Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w91 4/1 bl. 8-13
  • Dit is nou die tyd om Jehovah te soek

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Dit is nou die tyd om Jehovah te soek
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Diegene wat hulp nodig het
  • Tyd vir ywer en optrede
  • Watter praktiese hulp kan ons bied?
  • Jehovah verdien om gesoek te word
  • Vra jy: “Waar is Jehovah?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hoe Jehovah nader aan ons kom
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2014
  • Jehovah sorg vir jou
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2002
  • Die ware God en jou toekoms
    Die mensdom se soeke na God
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1991
w91 4/1 bl. 8-13

Dit is nou die tyd om Jehovah te soek

“Wat Jehovah betref, vanuit die hemel het hy neergesien op die menseseuns, om te sien of daar iemand bestaan wat insig het, iemand wat Jehovah soek.”—PSALM 14:2, “NW”.

1, 2. (a) Hoe beskou talle die ware God, Jehovah? (b) Hoe weet ons dat Jehovah bewus is van die mens se onverskilligheid?

VANDAG word die ware God, Jehovah, verwerp deur ateïste, agnostici, aanbidders van valse gode en miljoene wat beweer dat hulle in God glo, maar hom deur hulle werke verloën (Titus 1:16). Talle meen soos die 19de-eeuse Duitse filosoof Nietzsche dat ‘God dood is’. Is Jehovah onbewus van hierdie dwase onverskilligheid? Nee, want hy het Dawid geïnspireer om te skryf: “Die dwaas sê in sy hart: Daar is geen God nie. Sleg, afskuwelik maak hulle hul dade; daar is niemand wat goed doen nie.”—Psalm 14:1.

2 Dawid het verder gesê: “Wat Jehovah betref, vanuit die hemel het hy neergesien op die menseseuns, om te sien of daar iemand bestaan wat insig het, iemand wat Jehovah soek.” Ja, die Soewereine Heer is bewus van diegene wat hom wil leer ken en wil dien. Dit is dus noodsaaklik dat ons Jehovah nou ywerig soek. Dit sal die verskil tussen ewige lewe en ewige uitwissing beteken.—Psalm 14:2, NW; Mattheüs 25:41, 46; Hebreërs 11:6.

3. Watter potensiaal is daar vir die toekoms?

3 Ons kan dus sien waarom dit so belangrik is dat ons ander help om Jehovah nou te soek. Daar is nog miljoene mense wat nooit een van Jehovah se Getuies ontmoet het of die “goeie nuus van die koninkryk” gehoor het nie. En ons weet nie hoe groot die getal van die “groot menigte” voor “die groot verdrukking” sal wees nie. Maar die potensiaal is beslis daar vir meer om Jehovah God in die nabye toekoms te soek en te vind voor dit te laat is. Die vraag is nou: Wat kan ons doen om nog duisende mense te help om God te vind?—Mattheüs 24:14, NW; Openbaring 7:9, 14.

4, 5. Wat verkies baie in hulle soeke na ’n god?

4 Vandag is daar baie mense in die wêreld wat soekend is, maar waarna soek hulle? Baie min soek werklik na die een ware God, Jehovah. Talle verkies ’n god wat by hulle eie begeertes en vooroordele inpas. Soos Amerikaanse meningspeiler George Gallup jr. gesê het: “Kerkgangers en nie-kerkgangers is in werklikheid baie eenders wat bedrog, belastingontduiking en stelery betref, hoofsaaklik omdat daar heelwat sosiale godsdiens is.” Hy voeg by dat “talle eenvoudig ’n godsdiens aanmekaarflans wat vir hulle gerieflik en strelend is . . . Iemand het dit godsdiens à la carte genoem.”

5 Ander sal sê: “My godsdiens is goed genoeg vir my.” Die vraag behoort natuurlik te wees: “Is my godsdiens goed genoeg vir God?” In die Christendom en Hindoeïsme is die meerderheid weliswaar tevrede om hulle beelde en afgode te vereer. Die meeste sogenaamde Christene vind dat ’n naamlose Drie-enige god vir hulle voldoende is. En meer as 900 miljoen Moslems glo in Allah. Aan die ander kant sê miljoene ateïste dat daar geen God is nie.

Diegene wat hulp nodig het

6. Wat het talle lesers van Die Wagtoring gevind?

6 Maar wat van ons wat hierdie tydskrif gereeld lees? Ons het na die ware God gesoek en hom gevind. Ons het bewys dat die woorde in Jakobus 4:8 waar is: “Nader tot God, en Hy sal tot julle nader.” Deur aktief met die Christengemeente om te gaan, het ons nader aan God gekom en eerstehands ervaar hoe Jehovah nader aan ons kom.—Johannes 6:44, 65.

7. Hoe weet ons dat daar baie mense is wat nog daarin belangstel om aktief in die waarheid te raak?

7 Ons weet egter dat daar nog baie is wat daarvan hou om van tyd tot tyd met Jehovah se volk om te gaan, maar wat nog nie positiewe stappe gedoen het om deur toewyding en doop tot Jehovah te nader nie. Hoe weet ons dit? In 1990 het byna tienmiljoen mense die herdenking van Jesus se dood bygewoon. Maar hoeveel is bedrywige verkondigers van die goeie nuus van die Koninkryk? Net oor die viermiljoen. Dit beteken dat daar ongeveer sesmiljoen vriende van die waarheid is wat dit geniet om soms met ons om te gaan, maar wat nog nie die suiwer taal begin gebruik het deur die goeie nuus van die Koninkryk te verkondig nie. Talle verdedig Jehovah en sy Koninkryksheerskappy ongetwyfeld wanneer die geleentheid hom voordoen. Maar hulle het hulle nog nie duidelik as Jehovah se Getuies geïdentifiseer nie. Ons wil hierdie mense ook help.—Sefanja 3:9, NW; Markus 13:10, vgl. NW.

8, 9. (a) Wat moedig Jehovah ons aan om te doen? (b) Waarom is dit onverstandig om Jehovah se raad te veronagsaam?

8 Ons wil hulle aanspoor om gelukkige, bedrywige Getuies van Jehovah te word in die finale fase van die groot werk wat nou wêreldwyd gedoen word. Let asseblief op Jehovah se liefdevolle uitnodiging in Spreuke 1:23: “Wend julle tot my teregwysing, dan laat ek my gees vir julle uitstroom, wil ek my woorde aan julle bekend maak.” (Vergelyk Johannes 4:14.) Hoe bemoedigend is dit tog om te weet dat Jehovah ag sal slaan daarop as ons positiewe stappe doen om ons met sy naam en aanbidding te identifiseer! Ons wil beslis nie onder dié tel wat in Spreuke 1:24, 25 beskryf word nie: “Omdat ek geroep en julle geweier het, ek my hand uitgestrek en niemand geluister het nie, en julle al my raad nie opgevolg en van my teregwysing nie wou geweet het nie.”

9 Diegene wat nie luister na Jehovah se raad om hom te soek terwyl hy nog gevind kan word nie en wat hulle besluit uitstel tot hulle die groot verdrukking werklik sien uitbreek, sal vind dat hulle gewag het tot dit te laat is. So ’n weg sal ’n gebrek aan geloof en wysheid toon en sal minagting vir Jehovah se onverdiende goedheid wees.—2 Korinthiërs 6:1, 2, NW.

10. Waarom is onverskilligheid gevaarlik?

10 Ons kan die belangrikheid van onmiddellike optrede só toelig: Sal jy ’n dokter se goeie raad eers volg wanneer jy reeds dubbele longontsteking het? Of sal jy dit liewer volg wanneer jy die eerste simptome van siekte merk? Waarom wag jy dan nog om jou van Satan se siek wêreld af te skei en om jou aan Jehovah en sy Getuies se kant te skaar? Die gevolge van onverskilligheid en versuim word duidelik gestel in Spreuke 1:26-29: “Daarom sal ek ook lag by julle ondergang, ek sal spot as julle verskrikking kom; . . . Dan sal hulle na my roep, maar ek sal nie antwoord nie; hulle sal my soek, maar my nie vind nie. Omdat hulle die kennis gehaat en die vrees van die HERE nie verkies het nie.” Ons moenie na ‘Jehovah soek’ wanneer dit te laat is nie!

11. Watter hulp is beskikbaar vir diegene wat God wil dien?

11 Sommige wat hierdie tydskrif lees, is dalk nog besig om na die ware God te soek. Ons is bly dat julle in julle soeke volhard. Ons bid dat julle Bybelkennis julle sal beweeg om verdere positiewe stappe te doen om vas te staan vir die waarheid. Wees verseker dat elke gemeente van Jehovah se Getuies julle met graagte sal help in julle soeke.—Filippense 2:1-4.

Tyd vir ywer en optrede

12, 13. Waarom word optrede van ons vereis ten opsigte van ware aanbidding?

12 Waarom is dit noodsaaklik dat ons almal stappe doen om ons aan die kant van Jehovah God en sy ware aanbidding te skaar? Omdat wêreldgebeure op ’n klimaks afstuur. Dinge gebeur so vinnig in die wêreld dat ’n mens nie kan bybly nie. Dit is nie nou die tyd om op die draad te sit of louwarm te wees nie. Jesus het baie duidelik gesê: “Hy wat nie met My is nie, is teen My; en hy wat nie saam met My versamel nie, verstrooi.” Hy het ook gesê: “Elkeen wat hom skaam vir My en my woorde, vir hom sal die Seun van die mens Hom skaam wanneer Hy kom in sy heerlikheid en dié van die Vader en van die heilige engele.”—Mattheüs 12:30; Lukas 9:26.

13 Dit is nou die tyd vir ywer en optrede! Ons weet watter rigting wêreldgebeure inslaan, en Armageddon staan voor die deur. Daarom word ons genooi om Jehovah nou te soek, voor die ‘dag van sy toorn’, terwyl hy nog gevind kan word. Met die groot verdrukking sal dit te laat wees.—Sefanja 2:2, 3; Romeine 13:11, 12; Openbaring 16:14, 16.

14. Watter redes het ons om na God te soek?

14 Die hele mensdom moet nou God se guns soek. Die apostel Paulus het dit raak uitgedruk in Handelinge 17:26-28: “[God] het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons.” Daardie laaste uitdrukking “want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons” gee ons genoeg rede om God te soek. Danksy Jehovah se onverdiende goedheid bestaan ons in die beperkte maar noodsaaklike biosfeer van hierdie klein aarde. Moet ons nie dankbaar wees teenoor die Soewereine Heer van die heelal nie? En moet ons nie deur dade ons dankbaarheid teenoor hom betoon nie?—Handelinge 4:24.

15. (a) Wat was volgens geskiedskrywer Arnold Toynbee se mening die doel van hoër godsdiens? (b) Wat moet ons doen om God te kan verheerlik?

15 Geskiedskrywer Arnold Toynbee het eenmaal geskryf: “Die ware doel van ’n hoër godsdiens is om die geestelike raad en waarhede wat die wese daarvan vorm uit te straal na soveel siele as wat daardeur bereik kan word, sodat dit elk van hierdie siele in staat kan stel om die ware oogmerk van die Mens te bereik. Die Mens se ware oogmerk is om God te verheerlik en Hom vir ewig te geniet” (An Historian’s Approach to Religion, bladsye 268-9). Om God te verheerlik, moet ons hom eers soek en juiste kennis van hom en sy voornemens opdoen. Daarom is Jesaja se uitnodiging so gepas: “Soek die HERE terwyl Hy nog te vinde is; roep Hom aan terwyl Hy naby is. Laat die goddelose sy weg verlaat en die kwaaddoener sy gedagtes; en laat hy hom tot die HERE bekeer, dan sal Hy hom barmhartig wees; en tot onse God, want Hy vergeef menigvuldiglik.”—Jesaja 55:6, 7.

Watter praktiese hulp kan ons bied?

16. (a) Voor watter uitdaging kom die Christengemeente te staan? (b) Watter praktiese hulp kan ons aan ander verleen om Jehovah te dien?

16 Die miljoene belangstellendes wat nog nie bedrywige verkondigers is nie, bied ’n uitdaging aan ons almal. Watter praktiese stappe doen ons as ouere manne, bedieningsknegte, pioniers en verkondigers om hierdie vriende van die waarheid te help om saam met ons aktief aan ware aanbidding deel te neem? Een manier waarop ons praktiese hulp kan verleen as dit nodig is, is om hulle by hulle huise te gaan haal en na die vergaderinge by die Koninkryksaal te neem sodat hulle ook die voordele van Jehovah se gees gereeld kan geniet. Paulus se raad aan die Hebreërs, in hoofstuk 10, verse 24 en 25, is vandag net so dringend soos dit destyds was: “En laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom.” Ons spoor almal aan wat Jehovah se welwillendheid wil ervaar om gereeld met Jehovah se Getuies by hulle plaaslike Koninkryksaal om te gaan.

17. Watter vrae moet beantwoord word sodat ons Bybelstudente kan help om in hulle soeke na Jehovah te vorder?

17 Kan ons, as ons die Bybel studeer met iemand wat vergaderinge gereeld bywoon, daardie persoon help om aan die vereistes vir ’n verkondiger van die goeie nuus te voldoen? (Sien Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsye 97-9.) En nooi ons hom of haar, wanneer hy of sy eers ’n ongedoopte verkondiger is, om gereeld saam met ons aan die openbare predikingswerk deel te neem en saam met ons na party van ons studies en herbesoeke te gaan? (Sien Die Wagtoring van 1 Desember 1989, bladsy 31.) Met ander woorde, laat ons sulke nuwelinge eerstehands van die positiewe resultate van ons predikingswerk sien, wanneer hulle aan die vereistes voldoen?—Mattheüs 28:19.

Jehovah verdien om gesoek te word

18. Hoe het Jehovah sy barmhartigheid teenoor die mensdom betoon?

18 Danksy die losprysoffer van Christus Jesus hou Jehovah nie ons vorige sondes en tekortkominge teen ons as ons berou het en geloof beoefen nie. Let op die woorde van Dawid: “Hy handel met ons nie na ons sondes en vergeld ons nie na ons ongeregtighede nie. Want so hoog as die hemel is bo die aarde, so geweldig is sy goedertierenheid oor die wat Hom vrees. So ver as die ooste verwyderd is van die weste, so ver verwyder Hy ons oortredinge van ons. Soos ’n vader hom ontferm oor die kinders, so ontferm die HERE Hom oor die wat Hom vrees. Want Hy, Hy weet watter maaksel ons is, gedagtig dat ons stof is.”—Psalm 103:10-14; Hebreërs 10:10, 12-14.

19. Watter bemoediging is daar vir diegene wat van die waarheid afgedwaal het?

19 Jehovah is waarlik die weldadige en barmhartige God. As ons hom nederig en berouvol nader, vergewe en vergeet hy. Hy koester nie ’n ewige wrok met pyniging in ’n ewigdurende helse vuur as die gevolg nie. Nee, soos Jehovah gesê het: “Ek, Ek is dit wat jou oortredinge uitdelg om My ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie.” Wat ’n bemoediging behoort dit tog vir diegene te wees wat van die waarheid afgedwaal en hulle verhouding met Jehovah verwaarloos het! Hulle word ook aangespoor om Jehovah nou te soek en weer aktief met sy naamvolk om te gaan.—Jesaja 43:25.

20, 21. (a) Watter bemoedigende voorbeeld was daar in eertydse Juda? (b) Wat moes die inwoners van Juda doen om Jehovah se seën te verkry?

20 Koning Asa van eertydse Juda is ’n bemoedigende voorbeeld in hierdie verband. Hy het valse godsdiens in sy koninkryk uitgeroei, maar daar het nog spore van heidense aanbidding agtergebly. Die verslag in 2 Kronieke 15, verse 2 tot 4, deel ons mee wat die profeet Asarja ter vermaning vir Asa gesê het: “Die HERE is met julle as julle met Hom is, en as julle Hom soek, sal Hy Hom deur julle laat vind; maar as julle Hom verlaat, sal Hy julle verlaat. En daar was baie dae dat Israel sonder die ware God was . . . Maar as hulle in die nood hul tot die HERE, die God van Israel, bekeer het en Hom gesoek het, het Hy Hom deur hulle laat vind.”

21 Jehovah het nie wegkruipertjie met koning Asa gespeel nie, maar ‘het Hom laat vind’. Hoe het die koning op hierdie boodskap gereageer? In dieselfde hoofstuk, antwoord verse 8 en 12: “En toe Asa hierdie woorde . . . hoor . . . , het hy moed geskep en die verfoeisels verwyder uit die hele land . . . en die altaar van die HERE wat voor die voorportaal van die HERE was, het hy herstel. En [Juda] het die verbond aangegaan om die HERE, die God van hulle vaders, met hul hele hart en met hul hele siel te soek.” Ja, hulle het Jehovah in erns gesoek “met hul hele hart en met hul hele siel”. Wat was die gevolg vir die nasie? Vers 15 sê vir ons: “En die hele Juda was verheug oor die eed, want hulle het met hul hele hart gesweer en met hul hele wil Hom gesoek; en Hy het Hom deur hulle laat vind, en die HERE het hulle rus verskaf rondom.”

22. Wat moedig ons aan om nou in Jehovah se diens bedrywig te wees?

22 Is dit nie ’n aansporing vir ons almal om nou positiewe stappe te doen ten opsigte van Jehovah se rein aanbidding nie? Ons weet dat die potensiaal daar is vir miljoene meer om Jehovah te loof. Baie van hierdie mense is ongetwyfeld besig om veranderinge in hulle lewe aan te bring om aan die skriftuurlike vereistes vir Jehovah se diens te voldoen. Ander is besig om meer insig te verkry en geloof op te bou; hulle soek Jehovah en sal binnekort beweeg word om die suiwer taal aan ander te verkondig deur hulle te help om ’n diep begrip van die waarheid oor Jehovah en sy Koninkryk te verkry. En waarom is dit so noodsaaklik dat ons almal nou na Jehovah soek terwyl hy gevind kan word? Omdat sy beloofde nuwe wêreld op hande is!—Jesaja 65:17-25; Lukas 21:29-33; Romeine 10:13-15.

Onthou jy?

◻ Wie openbaar onverskilligheid teenoor die ware God, Jehovah?

◻ In watter mate het godsdiens dikwels ’n invloed op mense se gedrag?

◻ Watter potensiaal is daar vir vermeerdering in aktiewe Getuies?

◻ Waarom is dit nou die tyd vir ywer en optrede?

◻ Waarom verdien Jehovah dit om gesoek te word?

[Prent op bladsy 10]

Talle vriende van Jehovah se Getuies wat die Gedenkmaal bywoon, is potensiële knegte van God

Gedenkmaalopkoms vir 1990: 9 950 058

Verkondigerhoogtepunt vir 1990: 4 017 213

[Prent op bladsy 12]

In koning Asa se dag het die nasie hulle tot Jehovah gewend

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel