Jehovah se skape het tere sorg nodig
“Weet dat Jehovah God is. . . . Ons is sy volk en die skape van sy weide.”—PSALM 100:3, NW.
1. Hoe behandel Jehovah sy knegte?
JEHOVAH is die Groot Herder. As ons sy knegte is, beskou hy ons as sy skape en geniet ons sy tere sorg. Ons hemelse Vader vertroos en verkwik ons en lei ons in “die spore van geregtigheid, om sy Naam ontwil” (Psalm 23:1-4). Die Voortreflike Herder, Jesus Christus, het ons so lief dat hy ten behoewe van ons van sy siel afstand gedoen het.—Johannes 10:7-15.
2. In watter toestand bevind God se volk hulle?
2 As ontvangers van tere sorg kan ons saam met die psalmis sê: “Dien Jehovah met verheuging. Kom voor sy aangesig met vreugdegeroep. Weet dat Jehovah God is. Hy het ons gemaak‚ en nie ons onsself nie. Ons is sy volk en die skape van sy weide” (Psalm 100:2, 3, NW). Ja, ons is vreugdevol en voel veilig. Dit is asof ons in ’n skaapkraal met sterk klipmure veilig is teen wrede roofdiere.—Numeri 32:16, NW; 1 Samuel 24:3, NW; Sefanja 2:6, NW.
Gewillige herders van die kudde
3. Hoe behandel aangestelde Christen- ouer manne God se kudde?
3 Geen wonder dat ons as God se skape vreugdevol is nie! Aangestelde ouer manne neem die leiding onder ons. Hulle ‘speel nie baas’ oor ons of probeer meesters oor ons geloof wees nie (Numeri 16:13; Matteus 20:25-28; 2 Korintiërs 1:24; Hebreërs 13:7). Hulle is eerder liefdevolle herders wat die raad van die apostel Petrus toepas: “Hou as herders toesig oor die kudde van God wat onder julle sorg is, nie onder dwang nie, maar gewillig; ook nie uit liefde vir oneerlike gewin nie, maar gretig; ook nie as persone wat baasspeel oor dié wat God se erfenis is nie, maar deur voorbeelde vir die kudde te word” (1 Petrus 5:2, 3). Die apostel Paulus het aan mede- ouer manne gesê: “Let op julleself en op die hele kudde, waaronder die heilige gees julle as opsieners aangestel het, om as herders toesig te hou oor die gemeente van God, wat hy met die bloed van sy eie Seun gekoop het.” En hoe dankbaar is die skape tog dat hierdie manne wat deur heilige gees aangestel is ‘die kudde met teerheid behandel’!—Handelinge 20:28-30.
4. Vir watter soort verhouding met die kudde was Charles T. Russell bekend?
4 Jesus het aan die gemeente “gawes in die vorm van mense” gegee waarvan sommige “pastors”, of herders, is wat Jehovah se kudde op ’n tere wyse behandel (Efesiërs 4:8, 11; King James Version). Een van hierdie manne was Charles T. Russell, die eerste president van die Wagtoringgenootskap. Hy is pastor Russell genoem vanweë sy liefdevolle en barmhartige herderswerk ten opsigte van die kudde onder die Hoofherder, Jesus Christus. Vandag word Christen- ouer manne deur die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies aangestel, en ons is versigtig om nie terme soos “pastor”, “ouderling” of “leermeester” as titels te gebruik nie (Matteus 23:8-12). Tog doen hedendaagse ouer manne ’n pastorale, of herderlike, werk ten behoewe van die skape van Jehovah se weide.
5. Waarom moet nuwelinge die aangestelde ouer manne in die Christengemeente leer ken?
5 As herders, speel die ouer manne ’n belangrike rol in die geestelike vooruitgang van nuwelinge. Gevolglik sê die nuwe boek Kennis wat tot die ewige lewe lei op bladsy 168: “Leer die aangestelde ouer manne in die gemeente ken. Hulle is baie ervare in die toepassing van die kennis van God, want hulle het voldoen aan die vereistes vir opsieners wat in die Bybel uiteengesit word (1 Timoteus 3:1-7; Titus 1:5-9). Moenie huiwer om een van hulle te nader as jy geestelike hulp nodig het om ’n gewoonte of ’n eienskap te bowe te kom wat in stryd met God se vereistes is nie. Jy sal vind dat die ouer manne Paulus se vermaning gehoorsaam: ‘Praat vertroostend met die terneergedrukte siele, ondersteun die swakkes, wees lankmoedig teenoor almal.’—1 Tessalonisense 2:7, 8; 5:14.”
Wanneer nuwelinge verkondigers wil word
6. Watter prosedure moet gevolg word as ’n Bybelstudent ’n Koninkryksverkondiger wil word?
6 Nadat ’n Bybelstudent kennis ingeneem het en vergaderinge ’n ruk lank bygewoon het, wil hy dalk ’n Koninkryksverkondiger, ’n prediker van die goeie nuus, word (Markus 13:10). Indien wel, moet die Getuie wat die Bybelstudie met hom hou die presiderende opsiener nader, wat op sy beurt sal reël dat een van die ouer manne op die Gemeentelike Dienskomitee en ’n ander ouer man met die Bybelstudent en sy onderrigter vergader. Die bespreking sal op die boek Georganiseer om ons bediening te vervul, bladsye 98 en 99, gebaseer wees. As hierdie twee ouer manne sien dat die nuweling basiese Bybelleerstellings glo en aan God se beginsels voldoen, sal hulle vir hom sê dat hy aan die vereistes voldoen om aan die openbare bediening te kan deelneem.a Wanneer hy sy bediening rapporteer deur ’n velddiensrapport in te gee, sal dit op ’n gemeentelike verkondigerverslagkaart aangebring word wat in sy naam uitgemaak is. Die nuweling kan nou sy getuienisbedrywighede saam met die miljoene ander rapporteer wat vreugdevol ‘die woorde van God verkondig’ (Handelinge 13:5). ’n Aankondiging dat hy ’n ongedoopte verkondiger is, sal in die gemeente gedoen word.
7, 8. Op watter maniere kan ’n ongedoopte verkondiger die nodige hulp in die bediening gegee word?
7 ’n Ongedoopte verkondiger het die hulp van die ouer manne en ander ryp Christene nodig. Sy geestelike vordering is byvoorbeeld vir sy Gemeentelike Boekstudiehouer van belang. Die nuwe verkondiger vind dit dalk moeilik om op bekwame wyse in die huis-tot-huis-werk te praat (Handelinge 20:20). Daarom sal hy waarskynlik hulp verwelkom, veral van die persoon wat ’n Bybelstudie met hom in die Kennis-boek gehou het. Sulke praktiese hulp is gepas, want Jesus Christus het sy dissipels vir die bediening voorberei.—Markus 6:7-13; Lukas 10:1-22.
8 As ons welslae in ons bediening wil behaal, is goeie voorbereiding vooraf noodsaaklik. Die twee verkondigers kan dus eers bymekaarkom om aanbiedinge te oefen wat maandeliks in Ons Koninkryksbediening voorgestel word. Wanneer hulle met hulle velddiens begin, kan die meer ervare verkondiger dalk by die eerste deur of wat praat. Ná ’n vriendelike inleiding kan beide verkondigers aan die getuienis deelneem. As hulle ’n paar weke lank saam in die bediening werk, kan dit lei tot goeie herbesoeke en selfs ’n tuisbybelstudie in die boek Kennis wat tot die ewige lewe lei. Die meer ervare verkondiger kan die studie ’n ruk lank hou en dit dan vir die nuwe Koninkryksverkondiger gee om te hou. Hoe bly sal albei verkondigers tog wees as die Bybelstudent waardering vir die kennis van God openbaar!
9. Watter reëlings word getref wanneer ’n verkondiger gedoop wil word?
9 Namate ’n ongedoopte verkondiger geestelike vordering maak, sal hy hom dalk in gebed aan God toewy en gedoop wil word. (Vergelyk Markus 1:9-11.) Hy moet vir die presiderende opsiener van die gemeente sê dat hy gedoop wil word, en dié sal dan reël dat ouer manne die vrae op bladsye 175 tot 218 van die boek Georganiseer om ons bediening te vervul met die verkondiger hersien. Die vier dele waarin die vrae verdeel is, kan in drie sessies gedek word deur drie verskillende ouer manne, indien moontlik. As hulle saamstem dat die ongedoopte verkondiger ’n redelike begrip van Bybelleerstellings het en in ander opsigte aan die vereistes voldoen, sal hulle vir hom sê dat hy gedoop mag word. As gevolg van sy toewyding en doop ontvang hy die “teken” vir redding.—Esegiël 9:4-6.
Voorsien in hulle spesiale behoeftes
10. Hoe sal iemand sy Bybelkennis kan uitbrei nadat hy sy studie in die Kennis-boek voltooi het en gedoop is?
10 Nadat ’n individu sy Bybelstudie in die Kennis-boek voltooi het en gedoop is, sal dit dalk nie nodig wees om ’n formele studie met hom uit ’n tweede boek, soos Verenig in die aanbidding van die enigste ware God, te hou nie.b Die persoon wat kort tevore gedoop is, sal natuurlik baie leer terwyl hy vir Christelike vergaderinge voorberei en dit gereeld bywoon. Hy sal ook verdere kennis verkry namate sy dors na die waarheid hom beweeg om Christelike publikasies persoonlik te lees en te bestudeer en skriftuurlike sake met medegelowiges te bespreek. Maar sê nou spesiale behoeftes ontstaan?
11. (a) Hoe is Apollos deur Priscilla en Aquila gehelp? (b) Watter hulp kan aan ’n jong volwassene gegee word wat kort tevore gedoop is en wat dit oorweeg om te trou?
11 Selfs Apollos, wat “goed vertroud met die Skrif” was en met juistheid omtrent Jesus geleer het, het daarby baat gevind toe die ervare Christene Priscilla en Aquila “hom in hulle geselskap opgeneem en die weg van God met groter juistheid vir hom uitgelê” het. (Handelinge 18:24-26; vergelyk Handelinge 19:1-7.) Veronderstel dus ’n jong volwassene wat kort tevore gedoop is, oorweeg dit om iemand die hof te maak en te trou. ’n Meer ervare Christen kan hom help om inligting oor hierdie onderwerpe in die Wagtoringpublikasies te vind. Daar is byvoorbeeld nuttige inligting hieroor in die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk, Deel 7.c Die verkondiger wat die Bybelstudie met hom gehou het, kan hierdie materiaal met die nuweling bespreek, alhoewel dit nie ’n gereelde studie sal beteken nie.
12. Watter hulp kan aan ’n pas gedoopte egpaar verleen word wat probleme ondervind?
12 Neem ’n ander voorbeeld. Dalk ondervind ’n pas gedoopte egpaar probleme om Goddelike beginsels toe te pas. Hulle kan ’n ouer man om raad vra, en hy kan ’n paar aande die Bybel met hulle bespreek en hulle aandag op inligting vestig wat in die Wagtoringpublikasies verskyn. Die ouer man sal egter nie ’n gereelde Bybelstudie met die egpaar hervat nie.
As ’n nuweling sondig
13. Waarom moet gemeentelike ouer manne barmhartigheid bewys aan ’n pasgedoopte wat gesondig het, maar berou het?
13 Ouer manne volg die Groot Herder, Jehovah, na wat sê: “Ek self sal my skape oppas, . . . [die] wat gewond is, sal Ek verbind, en die siekes sal Ek versterk” (Esegiël 34:15, 16; Efesiërs 5:1). In ooreenstemming met die gees wat hier geopenbaar word, het die dissipel Judas gemaan dat barmhartigheid aan gesalfde Christene bewys word wat twyfel of gesondig het (Judas 22, 23). Aangesien ons tereg baie meer van ervare Christene verwag, moet barmhartigheid tog sekerlik bewys word aan ’n pasgedoopte—’n blote lam—wat sondig maar berou het (Lukas 12:48; 15:1-7). Ouer manne wat ‘vir die HERE regspreek’, behandel sulke skape dus met teerheid en help hulle in ’n gees van sagmoedigheid reg.—2 Kronieke 19:6; Handelinge 20:28, 29; Galasiërs 6:1.d
14. Wat moet gedoen word as ’n verkondiger wat kort tevore gedoop is ’n ernstige sonde pleeg, en hoe kan hy gehelp word?
14 Veronderstel dan dat ’n verkondiger wat kort tevore gedoop is vroeër ’n drankprobleem gehad het en by een of twee geleenthede weer te veel gedrink het. Of miskien het hy met ’n diepgewortelde tabakgewoonte gebreek, maar een of twee keer voor die versoeking geswig om te rook toe hy alleen was. Al het ons nuwe broer God in gebed om vergifnis gevra, moet hy ’n ouer man om hulp nader sodat die sonde nie ’n gewoonte word nie (Psalm 32:1-5; Jakobus 5:14, 15). Wanneer hy sy sonde aan een van die ouer manne meld, moet daardie ouer man die nuweling op ’n barmhartige manier probeer reghelp (Psalm 130:3). Skriftuurlike raad is dalk al wat nodig is om hom te help om voortaan reguit paaie vir sy voete te maak (Hebreërs 12:12, 13). Hierdie ouer man moet die omstandighede met die presiderende opsiener van die gemeente bespreek om te bepaal watter verdere hulp gegee moet word.
15. Wat is in sommige gevalle nodig wanneer ’n pasgedoopte sondig?
15 In sommige gevalle is meer dalk nodig. As die saak bekend is, as daar gevaar vir die kudde is of as daar ander ernstige probleme ter sprake is, sal die liggaam van ouer manne twee ouer manne aanstel om die saak te ondersoek. As hierdie ouer manne vind dat die saak ernstig genoeg is dat ’n regterlike komitee saamgestel moet word, moet hulle die liggaam van ouer manne daarvan in kennis stel. Die liggaam van ouer manne sal dan ’n regterlike komitee aanstel om die oortreder te help. Die regterlike komitee moet hom liefdevol behandel. Hulle moet hom deur middel van die Skrif probeer reghelp. As hy op die liefdevolle hulp van die regterlike komitee reageer, kan hulle besluit of dit enige nut sal hê as hy ’n tyd lank nie gebruik word vir dele op die verhoog by vergaderinge in die Koninkryksaal nie en of hy toegelaat moet word om by vergaderinge kommentaar te lewer.
16. Wat kan ouer manne doen om ’n oortreder te help?
16 As die oortreder goed reageer, kan een of twee ouer manne op die regterlike komitee reël om herdersbesoeke te doen met die doel om sy geloof te versterk en sy waardering vir God se regverdige standaarde op te bou. Elkeen van hulle kan van tyd tot tyd saam met hom in die veldbediening werk. Hulle kan ’n paar skriftuurlike besprekings met hom hê, moontlik deur gepaste artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! te gebruik, maar hulle sal nie ’n gereelde Bybelstudie met hom begin nie. Met sulke liefdevolle sorg sal die oortreder versterk word om swakhede van die vlees in die toekoms te weerstaan.
17. Watter stappe word gedoen as ’n gedoopte oortreder nie berou toon en sy sondige weg verlaat nie?
17 Die feit dat iemand kort tevore gedoop is, is natuurlik geen verskoning vir die onberouvolle beoefening van sonde nie (Hebreërs 10:26, 27; Judas 4). As enige gedoopte oortreder nie berou toon en sy sondige weg verlaat nie, sal hy uit die gemeente gesit word (1 Korintiërs 5:6, 11-13; 2 Tessalonisense 2:11, 12; 2 Johannes 9-11). Wanneer dit lyk asof sulke optrede nodig is, sal die liggaam van ouer manne ’n regterlike komitee saamstel. As uitsetting plaasvind, sal hierdie kort aankondiging gedoen word: “ . . . is uit die gemeente gesit.”e
Help hulle om ‘tot volwassenheid voort te beur’
18. Waarom kan ons seker wees dat pas gedoopte Christene en ander altyd meer sal hê om oor Jehovah en sy wil te leer?
18 Die meeste van God se knegte sal in die kudde bly. Gelukkig sal ons ook almal steeds nader aan ons hemelse Vader kan kom, want ons sal altyd meer van hom en sy wil kan leer (Prediker 3:11; Jakobus 4:8). Die duisende wat by Pinkster 33 G.J. gedoop is, moes ongetwyfeld nog meer leer (Handelinge 2:5, 37-41; 4:4). So ook die nie-Jode, wat nie ’n skriftuurlike agtergrond gehad het nie. Dit was byvoorbeeld waar van diegene wat gedoop is ná Paulus se toespraak op die Areopagus in Atene (Handelinge 17:33, 34). Vandag het pasgedooptes ook meer om te leer, en hulle het tyd en hulp nodig om hulle voorneme te versterk om te doen wat reg is in God se oë.—Galasiërs 6:9; 2 Tessalonisense 3:13.
19. Hoe kan diegene wat gedoop word, gehelp word om ‘tot volwassenheid voort te beur’?
19 Daar word elke jaar duisende gedoop, en hulle het hulp nodig sodat hulle ‘tot volwassenheid kan voortbeur’ (Hebreërs 6:1-3). Deur woorde, voorbeeld en praktiese hulp in die bediening kan jy sommige dalk help om hulle met die nuwe persoonlikheid te beklee en ‘voort te gaan om in die waarheid te wandel’ (3 Johannes 4; Kolossense 3:9, 10). As jy ’n ervare verkondiger is, kan die ouer manne jou nooi om ’n nuwe medegelowige in die velddiens te help of om ’n paar weke lank sekere skriftuurlike punte met hom te bespreek om sy geloof in God, sy waardering vir Christelike vergaderinge, ensovoorts te versterk. Die verhouding van herders met die kudde is soos dié van ’n vader wat vermaning betref en ’n moeder wat teerheid betref (1 Tessalonisense 2:7, 8, 11). Maar ’n paar ouer manne en bedieningsknegte kan nie na alles omsien wat in ’n gemeente nodig is nie. Ons almal is soos ’n gesin waarvan die lede mekaar help. Ons almal kan iets doen om ons medeaanbidders te help. Jy kan dalk self ander aanmoedig, die terneergedruktes vertroos en die swakkes ondersteun.—1 Tessalonisense 5:14, 15.
20. Wat kan jy doen om die kennis van God te versprei en tere sorg vir die skape van Jehovah se weide te voorsien?
20 Die mensdom het die kennis van God nodig, en as ’n Getuie van Jehovah, kan jy ’n vreugdevolle deelname aan die verspreiding daarvan hê. Jehovah se skape het tere sorg nodig, en jy kan ’n liefdevolle rol speel om hierin te help voorsien. Mag Jehovah jou bediening seën, en mag hy jou vir jou opregte pogings beloon om die skape van sy weide te help.
[Voetnote]
a Op hierdie stadium kan die nuweling ’n eksemplaar van die boek Georganiseer om ons bediening te vervul kry.
b Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
c Uitgegee deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc.
d So ’n reëling vir ongedoopte verkondigers is uiteengesit in die artikel “Help ander om God te aanbid”, wat in Die Wagtoring van 15 November 1988, bladsye 15-20, verskyn het.
e As daar op uitsetting besluit word en daar word geappelleer, word die aankondiging agterweë gehou. Sien bladsye 147-8 van die boek Georganiseer om ons bediening te vervul.
Hoe sal jy antwoord?
◻ Hoe behandel Jehovah sy skape?
◻ Wat word gedoen wanneer nuwelinge aan die predikingswerk wil deelneem?
◻ Hoe kan medegelowiges nuwelinge met spesiale behoeftes help?
◻ Watter hulp kan ouer manne diegene gee wat sondig, maar berouvol is?
◻ Hoe kan jy ’n pasgedoopte help om ‘tot volwassenheid voort te beur’?
[Prent op bladsy 16]
Charles T. Russell was bekend as ’n liefdevolle herder van die kudde
[Prent op bladsy 18]
Barmhartige herders behandel God se kudde met teerheid