jou inspan en ’n bietjie vrymoedigheid aan die dag lê, sal Jehovah jou help.—1 Tess. 2:2.
6 Wanneer ons met elke dag se bedrywighede begin, moet ons ons dus afvra: ‘Sal ek die inisiatief neem om vir iemand van my hoop te vertel as ’n geleentheid hom vandag voordoen?’ Volg die gesindheid van Jesus na, wat verduidelik het waarom hy aarde toe gestuur is: ‘Ek moet die goeie nuus van die koninkryk van God bekend maak’ (Luk. 4:43). As ons soos ons Leermeester wil wees, sal ons dieselfde doen.—Luk. 6:40.