Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 18 bl. 283-303
  • “Soek eers die koninkryk”

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • “Soek eers die koninkryk”
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle offer alles op ter wille van die Koninkryk
  • Hulle het hulle gewillig aangebied
  • Voorsiening in materiële behoeftes
  • Bereid om te dien waar dit ook al nodig was
  • ‘Hulle vertrou op Jehovah met hulle hele hart’
  • God se krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring
  • Die goeie nuus bereik oerwouddorpies en mynkampe in die berge
  • “Hier is ek, stuur my”
  • Hulle leer wat dit werklik beteken
  • Hoeveel mense doen die predikingswerk? In watter mate? Waarom?
  • Prioriteite word in orde gekry
  • Die voorreg van Betheldiens
  • Selfopofferende reisende opsieners
  • Pioniers voorsien in ’n belangrike behoefte
  • Skole met spesiale oogmerke
  • Diens waar hulp nodig is
  • Hulle gryp elke gepaste geleentheid aan om te getuig
  • ’n Groot skare gelukkige, voltydse evangeliedienaars
  • Deel 4—Getuies tot aan die uiterste van die aarde
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Die goeie nuus word in die openbaar en van huis tot huis verkonding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Maniere om jou bediening uit te brei
    Georganiseer om Jehovah se wil te doen
  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 18 bl. 283-303

Hoofstuk 18

“Soek eers die koninkryk”

DIE hooftema van die Bybel is die heiliging van Jehovah se naam deur middel van die Koninkryk. Jesus Christus het sy volgelinge geleer om eers die Koninkryk te soek en dit voor ander dinge in die lewe te stel. Waarom?

Die Wagtoring het al dikwels verduidelik dat Jehovah die Universele Soewerein is omdat hy die Skepper is. Hy verdien die hoogste agting van sy skepsele (Openb. 4:11). Maar ’n geesseun van God het homself baie vroeg in die mens se geskiedenis Satan die Duiwel gemaak toe hy Jehovah se soewereiniteit op uittartende wyse betwis het (Gen. 3:1-5). Satan het boonop selfsugtige beweegredes toegeskryf aan almal wat Jehovah dien (Job 1:9-11; 2:4, 5; Openb. 12:10). Gevolglik is die vrede in die heelal versteur.

Wagtoring-publikasies toon nou al dekades lank dat Jehovah voorsiening gemaak het dat hierdie geskille so besleg sal word dat dit nie net sy almag nie, maar ook die grootsheid van sy wysheid, sy geregtigheid en sy liefde sal verheerlik. Die Messiaanse Koninkryk van God is ’n sentrale deel van daardie voorsiening. Die mensdom word deur middel van daardie Koninkryk oorgenoeg geleentheid gebied om die weë van regverdigheid te leer. Deur middel van daardie Koninkryk sal die goddeloses vernietig word, Jehovah se soewereiniteit geregverdig word en sy voorneme vervul word om die aarde ’n paradys te maak wat gevul is met mense wat God en mekaar werklik liefhet en wat met volmaakte lewe geseën is.

Omdat die Koninkryk so belangrik is, het Jesus sy volgelinge gemaan: “Soek eers die koninkryk” (Matt. 6:10, 33). In hedendaagse tye het Jehovah se Getuies oorvloedige bewys gelewer dat hulle daarna strewe om op daardie raad ag te gee.

Hulle offer alles op ter wille van die Koninkryk

Die Bybelstudente het vroeg al ondersoek ingestel na wat dit beteken om eers die Koninkryk te soek. Hulle het Jesus se gelykenis bespreek waarin hy die Koninkryk vergelyk het met ’n pêrel wat so kosbaar was dat ’n man ‘alles wat hy gehad het, verkoop en dit gekoop het’ (Matt. 13:45, 46). Hulle het nagedink oor die betekenis van Jesus se raad aan ’n ryk jong owerste om alles te verkoop, dit onder die armes uit te deel en hom te volg (Mark. 10:17-30).a Hulle het besef as hulle waardig wou wees om ’n aandeel in God se Koninkryk te hê hulle die Koninkryk hulle eerste belangstelling moes maak en hulle lewe, hulle vermoëns en hulle middele met blydskap in diens daarvan moes gebruik. Alle ander dinge in die lewe moes die tweede plek inneem.

Charles Taze Russell het self daardie raad ter harte geneem. Hy het sy florerende mansklere-onderneming verkoop, ander sakebelange geleidelik verminder en toe al sy aardse besittings gebruik om mense geestelik te help. (Vergelyk Mattheüs 6:19-21.) Hy het dit nie net ’n paar jaar lank gedoen nie. Tot sy dood het hy al sy middele—sy verstandelike vermoë, sy gesondheid, sy materiële besittings—gebruik om die wonderlike boodskap van die Messiaanse Koninkryk aan ander te leer. ’n Metgesel, Joseph F. Rutherford, het by broer Russell se begrafnis gesê: “Charles Taze Russell was lojaal teenoor God, lojaal teenoor Christus Jesus, lojaal teenoor die belange van die Messias se Koninkryk.”

In April 1881 (toe net ’n paar honderd mense die Bybelstudente se vergaderinge bygewoon het) het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) ’n artikel getiteld “Benodig: 1 000 predikers” gepubliseer. Dit was ’n uitnodiging aan manne en vroue wat nie afhanklike gesinne gehad het nie om as kolporteurevangeliste te werk. Die Wagtoring het die taal van Jesus se gelykenis in Mattheüs 20:1-16 gebruik en gevra: “Wie het ’n brandende begeerte om in die Wingerd te gaan werk en bid dat die Here die weg sal open”? Diegene wat ten minste die helfte van hulle tyd uitsluitlik aan die Here se werk kon wy, is aangemoedig om aansoek te doen. Om die vroeë kolporteurs te help met reiskoste en onkoste ten opsigte van kos, klere en huisvesting het die Zion’s Watch Tower Tract Society hulle van Bybellektuur vir verspreiding voorsien, gemeld wat die klein bydrae is wat hulle vir die lektuur kan vra en die kolporteurs genooi om ’n gedeelte van die geld wat hulle so ontvang het te hou. Wie het op hierdie reëlings gereageer en die kolporteurdiens betree?

Teen 1885 het die Genootskap ongeveer 300 kolporteurs gehad. In 1914 was daar eindelik meer as 1 000. Dit was nie ’n maklike werk nie. Nadat een van die kolporteurs die huise in vier dorpies besoek en net drie of vier mense gevind het wat enige belangstelling getoon het, het die persoon geskryf: “Ek moet sê dat ek taamlik eensaam gevoel het toe ek so ver gereis het, so baie mense ontmoet het en so min belangstelling in God se plan en Kerk gevind het. Help my met julle gebede dat ek die waarheid op gepaste wyse en vreesloos kan aanbied en nie moeg raak om goed te doen nie.”

Hulle het hulle gewillig aangebied

Daardie kolporteurs was ware baanbrekers. Hulle het die ontoeganklikste uithoeke van die land binnegedring toe vervoer nog baie primitief en die meeste paaie weinig meer as waspore was. Suster Early, in Nieu-Seeland, het dit gedoen. Sy het ’n hele ruk voor die Eerste Wêreldoorlog begin en 34 jaar voltyds aan hierdie diens gewy voordat sy in 1943 gesterf het. Sy het ’n groot gedeelte van die land per fiets gedek. Selfs toe sy weens ernstige gewrigsontsteking nie kon fietsry nie, het sy die fiets gebruik om op te leun en haar boeke in die sakegebied in Christchurch te vervoer. Sy kon trappe klim, maar weens haar stremmende gebrek moes sy agteruit afklim. Maar terwyl sy hoegenaamd enige krag gehad het, het sy dit in Jehovah se diens gebruik.

Hierdie mense het dié werk nie aangepak omdat hulle baie selfvertroue gehad het nie. Party was van nature baie skaam, maar hulle het Jehovah liefgehad. Voor een suster in sakegebied gaan getuig het, het sy al die Bybelstudente in haar gebied gevra om vir haar te bid. Mettertyd het sy, namate sy meer ondervinding opgedoen het, baie geesdriftig oor die werk geraak.

Toe Malinda Keefer in 1907 met broer Russell gepraat het oor haar begeerte om die voltydse diens te betree, het sy gesê sy dink sy moet eers meer kennis opdoen. Trouens, sy het maar die vorige jaar vir die eerste keer van die Bybelstudente se lektuur gekry. Broer Russell se antwoord was: “As jy wil wag totdat jy alles weet, sal jy nooit begin nie, maar jy sal algaande leer.” Sy het sonder om te aarsel kort daarna in Ohio in die Verenigde State begin. Sy het dikwels aan Psalm 110:3 gedink wat sê: “U volk sal hulle gewillig aanbied” (NW). Sy het die volgende 76 jaar presies dit gedoen.b Toe sy begin het, was sy ongetroud. Sy het 15 jaar lank as ’n getroude persoon gedien. Maar nadat haar man gesterf het, het sy met Jehovah se hulp eenvoudig aangehou. Ná al daardie jare het sy gesê: “Hoe dankbaar is ek tog dat ek toe ek ’n jong vrou was my gewillig as ’n pionier aangebied het en altyd Koninkryksbelange eerste gestel het!”

Destyds, wanneer algemene byeenkomste gehou is, is daar dikwels reëlings getref vir spesiale sessies met die kolporteurs. Vrae is beantwoord, nuwelinge is opgelei en aanmoediging is gegee.

Van 1919 af was daar baie meer van Jehovah se knegte wat soveel waarde aan God se Koninkryk geheg het dat hulle ook hulle lewe daarom gebou het. Van hulle kon sekulêre strewes opsysit en hulle ten volle aan die bediening wy.

Voorsiening in materiële behoeftes

Hoe het hulle in hulle materiële behoeftes voorsien? Anna Petersen (later Rømer), ’n voltydse prediker in Denemarke, het gesê: “Die lektuur wat ons versprei het, het ons gehelp om daaglikse onkoste te dek, en ons het nie baie nodig gehad nie. As daar groter uitgawes was, is dit altyd op die een of ander manier gedek. Susters het vir ons klere, rokke of jasse, gegee wat ons onmiddellik kon dra, en ons was dus goed geklee. En soms het ek in die winter ’n paar maande lank kantoorwerk gedoen. . . . Deur te koop wanneer daar uitverkopings was, kon ek die klere koop wat ek vir die jaar nodig gehad het. Dit het goed gegaan. Ons het nooit gebrek gely nie.” Materiële dinge was nie hulle grootste bekommernis nie. Hulle liefde vir Jehovah en sy weë was soos ’n brandende vuur in hulle, en hulle moes eenvoudig daaraan uiting gee.

Hulle het soms ’n beskeie kamer gehuur om in te woon wanneer hulle mense in die omgewing besoek het. Party het ’n woonwa gebruik—niks buitensporigs nie, net ’n plek waar hulle kon slaap en eet. Ander het in tente geslaap terwyl hulle van die een plek na die ander gegaan het. Op sommige plekke het die broers “pionierkampe” gereël. Getuies in die gebied het moontlik ’n huis gemeubileer, en een persoon het dan die taak gekry om daaroor toesig te hou. Die pioniers wat in daardie gebied gedien het, kon daar woon en het dan die onkoste gedeel.

Hierdie voltydse werkers het nie toegelaat dat ’n gebrek aan geld skaapgeaarde mense verhinder om Bybellektuur te ontvang nie. Die pioniers het lektuur dikwels vir aartappels, botter, eiers, vars en ingemaakte vrugte, hoenders, seep en byna enigiets anders verruil. Hulle het nie geld gemaak nie; dit was eerder ’n manier om opregtes te help om die Koninkryksboodskap te kry terwyl hulle tegelykertyd in hulle lewensbehoeftes voorsien het sodat hulle hulle bediening kon vervul. Hulle het vertroue gehad in Jesus se belofte dat die nodige voedsel en onderdak voorsien sou word as hulle “eers die koninkryk van God en [God se] geregtigheid” soek.—Matt. 6:33.

Bereid om te dien waar dit ook al nodig was

Hulle opregte begeerte om die werk te doen wat Jesus vir sy dissipels gegee het, het die voltydse werkers na nuwe gebiede, dikwels selfs na nuwe lande, geneem. Toe Frank Rice in 1931 genooi is om Australië te verlaat en die verkondiging van die goeie nuus op Java (nou ’n deel van Indonesië) te begin, was hy reeds tien jaar in die voltydse bediening. Maar nou was daar nuwe gebruike en klanke, asook nuwe tale, om te leer. Hy kon Engels gebruik om vir sommige in die winkels en kantore te getuig, maar hy wou ook vir ander getuig. Hy het hard geleer, en binne drie maande kon hy Nederlands goed genoeg praat sodat hy van huis tot huis kon gaan. Toe het hy Maleis leer praat.

Frank was maar 26 jaar oud toe hy na Java toe gegaan het, en hy het vir die grootste gedeelte van die ses jaar daar en op Soematra op sy eie gewerk. (Clem Deschamp en Bill Hunter het teen die einde van 1931 van Australië af gekom om met die werk te help. Hulle het as ’n span ’n predikingsreis na die binneland onderneem, terwyl Frank in en om die hoofstad van Java gewerk het. Later het Clem en Bill ook toewysings ontvang wat hulle na verskillende gebiede geneem het.) Daar was geen gemeentelike vergaderinge wat Frank kon bywoon nie. Soms was hy baie eensaam, en hy moes meer as een maal teen gedagtes stry om moed op te gee en na Australië terug te gaan. Maar hy het volhard. Hoe? Die geestelike voedsel in Die Wagtoring het gehelp om hom te versterk. In 1937 het hy ’n toewysing in Indo-China ontvang, waar hy gedurende die gewelddadige tyd ná die Tweede Wêreldoorlog naelskraap aan die dood ontkom het. In 1970 het hy steeds daardie dienswillige gesindheid gehad toe hy geskryf het om te sê hoe bly hy is dat sy hele gesin Jehovah dien en dat hy en sy vrou weer eens besig was met voorbereidsels om na ’n plek in Australië te gaan waar daar hulp nodig was.

‘Hulle vertrou op Jehovah met hulle hele hart’

Claude Goodman was vasbeslote om ‘met sy hele hart op Jehovah te vertrou en nie op sy eie insig te steun nie’, en daarom het hy gekies om pleks van ’n sekulêre sakegeleentheid die kolporteurdiens as ’n Christen-evangeliedienaar na te strewe (Spr. 3:5, 6). Hy het langer as ’n jaar saam met Ronald Tippin, wat hom die waarheid help leer het, as ’n kolporteur in Engeland gedien. Toe, in 1929, het die twee hulle beskikbaar gestel om na Indië toe te gaan.c Wat ’n uitdaging het dit tog ingehou!

Hulle het in die daaropvolgende jare nie net te voet en met passasierstreine en busse gereis nie, maar ook met goederetreine, oskarre, kamele, sampans, riksjas en selfs per vliegtuig en met ’n private trein. Soms het hulle hulle bed in die wagkamers by stasies, in ’n veestal, op die gras in woude of op ’n beesmisvloer in ’n kothuisie gemaak, maar daar was ook tye dat hulle in weelderige hotelle en in ’n radja se paleis geslaap het. Soos die apostel Paulus het hulle geleer hoe om tevrede te wees of hulle nou min of ’n oorvloed gehad het (Filip. 4:12, 13). Hulle het gewoonlik baie min materiële besittings gehad, maar het nooit kortgekom wat hulle werklik nodig gehad het nie. Hulle het persoonlik ervaar hoe Jesus se belofte vervul word dat die materiële lewensbehoeftes voorsien sal word as hulle eers die Koninkryk en God se geregtigheid soek.

Hulle het ernstige aanvalle van breekbeenkoors, malaria en ingewandskoors deurgemaak, maar mede-Getuies het liefdevol na hulle omgesien. Daar moes in die smerigheid van stede soos Kalkutta gewerk word, en getuieniswerk moes op die teeplantasies in die berge van Ceylon (nou bekend as Sri Lanka) gedoen word. Lektuur is aangebied om in die geestelike behoeftes van die mense te voorsien, opnames is in die plaaslike tale gespeel en toesprake is gehou. Namate die werk uitgebrei het, het Claude ook geleer hoe om ’n drukpers te bedien en na die werk in die Genootskap se takkantoor om te sien.

In sy 87ste lewensjaar kon hy terugkyk op ’n lewe vol ondervindinge in Jehovah se diens in Engeland, Indië, Pakistan, Ceylon, Birma (nou Myanma), Maleia, Thailand en Australië. As ’n ongetroude jong man, asook as ’n eggenoot en vader, het hy die Koninkryk eerste in sy lewe gehou. Hy het die voltydse bediening betree minder as twee jaar nadat hy gedoop is, en hy het dit vir die res van sy lewe as sy loopbaan beskou.

God se krag word in swakheid tot volmaaktheid gebring

Ben Brickell was nog een van daardie ywerige Getuies—soos ander mense, aangesien hy dieselfde behoeftes en swakhede as hulle gehad het. Hy het buitengewone geloof gehad. Hy het in 1930 in Nieu-Seeland kolporteurwerk begin doen waar hy in gebiede getuig het wat eers dekades later weer gedek is. Twee jaar later, in Australië, het hy ’n predikingsreis van vyf maande onderneem deur ’n woestynlandstreek waar daar nog nooit voorheen getuieniswerk gedoen is nie. Sy fiets was swaar gelaai met komberse, klere, kos en boeke om te versprei. Hoewel ander mense gesterf het toe hulle deur hierdie gebied probeer reis het, het hy met vertroue in Jehovah deurgedruk. Daarna het hy in Maleisië gedien waar hy ernstige hartprobleme opgedoen het. Hy het nie tou opgegooi nie. Nadat hy ’n tyd lank aangesterk het, het hy die voltydse predikingswerk in Australië hervat. Ongeveer ’n dekade later het hy weens ernstige siekte in die hospitaal beland, en toe hy ontslaan is, het die dokter vir hom gesê dat hy “85 persent ongeskik is vir werk”. Hy kon nie eers met die straat af loop om inkopies te doen sonder om kort-kort te rus nie.

Maar Ben Brickell was vasbeslote om weer aan die gang te kom, en hy het ook, terwyl hy gerus het wanneer dit nodig was. Hy het spoedig weer getuieniswerk in die ruwe Australiese agterveld gedoen. Hy het gedoen wat hy kon vir sy gesondheid, maar sy diens aan Jehovah was die belangrikste in sy lewe tot sy dood 30 jaar later toe hy in sy middel-sestigerjare was.d Hy het besef dat wat hy as gevolg van sy fisiese swakheid kortgekom het deur Jehovah se krag aangevul kon word. By ’n byeenkoms in Melbourne in 1969 het hy by ’n pioniertoonbank gewerk met ’n groot etiket op sy lapel wat gelui het: “As jy meer oor die pionierdiens wil weet, vra my.”—Vergelyk 2 Korinthiërs 12:7-10.

Die goeie nuus bereik oerwouddorpies en mynkampe in die berge

Die ywer vir Jehovah se diens het nie net mans nie, maar ook vroue beweeg om in onaangeraakte gebiede te gaan werk. Freida Johnson was een van die gesalfdes, taamlik klein gebou en in haar vyftigerjare toe sy gedeeltes van Sentraal-Amerika alleen gedek en te perd in gebiede soos die noordkus van Honduras gewerk het. Dit het geloof geverg om so op haar eie in hierdie gebied te werk en plekke soos die verspreide piesangplantasies, die dorpe La Ceiba, Tela en Trujillo en selfs die afgeleë Carib-dorpies in die binneland te besoek. Sy het in 1930 en 1931, weer in 1934 asook in 1940 en 1941 getuieniswerk daar gedoen en duisende stukke lektuur met Bybelwaarhede versprei.

Nog ’n ywerige werker het haar loopbaan in die voltydse bediening gedurende daardie jare begin. Dit was Kathe Palm wat in Duitsland gebore is. Wat haar tot optrede aangespoor het, was die byeenkoms wat sy in 1931 in Columbus, Ohio, bygewoon het waar die Bybelstudente die naam Jehovah se Getuies aangeneem het. Dit is waar sy aanvanklik besluit het om eers die Koninkryk te soek, en in 1992, toe sy 89 jaar oud was, het sy dit steeds gedoen.

Haar pionierdiens het in New York-stad begin. Sy het later in Suid-Dakota ’n paar maande lank ’n maat gehad, maar het toe alleen te perd verder gegaan. Toe sy genooi is om in Colombia, Suid-Amerika, te dien, het sy die uitnodiging gretig aanvaar en teen die einde van 1934 daar aangekom. Sy het weer eens ’n ruk lank ’n maat gehad, maar was daarna alleen. Dit het haar nie laat voel dat sy moet tou opgooi nie.

’n Egpaar het haar genooi om in Chili by hulle aan te sluit. Hier was nog ’n ontsaglike gebied, ’n gebied wat 4 265 kilometer langs die weskus van die Suid-Amerikaanse kontinent af gestrek het. Nadat sy in die hoofstad se kantoorgeboue getuig het, het sy na die afgeleë noorde vertrek. Sy het in elke mynkamp, elke maatskappydorp, groot of klein, van huis tot huis getuig. Werkers hoog in die Andesgebergte was verbaas dat ’n vrou hulle so alleen besoek, maar sy was vasbeslote om niemand oor te slaan in die gebied wat aan haar toegewys is nie. Later het sy na die suide gegaan, waar ’n paar van die estancias (skaapplase) tot 100 000 hektaar beslaan het. Die mense daar was vriendelik en gasvry en het haar etenstye genooi om by hulle te eet. Jehovah het só en op ander maniere vir haar gesorg sodat sy die lewensbenodigdhede gehad het.

Die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk het haar lewe gevul.e Van al die jare van haar diens het sy gesê: “Ek dink ek het ’n baie vrugbare lewe gehad. Elke jaar wanneer ek ’n byeenkoms van Jehovah se volk bywoon, kry ek ’n warm gevoel van tevredenheid wanneer ek sien hoe baie mense met wie ek Bybelstudies gehou het nou die goeie nuus verkondig en ander help om na die water van die lewe te kom.” Sy het die vreugde gehad om te sien hoe die lowers van Jehovah in Chili van ongeveer 50 tot meer as 44 000 toeneem.

“Hier is ek, stuur my”

Martin Poetzinger is in Duitsland gedoop nadat hy ’n toespraak wat gegrond was op Jehovah se uitnodiging om hom te dien soos dit in Jesaja 6:8 opgeteken is, asook die profeet se positiewe antwoord: “Hier is ek, stuur my”, gehoor het. Twee jaar later, in 1930, het hy die voltydse bediening in Beiere betree.f Kort daarna het amptenare in daardie gebied die predikingswerk deur die Getuies verbied, vergaderplekke gesluit en lektuur gekonfiskeer. Die Gestapo was ’n bedreiging. Maar daardie verwikkelinge in 1933 het nie broer Poetzinger se bediening beëindig nie.

Hy is genooi om in Bulgarye te dien. Getuieniskaarte in Bulgaars is gebruik om die Bybellektuur aan te bied. Maar baie mense was ongeletterd. Broer Poetzinger het dus lesse geneem om hulle taal, wat die Cirilliese alfabet gebruik, te leer. Wanneer lektuur by ’n gesin gelaat is, moes die kinders dit dikwels vir hulle ouers voorlees.

Broer Poetzinger was die grootste gedeelte van die eerste jaar alleen, en hy het geskryf: “By die Gedenkmaal het ek die toespraak gehou, gebid en die vergadering self afgesluit.” In 1934 is die buitelanders gedeporteer, en hy het dus na Hongarye gegaan. Hier moes hy weer ’n nuwe taal leer sodat hy die goeie nuus kon verkondig. Van Hongarye af het hy na die lande toe gegaan wat destyds as Tsjeggo-Slowakye en Joego-Slawië bekend gestaan het.

Hy het talle vreugdevolle ondervindinge gehad—hy het liefhebbers van die waarheid gevind terwyl hy met lektuur op sy rug deur die platteland en dorpies geloop het; hy het Jehovah se sorg ondervind wanneer gasvrye mense hom kos en selfs slaapplek vir die nag aangebied het; hy het tot laat in die nag met mense gesels wat na sy woonplek toe gekom het om meer oor die vertroostende Koninkryksboodskap te hoor.

Sy geloof is ook swaar beproef. Toe hy buite sy geboorteland gedien het en nie geld gehad het nie, het hy ernstig siek geword. Geen dokter was bereid om hom te behandel nie. Maar Jehovah het voorsien. Hoe? Daar is eindelik met die senior konsulterende geneesheer van die plaaslike hospitaal in aanraking gekom. Hierdie man, wat vas in die Bybel geglo het, het na broer Poetzinger omgesien asof hy sy eie seun was en het geen betaling gevra nie. Die dokter was beïndruk deur die selfopofferende gees van hierdie jong man wat geblyk het uit die werk wat hy gedoen het, en hy het ’n stel van die Genootskap se boeke as ’n geskenk aanvaar.

Vier maande ná sy troue is hy weer swaar beproef. Broer Poetzinger is in Desember 1936 gearresteer en eers in een en toe in ’n ander konsentrasiekamp opgesluit, terwyl sy vrou op haar beurt in ’n ander konsentrasiekamp aangehou is. Hulle het mekaar nege jaar lank nie gesien nie. Jehovah het hierdie wrede vervolging nie verhoed nie, maar hy het Martin, sy vrou Gertrud en duisende ander versterk sodat hulle dit kon deurstaan.

Nadat hy en sy vrou vrygelaat is, het broer Poetzinger baie jare lank as ’n reisende opsiener in Duitsland gedien. Hy het opwindende byeenkomste bygewoon wat in die naoorlogse tydperk op Hitler se eertydse paradeterrein in Neurenberg gehou is. Maar hierdie keer het ’n ontsaglike menigte lojale ondersteuners van God se Koninkryk daardie plek gevul. Hy het onvergeetlike byeenkomste in New York se Yankee-stadion bygewoon. Hy het sy opleiding by die Wagtoring-Bybelskool Gilead ten volle geniet. En in 1977 het hy ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies geword. Sy beskouing tot aan die einde van sy aardse loopbaan in 1988 kan die beste met hierdie woorde beskryf word: ‘Hierdie een ding doen ek—ek soek eers die Koninkryk.’

Hulle leer wat dit werklik beteken

Die gees van selfopoffering is beslis nie iets nuuts onder Jehovah se Getuies nie. Toe die heel eerste deel van Millennial Dawn in 1886 uitgegee is, is die kwessie van toewyding openhartig bespreek. Daar is skriftuurlik getoon dat ware Christene alles aan God “toewy”; waaronder hulle vermoëns, hulle materiële besittings, selfs hulle lewe. Christene word dus bestuurders van die dinge wat aan God “toegewy” is, en as bestuurders moet hulle rekenskap gee—nie aan mense nie, maar aan God.

Al hoe meer van die Bybelstudente het waarlik van hulleself in God se diens gegee. Hulle het hulle vermoëns, hulle besittings, hulle lewenskrag ten volle gebruik om sy wil te doen. Daarenteen was daar diegene wat gemeen het dat dit die belangrikste was om wat hulle ’n Christelike karakter genoem het aan te kweek sodat hulle kon kwalifiseer om saam met Christus ’n aandeel in die Koninkryk te hê.

Hoewel broer Russell dikwels gepraat het oor die verantwoordelikheid van elke ware Christen om vir ander oor God se Koninkryk te getuig, is daar ná die Eerste Wêreldoorlog selfs groter klem daarop gelê. Die artikel “Karakter of verbond—Watter?” in Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Mei 1926 is ’n treffende voorbeeld. Dit het ’n openhartige bespreking bevat van die skadelike uitwerking van wat karakterontwikkeling genoem is en het daarna beklemtoon hoe belangrik dit is om jou verpligtinge teenoor God deur dade na te kom.

Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Julie 1920 het vroeër Jesus se groot profesie oor ‘die teken van sy koms en van die voleinding van die wêreld’ ondersoek (Matt. 24:3). Dit het die aandag gevestig op die predikingswerk wat ter vervulling van Mattheüs 24:14 gedoen moet word en het die boodskap wat verkondig moet word, geïdentifiseer deur te sê: “Die goeie nuus hier is aangaande die einde van die ou orde van dinge en die oprigting van die Messias se koninkryk.” Op grond van waar Jesus hierdie werk in verhouding tot die ander aspekte van die teken noem, het Die Wagtoring verduidelik dat dit gedoen moes word “tussen die tyd van die groot wêreldoorlog [die Eerste Wêreldoorlog] en die tyd van die ‘groot verdrukking’ waarvan die Heer in Mattheüs 24:21, 22 praat.” Daardie werk was dringend. Wie sou dit doen?

Dit was duidelik dat hierdie verantwoordelikheid op die lede van “die kerk”, die ware Christengemeente, gerus het. Maar in 1932 is hulle deur Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Augustus gemaan om die “Jonadab-klas”, in ooreenstemming met die gees van Openbaring 22:17, aan te moedig om saam met hulle aan die werk deel te neem. Die Jonadab-klas—wat die hoop het om vir ewig op die Paradysaarde te lewe—het daaraan gehoor gegee, baie van hulle met groot ywer.

Die belangrikheid van hierdie werk is al sterk beklemtoon: “Dit is net so belangrik om aan die diens van die Here deel te neem as om ’n vergadering by te woon”, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) in 1921 opgemerk. “Elkeen moet ’n verkondiger van die evangelie wees”, het dit in 1922 opgemerk. “Jehova[h] het die prediking die allerbelangrikste werk gemaak wat enigeen van ons in hierdie wêreld kan doen”, het dit in 1949 gesê. Die apostel Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 9:16 is dikwels aangehaal: “Die dwang is my opgelê, en wee my as ek die evangelie nie verkondig nie!” Hierdie teks is op elkeen van Jehovah se Getuies toegepas.

Hoeveel mense doen die predikingswerk? In watter mate? Waarom?

Is enigiemand gedwing om hierdie werk te doen? “Nee”, het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 Augustus 1919 geantwoord, “niemand is verplig om enigiets te doen nie. Die diens is geheel en al vrywillig en word uit liefde vir die Here en sy saak van regverdigheid gedoen. Jehovah kommandeer nooit enigiemand nie.” Die Wagtoring (Engelse uitgawe) van 1 September 1922 het verder oor die beweegrede agter sulke diens gesê: “Die een wie se hart werklik dankbaar is en waardeer wat God vir hom doen, sal iets van sy kant wil doen; en hoe groter sy waardering vir God se goedhartigheid teenoor hom word, hoe groter sal sy liefde wees; en hoe groter sy liefde, hoe groter sy begeerte om hom te dien.” Daar is verduidelik dat liefde vir God getoon word deur sy gebooie te bewaar, en een van daardie gebooie is om die goeie tyding van die Koninkryk van God te verkondig.—Jes. 61:1, 2; 1 Joh. 5:3.

Diegene wat hierdie werk aangeneem het, doen dit nie omdat hulle enigsins deur wêreldse ambisie gelok word nie. Daar is reguit vir hulle gesê dat hulle as “dwaas, swak, nederig” beskou sal word as hulle van huis tot huis gaan en lektuur op straathoeke aanbied, dat hulle “verag, vervolg” sal word en dat hulle “van ’n wêreldlike standpunt nie veel [sal] tel nie”. Maar hulle weet dat Jesus en sy vroeë dissipels dieselfde behandel is.—Joh. 15:18-20; 1 Kor. 1:18-31.

Dink Jehovah se Getuies dat hulle op die een of ander manier redding deur hulle predikingsbedrywigheid verdien? Glad nie! Die boek Verenig in die aanbidding van die enigste ware God wat sedert 1983 gebruik word om studente te help om tot Christelike rypheid te vorder, bespreek hierdie saak. Dit sê: “Jesus se offer het ons ook die geleentheid gebied om die ewige lewe te verwerf . . . Dit is nie ’n beloning wat ons verdien nie. Ongeag hoeveel ons in Jehovah se diens doen, ons kan nooit soveel verdienste verkry dat God ons die lewe skuld nie. Die ewige lewe is ‘die genadegawe van God . . . in Christus Jesus, onse Here’ (Rom. 6:23; Ef. 2:8-10). As ons nietemin geloof in daardie gawe het sowel as waardering vir die wyse waarop dit moontlik gemaak is, sal ons daardie geloof openbaar. As ons onderskei hoe wonderlik Jehovah Jesus gebruik het om Sy wil te volbring en hoe noodsaaklik dit is dat ons almal Jesus se voetstappe noukeurig navolg, sal ons die Christelike bediening een van die belangrikste dinge in ons lewe maak.”

Kan daar gesê word dat al Jehovah se Getuies verkondigers van God se Koninkryk is? Ja! Dit is wat dit beteken om een van Jehovah se Getuies te wees. Meer as ’n halfeeu gelede was daar sommige wat gemeen het dat dit nie vir hulle nodig was om in die openbaar en van huis tot huis velddiens te doen nie. Maar vandag sê nie een van Jehovah se Getuies dat hulle van sulke diens vrygestel is weens hulle posisie in die plaaslike gemeente of in die wêreldwye organisasie nie. Mans en vroue asook jonk en oud neem daaraan deel. Hulle beskou dit as ’n kosbare voorreg, ’n heilige diens. Baie doen dit ten spyte van ernstige gebreke. En dié wat eenvoudig nie fisies daartoe in staat is om van huis tot huis te gaan nie, vind ander maniere waarop hulle mense kan bereik en persoonlik vir hulle kan getuig.

In die verlede was daar soms ’n neiging om nuwelinge te vroeg toe te laat om velddiens te doen. Maar in onlangse dekades is daar groter klem daarop gelê dat hulle bekwaam genoeg moet wees voordat hulle genooi word om velddiens te doen. Wat beteken dit? Dit beteken nie dat hulle alles in die Bybel moet kan verduidelik nie. Maar soos die boek Georganiseer om ons bediening te vervul verduidelik, moet hulle die Bybel se grondleerstellings ken en glo. Hulle moet ook rein lewens in ooreenstemming met Bybelstandaarde lei. Elkeen moet waarlik ’n Getuie van Jehovah wil wees.

Niemand verwag dat al Jehovah se Getuies ewe veel velddiens sal doen nie. Mense se omstandighede verskil. Ouderdom, gesondheid, gesinsverantwoordelikhede en die diepte van ’n mens se waardering speel alles ’n rol. Dit is nog nooit buite rekening gelaat nie. Die Wagtoring van 15 April 1951 (Engelse uitgawe, 1 Desember 1950) het dit beklemtoon waar dit “die goeie grond” in Jesus se gelykenis van die saaier in Lukas 8:4-15 bespreek het. Die Koninkryksbedieningskoolkursus wat in 1972 vir ouere manne voorberei is, het die vereiste om ‘Jehovah met jou hele siel lief te hê’ ondersoek en het verduidelik: “Wat belangrik is, is nie hoeveel jy in vergelyking met iemand anders doen nie, maar om te doen wat jy kan” (Mark. 14:6-8). Dit het nugtere selfondersoek aangemoedig, maar het ook getoon dat sulke liefde beteken “dat elke greintjie van ’n mens se wese daarby betrokke is om God liefdevol te dien; geen funksie, vermoë of begeerte in die lewe word uitgesluit nie”. Al ons vermoëns, ons hele siel, moet ingespan word om God se wil te doen. Daardie handboek het beklemtoon dat ‘God nie net deelneming vereis nie, maar heelhartige diens’.—Mark. 12:30.

Ongelukkig is onvolmaakte mense geneig om tot die uiterste te gaan en te veel klem op een ding te lê en die ander dan te verwaarloos. Broer Russell moes dus in 1906 waarsku dat selfopoffering nie beteken dat jy ander moet opoffer nie. Dit beteken nie dat ’n mens dit mag nalaat om redelike voorsiening vir jou vrou, afhanklike kinders of bejaarde ouers te maak sodat jy vry kan wees om vir ander te preek nie. Soortgelyke herinneringe het sedertdien van tyd tot tyd in die Wagtoring-publikasies verskyn.

Die hele organisasie het geleidelik met behulp van God se Woord daarna begin streef om Christelike balans te verkry—om ywer vir die diens van God aan die dag te lê en terselfdertyd gepaste aandag te skenk aan alle aspekte wat daaraan verbonde is om ’n ware Christen te wees. Hoewel “karakterontwikkeling” op ’n verkeerde begrip gebou was, het Die Wagtoring getoon dat die belangrikheid van die vrugte van die gees en Christelike gedrag nie onderskat moet word nie. In 1942 het Die Wagtoring baie reguit gesê: “Sommige het onverstandiglik besluit dat as hulle aan die werk van huis tot huis deelneem, hulle met vrydom van straf enige gedragslyn kan volg wat hulle luste mag begeer. ’n Mens moet onthou dat om maar net aan die getuieniswerk deel te neem nie al is wat vereis word nie.”—1 Kor. 9:27.

Prioriteite word in orde gekry

Jehovah se Getuies het besef dat hulle hulle prioriteite in orde moet kry as hulle ‘die Koninkryk en God se geregtigheid eers wil soek’. Dit behels dat persoonlike studie van God se Woord en die gereelde bywoning van gemeentelike vergaderinge ’n gepaste plek in ’n mens se lewe moet inneem en dat jy nie moet toelaat dat ander strewes die voorkeur geniet nie. Dit behels dat jy besluite neem wat ’n ware begeerte weerspieël om aan die vereistes van God se Koninkryk te voldoen soos dit in die Bybel uiteengesit is. Dit behels dat ’n mens Bybelbeginsels as die grondslag gebruik vir besluite in jou gesinslewe, ontspanning, sekulêre opvoeding, werk, sakegebruike en jou verhouding met jou medemens.

Om eers die Koninkryk te soek, beteken meer as om elke maand bloot met ander oor God se voorneme te praat. Dit beteken dat ’n mens Koninkryksbelange die eerste plek in jou hele lewe gee, terwyl jy behoorlik omsien na ander skriftuurlike verpligtinge.

Daar is baie maniere waarop toegewyde Getuies van Jehovah Koninkryksbelange bevorder.

Die voorreg van Betheldiens

Sommige dien as lede van die wêreldwye Bethelgesin. Dit is ’n groep voltydse bedienaars wat hulle vrywillig aangebied het om enige taak te verrig wat hulle gegee word om Bybellektuur voor te berei en uit te gee, die nodige kantoorwerk te doen en die nodige steundienste vir hierdie werksaamhede te voorsien. Dit is nie werk waardeur hulle prestige of materiële besittings verwerf nie. Dit is hulle begeerte om Jehovah te eer, en hulle is tevrede met die voorsieninge wat vir hulle gemaak word ten opsigte van voedsel, verblyf en ’n klein terugbetaling van persoonlike uitgawes. Weens die Bethelgesin se lewenswyse beskou sekulêre owerhede in die Verenigde State hulle byvoorbeeld as lede van ’n godsdiensorde wat ’n eed van armoede afgelê het. Diegene wat in Bethel werk, put vreugde daaruit om hulle lewe ten volle in Jehovah se diens te gebruik en om werk te doen wat groot getalle van hulle Christenbroers en belangstellendes, selfs in verskillende wêrelddele, tot voordeel strek. Hulle neem soos ander Getuies van Jehovah ook gereeld aan die veldbediening deel.

Die eerste Bethelgesin (of, Bible House-gesin, soos hulle destyds bekend gestaan het) was in Allegheny, Pennsilvanië. In 1896 was daar 12 personeellede. In 1992 was daar meer as 12 900 Bethelgesinslede wat in 99 lande gedien het. Daarbenewens reis daar, waar die Genootskap nie genoeg huisvesting op sy perseel het nie, honderde ander vrywilligers daagliks na Bethelhuise en -fabrieke om daar te werk. Dit is vir hulle ’n voorreg om ’n aandeel te hê in die werk wat gedoen word. Wanneer daar hulp nodig is, is daar duisende ander Getuies wat aanbied om hulle sekulêre werk en ander bedrywighede vir verskillende tydperke agter te laat om te help met die bou van fasiliteite wat die Genootskap in verband met die wêreldwye verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk nodig het.

Baie van die Bethelgesinslede het Betheldiens hulle lewenstaak gemaak. Frederick W. Franz, wat in 1977 die Wagtoringgenootskap se vierde president geword het, was teen daardie tyd reeds 57 jaar lank ’n lid van die Bethelgesin in New York, en hy het nog 15 jaar in Betheldiens gebly tot sy dood in 1992. Heinrich Dwenger het sy Betheldiens in 1911 in Duitsland begin en het daarna nederig gedien waar hy ook al ’n toewysing ontvang het; en in 1983, die jaar toe hy gesterf het, het hy steeds sy diens as ’n lid van die Bethelgesin in Thun, Switserland, geniet. George Phillips, van Skotland, het in 1924 ’n toewysing in die Suid-Afrikaanse takkantoor aanvaar (toe die tak toesig gehou het oor die predikingswerk van Kaapstad tot in Kenia) en hy het tot sy dood in 1982 (toe daar sewe takkantore van die Genootskap en sowat 160 000 Getuies in daardie gebied bedrywig was) in Suid-Afrika gedien. Christensusters, soos Kathryn Bogard, Grace DeCecca, Irma Friend, Alice Berner en Mary Hannan het ook hulle lewe as volwassenes tot die einde aan Betheldiens gewy. Baie ander Bethelgesinslede dien ook al 10, 30, 50, 70 jaar en langer.g

Selfopofferende reisende opsieners

Daar is wêreldwyd sowat 3 900 kring- en streekopsieners wat, saam met hulle vrouens, ook in toewysings dien waar hulle ook al nodig is, wat gewoonlik in hulle tuisland is. Baie van hulle het ’n huis agtergelaat en trek nou elke week of elke paar weke om die toegewese gemeentes te bedien. Hulle ontvang nie ’n salaris nie, maar is dankbaar vir die kos en verblyf waar hulle dien, asook vir die klein voorsiening wat vir persoonlike uitgawes gemaak word. In die Verenigde State, waar daar in 1992 499 kring- en streekopsieners gedien het, is hierdie reisende ouere manne gemiddeld 54 jaar oud en dien party al 30 of 40 jaar of langer in hierdie hoedanigheid. Hierdie opsieners reis in baie lande per motor. In gebiede in die Stille Oseaan moet hulle dikwels per vliegtuig of per boot reis. Op baie plekke bereik kringopsieners afgeleë gemeentes te perd of te voet.

Pioniers voorsien in ’n belangrike behoefte

Die Bestuursliggaam kan reël dat spesiale pioniers gestuur word na plekke waar daar geen Getuies is nie om die verkondiging van die goeie nuus daar te begin of om hulp te verleen in gebiede waar dit besonder nodig is. Hulle is voltydse bedienaars wat ten minste 140 uur per maand in die veldbediening deurbring. Hulle stel hulle beskikbaar om te dien waar hulle hulp ook al nodig is, in hulle eie land of, in sommige gevalle, in nabygeleë lande. Aangesien hulle diensvereistes min of geen tyd toelaat om sekulêre werk te doen sodat hulle in hulle materiële behoeftes kan voorsien nie, ontvang hulle ’n klein terugbetaling vir onkoste met betrekking tot verblyf en ander benodigdhede. In 1992 was daar meer as 14 500 spesiale pioniers op verskillende plekke in die wêreld.

Toe die eerste spesiale pioniers in 1937 uitgestuur is, het hulle die voortou geneem met die werk om opnames van Bybeltoesprake vir huisbewoners by hulle deure te speel en opnames as die grondslag vir Bybelbesprekings tydens herbesoeke te gebruik. Dit is in groot stede gedoen waar daar reeds gemeentes was. Ná ’n paar jaar is daar begin om die spesiale pioniers spesifiek na gebiede te stuur waar daar geen gemeentes was nie of waar gemeentes baie hulp nodig gehad het. Honderde nuwe gemeentes is as gevolg van hulle doeltreffende werk gestig.

Pleks van ’n gebied deur te werk en dan verder te gaan, het hulle ’n spesifieke gebied herhaaldelik gedek en na al die belangstellendes teruggegaan en Bybelstudies gehou. Vergaderinge is vir belangstellendes gereël. Gevolglik het ’n spesiale pionier in Lesotho tydens sy eerste week in ’n nuwe toewysing almal wat hy teëgekom het, genooi om te kom kyk hoe Jehovah se Getuies die Teokratiese Bedieningskool hou. Hy en sy gesin het die hele program aangebied. Toe het hy almal na die Wagtoring-studie genooi. Nadat mense se aanvanklike nuuskierigheid bevredig is, het 30 aangehou om die Wagtoring-studie by te woon, en die gemiddelde bywoningsyfer van die skool was 20. In lande waar die Gilead-opgeleide sendelinge baie gedoen het om die verkondiging van die goeie nuus aan die gang te sit, het die groei soms vinniger plaasgevind wanneer die Getuies wat in daardie lande gebore is hulle vir die spesiale pionierdiens begin bekwaam het, want hulle kon dikwels met groter doeltreffendheid onder die plaaslike mense werk.

Benewens hierdie ywerige werkers is daar nog honderdduisende ander Getuies van Jehovah wat hulle ook kragtig inspan om Koninkryksbelange te bevorder. Hierdie groep bestaan uit jonk en oud, mans en vroue, getroudes en ongetroudes. Gewone pioniers wy ’n minimum van 90 uur elke maand aan die veldbediening; hulppioniers ten minste 60 uur. Hulle besluit waar hulle wil preek. Die meeste van hulle werk in gevestigde gemeentes; sommige gaan na afgesonderde gebiede. Hulle voorsien in hulle eie fisiese behoeftes deur sekulêre werk te doen of hulle gesinslede help hulle om in hulle behoeftes te voorsien. Gedurende 1992 het meer as 914 500 vir ten minste ’n gedeelte van die jaar as gewone of hulppioniers gedien.

Skole met spesiale oogmerke

Spesiale opleiding word voorsien om vrywilligers vir sekere vorme van diens toe te rus. Sedert 1943 is duisende ervare bedienaars byvoorbeeld al in die Gileadskool vir sendingwerk opgelei, en gegradueerdes is na alle wêrelddele gestuur. In 1987 is die Bedieningsopleidingskool in werking gestel om in spesiale behoeftes te help voorsien, onder andere om na gemeentes, asook ander verpligtinge, om te sien. Hierdie skool bied klasse aan in enige land waar dit nuttig sal wees, en sodoende word die nodigheid dat studente na ’n sentrale plek moet reis en ’n nuwe taal moet leer om by die skool baat te vind tot ’n minimum beperk. Almal wat genooi word om hierdie skole by te woon, is ouere manne en bedieningsknegte wat bewys gelewer het dat hulle waarlik eers die Koninkryk soek. Baie het hulleself beskikbaar gestel om in ander lande te dien. Hulle het dieselfde gesindheid as die profeet Jesaja wat gesê het: “Hier is ek, stuur my.”—Jes. 6:8.

Die Pionierdiensskool is in 1977 in werking gestel om diegene wat reeds as gewone en spesiale pioniers dien, te help om bekwamer te word. Waar moontlik is die skool in elke kring dwarsdeur die hele wêreld gereël. Al die pioniers is genooi om by hierdie kursus van twee weke baat te vind. Sedertdien ontvang pioniers wat hulle eerste diensjaar voltooi het dieselfde opleiding. Tot in 1992 is sowat 100 000 pioniers in die Verenigde State alleen in hierdie skool opgelei, en sedertdien word daar elke jaar meer as 10 000 ander opgelei. Nog 55 000 is in Japan opgelei, 38 000 in Mexiko, 25 000 in Brasilië en 25 000 in Italië. Benewens hierdie kursus geniet pioniers gereeld ’n spesiale vergadering met die kringopsiener tydens sy halfjaarlikse besoeke aan elke gemeente en ’n spesiale opleidingsessie met die kring- en die streekopsiener wanneer die jaarlikse kringbyeenkoms gehou word. Diegene wat die groot skare Koninkryksverkondigers uitmaak wat as pioniers dien, is dus nie net gewillige werkers nie, maar ook goed opgeleide bedienaars.

Diens waar hulp nodig is

Derduisende van Jehovah se Getuies—waarvan sommige pioniers is en ander nie—het hulle beskikbaar gestel om nie net in hulle tuisgemeenskap te dien nie, maar ook in ander gebiede waar daar ’n groot behoefte aan verkondigers van die goeie nuus is. Duisende bestee elke jaar ’n paar weke of maande, na gelang van wat hulle persoonlik kan reël, daaraan om vir mense te getuig wat nie gereeld deur Jehovah se Getuies besoek word nie in gebiede wat dikwels baie ver van hulle huis af is. Duisende het al verhuis om sulke hulp oor ’n lang tydperk te verskaf. Baie van hulle is egpare of gesinne met kinders. Hulle het dikwels nie baie ver getrek nie, maar sommige het deur die jare heen herhaaldelik so verhuis. Baie van hierdie ywerige Getuies het selfs in die buiteland gaan dien—sommige ’n paar jaar lank en ander op ’n permanente grondslag. Hulle doen sekulêre werk om in hulle behoeftes te voorsien, en hulle verhuis op eie onkoste. Dit is hulle grootste begeerte om soveel moontlik te doen om die Koninkryksboodskap te verkondig.

’n Gesinshoof wat nie ’n Getuie is nie, verhuis dalk saam met sy gesin as gevolg van werksgeleenthede. Maar die gesinslede wat Getuies is, kan dit as ’n geleentheid beskou om die Koninkryksboodskap te verkondig. Dit was die geval met twee Getuies in die Verenigde State wat hulle in die laat sewentigerjare in ’n konstruksiekamp in die oerwoud in Suriname bevind het. Hulle het twee keer per week om 4:00 vm. opgestaan, ’n maatskappybus gehaal, ’n stamperige uur lange rit na ’n dorpie afgelê en die hele dag gepreek. Hulle het kort voor lank elke week 30 Bybelstudies gehou met mense wat na die waarheid gehonger het. Vandag is daar ’n gemeente in daardie deel van die reënwoud wat vroeër nooit bereik is nie.

Hulle gryp elke gepaste geleentheid aan om te getuig

Nie al Jehovah se Getuies verhuis natuurlik na ander lande of selfs na ander dorpe om hulle bediening uit te voer nie. Hulle omstandighede laat hulle moontlik nie toe om pionierdiens te doen nie. Hulle is nietemin bewus van die Bybelse vermaning om “alle ywer” aan die dag te lê en “altyd oorvloedig in die werk van die Here” te wees (2 Pet. 1:5-8; 1 Kor. 15:58). Hulle toon dat hulle eers die Koninkryk soek wanneer hulle Koninkryksbelange voor sekulêre werk en ontspanning stel. Diegene wie se harte vol waardering vir die Koninkryk is, neem so gereeld aan die veldbediening deel as wat hulle kan, en baie van hulle pas hulle omstandighede aan sodat hulle ’n groter aandeel daarin kan hê. Hulle is ook voortdurend wakker om gepaste geleenthede aan te gryp om vir ander oor die Koninkryk te getuig.

John Furgala, wat ’n ysterwarewinkel in Guayaquil, Ecuador, gehad het, het byvoorbeeld ’n aantreklike uitstalling van Bybellektuur in sy winkel gehad. Terwyl sy helper die bestelling bymekaargekry het, het John vir die klant getuig.

’n Ywerige Getuie in Nigerië het vir sy gesin gesorg deur as ’n elektriese kontrakteur te werk, en hy was ook vasbeslote om geleenthede wanneer hy met enigiemand in aanraking gekom het te gebruik om vir hulle te getuig. Aangesien dit sy eie sakeonderneming was, het hy die werkrooster bepaal. Hy het elke oggend, voor die dag se werk, sy vrou, kinders, werknemers en vakleerlinge bymekaargeroep om die dag se teks en ondervindinge uit die Yearbook of Jehovah’s Witnesses te bespreek. Aan die begin van elke jaar het hy ook vir sy klante een van die Wagtoringgenootskap se kalenders en twee tydskrifte gegee. Gevolglik het party van sy werknemers en party van sy klante Jehovah saam met hom begin aanbid.

Baie van Jehovah se Getuies lê daardie selfde gesindheid aan die dag. Ongeag wat hulle doen, hulle soek gedurig na geleenthede om die goeie nuus aan ander te verkondig.

’n Groot skare gelukkige, voltydse evangeliedienaars

Jehovah se Getuies se ywer vir die verkondiging van die goeie nuus het nie oor die jare heen verflou nie. Hoewel baie huisbewoners al baie definitief vir hulle gesê het dat hulle nie belangstel nie, is daar baie mense wat dankbaar is dat die Getuies hulle help om die Bybel te verstaan. Jehovah se Getuies is vasbeslote om aan te hou preek totdat Jehovah self ’n duidelike aanduiding gee dat hierdie werk voltooi is.

Pleks van te verslap, het die wêreldwye broederskap van Jehovah se Getuies in werklikheid hulle predikingsbedrywigheid verskerp. Die jaarlikse wêreldrapport het in 1982 getoon dat daar 384 856 662 uur aan die veldbediening bestee is. Tien jaar later (in 1992) is daar 1 024 910 434 uur aan hierdie werk gewy. Waaraan is hierdie groot toename in bedrywigheid te danke?

Jehovah se Getuies se getalle het weliswaar toegeneem. Maar nie in dieselfde mate nie. Terwyl die getal Getuies gedurende daardie tydperk met 80 persent gestyg het, het die pioniers se getalle met 250 persent die hoogte ingeskiet. Wêreldwyd was daar elke maand gemiddeld byna 1 uit elke 7 Getuies van Jehovah in die een of ander vertakking van die voltydse predikingswerk.

Wie het aan hierdie pionierdiens deelgeneem? Baie Getuies in die Republiek van Korea is byvoorbeeld huisvrouens. Gesinsverantwoordelikhede laat hulle moontlik nie almal toe om gereeld as pioniers te dien nie, maar baie het die lang winterskoolvakansies as geleenthede gebruik om hulppionierdiens te doen. Gevolglik was 53 persent van al die Getuies in die Republiek van Korea in Januarie 1990 in die een of ander vertakking van die voltydse diens.

In die vroeë jare was dit die ywerige pioniergees van die Filippynse Getuies wat hulle in staat gestel het om die honderde bewoonde eilande in die Filippyne met die Koninkryksboodskap te bereik. Daardie ywer is sedertdien selfs duideliker. In 1992 was daar in die Filippyne elke maand gemiddeld 22 205 verkondigers wat as pioniers aan die veldbediening deelgeneem het. Onder hulle was daar baie jongmense wat ‘aan hulle Skepper gedink het’ en hulle jeugdige krag in sy diens gebruik het (Pred. 12:1). Een van hierdie jongmense het ná ’n dekade in die pionierdiens gesê: “Ek het geleer om geduldig te wees, ’n eenvoudige lewe te lei, op Jehovah te vertrou en nederig te wees. Ek het weliswaar soms swaargekry en was soms moedeloos, maar nie een van hierdie dinge kan vergelyk word met die seëninge wat die pionierdiens gebring het nie.”

Gedurende April en Mei 1989 het Die Wagtoring Babilon die Grote, dit wil sê valse godsdiens in al sy vorme wêreldwyd, aan die kaak gestel. Die artikels is gelyktydig in 39 tale uitgegee en baie wyd versprei. In Japan, waar daar dikwels meer as 40 persent van die Getuies is wat aan die pionierdiens deelneem, het ’n nuwe hoogtepunt van 41 055 hulppioniers daardie April aansoek gedoen om met die werk te help. In die Osaka-prefektuur, in die stad Takatsoeki, het 73 van die 77 gedoopte verkondigers in die Otsoeka-gemeente daardie maand aan die een of ander vorm van die pionierdiens deelgeneem. Op 8 April, toe al die verkondigers in Japan aangespoor is om aan die verkondiging van hierdie lewensbelangrike boodskap deel te neem, het honderde gemeentes, soos die Oesjioda-gemeente in die stad Jokohama, gereël om heeldag lank, van 7:00 vm. tot 8:00 nm., op straat en van huis tot huis te werk om soveel mense as moontlik in die gebied te bereik.

Soos in alle wêrelddele die geval is, werk Jehovah se Getuies in Mexiko ook om in hulle materiële behoeftes te voorsien. Gedurende elke maand van 1992 het gemiddeld 50 095 Getuies van Jehovah in daardie land nietemin ook in hulle lewe tyd ingeruim om aan die pionierdiens deel te neem sodat hulle mense wat na die waarheid honger, kan help om van God se Koninkryk te leer. In sommige gesinne het almal saamgewerk sodat die hele groep, of ten minste sommige van hulle, aan die pionierdiens kon deelneem. Hulle geniet ’n vrugbare bediening. Jehovah se Getuies in Mexiko het gedurende 1992 meer as 502 017 tuisbybelstudies gereeld met individue of gesinne gehou.

Die ouere manne wat in die behoeftes van die gemeentes van Jehovah se Getuies voorsien, het groot verantwoordelikhede. Die meeste ouere manne in Nigerië is gesinsmanne, en dit geld ook vir ouere manne op baie ander plekke. En tog is party van hierdie manne ook pioniers, al moet hulle voorberei om vergaderinge te hou of daaraan deel te neem, asook om die nodige herderswerk onder God se kudde te doen. Hoe is dit moontlik? Die sorgvuldige beplanning van tyd en goeie samewerking deur die gesin is dikwels belangrike faktore.

Dit is duidelik dat Jehovah se Getuies oor die hele wêreld Jesus se vermaning ter harte neem om ‘eers die koninkryk te soek’ (Matt. 6:33). Wat hulle doen, is ’n opregte uitdrukking van hulle liefde vir Jehovah en hulle waardering vir sy soewereiniteit. Hulle sê soos die psalmis Dawid: “o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd.”—Ps. 145:1.

[Voetnote]

a Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 15 Augustus 1906, bl. 267-71.

b Sien Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 Februarie 1967, bladsye 92-5.

c Sien Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 15 Desember 1973, bladsye 760-5.

d Sien Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 September 1972, bladsye 533-6.

e Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 15 Desember 1963, bl. 764-6.

f Sien Die Wagtoring (Engelse uitgawe), 1 Desember 1969, bladsye 729-32; 15 September 1988, bladsy 31.

g Sien Die Wagtoring se (Engelse) nommers van 1 April 1964, bladsye 212-15; 15 Augustus 1970, bladsye 507-10; 1 Oktober 1960, bladsye 601-5; 1 April 1968, bladsye 217-21; 1 April 1959, bladsye 220-3 asook Die Wagtoring van 1 Mei 1987, bladsye 22-30; 15 Februarie 1957, bladsye 51-3 (Engelse uitgawe, 1 Desember 1956); 1 September 1968, bladsye 402-6 (Engelse uitgawe, 15 Junie 1968).

[Lokteks op bladsy 292]

Groter klem op die verantwoordelikheid om te getuig

[Lokteks op bladsy 293]

Hulle beskou die getuieniswerk van huis tot huis as ’n kosbare voorreg

[Lokteks op bladsy 294]

Hulle begryp wat heelhartige diens is

[Lokteks op bladsy 295]

Wat dit werklik beteken om ‘eers die koninkryk te soek’

[Lokteks op bladsy 301]

Ywerige Getuies stel Koninkryksbelange voor sekulêre werk en ontspanning

[Venster/Prent op bladsy 288]

“Waar is die nege?”

In 1928 het almal wat die herdenking van Christus se dood bygewoon het ’n traktaat met die titel “Where Are the Nine?” ontvang. Die traktaat se bespreking van Lukas 17:11-19 het Claude Goodman se hart geraak en hom beweeg om die kolporteurwerk, of pionierdiens, te betree en om in daardie diens te volhard.

[Prente op bladsy 296, 297]

Betheldiens

In 1992 was daar 12 974 wat Betheldiens in 99 lande gedoen het

[Prente]

Bethelgesinslede beskou persoonlike studie as belangrik

Spanje

By elke Bethelhuis begin die dag met ’n bespreking van ’n Bybelteks

Finland

Soos Jehovah se Getuies in alle wêrelddele doen Bethelgesinslede ook velddiens

Switserland

Die Bethelgesin bestudeer elke Maandagaand “Die Wagtoring” saam

Italië

’n Groot verskeidenheid werk word gedoen, maar dit is alles ter ondersteuning van die verkondiging van God se Koninkryk

Frankryk

Papoea-Nieu-Guinee

Verenigde State

Duitsland

Die Filippyne

Mexiko

Brittanje

Nigerië

Japan

Brasilië

Nederland

Suid-Afrika

[Prente op bladsy 298]

’n Paar met ’n lang rekord van Betheldiens

F. W. Franz—Verenigde State (1920-92)

Heinrich Dwenger—Duitsland (ongeveer 15 jaar tussen 1911-33), Hongarye (1933-35), Tsjeggo-Slowakye (1936-39) en toe Switserland (1939-83)

George Phillips—Suid-Afrika (1924-66, 1976-82)

Vleeslike susters (Kathryn Bogard en Grace DeCecca) wat altesaam 136 jaar aan die Betheldiens gewy het—Verenigde State

[Grafiek op bladsy 303]

(Sien publikasie vir oorspronklike teksuitleg)

Pioniers vermeerder voortdurend!

Pioniers

Verkondigers

Persentasie vermeerdering sedert 1982

250%

200%

150%

100%

50%

1982 1984 1986 1988 1990 1992

[Prent op bladsy 284]

Suster Early het per fiets deur ’n groot gedeelte van Nieu-Seeland gereis om die Koninkryksboodskap te verkondig

[Prent op bladsy 285]

Malinda Keefer het haar 76 jaar lank—as ongetroude meisie, as getroude vrou en toe as ’n weduwee—aan die voltydse bediening gewy

[Prente op bladsy 286]

Eenvoudige woonwaens het as woonplek vir sommige van die vroeë pioniers gedien terwyl hulle van die een plek na die ander gegaan het

Kanada

Indië

[Prent op bladsy 287]

Frank Rice (wat regs staan), Clem Deschamp (wat voor Frank sit, en Clem se vrou, Jean, langs hulle) en ’n groep op Java wat uit mede-Getuies en belangstellendes bestaan

[Prente op bladsy 288]

Gedurende Claude Goodman se lewe in die voltydse bediening het hy in Indië en in sewe ander lande gedien

[Prent op bladsy 289]

Toe Ben Brickell nog gesond was, het hy sy gesondheid in Jehovah se diens gebruik; ernstige gesondheidsprobleme in latere jare het hom nie laat tou opgooi nie

[Prent op bladsy 290]

Kathe Palm het in allerhande soorte gebiede getuieniswerk gedoen, van grootstadse kantoorgeboue tot die mees afgeleë mynkamp en skaapplaas in Chili

[Prent op bladsy 291]

Martin en Gertrud Poetzinger se vasbeslotenheid word in hierdie woorde weerspieël: ‘Hierdie een ding doen ek—ek soek eers die Koninkryk’

[Prent op bladsy 300]

Pionierdiensskool (soos hier in Japan) voorsien spesiale opleiding aan tienduisende ywerige werkers

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel