Kyk verder as die dinge wat jy kan sien!
GOEIE oë is ’n seën. Trouens, die meeste mense sou sê dat hulle min dinge het wat kosbaarder is. Maar die apostel Paulus het gepraat van ’n vorm van gesigsvermoë wat vir Christene van selfs groter waarde is as goeie fisiese gesigsvermoë. ‘Ons hou ons oë gerig, nie op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie’, het Paulus geskryf (2 Korintiërs 4:18). Dit moet inderdaad ’n baie besondere soort sig wees wat ’n mens in staat stel om dinge te sien wat onsigbaar is! Ons kan dit geestelik gesproke goeie gesigsvermoë noem.
Waarom is dit nodig?
Eerste-eeuse Christene het werklik ’n behoefte aan hierdie vorm van geestelike gesigsvermoë gehad. Hulle het hulle Christelike bediening met baie swaarkry uitgevoer. Paulus het dit soos volg gestel: “Ons word in elke opsig geknel, maar nie só vasgekeer dat ons nie kan beweeg nie; ons is raadop, maar nie heeltemal sonder uitweg nie; ons word vervolg, maar nie in die steek gelaat nie; ons word neergewerp, maar nie vernietig nie.”—2 Korintiërs 4:8, 9.
Die getroue dissipels het ten spyte van hierdie omstandighede standvastig gebly. Hulle kon met sterk geloof in God soos Paulus sê: “Ons [gee] nie moed op nie, maar selfs al teer die mens wat ons uiterlik is weg, word die mens wat ons innerlik is beslis van dag tot dag vernuwe.” Maar wat het hierdie daaglikse vernuwing veroorsaak? Paulus het voorts gesê: “Want al is die verdrukking kortstondig en lig, bewerk dit vir ons ’n heerlikheid wat van al hoe meer oortreffende gewig en ewig is; terwyl ons ons oë gerig hou, nie op die dinge wat gesien word nie, maar op die dinge wat nie gesien word nie. Want die dinge wat gesien word, is tydelik, maar die dinge wat nie gesien word nie, is ewig.”—2 Korintiërs 4:16-18.
Paulus was besig om sy geestelike broers aan te spoor om nie toe te laat dat probleme, moeilikhede, vervolging—verdrukking van watter aard ook al—hulle hoop op die glorieryke beloning wat hulle voorgehou is te laat verflou nie. Hulle moet verder as hulle huidige omstandighede kyk en hulle oë op die gelukkige uitkoms van die Christelike weg gevestig hou. Dit is wat hulle gehelp het om elke dag by hulle besluit te bly en te volhard in die stryd. Christene wat vandag leef, het eweneens sulke goeie geestelike gesigsvermoë nodig.
Beskou die huidige verdrukking as tydelik!
Of ons nou daarvan hou of nie, ons sien daagliks dinge wat ons verkieslik nie sou wou sien nie. Ons kyk vlugtig in die spieël en dan staan die ongewenste vlekke en smette van die fisiese liggaam duidelik uit, tekens van fisiese onvolmaaktheid. Wanneer ons in die spieël van God se Woord kyk, sien ons geestelike smette in onsself sowel as in ander (Jakobus 1:22-25). En as ons na die koerant of die televisie kyk, val die verslae van onregverdigheid, wreedheid en tragedie ons op en roer dit ons hartsnare.
Satan wil ons graag laat moed opgee weens die dinge wat ons sien of ons aandag aftrek en ons geloof laat wankel. Hoe kan ons verhinder dat dit gebeur? Ons moet die voorbeeld volg wat Jesus Christus gestel het, soos die apostel Petrus aanbeveel het toe hy gesê het: “Trouens, tot hierdie weg is julle geroep, omdat ook Christus vir julle gely het en vir julle ’n voorbeeld gelaat het sodat julle sy voetstappe noukeurig kan volg” (1 Petrus 2:21). Jesus was in elke aspek van die Christelike leefwyse die volmaakte voorbeeld.
Toe hy die aandag op Jesus as ons voorbeeld gevestig het, het Petrus spesifiek genoem dat Jesus gely het. Ja, Jesus het baie swaar gely toe hy op die aarde was. As Jehovah se “meesterwerker” was hy tydens die mens se skepping teenwoordig en hy het presies geweet hoe God wou hê die mens moes wees (Spreuke 8:30, 31, NW). Maar nou het hy self gesien wat sonde en onvolmaaktheid aan hulle gedoen het. Hy het mense se onvolmaakthede en swakhede daagliks gesien en moes daarmee saamlewe. Dit moes ’n beproewing vir hom gewees het.—Matteus 9:36; Markus 6:34.
Buiten die verdrukking van ander het Jesus ook sy eie gesien (Hebreërs 5:7, 8). Maar met volmaakte geestelike gesigsvermoë het hy daarby verby gekyk en die beloning gesien om tot onsterflike lewe verhef te word weens sy weg van onkreukbaarheid. Dan sou hy as Messiaanse Koning die voorreg hê om die geteisterde mensdom uit hulle verdorwe toestand op te hef tot die volmaaktheid wat Jehovah oorspronklik beoog het. Omdat hy sy oog op hierdie onsigbare toekomsvooruitsigte gerig gehou het, het dit hom gehelp om sy vreugde in godvrugtige diens te behou, ongeag die verdrukking wat hy van dag tot dag gesien het. Paulus het later geskryf: “Vir die vreugde wat hom voorgehou is, het hy ’n folterpaal verduur, terwyl hy die skande verag het, en aan die regterhand van die troon van God gaan sit.”—Hebreërs 12:2.
Jesus het nooit toegelaat dat swaarkry en moeilike omstandighede hom moed laat opgee, die spoor byster laat raak of sy geloof laat wankel nie. As sy dissipels moet ons sy uitmuntende voorbeeld noulettend volg.—Matteus 16:24.
Spits jou toe op die onsigbare ewige dinge!
Toe Paulus gepraat het van dit wat Jesus in staat gestel het om te volhard, het hy ook vir ons die weg gewys toe hy geskryf het: “Laat ons die wedloop wat voor ons gestel is met volharding hardloop, terwyl ons die blik stip gerig hou op die Hoofbewerker en Vervolmaker van ons geloof, Jesus” (Hebreërs 12:1, 2). Ja, om die Christelike wedloop met welslae en vreugde te voltooi, vereis dat ons verder moet kyk as die dinge wat ons sien. Maar hoe hou ons ons “blik stip gerig” op Jesus, en wat sal dit vir ons beteken?
Om maar een ding te noem, Jesus is in 1914 as Koning van God se Koninkryk gekroon, en hy heers vanuit die hemel. Al hierdie dinge is natuurlik vir ons fisiese oë onsigbaar. Maar as ons ons “blik stip gerig hou” op Jesus, sal ons met behulp van ons geestelike gesigsvermoë sien dat hy nou oorgehaal is om op te tree en die einde van die huidige goddelose stelsel van dinge te bring en Satan en sy demoonhordes tot gevangenskap te verban. As ons nog verder kyk, sal ons geestelike gesigsvermoë die wonderlike nuwe wêreld sigbaar laat word waar ‘die dood nie meer sal wees nie, en ook verdriet en geskreeu en pyn nie meer sal wees nie. Die vorige dinge het verbygegaan.’—Openbaring 19:11-16; 20:1-3; 21:4.
Laat ons dus, in plaas van gebuk te gaan onder die tydelike verdrukking wat ons miskien elke dag moet verduur, liewer ons aandag vestig op die dinge wat ewig is. Kom ons kyk met die oë van geloof verder as die siekte en die gierigheid op hierdie besoedelde aarde en sien ’n paradys vol mense wat gesond, gelukkig en liefdevol is. Kom ons kyk verder as ons onvolmaakthede, fisies sowel as geestelik, en sien hoe ons vir ewig daarvan bevry gaan word deur die verdienste van Christus se losprysofferande. Kom ons kyk verder as die slagting wat op oorlog, misdaad en geweld volg en sien diegene wat pas opgewek is en wat in die vrede en regverdigheid van Jehovah onderrig word.
Die feit dat ons “die blik stip gerig hou” op Jesus, sal ook beteken dat ons ons geestelike gesigsvermoë vestig op wat die Koninkryk, hoewel dit onsigbaar is, reeds onder God se volk op aarde tot stand gebring het: eenheid, vrede, liefde, broederlike geneentheid en geestelike voorspoed. Nadat ’n Christenvrou in Duitsland die video United by Divine Teaching gesien het, het sy geskryf: “Die video sal my help om selfs beter te onthou dat so baie Christenbroers en -susters regoor die wêreld Jehovah op hierdie presiese oomblik getrou dien—en dít ondanks die reaksie van die publiek. Hoe kosbaar is ons broederlike eenheid tog in ’n wêreld van geweld en haat!”
“Sien” jy ook dat Jehovah, Jesus, die getroue engele en miljoene mede-Christene aan jou sy staan? Indien wel, sal jy jou nie oormatig bekommer oor “die sorge van hierdie stelsel van dinge” wat jou in moedeloosheid kan dompel en daartoe lei dat jy “onvrugbaar” in die Christelike bediening word nie (Matteus 13:22). Hou dus jou “blik stip gerig” op Jesus deur jou geestelike oë te vestig op God se opgerigte Koninkryk en die huidige en toekomstige seëninge daarvan.
Lewe sodat jy die onsigbare kan sien!
Wanneer ons die skerp teenstelling tussen God se ewige nuwe wêreld en die huidige verbrokkelende ou wêreld sien, moet dit ons aanspoor om ons so te gedra dat ons waardig geag sal word om te kan lewe en die dinge werklik te sien wat ons vandag alleenlik deur die oë van die geloof kan sien. Die menigtes wat opgewek word, sal skaars hulle oë kan glo wanneer hulle opstaan en ’n regverdige paradysaarde vind wat so verskil van die wêreld wat hulle gesien het voordat hulle gesterf het. Stel jou ons vreugde voor om te lewe en hulle te kan verwelkom en aan hulle te verduidelik wat God gedoen het!—Vergelyk Joël 2:21-27.
Ja, hoe kosbaar is goeie geestelike gesigsvermoë tog, en hoe noodsaaklik om dit skerp te hou! Ons kan dit doen deur gereeld persoonlike Bybelstudie te doen, Christelike vergaderinge by te woon, met ander oor ons Bybelse hoop te praat en bowenal om goddelike leiding te bid. Dit sal ons geestelike gesigsvermoë skerp en duidelik hou en ons in staat stel om verder te kyk as die dinge wat ons sien!