Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 15 bl. 140-149
  • Hoe om ’n gesin te bou wat God vereer

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Hoe om ’n gesin te bou wat God vereer
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • HULPMIDDELE OM ’N GELUKKIGE HUWELIK TE BOU
  • HOE OM KINDERS VOLGENS DIE KENNIS VAN GOD GROOT TE MAAK
  • VERKRY “BEKWAME LEIDING”
  • Ná die troudag
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Die huwelik – ’n Gawe van God
    Hoe om in God se liefde te bly
  • Maak julle huwelik ’n blywende verbintenis
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1994
  • Hoe om ’n sukses van ’n Christenhuwelik te maak
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan (Studie-uitgawe)—2016
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 15 bl. 140-149

Hoofstuk 15

Hoe om ’n gesin te bou wat God vereer

1-3. Waarom kan party nie probleme oplos wat algemeen in die huwelik en by ouers voorkom nie, maar waarom kan die Bybel help?

GESTEL jy beplan om vir jou ’n huis te bou. Jy koop die grond. Met gretige afwagting stel jy jou die nuwe huis in jou verbeelding voor. Maar sê nou jy het geen gereedskap en geen bouvaardighede nie? Hoe frustrerend sal jou pogings tog nie wees nie!

2 Baie paartjies wat trou, stel hulle ’n gelukkige gesin voor, maar het nóg die gereedskap, of hulpmiddele, nóg die vaardighede wat nodig is om een te bou. Kort ná die troudag ontwikkel negatiewe patrone. Bakleiery en stryery word ’n daaglikse roetine. Wanneer kinders gebore word, vind die nuwe vader en moeder dat hulle vir ouerskap niks beter toegerus is as vir die huwelik nie.

3 Maar gelukkig kan die Bybel help. Sy beginsels is soos gereedskap wat jou in staat stel om ’n gelukkige gesin te bou (Spreuke 24:3). Kom ons kyk hoe.

HULPMIDDELE OM ’N GELUKKIGE HUWELIK TE BOU

4. Waarom kan ’n mens verwag dat daar probleme in die huwelik sal wees, en watter standaarde word in die Bybel gegee?

4 Ongeag hoe goed ’n egpaar blykbaar by mekaar pas, hulle emosionele samestelling, kinderondervindinge en familieagtergrond verskil. Daarom kan ’n mens verwag dat daar probleme ná die troudag sal wees. Hoe sal dit hanteer word? Wel, wanneer bouers ’n huis bou, raad–pleeg hulle die planne. Die planne is riglyne wat gevolg moet word. Die Bybel gee God se standaarde om ’n gelukkige gesin te bou. Kom ons beskou nou ’n paar daarvan.

5. Hoe beklemtoon die Bybel die belangrikheid van lojaliteit in die huwelik?

5 Lojaliteit. Jesus het gesê: “Wat God dan onder een juk saamgevoeg het, moet geen mens skei nie”a (Matteus 19:6). Die apostel Paulus het geskryf: “Laat die huwelik onder almal eerbaar wees en die huweliksbed sonder verontreiniging, want God sal hoereerders en egbrekers oordeel” (Hebreërs 13:4). Getroudes moet dus ’n verpligting teenoor Jehovah voel om aan hulle maat getrou te bly.—Genesis 39:7-9.

6. Hoe sal lojaliteit help om ’n huwelik te bewaar?

6 Lojaliteit verleen waardigheid en sekuriteit aan die huwelik. Lojale huweliksmaats weet dat hulle mekaar sal ondersteun, wat ook al gebeur (Prediker 4:9-12). Hoe anders tog as dié wat by die eerste teken van moeilikheid van hulle huwelik wegstap! Sulke mense kom gou tot die gevolgtrekking dat hulle ‘die verkeerde persoon gekies het’, dat hulle ‘mekaar nie meer liefhet nie’, dat ’n nuwe huweliksmaat die oplossing is. Maar dit gee nie één van die huweliksmaats die geleentheid om te groei nie. In plaas daarvan neem sulke dislojale persone soms dieselfde probleme saam na ’n nuwe huweliksmaat. Wanneer iemand ’n goeie huis het, maar vind dat die dak lek, probeer hy dit tog sekerlik herstel. Hy trek nie sommer net na ’n ander huis nie. ’n Verandering van huweliksmaat is eweneens nie die manier om die geskille op te los wat tot huweliksonenigheid aanleiding gee nie. Wanneer probleme ontstaan, moet jy nie die huwelik probeer beëindig nie, maar jou inspan om dit te bewaar. Sulke lojaliteit bejeën die huwelik as iets wat die moeite werd is om te beskerm, in stand te hou en te koester.

7. Waarom is kommunikasie dikwels vir getroude mense moeilik, maar hoe kan dit help as ’n mens jou met “die nuwe persoonlikheid” beklee?

7 Kommunikasie. “Planne misluk sonder beraadslaging”, sê ’n Bybelspreuk (Spreuke 15:22). Tog is dit vir party egpare moeilik om te kommunikeer. Waarom is dit die geval? Omdat mense verskillende kommunikasiestyle het. Dit is ’n feit wat dikwels tot groot misverstande en frustrasie lei. Die manier waarop iemand grootgemaak is, kan hiertoe bydra. Party is dalk grootgemaak in ’n huis waar die ouers altyd gestry het. Nou, as getroude volwassenes, weet hulle nie hoe om op ’n vriendelike en liefdevolle manier met hulle maat te praat nie. Julle huis hoef nietemin nie in ‘’n huis vol getwis’ te ontaard nie (Spreuke 17:1). Die Bybel beklemtoon die feit dat ’n mens jou met “die nuwe persoonlikheid” moet beklee, en dit vergoelik nie kwaadwillige bitterheid, geskreeu en smadende taal nie.—Efesiërs 4:22-24, 31.

8. Wat kan help wanneer jy met jou huweliksmaat verskil?

8 Wat kan jy doen wanneer daar meningsverskille is? As humeure begin opvlam, sal dit moontlik goed wees as jy die raad van Spreuke 17:14 volg: “Verwyder jou voordat die rusie uitbreek” (NW). Ja, jy kan die bespreking tot later los, wanneer jy en jou maat afgekoel het (Prediker 3:1, 7). Hoe dit ook al sy, probeer “gou wees om te hoor, stadig om te praat, stadig ten opsigte van gramskap” (Jakobus 1:19). Jou doel moet wees om die situasie reg te stel, nie om die argument te wen nie (Genesis 13:8, 9). Kies woorde en ’n spreekwyse wat jou en jou maat sal kalmeer (Spreuke 12:18; 15:1, 4; 29:11). Moet bowenal nie in ’n ergerlike gemoedstemming bly nie, maar soek hulp deur saam in nederige gebed met God te kommunikeer.—Efesiërs 4:26, 27; 6:18.

9. Waarom kan daar gesê word dat kommunikasie in die hart begin?

9 ’n Bybelspreuk sê: “Die hart van die wyse maak sy mond verstandig en vermeerder die lering op sy lippe” (Spreuke 16:23). Die sleutel tot suksesvolle kommunikasie is dus in werklikheid in die hart, nie in die mond nie. Wat is jou gesindheid teenoor jou maat? Die Bybel spoor Christene aan om “meegevoel” te betoon (1 Petrus 3:8). Kan jy dit doen wanneer jou huweliksmaat angswekkende kommer ervaar? As jy kan, sal dit jou help om te weet hoe om te antwoord.—Jesaja 50:4.

10, 11. Hoe kan ’n man die raad van 1 Petrus 3:7 toepas?

10 Eer en respek. Christenmans word aangesê om “ooreenkomstig kennis” met hulle vrouens saam te woon en “aan hulle eer toe te ken as ’n swakker vat, die vroulike” (1 Petrus 3:7). As iemand sy vrou wil eer, beteken dit dat hy haar waarde moet besef. ’n Man wat “ooreenkomstig kennis” met sy vrou saamwoon, het groot agting vir haar gevoelens, sterk punte, intelligensie en waardigheid. Hy moet ook wil uitvind hoe Jehovah vroue beskou en wil hê dat hulle behandel moet word.

11 Kom ons sê dat jy in jou huis ’n baie nuttige houer het wat besonder fyn is. Sal jy dit nie baie versigtig hanteer nie? Wel, Petrus het die uitdrukking “swakker vat” op ’n soortgelyke wyse gebruik, en dit behoort ’n Christenman te beweeg om tere agting vir sy geliefde vrou te toon.

12. Hoe kan ’n vrou toon dat sy diep respek vir haar man het?

12 Maar watter raad gee die Bybel aan die vrou? Paulus het geskryf: “Die vrou [moet] diep respek vir haar man hê” (Efesiërs 5:33). Net soos ’n vrou moet voel dat haar maat haar eer en innig liefhet, moet ’n man voel dat sy vrou hom respekteer. As ’n vrou haar man respekteer, sal sy nie so onbedagsaam wees om haar man se foute uit te basuin nie, hetsy hy ’n Christen is of nie. Sy sal hom nie sy waardigheid ontneem deur hom privaat of in die openbaar te kritiseer of te verkleineer nie.—1 Timoteus 3:11; 5:13.

13. Hoe kan beskouings op ’n vreedsame manier uitgespreek word?

13 Dit beteken nie dat ’n vrou nie haar mening kan uitspreek nie. As iets haar pla, kan sy dit op ’n eerbiedige manier meld (Genesis 21:9-12). Om ’n gedagte aan haar man oor te dra, is soos om vir hom ’n bal te gooi. Sy kan dit saggies gooi sodat hy dit maklik kan vang of sy kan dit so hard gooi dat dit hom seermaak. Hoeveel beter is dit tog wanneer albei huweliksmaats dit vermy om beskuldigings rond te slinger, maar eerder op ’n vriendelike en saggeaarde manier praat!—Matteus 7:12; Kolossense 4:6; 1 Petrus 3:3, 4.

14. Wat moet jy doen as jou huweliksmaat min belangstelling in die toepassing van Bybelbeginsels in die huwelik toon?

14 Soos ons gesien het, kan Bybelbeginsels jou help om ’n gelukkige huwelik te bou. Maar sê nou jou huweliksmaat toon min belangstelling in wat die Bybel te sê het? Baie kan nietemin bereik word as jy die kennis van God in jou rol toepas. Petrus het geskryf: “Vrouens, wees . . . onderdanig aan julle eie mans, sodat, as sommige nie aan die woord gehoorsaam is nie, hulle sonder ’n woord deur die gedrag van hulle vrouens gewen kan word, omdat hulle ooggetuies was van julle kuis gedrag tesame met diep respek” (1 Petrus 3:1, 2). Dieselfde geld natuurlik vir ’n man wie se vrou onverskillig teenoor die Bybel staan. Ongeag wat jou huweliksmaat besluit om te doen, laat Bybelbeginsels van jou ’n beter huweliksmaat maak. Die kennis van God kan jou ook ’n beter ouer maak.

HOE OM KINDERS VOLGENS DIE KENNIS VAN GOD GROOT TE MAAK

15. Hoe word verkeerde grootmaakmetodes soms oorgedra, maar hoe kan hierdie kringloop verbreek word?

15 As ’n mens bloot ’n saag of ’n hamer besit, maak dit jou nie ’n bekwame timmerman nie. Net so maak die blote feit dat jy kinders het jou nie ’n bekwame ouer nie. Ouers maak hulle kinders dikwels, bewustelik of onbewustelik, groot soos hulle self grootgemaak is. Gevolglik word verkeerde grootmaakmetodes soms van die een geslag na die ander oorgedra. ’n Ou Hebreeuse spreekwoord lui: “Die vaders het groen druiwe geëet, en die tande van die kinders het stomp geword.” Maar die Skrif toon dat iemand nie die weg hoef te volg wat sy ouers vasgestel het nie. Hy kan kies om ’n ander weg in te slaan, een wat deur Jehovah se verordeninge beïnvloed word.—Esegiël 18:2, 14, 17.

16. Waarom is dit belangrik om vir jou gesin te sorg, en wat sluit dit in?

16 Jehovah verwag van Christenouers om hulle kinders behoorlike leiding te gee en goed te versorg. Paulus het geskryf: “As iemand vir dié wat syne is, en veral vir dié wat lede van sy huisgesin is, nie sorg nie, het hy die geloof verloën en is hy erger as ’n ongelowige” (1 Timoteus 5:8). Watter kragtige woorde tog! Om jou rol as versorger te vervul, wat insluit dat jy in jou kinders se fisiese, geestelike en emosionele behoeftes moet voorsien, is die voorreg en verantwoordelikheid van ’n godvrugtige persoon. Die Bybel verskaf beginsels wat ouers kan help om ’n gelukkige milieu vir hulle kinders te skep. Kom ons kyk na ’n paar.

17. Wat is nodig as julle wil hê dat julle kinders God se wet in hulle hart moet hê?

17 Stel ’n goeie voorbeeld. Israelitiese ouers is beveel: “Jy moet [God se woorde by] jou kinders inskerp en daaroor spreek as jy in jou huis sit en as jy op pad is en as jy gaan lê en as jy opstaan.” Ouers moes hulle kinders God se standaarde leer. Maar hierdie bevel is voorafgegaan deur die verklaring: “Hierdie woorde wat ek jou vandag beveel, moet in jou hart wees.” (Deuteronomium 6:6, 7; ons kursiveer.) Ja, ouers kan nie gee wat hulle nie het nie. God se wette moet eers op júlle hart gegraveer wees as julle wil hê dat dit op die hart van julle kinders ingeskryf moet wees.—Spreuke 20:7; vergelyk Lukas 6:40.

18. Hoe het Jehovah ’n uitstekende voorbeeld vir ouers gestel wat die betoning van liefde betref?

18 Verseker hulle van julle liefde. Toe Jesus gedoop is, het Jehovah gesê: “Jy is my Seun, die geliefde; ek het jou goedgekeur” (Lukas 3:22). So het Jehovah sy Seun erken, sy goedkeuring van hom openlik uitgespreek en hom van Sy liefde verseker. Jesus het later aan sy Vader gesê: “U [het] my voor die grondlegging van die wêreld liefgehad” (Johannes 17:24). As godvrugtige ouers moet julle derhalwe julle liefde mondeling en met fisiese blyke aan julle kinders bewys—en doen dit dikwels. Onthou altyd: “Liefde bou op.”—1 Korintiërs 8:1.

19, 20. Wat behels die behoorlike dissiplinering van kinders, en hoe kan ouers by Jehovah se voorbeeld baat vind?

19 Dissipline. Die Bybel beklemtoon die belangrikheid van liefdevolle dissipline (Spreuke 1:8). Ouers wat vandag hulle verantwoordelikheid versuim om hulle kinders van leiding te voorsien, sal môre so goed as seker hartverskeurende gevolge ervaar. Maar ouers word ook gewaarsku om nie tot die ander uiterste oor te gaan nie. “Vaders”, het Paulus geskryf, “moenie julle kinders vertoorn nie, sodat hulle nie mismoedig word nie” (Kolossense 3:21). Ouers moet hulle kinders nie oorkorrigeer of op hulle tekortkominge hamer en hulle pogings gedurig kritiseer nie.

20 Jehovah God, ons hemelse Vader, stel die voorbeeld in die voorsiening van dissipline. Sy teregwysing is nooit te streng nie. “Ek sal jou tugtig met mate”, het God vir sy volk gesê (Jeremia 46:28). Ouers moet Jehovah in hierdie opsig navolg. Dissipline wat redelike perke of die voorgenome doel van die teregwysing en onderrigting oorskry, sal hulle beslis vertoorn.

21. Hoe kan ouers vasstel of hulle dissipline doeltreffend is?

21 Hoe kan ouers vasstel of hulle dissipline doeltreffend is? Hulle kan hulle afvra: ‘Wat bereik my dissipline?’ Dit moet onderrig. ’n Kind moet verstaan waarom dissipline toegedien word. Ouers moet ook besorg wees oor die gevolge van hulle teregwysing. Dit is so dat feitlik alle kinders aanvanklik teen dissipline sal skop (Hebreërs 12:11). Maar dissipline moet ’n kind nooit verskrik of verlate laat voel of hom die indruk gee dat hy inherent goddeloos is nie. Voor Jehovah sy volk tereggewys het, het hy gesê: “Wees nie bevrees nie, . . . want Ek is met jou” (Jeremia 46:28). Ja, teregwysing moet op so ’n manier gegee word dat julle kind aanvoel dat julle met hom of haar is as liefdevolle, ondersteunende ouers.

VERKRY “BEKWAME LEIDING”

22, 23. Hoe kan jy die leiding verkry wat nodig is om ’n gelukkige gesin te bou?

22 Ons kan dankbaar wees dat Jehovah die hulpmiddele voorsien het wat ons nodig het om ’n gelukkige gesin te bou. Maar om die hulpmiddele net te hê, is nie genoeg nie. Ons moet oefen om hulle reg te gebruik. Byvoorbeeld, ’n bouer leer miskien slegte gewoontes aan in die manier waarop hy sy gereedskap gebruik. Hy gebruik party van hulle dalk heeltemal verkeerd. Onder sulke omstandighede sal sy metodes heel waarskynlik ’n minderwaardige produk tot gevolg hê. Net so is jy moontlik nou bewus van ongesonde gewoontes wat in julle gesin ingesluip het. Party is dalk diepgewortel en moeilik om te verander. Maar volg die Bybel se raad: “’n Wyse sal luister en meer onderrigting inneem, en ’n man van verstand is die een wat bekwame leiding verkry.”—Spreuke 1:5, NW.

23 Jy kan bekwame leiding verkry deur voort te gaan om die kennis van God in te neem. Hou jou oë oop vir Bybelbeginsels wat op die gesinslewe van toepassing is, en maak die nodige aanpassings. Let op ryp Christene wat ’n goeie voorbeeld as huweliksmaats en ouers stel. Praat met hulle. Stort bowenal jou bekommernisse in gebed aan Jehovah uit (Psalm 55:23; Filippense 4:6, 7). Hy kan jou help om ’n gelukkige gesinslewe te geniet wat hom tot eer strek.

[Voetnote]

a Die enigste skriftuurlike grond vir egskeiding wat iemand veroorloof om weer te trou, is “hoerery”—geslagsgemeenskap buite die huwelik.—Matteus 19:9.

TOETS JOU KENNIS

Hoe dra lojaliteit, kommunikasie, eerbetoning en respek tot ’n gelukkige huwelik by?

Op watter maniere kan ouers hulle kinders van hulle liefde verseker?

Watter faktore is by behoorlike dissipline betrokke?

[Volbladillustrasie op bladsy 147]

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel