Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 6 bl. 53-61
  • Waarom word ons oud en sterf ons?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Waarom word ons oud en sterf ons?
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • ’N BOSE KOMPLOT
  • HOE DIE KOMPLOT UITGEVOER IS
  • HOE DIE SONDE EN DIE DOOD VERSPREI HET
  • PAS OP VIR SATAN SE TAKTIEK!
  • Hoe werklik is die Duiwel vir jou?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2005
  • Jesus red—Hoe?
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2001
  • Wat was die eerste sonde?
    Antwoorde op Bybelvrae
  • Wat is God se voorneme met die aarde?
    Wat leer die Bybel werklik?
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 6 bl. 53-61

Hoofstuk 6

Waarom word ons oud en sterf ons?

1. Wat kon wetenskaplikes nog nie omtrent menselewe verklaar nie?

WETENSKAPLIKES weet nie waarom mense oud word en sterf nie. Dit lyk asof ons selle voortdurend hernieu behoort te word en dat ons vir ewig behoort te lewe. Die boek Hiojoen Sosjikigakoe (Standaardhistologie) sê: “Die verband tussen die veroudering van selle en die veroudering en dood van ’n individu is ’n groot raaisel.” Baie wetenskaplikes glo dat daar ’n “natuurlike, inherente” beperking op ons lewensduur is. Dink jy hulle is reg?

2. Wat het party as gevolg van die kortstondigheid van die lewe gedoen?

2 Mense het nog altyd na ’n lang lewe gesmag en het selfs probeer om onsterflikheid te verkry. Rate wat bedoel was om onsterflikheid moontlik te maak, het sedert die vierde eeu v.G.J. die aandag van Chinese edelmanne geniet. Party latere Chinese keisers het sogenaamde lewenseliksers probeer—wat met kwik gemaak is—en gesterf! Dwarsoor die aarde glo mense dat die dood nie die einde van hulle bestaan is nie. Boeddhiste, Hindoes, Moslems en ander koester almal wonderlike verwagtinge van ’n lewe ná die dood. In die Christendom stel talle hulle ’n hiernamaals van hemelse saligheid voor.

3. (a) Waarom begeer mense ewige lewe? (b) Watter vrae oor die dood moet beantwoord word?

3 Idees van geluk ná die dood weerspieël ’n begeerte na ewige lewe. “Selfs onbepaalde tyd het hy in hulle hart gelê”, sê die Bybel oor die begrip van ewigheid wat God in ons gesit het (Prediker 3:11, NW). Hy het die eerste mense geskep met die vooruitsig om vir ewig op die aarde te lewe (Genesis 2:16, 17). Waarom sterf mense dan? Hoe is die dood in die wêreld ingebring? Die kennis van God werp lig op hierdie vrae.—Psalm 119:105.

’N BOSE KOMPLOT

4. Hoe het Jesus die misdadiger geïdentifiseer wat vir die dood van die mens verantwoordelik is?

4 ’n Misdadiger probeer sy spore uitwis. Dit was ook die geval met die een wat verantwoordelik was vir ’n misdaad wat tot die dood van miljarde gelei het. Hy het dinge só bewerkstellig dat die dood van die mens in geheimsinnigheid gehul is. Jesus Christus het hierdie misdadiger geïdentifiseer toe Hy vir diegene wat Hom probeer doodmaak het, gesê het: “Julle is van julle vader die Duiwel, en julle wil die begeertes van julle vader doen. Hy was ’n mensemoordenaar toe hy begin het, en hy het nie in die waarheid vasgestaan nie, omdat daar geen waarheid in hom is nie.”—Johannes 8:31, 40, 44.

5. (a) Wat is die oorsprong van die een wat Satan die Duiwel geword het? (b) Wat beteken die woorde “Satan” en “Duiwel”?

5 Ja, die Duiwel is ’n kwaadwillige “mensemoordenaar”. Die Bybel openbaar dat hy ’n werklike persoon is, nie net die boosheid in iemand se hart nie (Matteus 4:1-11). Hoewel hy as ’n regverdige engel geskep is, “het [hy] nie in die waarheid vasgestaan nie”. Hoe gepas is dit tog dat hy Satan die Duiwel genoem word! (Openbaring 12:9). Hy word “Satan”, of “teenstander”, genoem omdat hy Jehovah teëgestaan het. Hierdie misdadiger word ook “Duiwel” genoem, wat “lasteraar” beteken, want hy het op lasterlike wyse ’n verwronge beeld van God geskep.

6. Waarom het Satan teen God in opstand gekom?

6 Wat het Satan teen God in opstand laat kom? Hebsug. Hy het die aanbidding wat Jehovah van mense ontvang het hebsugtig begeer. Die Duiwel het nie die begeerte verwerp om sulke aanbidding, wat tereg die Skepper alleen toekom, te ontvang nie. (Vergelyk Esegiël 28:12-19.) Die engel wat Satan geword het, het eerder hierdie hebsugtige begeerte gekoester totdat dit vrugbaar geword en die sonde gebaar het.—Jakobus 1:14, 15.

7. (a) Wat veroorsaak die dood van die mens? (b) Wat is sonde?

7 Ons het die skuldige geïdentifiseer wie se misdaad tot die dood van die mens gelei het. Maar wat is die spesifieke oorsaak van die dood van die mens? Die Bybel sê: “Die angel wat die dood veroorsaak, is die sonde” (1 Korintiërs 15:56). En wat is sonde? Om hierdie woord te verstaan, moet ons kyk na die betekenis wat dit in die oorspronklike tale van die Bybel gehad het. Die Hebreeuse en Griekse werkwoorde wat oor die algemeen vertaal word met “om te sondig”, beteken “om te kort te skiet” in die sin van ’n doel te mis of nie te bereik nie. In watter opsig skiet ons almal te kort? In die sin dat ons nie volmaakte gehoorsaamheid aan God kan toon nie. Maar hoe is die sonde in die wêreld ingebring?

HOE DIE KOMPLOT UITGEVOER IS

8. Hoe het Satan die aanbidding van mense probeer verkry?

8 Satan het sorgvuldig ’n komplot gesmee wat hy gemeen het daartoe sou lei dat hy oor alle mense sou heers en hulle aanbidding sou ontvang. Hy het besluit om die eerste mensepaar, Adam en Eva, oor te haal om teen God te sondig. Jehovah het ons eerste ouers kennis gegee wat tot die ewige lewe sou gelei het. Hulle het geweet dat hulle Skepper goed was, want hy het hulle in die pragtige tuin van Eden geplaas. Adam in die besonder het die goedheid van sy hemelse Vader ervaar toe God hom ’n pragtige en behulpsame vrou gegee het (Genesis 1:26, 29; 2:7-9, 18-23). Die voortgesette lewe van die eerste mensepaar het van gehoorsaamheid aan God afgehang.

9. Watter bevel het God aan die eerste mens gegee, en waarom was dit redelik?

9 God het Adam beveel: “Van al die bome van die tuin mag jy vry eet, maar van die boom van die kennis van goed en kwaad, daarvan mag jy nie eet nie; want die dag as jy daarvan eet, sal jy sekerlik sterwe” (Genesis 2:16, 17). As die Skepper het Jehovah God die reg gehad om sedelike standaarde te stel en te bepaal wat vir sy skepsele goed en sleg is. Sy bevel was redelik, want Adam en Eva was vry om vrugte van al die ander bome in die tuin te eet. Hulle kon hulle waardering vir Jehovah se regmatige heerskappy toon deur hierdie wet te gehoorsaam in plaas van uit trots hulle eie sedelike standaarde vas te stel.

10. (a) Hoe het Satan mense genader om hulle na sy kant toe te lok? (b) Watter beweegrede het Satan aan Jehovah toegeskryf? (c) Wat dink jy van Satan se aanval op God?

10 Die Duiwel het planne beraam om die eerste mense van God weg te rokkel. Om hulle na sy kant toe te lok, het Satan ’n leuen vertel. Die Duiwel het ’n slang gebruik, min of meer soos ’n buikspreker ’n pop gebruik, en vir Eva gevra: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” Toe Eva God se bevel herhaal het, het Satan gesê: “Julle sal gewis nie sterwe nie.” Hy het toe ’n slegte beweegrede aan Jehovah toegeskryf deur te sê: “God weet dat as julle daarvan eet, julle oë sal oopgaan, sodat julle soos God sal wees deur goed en kwaad te ken” (Genesis 3:1-5). Die Duiwel het dus te kenne gegee dat God iets goeds van hulle weerhou. Wat ’n lasterlike aanval op die waaragtige, liefdevolle hemelse Vader, Jehovah!

11. Hoe het Adam en Eva Satan se medepligtiges geword?

11 Eva het weer na die boom gekyk, en nou het sy vrugte besonder begeerlik gelyk. Sy het dus die vrug geneem en geëet. Later het haar man willens en wetens by haar aangesluit in hierdie sondige daad van ongehoorsaamheid aan God (Genesis 3:6). Hoewel Eva bedrieg is, het sy so–wel as Adam Satan se plan gesteun om oor die menseras te heers. Trouens, hulle het sy medepligtiges geword.—Romeine 6:16; 1 Timoteus 2:14.

12. Wat was die gevolg van die mens se opstand teen God?

12 Adam en Eva moes die gevolge van hulle dade dra. Hulle het nie soos God geword wat spesiale kennis het nie. Hulle het hulle eerder geskaam en hulle verberg. Jehovah het Adam tot verantwoording geroep en hierdie vonnis gevel: “In die sweet van jou aangesig sal jy brood eet totdat jy terugkeer na die aarde, want daaruit is jy geneem. Want stof is jy, en tot stof sal jy terugkeer” (Genesis 3:19). “Die dag” toe ons eerste ouers van die boom van die kennis van goed en kwaad geëet het, is hulle deur God gevonnis en het hulle in sy oë gesterf. Toe is hulle uit die Paradys verdryf en het hulle agteruitgang begin wat tot fisiese dood gelei het.

HOE DIE SONDE EN DIE DOOD VERSPREI HET

13. Hoe het die sonde tot die hele mensdom versprei?

13 Satan het blykbaar geslaag met sy plan om mense se verering te ontvang. Maar hy kon nie sy aanbidders aan die lewe hou nie. Toe die sonde in die eerste mensepaar begin werk het, kon hulle nie meer volmaaktheid aan hulle nakomelinge oordra nie. Soos ’n inskripsie wat in klip gegraveer is, is die sonde diep in die gene van ons eerste ouers gegraveer. Hulle kon dus net onvolmaakte nakomelinge voortbring. Aangesien al Adam en Eva se kinders verwek is nadat hulle gesondig het, het hulle nakomelinge die sonde en die dood geërf.—Psalm 51:7; Romeine 5:12.

14. (a) Met wie kan ons diegene vergelyk wat ontken dat hulle sonde het? (b) Hoe is die Israeliete van hulle sondigheid bewus gemaak?

14 Baie dink vandag egter nie dat hulle sondaars is nie. In party dele van die wêreld is die begrip van oorgeërfde sonde oor die algemeen onbekend. Maar dit is geen bewys dat sonde nie bestaan nie. ’n Seun met ’n vuil gesig sê dalk dat hy skoon is en word miskien net van die teendeel oor–tuig nadat hy in ’n spieël gekyk het. Die eertydse Israeliete was soos só ’n seun toe hulle God se Wet deur Sy profeet Moses ontvang het. Die Wet het duidelik getoon dat sonde bestaan. “Ek sou die sonde nie leer ken het as die Wet nie daar was nie”, verduidelik die apostel Paulus (Romeine 7:7-12). Soos die seun wat in ’n spieël kyk, kon die Israeliete, deur die Wet te gebruik om na hulleself te kyk, sien dat hulle in Jehovah se oë onrein is.

15. Wat word geopenbaar as ons in die spieël van God se Woord kyk?

15 Deur in die spieël van God se Woord te kyk en kennis te neem van die standaarde daarin, kan ons sien dat ons onvolmaak is (Jakobus 1:23-25). Dink byvoorbeeld aan wat Jesus Christus vir sy dissipels oor liefde vir God en vir hulle naaste gesê het, soos opgeteken in Matteus 22:37-40. Hoe dikwels skiet mense tog nie in hierdie opsigte te kort nie! Baie het nie eens ’n sweem van gewetenswroeging oor die feit dat hulle nie liefde vir God of vir hulle naaste toon nie.—Lukas 10:29-37.

PAS OP VIR SATAN SE TAKTIEK!

16. Wat kan ons doen om te voorkom dat ons ’n slagoffer van Satan se planne word, en waarom is dit moeilik?

16 Satan probeer om ons opsetlik sonde te laat beoefen (1 Johannes 3:8). Is daar enige manier waarop ons kan voorkom dat ons ’n slagoffer van sy planne word? Ja, maar dit vereis dat ons neigings tot opsetlike sonde bestry. Dit is nie maklik nie, want ons ingebore neiging tot sonde is baie sterk (Efesiërs 2:3). Paulus moes werklik hard stry. Waarom? Omdat die sonde in hom gewoon het. As ons God se goedkeuring wil geniet, moet ons ook die sondige neigings in ons bestry.—Romeine 7:14-24; 2 Korintiërs 5:10.

17. Wat maak die stryd teen ons sondige neigings moeiliker?

17 Aangesien Satan voortdurend geleenthede soek om ons God se wette te laat verbreek, is dit nie maklik om teen die sonde te stry nie (1 Petrus 5:8). Paulus was besorg oor mede-Christene en het gesê: “Ek is bang dat, soos die slang Eva deur sy listigheid verlei het, julle verstande op die een of ander wyse verderf sal word, weg van die opregtheid en die kuisheid af wat die Christus toekom” (2 Korintiërs 11:3). Satan gebruik vandag dieselfde soort taktiek. Hy probeer saadjies van twyfel saai oor Jehovah se goedheid en die voordele wat gehoorsaamheid aan God se bevele inhou. Die Duiwel probeer om ons oorgeërfde sondige neigings uit te buit en ons ’n weg van trots, hebsug, haat en vooroordeel te laat volg.

18. Hoe gebruik Satan die wêreld om sonde te bevorder?

18 Een van die middele wat die Duiwel teen ons gebruik, is die wêreld, wat in sy mag lê (1 Johannes 5:19). As ons nie versigtig is nie, sal ons weens die druk van verdorwe en oneerlike mense in die wêreld om ons ’n sondige weg inslaan wat God se sedelike standaarde skend (1 Petrus 4:3-5). Baie ignoreer God se wette en verontagsaam selfs die prikkels van hulle gewete, wat dit uiteindelik ongevoelig maak (Romeine 2:14, 15; 1 Timoteus 4:1, 2). Party begin geleidelik ’n weg volg wat selfs hulle onvolmaakte gewete hulle voorheen nie toegelaat het om te volg nie.—Romeine 1:24-32; Efesiërs 4:17-19.

19. Waarom is dit nie genoeg om net ’n rein lewe te lei nie?

19 Dit is ’n prestasie om in hierdie wêreld ’n rein lewe te lei. Maar meer as dit is nodig om ons Skepper te behaag. Ons moet ook geloof in God hê en ’n verantwoordelikheid teenoor hom voel (Hebreërs 11:6). “As iemand dan weet hoe om te doen wat reg is en dit tog nie doen nie, is dit vir hom ’n sonde”, het die dissipel Jakobus geskryf (Jakobus 4:17). Ja, om God en sy gebooie opsetlik te verontagsaam, is op sigself ’n vorm van sonde.

20. Hoe sal Satan jou dalk probeer keer om te doen wat reg is, maar wat sal jou help om sulke druk te weerstaan?

20 Satan sal heel waarskynlik teenstand aanwakker teen jou pogings om die kennis van God deur jou studie van die Bybel op te doen. Ons hoop van harte dat jy nie sal toelaat dat sulke druk jou keer om te doen wat reg is nie (Johannes 16:2). Hoewel baie heersers gedurende Jesus se bediening in hom geglo het, het hulle hom nie bely nie, want hulle was bang dat hulle in hulle gemeenskap verwerp sou word (Johannes 12:42, 43). Satan is genadeloos in sy strewe om almal wat die kennis van God soek te intimideer. Maar jy moet altyd die wonderlike dinge wat Jehovah gedoen het in gedagte hou en waardeer. Jy kan dalk selfs teenstanders help om dieselfde waardering te verkry.

21. Hoe kan ons die wêreld en ons sondige neigings oorwin?

21 Ons sal sondig solank ons onvolmaak is (1 Johannes 1:8). Ons het nietemin hulp in hierdie stryd. Ja, dit is moontlik om te seëvier in ons stryd teen die bose, Satan die Duiwel (Romeine 5:21). Aan die einde van Jesus se bediening op die aarde het hy sy volgelinge met hierdie woorde aangemoedig: “In die wêreld het julle verdrukking, maar skep moed! Ek het die wêreld oorwin” (Johannes 16:33). Dit is selfs vir onvolmaakte mense moontlik om die wêreld met God se hulp te oorwin. Satan het geen houvas op dié wat hom teëstaan en ‘hulle aan God onderwerp’ nie (Jakobus 4:7; 1 Johannes 5:18). Soos ons sal sien, het God ’n uitweg uit slawerny aan die sonde en die dood voorsien.

TOETS JOU KENNIS

Wie is Satan die Duiwel?

Waarom word mense oud en sterf hulle?

Wat is sonde?

Hoe verlok Satan mense om opsetlik teen God te sondig?

[Volbladillustrasie op bladsy 54]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel