Wandel deur geloof
1 Miljoene mense se lewe draai om hulle materiële besittings terwyl hulle dwaaslik op die bedrieglike krag van rykdom vertrou (Matt. 13:22). Hulle leer ’n dure les wanneer hulle hulle rykdom verloor of wanneer dit gesteel word of vir hulle van geen nut is nie. Ons word aangemoedig om ’n verstandiger weg te volg, om geestelike skatte na te streef (Matt. 6:19, 20). Dit behels dat ons ‘deur geloof wandel’.—2 Kor. 5:7.
2 “Geloof” kom van ’n Griekse woord wat die gedagte van sekerheid, vertroue en vaste oortuiging oordra. Om deur geloof te wandel, beteken om moeilike situasies die hoof te bied deur vertroue in God te stel asook in sy vermoë om ons voetstappe te rig en in sy bereidwilligheid om in ons behoeftes te voorsien. Jesus het die volmaakte voorbeeld gestel; hy het sy aandag gerig gehou op wat waarlik belangrik was (Heb. 12:2). Ons moet eweneens ons hart op dinge gerig hou wat nie gesien kan word nie, op geestelike dinge (2 Kor. 4:18). Ons moet voortdurend gedagtig wees aan die onsekerheid van ons teenswoordige lewe en ons algehele afhanklikheid van Jehovah erken.
3 Ons moet ook die vaste oortuiging hê dat Jehovah ons deur middel van sy sigbare organisasie rig onder leiding van “die getroue en verstandige slaaf” (Matt. 24:45-47). Ons toon ons geloof wanneer ons ‘gehoorsaam is aan dié wat die leiding neem’ in die gemeente (Heb. 13:17). Deur nederig met die teokratiese reëling saam te werk, openbaar ons ons vertroue op Jehovah (1 Pet. 5:6). Ons moet beweeg word om die werk wat die organisasie gegee is om te doen heelhartig te ondersteun. Dit sal ons nader aan ons broers bring in ’n sterk band van liefde en eenheid.—1 Kor. 1:10.
4 Hoe om ons geloof te versterk: Ons moenie toelaat dat ons geloof ophou groei nie. Ons moet hard stry om dit te versterk. Gereelde studie, gebed en vergaderingbywoning sal help om ons geloof te versterk sodat dit, met Jehovah se hulp, enige toets kan deurstaan (Ef. 6:16). Het jy ’n goeie roetine ontwikkel vir daaglikse Bybellees en voorbereiding vir vergaderinge? Peins jy dikwels oor wat jy leer, en nader jy Jehovah in gebed? Is dit vir jou ’n gewoonte om alle vergaderinge by te woon en daaraan deel te neem wanneer die geleentheid hom voordoen?—Heb. 10:23-25.
5 Goeie werke is ’n bewys van sterk geloof (Jak. 2:26). Een van die beste maniere waarop ons ons geloof kan openbaar, is om ons hoop aan ander bekend te maak. Soek jy na geleenthede om die goeie nuus te verkondig? Kan jou omstandighede aangepas word sodat jy meer in die bediening kan doen? Pas jy die wenke toe wat ons kry om die gehalte en doeltreffendheid van ons bediening te verbeter? Stel jy vir jou persoonlike geestelike doelwitte, en span jy jou in om dit te bereik?
6 Jesus het ons gewaarsku om nie te betrokke te raak by die alledaagse lewensaangeleenthede en toe te laat dat materialistiese of selfsugtige belange ons geestelike beskouing verdof nie (Luk. 21:34-36). Ons moet streng let op hoe ons wandel sodat ons nie skipbreuk ly wat ons geloof betref nie (Ef. 5:15; 1 Tim. 1:19). Ons almal hoop om uiteindelik te kan sê dat ons ‘die voortreflike stryd gestry het, die wedloop enduit gehardloop het en die geloof bewaar het’.—2 Tim. 4:7.