Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Bied die Goeie Nuus Aan—Deur met vrymoedigheid in sakegebied te getuig
    Koninkryksbediening — 1989 | September
    • Bied die Goeie Nuus Aan​—Deur met vrymoedigheid in sakegebied te getuig

      1 Vrymoedigheid is nodig om die goeie nuus aan te bied. Dit is veral die geval wanneer ons in sakegebied getuig. Sommige verkondigers is huiwerig om in sakegebied te werk. Maar dit is dalk weens gebrek aan ondervinding. Of dit is moontlik ’n gebied waar dit nodig is om ‘vrymoedigheid te versamel’.​—1 Thess. 2:2, NW.

      2 Baie verkondigers het goeie resultate behaal deur in sakegebied te getuig. Een kringopsiener het berig dat daar altesaam 177 boeke versprei is deur nege oggende in sakegebied te werk. Hulle kon meer versprei het, maar hulle voorraad het eenvoudig opgeraak. Kringopsieners word dus aangespoor om ook getuieniswerk in sakegebied te doen wanneer hulle gemeentes besoek. Jy kan ook sukses behaal as jy die poging aanwend om in sakegebied te werk.

      BEHOU ’N POSITIEWE GESINDHEID

      3 Sukses hang dikwels van ons gesindheid af. Sommige verkondigers is geneig om te dink dat dit uiters moeilik sal wees om vir winkeliers te getuig. Een verkondiger wat hierdie beskouing gehad het, het gesê: “Ek het verwag dat die reaksie negatief sou wees. Maar tot my verbasing was hulle reaksie op die Koninkryksboodskap net die teenoorgestelde. Hulle was opreg beleef en vriendelik en het feitlik altyd die tydskrifte aanvaar.” Ja, diegene wat al in sakegebied gewerk het, beskryf dit as ’n vrugbare werk wat seëninge meebring.

      4 Ouere manne, veral die diensopsiener, moet die voortou neem. Dit kan nuttig wees om spesiale gebiedskaarte van groot sakegebiede te maak. In ander gebiede kan die sakeondernemings saam met die woongebied gewerk word. Maak seker dat winkels, kantore, fabrieke, ensovoorts nie oorgeslaan word nie. Die ouere manne kan dit goeddink om bekwame verkondigers te kies om groot sakegebiede te werk.

      5 Die wat aan hierdie werk deelneem, moet netjies geklee wees en moet probeer om kort en saaklik te wees wanneer hulle met sakemense praat. Aanbiedings wat nie langer as ’n minuut of wat is nie, is die geskikste. Om beter resultate in sakegebied te behaal is dit belangrik om dae en tye te kies wat nie so besig is nie. Sommige het gevind dat dit geskik is om vroeg op ’n Saterdagoggend te gaan, terwyl ander dit voordelig vind om vroeg op weeksdae te gaan wanneer eienaars nie so besig is en winkels nie stampvol is nie.

      WAT ONS KAN SÊ

      6 Wanneer ons in sakegebied werk, kan ons tydskrifte, die huidige lektuuraanbod of traktate aanbied. Ons benadering en die aanbod kan verander na gelang van die omstandighede. Wanneer ons die tydskrifte aanbied, kan ons sê: “Aangesien dit dikwels baie moeilik is om sakemense tuis te vind, wend ons hierdie poging aan om vandag met u te praat. In die jongste nommer van Die Wagtoring is daar ’n artikel met die titel [gee titel] wat inligting bevat wat u persoonlik raak. Ons weet dat u dit sal geniet om hierdie artikel sowel as die ander te lees. Ons bied Die Wagtoring saam met Ontwaak! aan teen ’n bydrae van slegs Rl,20.”

      7 Hierdie maand bied ons die publikasie Lewe​—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? aan. Wanneer jy hierdie boek in sakegebied aanbied, kan jy sê: “As ’n sakeman weet u dat sukses heelwat dinkwerk en inspanning verg. Kon blinde toeval daarin geslaag het om lewe en die heelal tot stand te bring? Hierdie boek gee wetenskaplike bewys dat God lewe geskep het. Dit toon ook God se bedagsame voorneme met die skepping van die mens. Ons bied vandeesmaand hierdie boek Lewe​—Hoe het dit hier gekom? Deur evolusie of deur die skepping? aan. Dit bevat baie inligting oor lewe en wat die toekoms vir die mensdom inhou. Ons laat dit teen ’n bydrae van R7,50.” (Klein uitgawe kos R3,75.)

      8 Ons kan vol vertroue wees dat Jehovah ons ywerige pogings sal seën om mense met hierdie lewensreddende goeie nuus te bereik. Daar is ’n dringende behoefte aan deeglikheid in ons getuieniswerk (Hand. 20:24). Aangesien dit dikwels vir ons moeilik is om sakemense tuis te vind, moet ons geleenthede benut om by hulle werkplek met hulle te praat. Hoewel dit ’n uitdaging kan wees om in sakegebied te werk, kan ons suksesvol wees as ons ‘vrymoedigheid versamel om die goeie nuus van God te spreek’.

  • Teokratiese Nuus
    Koninkryksbediening — 1989 | September
    • Teokratiese Nuus

      ♦ Gedurende die eerste sewe maande van 1989 is 18 Koninkryksale toegewy. Daar is 25 sale in aanbou en nog baie in die beplanningstadium. Dankie vir julle liefdevolle arbeid. Julle samewerking sal beteken dat ten minste 7 ander sale teen die einde van die jaar voltooi kan word. Tree asseblief met die Genootskap of die naaste Streekboukomitee in verbinding as jy in enige opsig kan help.

      ♦ ’n Hoogtepunt van 16 147 verkondigers is gedurende April in Denemarke bereik. Daar was 3 414 wat aan die hulppionierdiens deelgeneem het.

      ♦ Thailand het in April ’n hoogtepunt van 1 057 verkondigers bereik. ’n Onlangse reeks kringbyeenkomste is deur 1 500 bygewoon, en 25 is gedoop.

  • Vraebus
    Koninkryksbediening — 1989 | September
    • Vraebus

      • Wie moet die aankondigings op die Diensvergadering behartig?

      Die doel van hierdie deel van die Diensvergadering is om die gemeente in te lig oor besonderhede wat belangrik is vir die uitvoering van die bediening. Sommige aankondigings dien as herinneringe en is week na week dieselfde. Alle aankondigings moet egter duidelik gedoen word. Geen aankondiging moet terloops gedoen word of as roetine behandel word nie.

      Die aard van sommige aankondigings kan vereis dat hulle deur ’n ouere man gedoen word. Wanneer dit die geval is, sal dit die verantwoordelikheid van die presiderende opsiener wees om te reël dat ’n bekwame broer die inligting oordra, selfs al behartig ’n ander broer die ander geskeduleerde aankondigings.

      Wanneer ’n brief wat inligting vir die gemeente bevat ander inligting insluit wat slegs aan die ouere manne gerig is, moet ’n ouere man die inligting oordra wat op die gemeente van toepassing is. Sommige briewe van die Genootskap wat spesifieke instruksies vir die gemeente bevat, moet liefs deur ’n bekwame ouere man gelees word. Sulke briewe handel dalk oor spesiale kampanjes om briewe te skryf ten behoewe van ons broers wat vervolging verduur. Sommige briewe kan uitvoerige inligting bevat oor toekomstige teokratiese bedrywighede, soos kringbesoeke, kringbyeenkomste en streekbyeenkomste.

      Daar kan tye wees wanneer ’n belangrike aankondiging gedoen moet word wat betrekking het op die welsyn van die gemeente, en die inligting moet duidelik aangebied word. Sulke aankondigings moet liefs deur ’n ouere man gedoen word.

      Aankondigings moet duidelik en saaklik wees, hetsy dit deur ouere manne of bedieningsknegte gedoen word. Wanneer hierdie riglyne gevolg word, sal dit verseker dat instruksies aan die gemeente behoorlik oorgedra word sodat almal in eenheid vooruitgang kan maak.​—Ps. 133:1; 1 Kor. 14: 8, 9, 40.

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel