Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w96 1/15 bl. 20-23
  • Vertroosting en aanmoediging—juwele met baie fasette

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Vertroosting en aanmoediging—juwele met baie fasette
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Deur ’n persoonlike verhouding met God
  • Deur ’n persoonlike studie van God se Woord
  • Deur die gemeente
  • Deur “die getroue en verstandige slaaf”
  • ‘Vertroos al die treurendes’
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
  • Vertroos dié wat treur
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2003
  • Hoe God ons vertroos
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Publieke uitgawe)—2016
  • Vertroosting vir dié wat mishandel is
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe) – 2019
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1996
w96 1/15 bl. 20-23

Vertroosting en aanmoediging—juwele met baie fasette

DIE meeste van ons het al tye deurgemaak wanneer ons verskriklik arm gevoel het—nie noodwendig geldloos nie, maar moedeloos. Ons was terneergedruk, selfs baie neerslagtig. Maar dit is met sulke tye dat ons heel moontlik iets kosbaars binne ons bereik gehad het wat ons die wêreld se goed sou kon doen. Daardie “juweel” is aanmoediging.

In die Bybel word dieselfde Griekse woord vir “aanmoedig” en “vertroos” gebruik. Albei woorde dra die gedagte oor om moed, krag of hoop te gee. Dit is dus duidelik dat vertroosting en aanmoediging presies is wat ons nodig het wanneer ons swak of terneergedruk voel. Waar kan ons dit vind?

Die Bybel verseker ons dat Jehovah “die God van alle vertroosting” is (2 Korintiërs 1:3). Dit deel ons ook mee dat “hy . . . nie ver van elkeen van ons af is nie” (Handelinge 17:27). Vertroosting en aanmoediging is dus beskikbaar. Kom ons beskou vier algemene gebiede waarop Jehovah aanmoediging gee.

Deur ’n persoonlike verhouding met God

Die grootste bron van aanmoediging is ’n persoonlike verhouding met Jehovah God. Net die feit dat so ’n verhouding moontlik is, is reeds aanmoedigend. Trouens, watter wêreldheerser sal ons telefoonoproepe neem of ’n persoonlike belangstelling in ons probleme toon? Jehovah is oneindig magtiger as hierdie manne. En tog is hy nederig—heeltemal gewillig om met nietige, onvolmaakte mense te handel (Psalm 18:36). Jehovah het selfs die inisiatief geneem in die betoning van liefde aan ons. Eerste Johannes 4:10 sê: “Hierin lê die liefde: nie dat ons God liefgehad het nie, maar dat hy ons liefgehad en sy Seun uitgestuur het as ’n soenofferande vir ons sondes.” Verder trek Jehovah ons liefdevol na sy Seun toe.—Johannes 6:44.

Het jy daarop gereageer en vertroosting in ’n vriendskap met God gesoek? (Vergelyk Jakobus 2:23.) As jy byvoorbeeld ’n dierbare, goeie vriend het, is dit nie aangenaam om tyd alleen saam met daardie persoon deur te bring en vryelik oor jou sorge en bekommernisse, jou verwagtinge en vreugdes te gesels nie? Jehovah nooi jou uit om dieselfde met hom te doen. Hy stel geen beperkings op hoe lank jy met hom in gebed mag praat nie—en hy luister werklik (Psalm 65:3; 1 Tessalonisense 5:17). Jesus het gereeld en vurig gebid. Trouens, voordat hy sy 12 apostels gekies het, het hy ’n hele nag in gebed deurgebring.—Lukas 6:12-16; Hebreërs 5:7.

Elkeen van ons het van tyd tot tyd ’n kans om alleen met Jehovah te wees. Om net stil voor ’n venster te sit of rustig te gaan stap, kan ons ’n goeie geleentheid bied om ons hart in gebed tot Jehovah uit te stort. Dit kan ’n bron van groot verligting en vertroosting wees. As ons na ’n sekere aspek van Jehovah se skepping kyk terwyl ons bepeins—al is dit net ’n stukkie blou lug, ’n paar bome of voëls—sal ons daarin dalk van die vertroostende herinneringe aan Jehovah se liefde en besorgdheid oor ons vind.—Romeine 1:20.

Deur ’n persoonlike studie van God se Woord

Dit is egter deur ’n persoonlike studie van die Bybel dat Jehovah se eienskappe werklik vir ons geopenbaar word. Die Bybel toon herhaaldelik dat Jehovah ’n “barmhartige en genadige God, lankmoedig en groot van goedertierenheid” is (Exodus 34:6; Nehemia 9:17; Psalm 86:15). Die begeerte om sy aardse knegte te vertroos, is ’n wesenlike deel van Jehovah se persoonlikheid.

Let byvoorbeeld op Jehovah se woorde in Jesaja 66:13: “Soos iemand wat deur sy moeder getroos word, so sal Ek julle troos.” Jehovah het die moeder se liefde vir haar kinders so gemaak dat dit selfopofferend en lojaal is. As jy al ooit gesien het hoe ’n liefdevolle moeder haar kind vertroos wat seergekry het, sal jy weet wat Jehovah bedoel wanneer hy sê dat hy sy volk sal vertroos.

Talle Bybelverslae toon hoe sulke vertroosting in die praktyk gebring is. Toe die profeet Elia deur die goddelose koningin Isebel met die dood gedreig is, het sy moed hom begewe, en hy het vir sy lewe gevlug. Hy was so moedeloos dat hy ’n hele dagreis ver in die woestyn ingeloop het, klaarblyklik sonder om water of kosvoorraad saam met hom te neem. Uit benoudheid het Elia vir Jehovah gesê dat hy wou sterf (1 Konings 19:1-4). Wat het Jehovah gedoen om sy profeet te vertroos en aan te moedig?

Jehovah het Elia nie berispe omdat hy alleen, niks werd en bang gevoel het nie. Inteendeel, die profeet het “’n rustige, sagte stem” gehoor (1 Konings 19:12, NW). As jy 1 Konings hoofstuk 19 lees, sal jy opmerk hoe Jehovah Elia vertroos, hom gerusgestel en sy geloof versterk het. Hierdie vertroosting was nie oppervlakkig nie. Dit het reg tot in Elia se angstige hart gereik en die profeet aangespoor om voort te gaan. (Vergelyk Jesaja 40:1, 2.) Hy was spoedig weer aan die gang.

Jesus Christus vertroos en moedig eweneens sy lojale volgelinge aan. Trouens, Jesaja het oor die Messias geprofeteer: “Die Here HERE . . . het My gestuur om te verbind die gebrokenes van hart, . . . om al die treurendes te troos” (Jesaja 61:1-3). Gedurende Jesus se aardse lewe het hy geen twyfel gelaat dat hierdie woorde op hom van toepassing was nie (Lukas 4:17-21). As jy vertroosting nodig het, kan jy peins oor Jesus se tere, liefdevolle handelinge met mense wat bedroef was en hulp nodig gehad het. ’n Deeglike studie van die Bybel is inderdaad ’n groot bron van vertroosting en aanmoediging.

Deur die gemeente

In die Christengemeente skitter die juwele van vertroosting en aanmoediging met hulle baie fasette. Die apostel Paulus is geïnspireer om te skryf: “Hou . . . aan om mekaar te vertroos en mekaar op te bou” (1 Tessalonisense 5:11). Hoe kan ons vertroosting en aanmoediging uit gemeentelike vergaderinge put?

Ons woon natuurlik Christelike vergaderinge hoofsaaklik by om “deur Jehovah geleer” te word, om onderrigting oor hom en sy weë te ontvang (Johannes 6:45). Hierdie onderrigting is bedoel om aanmoedigend en vertroostend te wees. In Handelinge 15:32 lees ons: “Judas en Silas het . . . die broers met baie toesprake aangemoedig en hulle versterk.”

Het jy al ooit na ’n Christelike vergadering gegaan toe jy moedeloos was en baie beter gevoel toe jy by die huis gekom het? Miskien het iets wat in ’n toespraak, in ’n kommentaar of in ’n gebed gesê is jou hart geraak en die nodige vertroosting en aanmoediging verskaf. Moet dus nie van Christelike vergaderinge wegbly nie.—Hebreërs 10:24, 25.

Omgang met ons broers en susters in die bediening en by ander geleenthede kan ’n soortgelyke uitwerking hê. In Hebreeus het verskeie werkwoorde met die betekenis “om saam te bind” later ook verwys na “sterkte” of “versterk”—blykbaar met die gedagte dat dinge sterker word wanneer dit saamgebind is. Hierdie beginsel geld ook in die gemeente. Ons word vertroos, aangemoedig, ja versterk, deur met mekaar om te gaan. En ons word saamgebind deur liefde, die sterkste band.—Kolossense 3:14.

Soms is dit die getrouheid van ons geestelike broers of susters wat ons aanmoedig (1 Tessalonisense 3:7, 8). Partykeer is dit die liefde wat hulle betoon (Filemon 7). En soms is dit net om saam, skouer aan skouer, te kan werk terwyl ons met ander oor God se Koninkryk praat. As jy swak voel en aanmoediging nodig het wat die bediening betref, kan jy gerus reëlings tref om saam met ’n ouer of meer ervare Koninkryksverkondiger te werk. Jy sal waarskynlik baie vertroosting daaruit put.—Prediker 4:9-12; Filippense 1:27.

Deur “die getroue en verstandige slaaf”

Wie organiseer die vertroostende aspekte van ons aanbidding? Jesus het ’n klas aangestel wat as “die getroue en verstandige slaaf” toegewys is om geestelike “voedsel op die regte tyd” te versprei (Matteus 24:45). Hierdie liggaam van geesgesalfde Christene was reeds in die eerste eeu G.J. bedrywig. Die bestuursliggaam van ouer manne in Jerusalem het briewe van onderrigting en leiding na die gemeentes uitgestuur. Met watter gevolg? Die Bybel toon hoe die gemeentes op een van hierdie briewe gereageer het: “Nadat hulle dit gelees het, het hulle hulle oor die aanmoediging verheug.”—Handelinge 15:23-31.

In hierdie kritieke laaste dae versprei die getroue en verstandige slaaf eweneens geestelike voedsel wat Jehovah se volk grootliks vertroos en aanmoedig. Neem jy daardie voedsel in? Dit is geredelik beskikbaar in die gedrukte lektuur wat die slaafklas oor die hele wêreld beskikbaar stel. Die Wagtoring en Ontwaak! sowel as die boeke, brosjures en traktate wat die Wagtoringgenootskap uitgee, het al vertroosting aan tallose lesers gebied.

’n Reisende opsiener het geskryf: “Die meeste van ons broers en susters wil graag doen wat reg is, maar hulle worstel dikwels met frustrasies, vrese en die gevoel dat hulle nie die krag het om hulleself te help nie. Artikels in ons tydskrifte help baie om weer beheer oor hulle lewe en emosies te kry. Die artikels voorsien ouer manne ook van iets meer om te gee as net oppervlakkige aanmoediging.”

Benut die lektuur van die ‘getroue slaaf’-klas ten volle. Die tydige tydskrifte, boeke en ander publikasies kan ons help om vertroosting te vind wanneer ons moeilike tye beleef. As jy andersyds in staat is om iemand aan te moedig wat neerslagtig is, kan jy gerus die skriftuurlike inligting in hierdie tydskrifte gebruik. Die artikels word met groot sorg geskryf, dikwels ná baie weke of maande van deeglike navorsing, studie en gebed. Die raad is op die Bybel gegrond, beproef en waar. Party het dit baie nuttig gevind om ’n gepaste artikel of twee saam met iemand te lees wat terneergedruk voel. Dit kan tot groot vertroosting en aanmoediging lei.

Sal jy, as jy kosbare juwele gevind het, dit wegbêre of sal jy van die rykdom mildelik met ander deel? Stel jou dit ten doel om ’n bron van vertroosting en aanmoediging vir jou broers en susters in die gemeente te wees. As jy eerder opbou as afbreek, prys as kritiseer, met die ‘tong praat van dié wat geleer is’ as met ‘onverskillige swaardsteke’ kan jy ’n verskil in ander se lewens maak (Jesaja 50:4, NW; Spreuke 12:18). Trouens, jy sal waarskynlik self as ’n juweel beskou word—’n bron van ware vertroosting en aanmoediging!

[Venster/Prent op bladsy 20]

Vertroosting vir diegene wat dit nodig het

BAIE het al kommentaar gelewer oor hoe sekere artikels in Die Wagtoring of Ontwaak! hulle persoonlike verhouding met Jehovah versterk het. Een persoon het gesê: “Nadat ek hierdie artikel gelees het, het ek gevoel dat Jehovah met al sy mag en grootsheid hier by my was. Ek het gevoel dat hy ’n werklike persoon is.” ’n Ander brief het gelui: “Ons harte en verstande het so ’n dramatiese verandering ondergaan wat ons beskouing van Jehovah betref dat ons nie dieselfde mense is nie. Dit is asof iemand ons brille skoongemaak het, en nou kan ons alles baie duidelik sien.”

Party skryf om te sê hoe die tydskrifte hulle help om spesifieke probleme of uitdagings die hoof te bied, wat hulle verseker van Jehovah se persoonlike belangstelling in hulle. ’n Leser het dit so gestel: “Baie dankie dat julle ons weer eens laat sien het hoeveel Jehovah vir sy volk omgee en hoe lief hy hulle het.” ’n Vrou in Japan wat ’n kind aan die dood afgestaan het, het aangaande Ontwaak!-artikels oor daardie onderwerp gesê: “Die diepte van God se barmhartigheid het uit die bladsye gestroom, en ek het gehuil en gehuil en gehuil. Ek het hierdie artikels op ’n plek gesit waar ek dit onmiddellik kan lees wanneer ek ongelukkig en eensaam voel.” Nog ’n treurende vrou het geskryf: “Die artikels in Die Wagtoring en Ontwaak! en die brosjure “Wanneer ’n geliefde sterf” het my die nodige krag gegee om my tye van smart te verduur.”

Die Heilige Skrif is die hoofbron van vertroosting (Romeine 15:4). Die Wagtoring hou hom by die Bybel as sy gesag, en so ook sy medetydskrif, die Ontwaak! Om dié rede bied hierdie tydskrifte aan hulle lesers vertroosting en aanmoediging.

[Prent op bladsy 23]

Die God van alle vertroosting is ook die Hoorder van die gebed

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel