Jongmense vra . . .
Moet ek skooldanse bywoon?
“Die matriekafskeidsaand is gewoonlik ook die eerste keer wat jou ouers vir jou sê: ‘My kind, geniet dit. Ons sien jou môreoggend.’”
“Ek onthou dat ek na ’n skooldans gegaan het waar daar net twee chaperones was, en hulle het nie eers aandag aan die kinders geskenk nie.”
JOU klasmaats praat al maande lank daaroor. Die matriekafskeid is per slot van rekening ’n unieke gebeurtenis. En aangesien jy afskeid sal neem van klasmaats wat jy reeds jare ken, is dit natuurlik dat jy dalk daar sal wil wees. “Van junior hoërskool af”, sê ’n 18-jarige meisie, “wou ek graag die matriekafskeid bywoon.”
In sommige lande is die matriekafskeid—die formele dans voor jy matrikuleer—’n ware mylpaal vir jongmense. Die matriekafskeid is nie net ’n deftige geleentheid nie, dit is ’n tradisionele gebruik wat die oorgangsproses na volwassenheid inlui. Die tydskrif Seventeen sê: “Die matriekafskeidsaand is gewoonlik ook die eerste keer wat jou ouers vir jou sê: ‘My kind, geniet dit. Ons sien jou môreoggend.’ Dit is nie net in orde om die heelnag van die huis af weg te wees nie—dit is wat jy veronderstel is om te doen.”
Nie dat alle jongmense ’n heelnagsessie van twyfelagtige gedrag beplan nie. Nee, baie sien eenvoudig uit na ’n pragtige romantiese belewenis—die kans om ’n hedendaagse aspoestertjie of droomprins te wees! “Dit is soos ’n sprokiesverhaal”, sê 19-jarige Darcey. “Hulle klim uit hulle gehuurde limousien, neem foto’s en spog voor hulle vriende. Dit is hulle oomblik om in die kollig te wees.”
Skooldanse is minder glansryk, maar tog ook gewild. “Elke nou en dan het ’n mens ’n geselligheid nodig bloot om pret te hê”, sê 15-jarige Jamey. Maar hetsy die aantrekkingskrag die dans, die dinee of die mooi klere is, voel die meeste jongmense feitlik verplig om sulke gesellighede by te woon. Al waaraan hulle dink, is wie saam met hulle sal gaan, wat hulle sal aantrek en waar hulle die geld sal kry om vir die aand te betaal. Maar daar is ’n paar dinge wat jy dalk in ag sal moet neem.
Kyk verby die glans
Jesus Christus het self ook ordentlike gesellighede bygewoon. (Vergelyk Lukas 5:29; Johannes 2:1, 2.) Maar die Bybel veroordeel “brassery”, of “wilde partytjies” (Galasiërs 5:21; Byington). In die eerste eeu was dit iets algemeens om losbandige drinkpartye te hou waartydens heidene openlik deelgeneem het aan “losbandigheid, wellus, dronkenskap, swelg- en drinkpartye en afskuwelike afgodery”. Christene is derhalwe gewaarsku om nie hierdie bandelose geleenthede by te woon nie.—1 Petrus 4:3, 4, NAV.
Maar wat van die matriekafskeid en skooldanse? Sommige word dalk goed georganiseer en beheer, wat dit betreklike kalm geleenthede maak. Wanordelike gedrag word dalk nie toegelaat nie of gou gekeer wanneer dit opduik. Maar agter die prag en glans van baie skooldanse—indien nie die meeste nie—skuil daar dikwels die gees van swelgery.a “Daar is baie geslagsonsedelikheid en drankmisbruik”, het een tiener aan Ontwaak! gesê. Alkohol word dalk amptelik verbied. Maar in die kleedkamers, op die trappe en in die parkeerterrein word daar dalk nog altyd baie gedrink.
Die Bybel waarsku: “Die wyn is ’n spotter, en sterk drank ’n lawaaimaker” (Spreuke 20:1). Voeg hierby wilde of wellustige musiek, onbeheersde dansery, gedempte ligte en ’n klomp jongmense wat dalk min waardering vir Bybelbeginsels het, en jy het alles wat nodig is om ’n swelgparty te begin. Kan jy op die chaperones reken om dinge in toom te hou? Nie altyd nie. ’n Tiener met die naam Charles sê reguit: “Chaperones doen niks nie.” Is hy onredelik? Nie volgens jong Darcey nie, want sy sê: “Ek onthou dat ek na ’n skooldans gegaan het waar daar net twee chaperones was, en hulle het nie eers aandag aan die kinders geskenk nie.”
’n Mens moet erken dat selfs die pligsgetrouste chaperone dit bykans onmoontlik sal vind om in ’n verdonkerde danssaal of gimnasium ’n klomp jongmense te beheer wat daarop uit is om die aand te geniet. Gevolglik kan die droom van ’n romantiese aand skielik in ’n nagmerrie verander. “Daar is dikwels ’n bakleiery”, sê ’n tienermeisie.
Omstandighede wat jou ’n kompromis kan laat aangaan
Dit is wel so dat nie alle matriek- of skooldanse in geweld ontaard nie. Nogtans is daar ’n wesenlike gevaar dat jy in ’n situasie kan beland wat jou ’n kompromis kan laat aangaan. Een jong vrou sê: “Wanneer jy met seuns vasdans, begin hulle hande oral oor jou lyf te dwaal. Hulle verwag dat jy dít sal aanvaar!” Kan jy nie so ’n probleem vermy deur eenvoudig op ’n afstand te bly nie? Miskien. Maar dit is dikwels maklik om te praat.
Veronderstel jy gaan alleen of gaan saam met ’n groep vriende. Een tiener sê: “Sommige seuns is daar op hulle eie, en hulle probeer om agter soveel meisies as moontlik aan te gaan.” Daar is dalk ook ’n hele paar opdringerige meisies teenwoordig. ’n Jongmens wat alleen gaan, kan maklik die teiken van ongewenste aandag word.
Daarenteen kan dit ander probleme veroorsaak wanneer ’n medegelowige jou vergesel. Die hedendaagse Getuies van Jehovah beskou afsprake per slot van rekening in ’n ernstige lig.b En al is jy seker dat jou metgesel geen romantiese belangstelling in jou het nie, in watter mate kan hy of sy werklik as ’n beskerming dien? Negentienjarige Lora merk op: “Wat gaan ander keer om in te dring terwyl julle dans—of om jou te vra of hulle met jou kan uitgaan? Wat dan?” ’n Gespanne, ongemaklike situasie kan maklik ontwikkel.
Die gevaar om jou waaksaamheid te verslap en om self in die gees van die geleentheid vasgevang te word, moet ook nie uit die oog verloor word nie. Slegte geselskap bederf beslis “goeie sedes” (1 Korinthiërs 15:33, NAV). ’n Agtienjarige met die naam Nick erken: “Selfs as twee Getuies van Jehovah saamgaan, kan hulle maklik aangespoor word om te doen wat al die ander doen.”
Wanneer die partytjie verby is
Dikwels ontstaan die werklike probleme egter na die partytjie. “Party gaan na ’n hotel of na iemand se huis”, sê jong Tanya. Yolanda voeg by: “Jy is veronderstel om die hele nag daar te bly. Dit is deel van die tradisie.” Dwelms, alkohol en seks kan ook tradisioneel deel van die matriekafskeid wees. Die oggend daarna kan ’n jongmens egter laat met gewetenswroegings, verminderde selfrespek en die gegronde vrees vir swangerskap—of vigs.
Dit gebeur dan ook alte dikwels dat die matriekafskeid en skooldanse nie die verwagting van ’n romanse en heilsame vermaak verwesenlik nie en in wilde partytjies, swelgerye, ontaard. Ons word daaraan herinner dat die profeet Jesaja in sy tyd gesê het dat God samekomste afkeur waar mense tot ‘laat in die nag opbly’. Die partytjies het alkohol ingesluit, asook musiek—“siter en harp, tamboeryn en fluit”. Was dit pret? Ongetwyfeld. Maar Jesaja het van die partytjiegangers gesê: “Op die dade van die HERE gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.”—Jesaja 5:11, 12.
Ja, as jy by ’n partytjie saam met jongmense is wat nie die Bybel se beskouing waardeer nie, kan dit ernstige gevare vir jou inhou. Dit is waar dat nie al sulke geleenthede noodwendig in swelgerye verander nie, en omstandighede verskil oor die wêreld heen. Jy en jou ouers moet dus besluit of dit gepas is dat jy dit bywoon. “Dit is moeilik”, erken een jong meisie, “want die matriekafskeid is betowerend, en dit is ’n versoeking. Die hele jaar lank dink jy daaraan!”
Maar as jy sake met jou ouers of ’n ervare Christen bespreek, kan dit jou help om dinge te verstaan. Neem die volgende in ag: Wie sal die dans bywoon? Watter soort toesig sal daar wees? Sal alkohol bedien word? Watter soort musiek sal gespeel word? Was daar al probleme in die verlede? Hoe sal ander jou beskou as jy aan sulke bedrywighede deelneem—veral mede-Christene? Kan dit vir sommige ’n struikelblok wees as jy gaan?—1 Korinthiërs 10:23, 24, 32.
In die lig van al die probleme wat met die matriekafskeid en skooldanse gepaardgaan, moet jong Christene met hulle ouers daaroor beraadslaag en sal hulle waarskynlik besluit om nie te gaan nie. Maar is dit nie iets om op trots te wees as jy matrikuleer nie? Natuurlik! Jy kan waarskynlik ’n veiliger manier vind om dit te vier, miskien deur jou vreugde met mede-Getuies te deel. Jou familie kan byvoorbeeld besluit om ’n beskeie geselligheid of ’n dinee te reël. Wanneer sulke gesellighede tot ’n redelike grootte beperk word en dit goed georganiseer word, sal ernstige probleme selde ontstaan.c
So ’n geselligheid het dalk nie die prag en glans van ’n skool se formele matriekafskeid nie. Maar dit kan steeds ’n gelukkige geleentheid wees—sonder die slaggate wat die matriekafskeid of ’n skooldans kan inhou. Maar jy sal bowenal in ooreenstemming met Paulus se woorde in 1 Korinthiërs 10:31 optree: “Of julle dan eet of drink of enigiets doen, doen alles tot verheerliking van God.”
[Voetnote]
a “Swelgery” kan omskryf word as ’n bandelose partytjie of feestelikheid.
b Sien hoofstuk 30 van die boek Vrae wat jongmense vra—Antwoorde wat werk wat deur die Watchtower Bible and Tract Society of New York, Inc., uitgegee word.
c Sien die artikel “Gesellige vermaak—Geniet die voordele, vermy die strikke” in Die Wagtoring van 15 Augustus 1992.
[Prent op bladsy 21]
Chaperones vind dit bykans onmoontlik om die gedrag van almal wat aanwesig is te beheer