Jehovah se getuies—die organisasie agter die naam
OP 6 Oktober 1990 het daar ’n verrassing gewag op die skare van byna 5 000 wat in die Byeenkomssaal van Jehovah se Getuies in Jersey City, New Jersey, VSA, vir die jaarvergadering van die Watch Tower Bible and Tract Society byeengekom het. Die voorsitter, John E. Barr, het die gehoor meegedeel dat ’n video van 55 minute met die titel Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name vrygestel word. Dit is die heel eerste video wat die Genootskap vervaardig het, maar beslis nie die laaste nie.
Die video toon hoe Jehovah se volk georganiseer is om vir die Goddelike naam te getuig en die “goeie nuus van die koninkryk” bekend te maak (Mattheüs 24:14, NW). Die hoofkwartier by Brooklyn, New York, en die fasiliteite by Watchtower Farms word beklemtoon. Meer as 500 000 kopieë is al in Engels vervaardig, en dit sal binnekort in 26 ander tale beskikbaar wees.a
Wat was die reaksie daarop?
Hoe het mense wat nie Jehovah se Getuies is nie op die video gereageer? ’n Sakeman het geskryf:
“Ek het die band van uitstekende gehalte gevind. Die helderheid en die professionele komposisie van die beelde het my veral beïndruk. Ek het vergeet dat dit ’n band is; dit was vir my meer soos ’n rolprent. Hierdie band behoort besonder nuttig te wees om die doel van julle New York-hoofkantoor te verduidelik. Veels geluk met hierdie uitsonderlike stuk werk.”—J. J.
Diegene wat die Bybel saam met Jehovah se Getuies studeer, het daarby baat gevind om na die video te kyk. Die volgende kommentare verduidelik waarom:
“Ek studeer die Bybel met ’n jong 20-jarige man wat aan die plaaslike universiteit studeer. Hy was besorg oor die verslegtende wêreldsituasie. Maar nadat hy na die band gekyk het en al daardie jong Bethelbroers met ’n ware doel in die lewe gesien het, het sy hele gesindheid verander. Hy het ons Spesiale Byeenkomsdag bygewoon en gevra dat ons die Bybel twee keer per week bestudeer. Nog ’n Bybelstudent, ’n hoërskoolonderwyseres, het die video geleen om dit vir haar familie te wys. Hulle het gedink Jehovah se Getuies is net die een of ander swak, ongewilde, klein organisasie. Hulle was verstom om die wêreldwye omvang van ons werk te sien en die verandering wat ons danksy Jehovah teweeg bring.”—J. B.
“Woorde kan nie beskryf hoe bly ek was toe ’n vrou met wie ek die Bybel studeer in trane van vreugde en waardering uitgebars het nadat sy hierdie video gesien het nie. Sy het deur haar trane gesê: ‘Hoe kan enigiemand nie sien dat hierdie die organisasie van die ware God, Jehovah, is nie? Ek het nooit geweet dat sulke mense bestaan nie.’ En toe het sy gesê: ‘Ek wil gedoop word.’”—C. D.
“Ons het al baie sukses behaal deur die video vir Bybelstudente te wys. Gisteraand het die man van een van my vrou se Bybelstudente na ons huis toe gekom. Hy was voorheen baie gekant teen die Getuies. Hy het na die video gekyk. Na die tyd het hy vrae gevra, en hy is hier weg met ’n Bybel en die Bybelstudieboek Jy kan vir ewig in die Paradys op aarde lewe. Vantevore het hy al sy vrou se Bybellektuur verbrand!”—D. H.
Soos die volgende kommentare toon, het jongmense ook die video interessant gevind:
“Ek is ses en ’n half. Ek het gehou van die deel oor die Bybels en waar die bokse so vinnig beweeg.”—K. W.
“Ons jong kinders het gesê dit is beter as enige program wat hulle nog op TV gesien het.”—R. C.
“Nadat ons die video die tweede keer gesien het, het ons vyfjarige seuntjie, wat deurgaans noukeurig aandag geskenk het, gevra: ‘Kan ons elke dag hierna kyk?’ Ons driejarige dogtertjie het dit beaam met: ‘Ek wil Bethel toe gaan en boeke maak!’”—M. E.
“My kinders, Robin en Shannan, 12 en 9 jaar oud, speel hierdie band oor en oor. Nadat my jongste dogter hierdie band gesien het, het sy gesê: ‘Ek hou baie daarvan om in die velddiens uit te gaan. Dis baie pret.’ Ons voel dat hierdie video ’n direkte uitwerking op ons gesinslewe gehad het. Hoe verkwikkend is dit tog om ’n televisieprogram aan te skakel wat veilig is om na te kyk!”—N. B.
“Ek is 131/2 jaar oud. Die nuwe video het my laat besef hoeveel ek Jehovah se wonderlike voorsienings as vanselfsprekend aanneem. Dit is ’n voorreg om aan God se volk te behoort.”—K. W.
“Ek is 16 jaar oud en hierdie video het my gehelp om tot ’n groter besef te kom dat hierdie ’n wêreldwye werk is wat gedoen word.”—A. M.
“Ons kinders het opgemerk dat TV nie meer dieselfde is noudat hulle gesien het wat regte teokratiese vermaak kan wees nie. Dit het ook hulle begeerte versterk om die voltydse diens te betree.”—L. M.
Selfs diegene wat al baie jare lank Getuies van Jehovah is, is geraak deur wat hulle gesien het.
“As die video so ’n indruk op ons as Jehovah se volk maak, hoeveel te meer sal dit nie ander raak nie? Wanneer hierdie stelsel te veel word, knyp ek ’n uur van my tyd af en besoek Bethel in die gerief van my sitkamer!”—K. B.
“Nadat ek gesien het hoeveel sorg en noukeurigheid in elke werkstuk ingaan, was ek lus om na my kamer toe te gaan en my Bybellektuur ’n drukkie te gee.”—L. P.
Ons moedig jou ook aan om tyd opsy te sit om die video Jehovah’s Witnesses—The Organization Behind the Name te sien. Dit sal jou ’n ander perspektief op die lewe gee en jou help om vertroue in ’n veilige toekoms te hê.
[Voetnoot]
a Amerikaanse gebaretaal, Arabies, Baskies, Deens, Duits, Fins, Frans, Grieks, Hongaars, Italiaans, Japannees, Kantonees, Katalonies, Koreaans, Kroaties, Mandarynetaal, Nederlands, Noors, Pools, Portugees (Brasilië), Portugees (Europa), Roemeens, Slowaaks, Spaans, Sweeds, Tsjeggies (Boheems).