Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • jv hfst. 21 bl. 340-351
  • Hoe word dit alles gefinansier?

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe word dit alles gefinansier?
  • Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • “Gratis sitplekke. Geen kollektes”
  • Ondersteun deur vrywillige bydraes
  • Die finansiering van plaaslike vergaderplekke
  • Finansiering van uitbreiding van die wêreldhoofkwartier
  • Finansiering van die uitbreiding van takkantoorfasiliteite
  • Word daar wins uit die lektuur gemaak?
  • Hulle dien nie om persoonlike gewin nie
  • Hoe Koninkryksbedrywighede gefinansier word
    God se Koninkryk regeer!
  • Hoe Jehovah sy werk seën
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1990
  • “Waar kom die geld vandaan?”
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1995
  • Die ontwikkeling van die organisasie se struktuur
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
Sien nog
Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
jv hfst. 21 bl. 340-351

Hoofstuk 21

Hoe word dit alles gefinansier?

DIT is vanselfsprekend dat die werk wat Jehovah se Getuies doen geld vereis. Dit kos geld om Koninkryksale, Byeenkomssale, takkantore, fabrieke en Bethelhuise te bou, en nog geld is nodig om hulle in stand te hou. Uitgawes word ook aangegaan om Bybellektuur te druk en te versprei. Hoe word dit alles gefinansier?

Mense wat die werk van Jehovah se Getuies teëstaan, het al publisiteit gegee aan ongegronde bespiegelings in hierdie verband. Maar ’n ondersoek van die bewyse staaf die antwoord wat die Getuies self gee. Wat is dit? Die meeste van die werk word deur vrywilligers gedoen wat nie finansiële vergoeding vir hulle dienste verwag of wil hê nie, en organisatoriese uitgawes word deur vrywillige bydraes gedek.

“Gratis sitplekke. Geen kollektes”

Broer Russell het reeds in Augustus 1879, in die tweede nommer van Die Wagtoring (Engelse uitgawe), gesê: “Ons glo dat JEHOVAH die ondersteuner van ‘Zion’s Watch Tower’ is, en solank dit die geval is, sal dit nooit bedel of mense om ondersteuning smeek nie. Wanneer Hy wat sê: ‘Aan My behoort die silwer en aan My die goud’, nie die nodige geld voorsien nie, sal ons verstaan dat dit tyd is om die publikasie te staak.” In ooreenstemming hiermee word daar nie in die lektuur van Jehovah se Getuies om geld gebedel nie.

Wat vir hulle lektuur geld, geld ook vir hulle vergaderinge. Daar is geen emosionele oproepe om bydraes in hulle gemeentes of by hulle byeenkomste nie. Geen kollekteborde word omgestuur nie; geen koeverte vir geldskenkings word uitgedeel nie; geen bedelbriewe word aan gemeentelede gestuur nie. Gemeentes maak nooit gebruik van bingo of loterye om geld in te samel nie. Die Wagtoringgenootskap het reeds in 1894, toe hulle reisende sprekers uitgestuur het, die volgende kennisgewing tot voordeel van almal gepubliseer: “Dit moet van die begin af duidelik wees dat hierdie Genootskap nie kollektes of ander oproepe om geld magtig of goedkeur nie.”

Op die strooibiljette en ander gedrukte uitnodigings aan die publiek om die vergaderinge van Jehovah se Getuies by te woon, het daar dus sedert die vroeë dae van hulle hedendaagse geskiedenis die kenmerkende woorde “Gratis sitplekke. Geen kollektes” verskyn.

Die Bybelstudente het vroeg in 1914 teaters en ander gehoorsale begin huur en die publiek daarheen genooi om na die “Fotodrama van die Skepping” te kyk. Die vertoning het uit vier dele bestaan, wat altesaam agt uur geduur en uit skyfies en rolprente bestaan het wat met klank gesinchroniseer is. In die eerste jaar alleen het miljoene mense in Noord-Amerika, Europa, Australië en Nieu-Seeland dit gesien. Hoewel sommige teatereienaars betaling vir gereserveerde sitplekke gevra het, het die Bybelstudente nooit toegangsgeld gevra nie. En geen kollektes is gehou nie.

Later het die Wagtoringgenootskap die WBBR-radiostasie in New York-stad langer as 30 jaar bestuur. Jehovah se Getuies het ook die dienste van honderde ander stasies gebruik om Bybelonderrigprogramme uit te saai. Maar hulle het nooit hierdie uitsendings gebruik om geld te bedel nie.

Hoe verkry hulle dan die bydraes wat hulle bedrywighede finansier?

Ondersteun deur vrywillige bydraes

Die Bybel toon watter prosedure gevolg moet word. Onder die Mosaïese Wet was daar sekere vrywillige bydraes. Ander bydraes was verpligtend. Die gee van ’n tiende het onder hierdie kategorie geval (Ex. 25:2; 30:11-16; Num. 15:17-21; 18:25-32). Maar die Bybel toon ook dat Christus die Wet vervul en dat God dit beëindig het; gevolglik staan Christene nie onder die verpligtinge daarvan nie. Hulle gee nie tiendes nie en hulle is ook nie verplig om enige ander bydrae te gee nie, hetsy ’n spesifieke bedrag of op ’n spesifieke tyd.—Matt. 5:17; Rom. 7:6; Kol. 2:13, 14.

Hulle word eerder aangemoedig om ’n vrygewige en ruimhartige gesindheid aan te kweek in navolging van die wonderlike voorbeeld wat Jehovah en sy Seun, Jesus Christus, stel (2 Kor. 8:7, 9; 9:8-15; 1 Joh. 3:16-18). Die apostel Paulus het dus met betrekking tot mededeelsaamheid aan die Christengemeente in Korinthe geskryf: “Laat elkeen gee soos hy hom in sy hart voorneem, nie met droefheid of uit dwang nie, want God het ’n blymoedige gewer lief.” Wanneer hulle van die een of ander behoefte verneem het, is ‘die egtheid van hulle liefde op die proef gestel’, soos Paulus verduidelik het. Hy het ook gesê: “As die bereidwilligheid daar is, is dit welgevallig volgens wat iemand besit, nie volgens wat hy nie besit nie.”—2 Kor. 8:8, 12; 9:7.

In die lig hiervan is Tertullianus se kommentaar oor vergaderinge wat gehou is deur mense wat in sy dag (ca.155–ná 220 G.J.) die Christelike godsdiens beoefen het interessant. Hy het geskryf: “Selfs al is daar ’n kis, is die geld wat daarin gegooi word nie toegangsgeld, asof godsdiens op ’n kontrakbasis aangebied word nie. Elkeen bring een keer per maand ’n bedraggie—of net wanneer hy wil, en slegs as hy wil en as hy kan; want niemand word verplig nie; dit is ’n vrywillige bydrae” (Apology, XXXIX, 5). Maar gedurende die daaropvolgende eeue het die kerke van die Christendom elke denkbare geldinsamelingskema gebruik om hulle bedrywighede te finansier.

Charles Taze Russell het geweier om dieselfde as die kerke te doen. Hy het geskryf: “Ons glo dat geld wat deur middel van die verskillende bedelmetodes in die naam van ons Here ingesamel word vir hom aanstootlik en onaanvaarbaar is en nie sy seën op die gewers of op die werk wat gedoen word, meebring nie.”

Pleks van die rykes se guns te probeer wen, het broer Russell, in ooreenstemming met die Skrif, duidelik gesê dat die meeste van die Here se volk arm sal wees aan hierdie wêreld se goed, maar ryk in die geloof (Matt. 19:23, 24; 1 Kor. 1:26-29; Jak. 2:5). Pleks van te beklemtoon dat geld nodig is om Bybelwaarheid te kan verkondig, het hy eerder die aandag gevestig op die belangrikheid om die gees van liefde aan te kweek, asook die begeerte om te gee en die begeerte om ander te help, veral deur die waarheid aan hulle te verkondig. Aan dié vir wie dit maklik was om geld te maak en wat voorgestel het dat hulle hulle hoofsaaklik aan hulle sakebedrywighede wy sodat hulle meer sou hê om geldelik by te dra, het hy gesê dat dit beter sou wees om sulke bedrywighede te beperk en van hulle energie en van hulle tyd te gee om die waarheid te verkondig. Die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies huldig steeds hierdie beskouing.a

Hoeveel gee mense in die werklikheid? Dit is ’n persoonlike besluit. Maar wat mededeelsaamheid betref, moet daar in ag geneem word dat Jehovah se Getuies nie net aan materiële besittings dink nie. By hulle streekbyeenkomste in 1985-86 het hulle die onderwerp “Eer Jehovah met ons waardevolle dinge” bespreek (Spr. 3:9, NW). Daar is beklemtoon dat hierdie waardevolle dinge nie net materiële besittings nie, maar ook liggaamlike, verstandelike en geestelike bates insluit.

In 1904 het broer Russell daarop gewys dat iemand wat hom ten volle aan God toegewy het “reeds alles wat hy het aan die Here gegee het”. Derhalwe moet hy “homself nou as iemand beskou wat deur die Here aangestel is as die bestuurder van sy eie tyd, invloed, geld, ens., en elkeen moet hierdie talente na die beste van sy vermoë, tot eer van die Meester, gebruik”. Hy het bygevoeg dat die individu, gelei deur die wysheid van bo, “na die mate waarin sy liefde en ywer vir die Here dag vir dag deur ’n kennis van die Waarheid en die verkryging van die gees toeneem, sal vind dat hy al hoe meer van sy tyd, al hoe meer van sy invloed en al hoe meer van die middele wat hy besit, sal gee ter bevordering van die Waarheidsdiens”.—Studies in the Scriptures, “The New Creation”, bl. 344-5.

Gedurende daardie vroeë jare het die Wagtoringgenootskap die sogenoemde Wagtoring-traktaatfonds gehad. Wat was dit? Die volgende interessante besonderhede het agterop skryfpapier verskyn wat broer Russell soms gebruik het: “Hierdie fonds bestaan uit die vrywillige offergawes van diegene wat gevoed en versterk is deur die ‘voedsel op tyd’ wat die publikasies hierbo [wat deur die Wagtoringgenootskap beskikbaar gestel word], as God se instrumente, nou aan die heiliges oor die hele wêreld voorsit.

“Hierdie fonds word deurentyd gebruik om duisende eksemplare van ZION’S WATCH TOWER en OLD THEOLOGY TRACTS, wat baie gepas vir nuwe lesers is, gratis uit te stuur. Dit word ook aangewend om die slapbanduitgawes van die DAWN-reeks te versprei deur diegene te help wat hulle kan versprei—kolporteurs en ander. Dit maak ook voorsiening vir ’n ‘armefonds’, waardeur DIE WAGTORING gratis gestuur word aan enige van die Here se kinders wat weens ouderdom of siekte of ’n ander rede nie daarop kan inteken nie, op voorwaarde dat hulle aan die begin van elke jaar ’n brief of kaartjie stuur waarin hulle dit aanvra en meld dat hulle dit nie kan bekostig nie.

“Niemand word ooit gevra om tot hierdie fonds by te dra nie: alle bydraes moet vrywillig wees. Ons herinner ons lesers aan die Apostel se woorde (1 Kor. 16:1, 2) en beaam dit deur te sê dat diegene wat kan gee en wat wel gee sodat die waarheid verkondig kan word ongetwyfeld geestelike seëninge as beloning sal ontvang.”

Die wêreldwye bedrywighede van Jehovah se Getuies om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig, word steeds deur vrywillige bydraes gefinansier. Benewens die Getuies self, beskou talle waarderende belangstellendes dit as ’n voorreg om hierdie Christelike werk deur middel van hulle vrywillige bydraes te steun.

Die finansiering van plaaslike vergaderplekke

Elke gemeente van Jehovah se Getuies het bydraebussies waarin mense enige bydraes kan plaas wat hulle graag wil—wanneer hulle wil en as hulle kan. Dit geskied onopsigtelik sodat ander gewoonlik nie bewus is van wat iemand doen nie. Dit is tussen hom en God.

Daar is geen salarisse wat betaal moet word nie, maar dit kos geld om ’n vergaderplek in stand te hou. Om in daardie behoefte te kan voorsien, moet gemeentelede daarvan in kennis gestel word. Maar Die Wagtoring het dit al meer as 70 jaar gelede duidelik gestel dat daar nie gebedel of druk uitgeoefen moet word in verband met bydraes nie—bloot ’n eenvoudige, eerlike weergawe van die feite. In ooreenstemming met hierdie beskouing word geldelike sake nie dikwels tydens gemeentelike vergaderinge bespreek nie.

Soms is daar egter spesiale behoeftes. Daar word moontlik beplan om ’n Koninkryksaal op te knap of te vergroot of miskien om ’n nuwe een te bou. Om vas te stel hoeveel fondse beskikbaar sal wees, sal die ouere manne moontlik die gemeentelede vra om op ’n papiertjie te skryf wat hulle individueel tot die projek sal kan bydra of moontlik vir ’n paar jaar beskikbaar sal kan stel. Daarbenewens sal die ouere manne dalk vra dat individue of gesinne op ’n papiertjie aandui hoeveel hulle dink hulle, met Jehovah se seën, weekliks of maandeliks sal kan bydra. Geen name word gegee nie. Hierdie papiertjies is nie skuldbewyse nie, maar dien as ’n grondslag vir ingeligte beplanning.—Luk. 14:28-30.

In Tarma, Liberië, het die gemeente die nodige fondse op ’n effens ander manier gekry. Sommige in die gemeente het vir ’n ander Getuie rys in sy rysland verbou terwyl hy ’n hele jaar lank bome gekap en met die hand planke gesaag het, wat toe verkoop is om geld vir hulle bouprojek te kry. Hoewel ’n gemeente in Paramaribo, Suriname, boumateriaal moes koop, het hulle nie geld vir grond nodig gehad nie, omdat ’n Getuie haar grond vir die Koninkryksaal geskenk het en net gevra het dat haar huis na die agterste gedeelte van die perseel geskuif word. Die ontsaglike hoë pryse van vaste eiendom in Tokio, Japan, het dit vir gemeentes in dié stad moeilik gemaak om grond te koop waarop hulle ’n Koninkryksaal kon bou. Om hierdie probleem te help oplos, het verskeie gesinne die grond aangebied waarop hulle eie huis gestaan het. Al wat hulle gevra het, was ’n woonstel bo-op die nuwe Koninkryksaal nadat dit hulle huis vervang het.

Namate gemeentes gegroei het en verdeel is om nuwes te vorm, het dié in ’n spesifieke gebied mekaar dikwels probeer help om geskikte Koninkryksale te kry. Ten spyte van daardie vrygewige gesindheid was nog iets nodig. Eiendomspryse en boukoste het die hoogte ingeskiet, en dit was dikwels vir individuele gemeentes onmoontlik om die nodige fondse daarvoor te kry. Wat kon gedoen word?

By die “Koninkrykseenheid”-Streekbyeenkomste in 1983 het die Bestuursliggaam ’n reëling uiteengesit wat toepassing van die beginsel in 2 Korinthiërs 8:14, 15 sou verg, waar Jehovah se knegte aangemoedig word dat die oorvloed van dié wat dit het die tekort van ander moet aanvul sodat “gelykmaking kan plaasvind” (NW). Diegene wat min het, sal gevolglik nie so min hê dat hulle pogings om Jehovah te dien, belemmer word nie.

Elke gemeente is genooi om ’n bydraebussie aan te skaf wat “Bydraes vir Genootskap-Koninkryksaalfonds” gemerk moes word. Alles wat in daardie bussie geplaas sou word, sou net vir daardie doel aangewend word. Geld wat landwyd geskenk is, sou dus beskikbaar gestel word om die tekort van gemeentes aan te vul wat ’n Koninkryksaal dringend nodig gehad het, maar dit weens plaaslike banke se betalingsvoorwaardes nie self kon reël nie. Ná ’n sorgvuldige opname om vas te stel waar die behoefte werklik die dringendste was, het die Genootskap begin om daardie geld beskikbaar te stel aan gemeentes wat Koninkryksale moes bou of op ander maniere moes aanskaf. Namate meer bydraes ontvang is en lenings (in lande waar dit gedoen kon word) terugbetaal is, kon nog ander gemeentes gehelp word.

Hierdie reëling is eers in die Verenigde State en Kanada in werking gestel en sedertdien in meer as 30 lande in Europa, Afrika, Latyns-Amerika en die Verre-Ooste. Teen 1992 is daar reeds, in net agt van hierdie lande, genoeg geld beskikbaar gestel om 2 737 Koninkryksale, wat deur 3 840 gemeentes gebruik word, te help finansier.

Selfs in lande wat nie hierdie reëling gehad het nie, maar waar Koninkryksale dringend nodig was en nie plaaslik gefinansier kon word nie, het die Bestuursliggaam ander reëlings probeer tref om toe te sien dat hulp verskaf word. Sodoende het ’n gelykmaking plaasgevind, sodat dié wat min gehad het nie té min gehad het nie.

Finansiering van uitbreiding van die wêreldhoofkwartier

Die werksaamhede by die wêreldhoofkwartier verg ook geld. Ná die Eerste Wêreldoorlog, toe die Wagtoring- Bybel- en Traktaatgenootskap dit voordelig gevind het om hulle eie boeke te druk en te bind, het hulle ’n reëling ingestel waarvolgens private partye—medeknegte van Jehovah—die nodige masjinerie namens die Genootskap gekoop het. Pleks van ’n handelsmaatskappy wins te laat maak deur hulle vir die druk van die boeke te betaal, het die Genootskap hierdie geld elke maand gebruik om die skuld op die toerusting af te betaal. Toe die voordele hiervan gerealiseer is, is die koste van heelwat van die lektuur aan die publiek met ongeveer die helfte gesny. Dit alles is gedoen om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder, nie om die Wagtoringgenootskap te verryk nie.

Binne ’n paar jaar het dit duidelik geword dat groter fasiliteite by die wêreldhoofkwartier nodig was om na die wêreldwye Koninkrykspredikingswerk om te sien. Namate die organisasie gegroei het en die predikingsbedrywigheid verskerp is, het dit keer op keer nodig geword om hierdie fasiliteite uit te brei. Pleks van die banke om die nodige fondse te nader om die hoofkwartier se kantore en fabrieke asook die steunfasiliteite in en om New York te vergroot en toe te rus, het die Genootskap die behoefte aan die broers verduidelik. Dit is egter nie dikwels gedoen nie—net 12 keer gedurende ’n tydperk van 65 jaar.

Daar is nog nooit om geld gebedel nie. Enigiemand wat ’n bydrae wóú gee, is genooi om dit te doen. Diegene wat bereid was om vir die Genootskap geld te leen, is die versekering gegee dat hulle lening onmiddellik op aanvraag terugbetaal sou word indien hulle dit onverwags en dringend nodig sou kry. Die Genootskap het sake dus altyd só probeer hanteer dat geen individu of gemeente wat goedhartig fondse beskikbaar gestel het ’n swaar las opgelê sou word nie. Die steun wat Jehovah se Getuies deur middel van hulle bydraes gegee het, het die Genootskap nog altyd in staat gestel om alle lenings terug te betaal. Hierdie bydraes wat aan die Genootskap gestuur word, word nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Waardering daarvoor word sover moontlik deur briewe en andersins betuig.

Die organisasie se werk word nie deur die bydraes van ’n groep ryk skenkers aan die gang gehou nie. Die meeste van die bydraes kom van mense wat net ’n beskeie inkomste het—baie van hulle het baie min wêreldse besittings. Onder hulle is daar ook kindertjies wat die Koninkrykswerk op hierdie manier wil ondersteun. Die hart van al hierdie skenkers word beweeg deur diepe waardering vir Jehovah se goedheid en ’n begeerte om ander te help om van sy genadige voorsienings te leer.—Vergelyk Markus 12:42-44.

Finansiering van die uitbreiding van takkantoorfasiliteite

Aangesien die Koninkrykspredikingswerk in verskeie wêrelddele op al hoe groter skaal gedoen word, het dit nodig geraak om die organisasie se takkantoorfasiliteite te vergroot. Dit word onder leiding van die Bestuursliggaam gedoen.

Nadat aanbevelings van die takkantoor in Duitsland bespreek is, het hulle byvoorbeeld in 1978 goedkeuring ontvang om ’n geskikte stuk grond te soek en dan ’n heeltemal nuwe kompleks te bou. Sou die Duitse Getuies die onkoste kon dek? Hulle is die geleentheid gebied. In 1984, aan die einde van daardie projek in Selters, aan die westekant van die Taunusberge, het die takkantoor berig: “Tienduisende Getuies van Jehovah—ryk en arm, jonk en oud—het miljoene rande bygedra om vir die nuwe geriewe te help betaal. Danksy hulle vrygewigheid kon die hele projek voltooi word sonder dat geld van wêreldlike instansies geleen of skuld aangegaan moes word.” Daarbenewens het ongeveer 1 uit elke 7 Getuies in die Bondsrepubliek Duitsland ’n aandeel in die bouwerk by Selters/Taunus gehad.

In party ander lande het die plaaslike ekonomie of die geldelike posisie van Jehovah se Getuies dit vir hulle baie moeilik, selfs onmoontlik, gemaak om die nodige takkantore te bou wat toesig oor die werk kan hou of fabrieke waar Bybellektuur in die plaaslike tale gedruk kan word. Die Getuies in die land is die geleentheid gegee om te doen wat hulle kon (2 Kor. 8:11, 12). Maar daar word nie toegelaat dat ’n gebrek aan fondse in ’n land die verkondiging van die Koninkryksboodskap belemmer as die nodige geld elders beskikbaar is nie.

Hoewel plaaslike Getuies doen wat hulle kan, word takkantoorgeboue in ’n groot deel van die wêreld dus in aansienlike mate deur bydraes van Jehovah se Getuies in ander lande gefinansier. Dit was die geval met die groot komplekse wat in 1987 in Suid-Afrika, in 1990 in Nigerië en in 1991 in die Filippyne voltooi is. Dit was ook die geval in Zambië, waar potensiële drukfasiliteite nog in 1992 in aanbou was. Dieselfde het gegeld vir talle kleiner projekte wat voltooi is, soos dié in Indië in 1985; Chili in 1986; Costa Rica, Ecuador, Guyana, Haïti en Papoea-Nieu-Guinee in 1987; Ghana in 1988 en Honduras in 1989.

In sommige lande was die broers egter verbaas oor wat hulle plaaslik kon vermag met Jehovah se seën op hulle verenigde pogings. Die tak in Spanje het byvoorbeeld in die vroeë tagtigerjare stappe begin doen om sy fasiliteite grootliks uit te brei. Die takkantoor het die Bestuursliggaam gevra om die nodige geld te voorsien. Maar omdat ander fasette van die werk destyds groot uitgawes vereis het, kon hulp nie in daardie stadium verleen word nie. Kon die Spaanse Getuies, met hulle betreklik lae lone, genoeg fondse vir so ’n onderneming voorsien indien hulle die geleentheid gegee sou word?

Die situasie is aan hulle verduidelik. Hulle het met blydskap hulle juwele, ringe en armbande geskenk sodat dit in kontant omgesit kon word. Toe een bejaarde Getuie gevra is of sy seker is dat sy die swaar goue armband wil skenk wat sy gegee het, het sy gesê: “Broer, dit sal baie meer vir ’n nuwe Bethel beteken as wat dit aan my arm sal beteken!” ’n Ouerige suster het ’n hopie ou banknote uitgehaal wat sy deur die jare heen onder die vloer van haar huis weggesteek het. Egpare het die geld bygedra wat hulle vir vakansies gespaar het. Kinders het hulle spaargeld gestuur. ’n Jong seun wat ’n ghitaar wou koop, het die geld vir die takkantoorprojek gestuur. Die Spaanse Getuies was, soos die Israeliete toe die tabernakel in die wildernis gebou is, vrygewige en gewillige gewers van alles wat materieel nodig was (Ex. 35:4-9, 21, 22). Toe het hulle hulleself beskikbaar gestel—voltyds, gedurende vakansies, oor naweke—om die werk self te doen. Hulle het van oral in Spanje gekom—duisende van hulle. Ander Getuies uit Duitsland, Swede, Groot-Brittanje, Griekeland en die Verenigde State, om net ’n paar te noem, het by hulle aangesluit om wat aanvanklik na ’n onmoontlike taak gelyk het te voltooi.

Word daar wins uit die lektuur gemaak?

In 1992 is Bybellektuur nie net by die wêreldhoofkwartier nie, maar ook by 32 takke regoor die wêreld gedruk. Ontsaglike hoeveelhede daarvan is voorsien om deur Jehovah se Getuies versprei te word. Maar dit is glad nie vir finansiële gewin gedoen nie. Besluite oor die tale waarin lektuur gedruk en die lande waarheen dit gestuur sou word, is nie geneem om enige geldelike voordele daaruit te kry nie, maar alleenlik met die doel om die werk te doen wat Jesus Christus sy volgelinge gegee het.

Reeds in Julie 1879, toe die heel eerste nommer van Die Wagtoring (Engelse uitgawe) uitgegee is, het dit ’n kennisgewing bevat dat diegene wat te arm was om vir ’n intekening te betaal (toe net 50 Amerikaanse sent per jaar) dit gratis kon kry as hulle net sou skryf en daarvoor sou vra. Die hoofdoel was om mense te help om van Jehovah se grootse voorneme te leer.

Te dien einde is daar sedert 1879 ontsaglike hoeveelhede lektuur gratis onder die publiek versprei. In 1881 en daarna is ongeveer 1 200 000 eksemplare van Food for Thinking Christians gratis versprei. Baie hiervan was in die vorm van ’n boek met 162 bladsye; ander was in koerantformaat. Tientalle traktate van verskillende groottes is gedurende die daaropvolgende jare gedruk. Die oorgrote meerderheid hiervan (letterlik honderdmiljoene eksemplare) is gratis versprei. Al hoe meer traktate en ander publikasies is versprei. Die rapport vir 1915 het getoon dat daar in daardie jaar alleen 50 000 000 traktate in sowat 30 tale gedruk is om gratis oor die hele wêreld versprei te word. Waar het al die geld vandaan gekom? Hoofsaaklik van vrywillige bydraes aan die Genootskap se traktaatfonds.

Gedurende die vroeë dekades van die Genootskap se geskiedenis is sekere publikasies ook teen ’n bydrae aangebied, maar die voorgestelde bydrae is so laag moontlik gehou. Hierdie lektuur het boeke met 350 tot 744 bladsye ingesluit. Wanneer die Genootskap se kolporteurs (soos die voltydse predikers toe bekend gestaan het) die publiek hierdie boeke aangebied het, het hulle die voorgestelde bydrae genoem. Hulle oogmerk was egter nie om geld te maak nie, maar om lewensbelangrike Bybelwaarhede by mense te laat. Hulle wou hê dat mense die lektuur moet lees en daarby moet baat vind.

Hulle was heeltemal bereid om vir iemand lektuur te gee (en dan self die bydrae daarvoor te dek) as die huisbewoner baie arm was. Die ondervinding het egter getoon dat baie mense meer geneig is om ’n publikasie te lees as hulle iets daarvoor gegee het, en hulle bydrae kan natuurlik gebruik word om nog lektuur te druk. Maar om te beklemtoon dat die Bybelstudente nie geld probeer maak nie, het die Genootskap se diensinligtingsblaadjie, die Bulletin, van 1 Oktober 1920, gesê: “Tien dae nadat jy die boekie [een met 128 bladsye] afgelewer het, moet jy na die mense toe teruggaan en vasstel of hulle dit gelees het. Indien nie, moet jy die boek terugvra en hulle hulle geld teruggee. Sê vir hulle dat jy nie ’n boekverkoper is nie, maar dat jy daarin belangstel om hierdie boodskap van vertroosting en bemoediging aan almal oor te dra, en dat jy, as hulle nie genoeg belangstel in iets wat hulle só direk raak nie . . . liewer die boek by iemand wil laat wat wel sal belangstel.” Jehovah se Getuies gebruik nie meer daardie metode nie, want hulle het gevind dat ander gesinslede soms die lektuur optel en lees en daarby baat vind; maar wat destyds gedoen is, toon wat die Getuies se ware oogmerk is.

Hulle het baie jare lank die verspreiding van lektuur “verkoop” genoem. Maar hierdie terminologie het ’n bietjie verwarring veroorsaak, met die gevolg dat dit van 1929 af geleidelik laat vaar is. Die woord het nie werklik by hulle bedrywigheid gepas nie, want hulle werk was nie kommersieel van aard nie. Dit was nie hulle oogmerk om geld te maak nie. Hulle enigste motief was die verkondiging van die goeie nuus van God se Koninkryk. As gevolg hiervan het die Appèlhof van die Verenigde State in 1943 beslis dat Jehovah se Getuies nie verplig kan word om ’n kommersiële smouslisensie uit te neem voor hulle hulle lektuur versprei nie. En die Kanadese regbank het later die Amerikaanse Appèlhof se redenasie in daardie uitspraak onderskryf.b

In baie lande vra Jehovah se Getuies gewoonlik ’n bydrae vir hulle lektuur. Vergeleke met ander boeke en tydskrifte is die voorgestelde bydrae so laag dat baie mense al aangebied het om meer by te dra. Maar die organisasie probeer baie hard om die voorgestelde bydrae laag te hou sodat dit binne die bereik van talle miljoene sal wees wat materieel baie min het, maar dankbaar is om ’n Bybel of Bybellektuur te ontvang. Die doel van die voorgestelde bydrae is egter nie om Jehovah se Getuies as organisasie te verryk nie.

Waar die wet bepaal dat enige verspreiding van Bybellektuur ’n handelsaktiwiteit is as die verspreider voorstel dat ’n bydrae vir die lektuur gegee word, laat Jehovah se Getuies dit graag gratis by enigiemand wat opregte belangstelling toon en belowe om dit te lees. Diegene wat iets wil bydra om die Bybelonderrigtingswerk te bevorder, kan gee wat hulle wil. Dit word byvoorbeeld in Japan gedoen. In Switserland is daar nog tot onlangs bydraes vir lektuur aanvaar, mits dit nie ’n vooraf gemelde bedrag oorskry het nie; as huisbewoners meer wou gee, het die Getuies dit dus eenvoudig teruggegee of het hulle die huisbewoner nog lektuur gegee. Hulle begeerte is nie om geld in te samel nie, maar om die goeie nuus van God se Koninkryk te verkondig.

Weens opspraakwekkende finansiële skandale in sommige van die Christendom se godsdienste, asook ’n groeiende tendens by regerings om godsdiensbedrywighede as ’n handelsonderneming te klassifiseer, het Jehovah se Getuies in 1990 ’n paar veranderings in hulle bedrywighede aangebring om enige misverstand te voorkom. Die Bestuursliggaam het bepaal dat alle lektuur wat in die Verenigde State deur die Getuies versprei word—Bybels, asook traktate, boekies, tydskrifte en boeke wat die Bybel verduidelik—aan mense gegee kan word op voorwaarde dat hulle dit sal lees, sonder om enigsins ’n bydrae te vra. Die bedrywighede van Jehovah se Getuies is geensins kommersieel van aard nie, en hierdie reëling het gehelp om hulle nog verder te onderskei van godsdiensgroepe wat godsdiens kommersialiseer. Die meeste mense is natuurlik daarvan bewus dat dit geld kos om hierdie lektuur te druk, en diegene wat die Getuies se diens waardeer, sal moontlik iets wil skenk om met die werk te help. Daar word aan sulke mense verduidelik dat die wêreldwye Bybelonderrigtingswerk wat Jehovah se Getuies doen deur vrywillige skenkings moontlik gemaak word. Hoewel skenkings met graagte aanvaar word, vra die Getuies nooit daarvoor nie.

Diegene wat aan die veldbediening deelneem, doen dit nie vir finansiële gewin nie. Hulle gee van hulle tyd en betaal hulle eie vervoerkoste. As iemand belangstelling toon, reël hulle om elke week terug te gaan om hom persoonlik in die Bybel te onderrig, en dít absoluut gratis. Net liefde vir God en vir hulle medemens kan hulle beweeg om met hierdie bedrywigheid aan te hou, dikwels ondanks onverskilligheid en direkte teëstand.

Geld wat deur die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies of deur die takkantore ontvang word, word nie gebruik om die organisasie of enige individu te verryk nie, maar om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder. In 1922 het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) berig dat die boeke wat in Europa vir die Genootskap gedruk word vanweë die ekonomiese situasie in Europa hoofsaaklik deur die Amerikaanse kantoor betaal word en dat die boeke dikwels teen minder as die kosprys by mense gelaat word. Hoewel Jehovah se Getuies nou drukkerye in baie lande het, kan party van die lande waarheen lektuur versend word nie geld uit die land stuur om die koste te dek nie. Die ruimhartige, vrywillige bydraes van Jehovah se Getuies in lande waar hulle genoeg middele het, help om die gebrek in lande waar hulle min het aan te vul.

Die Wagtoringgenootskap het nog altyd probeer om al die middele tot sy beskikking te gebruik om die verkondiging van die goeie nuus te bevorder. In 1915 het Charles Taze Russell, as president van die Genootskap, gesê: “Ons Genootskap het nie probeer om aardse skatte bymekaar te maak nie, maar is eerder ’n instelling wat sy geld gebruik. Wat ook al deur God se beskikking vir ons gestuur is sonder dat ons daarvoor gevra het, het ons in ooreenstemming met die Woord en Gees van die Here so verstandig moontlik bestee. Ons het lank gelede aangekondig dat as die fondse begin opdroog, die Genootskap se bedrywighede in verhouding daarmee sal afneem; en dat as die fondse meer word, die Genootskap se bedrywighede sal uitbrei.” Dit is presies wat die Genootskap steeds doen.

Die organisasie gebruik vandag nog beskikbare fondse om reisende opsieners uit te stuur om die gemeentes te versterk en in hulle openbare bediening aan te moedig. Hy stuur steeds sendelinge en gegradueerdes van die Bedieningsopleidingskool na lande waar daar ’n spesiale behoefte is. Hy gebruik ook alle beskikbare fondse om spesiale pioniers na gebiede te stuur waar mense nog min of glad nie van die Koninkryksboodskap gehoor het nie. Soos die 1993 Yearbook of Jehovah’s Witnesses toon, is daar gedurende die vorige diensjaar $45 218 257,56 (Amerikaanse dollar) aan hierdie bedrywighede bestee.

Hulle dien nie om persoonlike gewin nie

Geen geldelike wins word deur enige lede van die Bestuursliggaam, bestuurslede van sy wetlike liggame of ander prominente persone wat aan die organisasie verbonde is uit die werk van Jehovah se Getuies gemaak nie.

’n Metgesel het oor C. T. Russell, wat meer as 30 jaar as president van die Wagtoringgenootskap gedien het, geskryf: “Om vas te stel of sy handelswyse met die Skrif strook, en ook om sy eie opregtheid te toon, het hy besluit om die Here se goedkeuring soos volg te toets: (1) Hy het sy lewe aan die saak gewy; (2) Hy het sy fortuin in die bekendmaking van die werk belê; (3) Hy het kollektes by alle vergaderinge verbied; (4) Hy het staatgemaak op ongevraagde bydraes (heeltemal vrywillig) om met die werk voort te gaan nadat sy fortuin uitgeput was.”

Pleks van godsdiensbedrywighede te gebruik om materiële rykdom vir homself op te gaar, het broer Russell eerder al sy geldmiddele aan die Here se werk bestee. Ná sy dood het Die Wagtoring (Engelse uitgawe) gesê: “Hy het sy private fortuin geheel en al aan die saak bestee waaraan hy sy lewe gewy het. Hy het die nominale bedrag van $11,00 per maand vir sy persoonlike uitgawes ontvang. Hy het gesterf sonder om enige boedel agter te laat.”

Broer Russell het in sy testament die volgende oor diegene gesê wat die Genootskap se werk sou voortsit: “Wat vergoeding betref, dink ek dit is verstandig om die Genootskap se gevestigde beleid ten opsigte van salarisse te bly volg—dat geen salarisse betaal word nie; dat diegene wat die Genootskap of sy werk op enige manier dien net redelike uitgawes toegelaat word.” Werkers by die Genootskap se Bethelhuise, kantore en fabrieke, asook sy reisende verteenwoordigers, moes net kos, huisvesting en ’n klein bedraggie vir uitgawes gegee word—genoeg vir onmiddellike behoeftes, maar “geen voorsiening . . . om geld weg te sit nie”. Daardie selfde standaard geld nog vandag.

Diegene wat vir spesiale voltydse diens by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies aanvaar word, onderteken almal ’n eed van armoede, net soos al die lede van die Bestuursliggaam en al die ander lede van die Bethelgesin wat reeds daar dien. Dit beteken nie dat hulle ’n saai lewe sonder enige geriewe lei nie. Dit beteken wel dat hulle die beskeie voorsienings wat vir almal in hierdie diens gemaak word, naamlik kos, huisvesting en vergoeding vir uitgawes, sonder partydigheid deel.

Die organisasie sit sy werksaamhede dus voort in algehele afhanklikheid van die hulp wat God gee. Nie uit dwang nie, maar as ’n ware geestelike broederskap wat tot in alle wêrelddele strek, gebruik Jehovah se Getuies hulle middele blymoedig om die werk te doen wat Jehovah, hulle grootse hemelse Vader, hulle gegee het om te doen.

[Voetnote]

a Sien Die Wagtoring, 1 Februarie 1945, bladsye 10-11 (Engelse uitgawe, 1 September 1944); 15 Desember 1987, bladsye 19-20.

b Murdock v. Commonwealth of Pennsylvania, 319 U.S. 105 (1943); Odell v. Trepanier, 95 C.C.C. 241 (1949).

[Lokteks op bladsy 340]

‘Oproepe om geld word nie deur hierdie Genootskap gemagtig of goedgekeur nie’

[Lokteks op bladsy 342]

Die klem word hoofsaaklik gelê op die waarde daarvan om die waarheid aan ander te verkondig

[Lokteks op bladsy 343]

’n Eenvoudige, eerlike weergawe van die feite

[Lokteks op bladsy 344]

Gemeentes help mekaar om die nodige Koninkryksale te kry

[Lokteks op bladsy 345]

Die meeste van die bydraes kom van mense wat net ’n beskeie inkomste het

[Lokteks op bladsy 348]

Baie lektuur word gratis versprei—wie betaal daarvoor?

[Lokteks op bladsy 349]

Hulle laat met graagte lektuur by enigiemand wat opregte belangstelling toon en belowe om dit te lees

[Lokteks op bladsy 350]

Wat word met die geldelike bydraes gedoen?

[Lokteks op bladsy 351]

“Hy het sy private fortuin geheel en al aan die saak bestee waaraan hy sy lewe gewy het”

[Venster op bladsy 341]

God bedel nie

“Hy wat gesê het: ‘As Ek honger het, sal Ek jou dit nie sê nie; want die wêreld is myne en sy volheid. . . . Ek hoef uit jou huis geen stier te neem of bokke uit jou krale nie; want al die wilde diere van die bos is myne, die vee op berge by duisende’ (Ps. 50:12, 9, 10), kan sy groot werk doen sonder om by die wêreld of by sy kinders fondse te bedel. Hy sal ook nie sy kinders dwing om enigiets in sy diens op te offer nie, nóg sal hy enigiets van hulle aanvaar as dit nie ’n blymoedige, vrywillige offer is nie.”—“Zion’s Watch Tower”, September 1886, bl. 6.

[Venster op bladsy 347]

Bydraes was nie altyd geldelik nie

Getuies in die verre noorde van Queensland het vier leunwaens eerstegraadhout, waarvan die waarde destyds tussen A$60 000 en A$70 000 geraam is, reggekry en na die Wagtoringbouterrein in Sydney, Australië, gestuur.

Toe die Wagtoringfabriek in Elandsfontein, Suid-Afrika, vergroot is, het ’n Indiërbroer gebel en gevra of hulle asseblief ’n bydrae van 500 sakke sement (van 50 kilogram elk) sal kom oplaai—en dít toe daar ’n sementskaarste in die land was. Ander het aangebied dat die Genootskap hulle vragmotors gebruik. ’n Swart suster het ’n firma betaal om 15 kubieke meter bousand af te lewer.

Toe nuwe takfasiliteite in Emmen, in Nederland, opgerig is, is groot hoeveelhede gereedskap en werksklere geskenk. Hoewel sy baie siek was, het een suster gedurende die winter vir elke werker ’n paar wolkouse gebrei.

Om ’n nuwe takkantoor en ’n potensiële drukkery in Lusaka, Zambië, te bou, is boumateriaal gekoop met geld wat deur Getuies in ander lande voorsien is. Boumateriaal en toerusting wat nie plaaslik beskikbaar was nie, is per vragmotor na Zambië vervoer as bydraes tot die werk.

’n Getuie in Ecuador het in 1977 ’n stuk grond van 34 hektaar geskenk. ’n Byeenkomssaal en ’n nuwe takkantoorkompleks is daarop gebou.

Getuies in Panama het hulle huise oopgestel om vrywilligers te huisves; sommige wat busse gehad het, het vervoer verskaf; ander het gehelp om die 30 000 maaltye te voorsien wat op die bouterrein bedien is.

Een gemeente het 4 500 broodrolletjies gebak en vir die werkers by die projek in Arboga, Swede, gestuur. Ander het heuning, vrugte en konfyt gestuur. ’n Boer naby die bouterrein, wat self nie ’n Getuie was nie, het twee ton wortels geskenk.

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel