Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • w84 5/15 bl. 16-21
  • Stel jouself jouself beskikbaar!

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Stel jouself jouself beskikbaar!
  • Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • Hulle het hulle gewillig aangebied
  • ’n Groot behoefte word bevredig
  • Wat die Gileadskool bereik het
  • Bly dat hulle hulself beskikbaar gestel het
  • Reageer met geloof in Jehovah
  • Sendelinge bevorder wêreldwye uitbreiding
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • “Soek eers die koninkryk”
    Jehovah se Getuies—Verkondigers van God se Koninkryk
  • Watter opleiding ontvang pioniers?
    Wie doen vandag Jehovah se wil?
  • Ek aanvaar met graagte Jehovah se leiding
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1999
Sien nog
Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1984
w84 5/15 bl. 16-21

Stel jouself jouself beskikbaar!

“U volk sal hulle gewillig aanbied . . . [U het] u geselskap van jong manne net soos doudruppels.”—PSALM 110:3, NW.

1, 2. Wat doen Jehovah se Getuies nou in ooreenstemming met Psalm 110:3?

JEHOVAH se Koning, Jesus Christus, heers nou! Sedert 1914 is hy gereed vir aksie, en hy het reeds begin om ‘sy vyande te onderwerp’ (Psalm 110:2, NW). Laat alle vrywilligers hulle in hierdie dramatiese laaste dae van die sterwende stelsel aanmeld vir die Koning se diens, en laat hulle dit sonder weifeling doen.

2 Dit is presies wat Jehovah se Getuies doen. Hulle geledere is vol harde werkers wat soos doudruppels skitter. Die geïnspireerde woorde van die psalmis word tans vervul: “U volk sal hulle gewillig aanbied op die dag van u strydkrag. In die prag van heiligheid, uit die skoot van die dageraad, het u u geselskap van jong manne net soos doudruppels” (Psalm 110:3, NW). Wat ’n voorreg om nou te lewe!

3. Watter gees was nog altyd onder Jehovah se knegte aanwesig wat hulle diens betref? Bewys dit uit die Skrif.

3 Jehovah se lojale knegte het nog altyd ’n selfopofferende gees van gewillige diens geopenbaar. Toe die profeet Jesaja die geleentheid gebied is om as God se boodskapper op te tree, het hy dadelik gesê: “Hier is ek, stuur my” (Jesaja 6:8). Vroeg in Jesus se Galilese bediening het hy na sekere godvresende Jode gegaan en hulle genooi: ‘Kom, wees my navolgers.’ Hulle het sonder aarseling gereageer en hulle werk in die tolhuis en vissersbedryf verlaat (Mattheüs 4:18-22; Lukas 5:27, 28). Gewillige vroue het van hulle tyd, energie en middele gegee om in die behoeftes van Jesus en sy dissipels te voorsien (Markus 15:40, 41; Lukas 8:1-3). Ja, wanneer geleenthede vir heilige diens hulle voorgedoen het, het al hierdie mense hulleself beskikbaar gestel.

Hulle het hulle gewillig aangebied

4. Hoe het Paulus en sy metgeselle ’n ‘Macedoniese oproep’ beskou?

4 Die Christenapostel Paulus het homself ook beskikbaar gestel vir diens tot lof van Jehovah. By een geleentheid het hy ’n gesig gehad van ’n sekere man wat gesmeek het: “Kom oor na Macedonië en help ons!” Het die apostel en sy metgeselle daarop gereageer? Hulle het inderdaad, want ons lees: “En toe hy die gesig gesien het, het ons dadelik probeer om na Macedonië te gaan, omdat ons versekerd was dat die Here ons geroep het om die evangelie aan hulle te verkondig.” Hulle het hulleself beskikbaar gestel, en Jehovah het hulle gewillige diens met sukses bekroon.—Handelinge 16:8-40.

5. Wat het sommige oor die diens van die vroeë Christene gesê?

5 Gewillige diens was ’n kenmerk van die vroeë Christelike geloof. Daar is al gesê: “Die Vroeë Kerk . . . het hom nie beroem op die heroïese geloof van die sendelinge maar gemeen dat hy sy deel gedoen het deur die rekeninge te betaal en met lustelose belangstelling te luister na die verhale wat die sendelinge oor hulle welslae vertel het nie. Hierdie kerkies was op sigself ’n miernes van sendelinge. Iedereen het hom geroepe gevoel om die Goeie Nuus te verkondig” (The Preaching Value of Missions, wat toesprake deur Helen Barrett Montgomery bevat). Jesus se volgelinge was aktiewe evangeliste. “Die verslag van die vroeë kerk in Handelinge bewys dat hulle evangelisasie sowel ernstig as letterlik opgeneem het. Evangelisasie was hoofsaak” (The Idea of the Laity, deur David Haney). En wat was die gevolg van hierdie selfopofferende werk van Jesus se volgelinge? “Hulle het spoedig op Romeinse paaie na afgeleë stede en provinsies gereis. Met verloop van tyd het die hele Ryk ’n saadbedding van die nuwe godsdiens geword” (Imperial Rome, deur Moses Hadas). Ja, die goeie nuus ‘is verkondig in die ganse mensdom onder die hemel’ omdat daardie vroeë Christengetuies hulleself beskikbaar gestel het!—Kolossense 1:23; Mattheüs 28:19; Handelinge 1:6-8.

6. Hoe het hedendaagse getuies van Jehovah nog altyd die Koninkrykspredikingswerk beskou?

6 ’n Soortgelyke gees heers onder hedendaagse getuies van Jehovah. Die Watch Tower van Julie en Augustus 1881 het tereg gesê: “Preek jy? Ons glo dat die klein kuddetjie net uit predikers sal bestaan. . . . Ons is nie geroep of gesalf om eer te ontvang en rykdom te vergaar nie, maar om te gee en gegee te word, en om die goeie nuus te verkondig.” Dieselfde beskouing het jare later duidelik na vore gekom. Tydens ’n heuglike byeenkoms in 1922 by Cedar Point, Ohio, is voorstanders van die Koninkryk aangespoor: “Terug na die veld, al julle seuns van die allerhoogste God! Gord julle wapenrusting aan! Wees nugter, wees waaksaam, wees aktief, wees dapper. Wees getroue en waaragtige getuies vir die Here. Gaan vooruit in die stryd totdat elke spoor van Babilon woes lê. Laat die boodskap wyd en syd hoor. Die wêreld moet weet dat Jehovah God is en dat Jesus Christus die Koning van die konings en die Here van die here is. Dit is die dag der dae. Kyk, die Koning heers! Julle is sy reklamemakers. Adverteer, adverteer, adverteer dus die Koning en sy koninkryk.” Jehovah se Getuies hou aan om hulleself vreugdevol en ywerig vir sulke Koninkryksverkondiging beskikbaar te stel.

’n Groot behoefte word bevredig

7. Wat was die ondervinding van voltydse predikers van die vroeër jare, en hoe het hulle hulle diens aan Jehovah beskou?

7 Baie van Jehovah se knegte het hulleself beskikbaar gestel vir voltydse predikingswerk. Jare gelede het sommige as kolporteurs (nou pioniers) gedien, en hulle lewe was nie maklik nie. “Ja”, het een bejaarde Getuie gesê, “in daardie vroeë dae het kolporteurs in die dorpe en op die platteland gewerk. Partykeer het hulle [Bybellektuur] vir plaasprodukte, hoenders, seep en so meer verruil, wat hulle dan gebruik of aan ander verkoop het. Soms, in ’n ylbewoonde gebied, het hulle by boere oornag, en soms het hulle selfs in hooimiedens geslaap . . . Hierdie getroue broers en susters het jare derjare so aangehou totdat die ouderdom hulle ingehaal het.” Party was jonk toe hulle met hierdie voltydse diens begin het. Hulle werk was wel veeleisend, maar hulle het hulleself beskikbaar gestel en het met blydskap gedien. Soos een van hulle dit gestel het: “Ons was jonk en gelukkig in die diens, verheug om ons krag in die diens van Jah te bestee.”

8. Vir watter diens het baie onder Jehovah se volk hulleself beskikbaar gestel?

8 Deur die jare heen, en ten spyte van ongeëwenaarde oorloë, hongersnode, aardbewings en ander verwikkelinge wat die “teken” van Christus se “teenwoordigheid” in Koninkryksmag sedert 1914 uitmaak, het Jehovah se volk onverskrokke die goeie nuus verkondig (Mattheüs 24:3-14, vgl. NW). Gelukkig het baie hulleself beskikbaar gestel vir voltydse diens, en dit is voorwaar prysenswaardig!

9. (a) Watter belangrike stap in die geskiedenis van Jehovah se Getuies is op 1 Februarie 1943 gedoen? (b) Wat het dit moontlik gemaak om die Gileadskool te stig en die Koninkrykspredikingswerk internasionaal uit te brei?

9 Die Tweede Wêreldoorlog het op 1 Februarie 1943 op sy hewigste gewoed. Maar op daardie koue wintersdag is daar by Kingdom Farm naby South Lansing. New York, ’n belangrike stap in die geskiedenis van Jehovah se Getuies gedoen. Nege-en-veertig manne en 51 vroue—almal pioniers—het toe met hulle studiekursus van vyf maande aan die Wagtoring-Bybelskool Gilead begin. Hierdie opleiding sou hulle toerus vir sendingwerk in ander lande. Aangesien oorlogstoestande dit feitlik onmoontlik gemaak het om sendelinge na Europa en Asië te stuur, is gegradueerdes van die eerste klasse van die Gileadskool na Kuba, Mexiko, Costa Rica, Porto Rico, Kanada en Alaska toegewys. Die gewilligheid van hardwerkende pioniers om hulleself beskikbaar te stel, het dit moontlik gemaak om die Koninkrykspredikingswerk internasionaal uit te brei, iets waaraan daar destyds ’n behoefte was.

Wat die Gileadskool bereik het

10. Meld voorbeelde van Koninkryksvermeerdering sedert die eerste Gileadopgeleide sendelinge in sekere lande aangekom het.

10 Meer as 6 000 studente het al gegradueer uit die 76 klasse van die Gileadskool, wat nou by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies in Brooklyn, New York, geleë is. Die skool se doeltreffendheid is onmiskenbaar. Toe die eerste Gileadopgeleide sendelinge byvoorbeeld in 1945 in Brasilië aangekom het, was daar net 394 mense in daardie land wat aan die Koninkrykspredikingswerk deelgeneem het. Vandag is daar oor die 148 000. In 1949, met die aankoms van die eerste Gileadgegradueerdes in Japan, was daar net drie Koninkryksverkondigers in daardie Oosterse land. Nou is daar meer as 86 000!

11. Watter Koninkryksvermeerdering het oor die hele wêreld plaasgevind sedert die Gileadskool in 1943 geopen het?

11 Maar wat van Koninkryksvermeerdering oor die hele wêreld? Wel, toe die eerste klas van die Gileadskool in 1943 opleiding ontvang het, was daar wêreldwyd net 126 329 Koninkryksverkondigers in 54 lande bedrywig. Vandag preek ’n hoogtepunt van 2 652 323 verkondiger van die goeie nuus in 205 lande. Hierdie fenomenale vermeerdering is grotendeels te danke aan die uitstekende werk van Gileadgegradueerdes.

12. Hoe word Sagaria 8:23 vandag vervul?

12 In baie lande waarheen hierdie gegradueerdes as ambassadeurs en gesante van Christus gestuur is, het hulle ryp oeste aangetref (Mattheüs 9:37, 38; 2 Korinthiërs 5:20). Waar daar in party lande net ’n handjievol was, is daar vandag honderde, duisende, selfs tienduisende, wat hulle by Jesus se gesalfde volgelinge gevoeg en as ’t ware gesê het: “Ons wil met julle saamgaan, want ons het gehoor dat God met julle is” (Sagaria 8:23). Ja, en om die aardwye Koninkryksverkondiging verder te bevorder, stel hierdie groeiende “groot menigte” hulleself beskikbaar.—Openbaring 7:9.

Bly dat hulle hulself beskikbaar gestel het

13. (a) Wat was die woorde van een sendeling wat haarself beskikbaar gestel het vir vermeerderde diens aan Jehovah? (b) Watter vraag verdien ons aandag?

13 Jehovah seën beslis diegene wat gewilligheid en die gees van selfopoffering openbaar, en hulle is inderdaad bly dat hulle hulself beskikbaar gestel het vir vermeerderde aktiwiteit tot lof van God. Een sendelingsuster het byvoorbeeld geskryf: “Ek het uit my betrekking bedank, die brûe agter my verbrand en in September 1930, reg in die middel van die groot ekonomiese depressie, werklik begin hardloop op die reisiesbaan van die lewe [as ’n pionier]. Ek was nog altyd so bly dat ek dit gedoen het . . . Dit het beteken dat ek elke dag Jehovah se goedheid smaak en sy lof besing, wat gelei het tot gemoedsrus in enige omstandighede” (Psalm 34:9). Kan jy jouself beskikbaar stel vir die voorreg om as ’n pionier of sendeling te dien?

14. Hoe het een lid van die Bestuursliggaam homself oor die voltydse diens uitgespreek?

14 Na sy eerste 21 jaar in die voltydse diens het een van die vroeë Gileadsendelinge in Japan in 1960 geskryf: “Dit is jare propvol vreugdes en ondervindinge wat honderd gewone leeftye nie eens kan bevat nie!” Vandag, sowat 24 jaar later, is hierdie broer se vreugde steeds groot as ’n lid van die Bestuursliggaam van Jehovah se Getuies.

15. (a) Wat het sommige na jarelange Betheldiens gesê? (b) Watter gedagteprikkelende vraag opper dit?

15 Na baie jare van diens by die Wagtoringgenootskap se hoofkwartier het een ongetroude broer gesê: “Ek is glad nie spyt oor die loopbaan wat ek jare gelede as ’n jong volwassene gekies het nie. . . . Die vreugde om te sien hoe miljoene tydskrifte en ander publikasies met die boodskap van God se Woord uitgaan na die eindes van die aarde, was op sigself ’n wonderlike beloning.” ’n Suster wat al sedert die twintigerjare by die Brooklynse Bethel dien, het eenmaal gesê: “Woorde kan nie die tevredenheid en blydskap beskryf wat ek gesmaak het nie.” En na baie jare in Betheldiens het een broer gesê: “Ek het voorwaar ’n gelukkige, lonende en geseënde lewe gelei.” Kan jy jouself ook beskikbaar stel vir vreugdevolle diens by Bethel?

Reageer met geloof in Jehovah

16. Wat het twee bejaarde broers gesê oor die aanvaarding van opdragte wat van Jehovah se organisasie kom?

16 ’n Bejaarde broer wat nou in Papoea-Nieu-Guinee dien, het eenmaal geskryf: “Hierdie [jare van voltydse diens] was die beste jare, die gelukkigste jare . . . Hoe wys was dit tog om ag te gee op die Heer se belofte in Mattheüs 6:33! Hoe verstandig om die Heer se leiding te volg soos hy dit deur sy organisasie openbaar!” ’n Broer uit Brittanje, wat al sedert die twintigerjare ’n voltydse dienaar in Indië is, het dit goed gestel: “Die hele wêreld is nou ’n relatief klein plekkie. Daar is [knegte van Jehovah] in elke land en hulle is in een land so dierbaar soos in ’n ander. ’n Mens raak gou gewoond aan die toestande in ’n vreemde land. Jy moet jou bloot voorneem om dit te doen, en dan Jehovah om sy gees bid om die struikelblokke te bowe te kom. My advies is: Aanvaar altyd ’n opdrag van Jehovah se organisasie en neem jou met vreugde voor om jou bes daarin te doen.”

17. (a) Watter geleenthede het gemeenteverkondigers om hulle diens aan Jehovah te verbeter of te vermeerder? (b) Hoe het Paulus gereageer toe hy bewus geword het van ‘’n groot deur wat tot aktiwiteit lei’?

17 As ’n gemeenteverkondiger met ’n gesin en allerhande Skriftuurlike verantwoordelikhede, wonder jy miskien: ‘Hoeveel kan ek doen?’ Niemand anders kan dit vir jou sê nie. Maar jy kan tot Jehovah bid en hom vra om jou in die grootste mate moontlik in sy heilige diens te gebruik. Miskien kan jy meer tyd aan die veldbediening bestee. As jy nog nie ’n tuisbybelstudie met ’n belangstellende hou nie, kan jy dalk een reël. En ons kan almal die gehalte van ons diens aan Jehovah verbeter deur die advies van sy Woord en organisasie toe te pas. Indien jy ’n aangestelde ouere man is, kan jy moontlik in ’n ander gemeente gaan dien waar jou geestelike bystand nodiger is. As die hele gesin verhuis na ’n plek waar hulp dringend nodig is, kan jy, jou vrou en jou kinders miskien die groter vreugde smaak om sagmoedige persone te vind en te help. Mettertyd kan julle die blye voorreg hê om te help met die stigting van ’n nuwe gemeente, of daar kan talle ander seëninge wees wat julle verwagtinge ver oortref. Toe die apostel Paulus bewus geword het van ‘’n groot deur wat tot aktiwiteit lei’, was hy gretig om sy diens tot Jehovah se lof te vermeerder (1 Korinthiërs 16:9, NW; 2 Korinthiërs 2:12; Kolossense 4:2-4). Voel jy ook so?

18. (a) Wat word aanbeveel indien ’n deur tot vermeerderde Christelike aktiwiteit vir jou oopgaan? (b) Wat sal die resultaat wees as jy jouself beskikbaar stel?

18 Wat sal jy dan doen wanneer ’n voorreg van diens aan Jehovah voor jou gestel word? Sal jy lyf wegsteek, of sal jy die gees van selfopoffering openbaar? Jy moet natuurlik die koste bereken (Lukas 14:27-30). Maar as ’n deur tot vermeerderde Christelike bedrywigheid vir jou oopgaan, bid dan tot Jehovah. Wees spesifiek in sulke gebede en vertrou op sy leiding (Psalm 37:5; Filippense 4:6, 7). As sy heilige gees jou dan dring om ’n sekere voorreg te aanvaar, moet jy gehoor gee aan daardie leiding en met geloof in jou hemelse Vader optree. Jy sal voorwaar geseën word wanneer jy die weg van selfopoffering ter bevordering van Koninkryksbelange kies. En onthou: “Die seën van die HERE—dit maak ryk, en moeitevolle arbeid voeg daar niks by nie” (Spreuke 10:22; Maleagi 3:10). Ja, jy sal inderdaad groot en onverwagte seëninge smaak indien jy jouself beskikbaar stel!

Hoe sal jy antwoord?

◻ Wat doen Jehovah se Getuies nou in ooreenstemming met Psalm 110:3?

◻ Hoe beskou Jehovah se hedendaagse knegte die Koninkrykspredikingswerk?

◻ Watter wêreldwye Koninkryksvermeerdering was daar sedert Gileadskool in 1943 geopen het?

◻ Watter geleenthede is daar vir verbeterde of vermeerderde diens aan Jehovah?

◻ Hoe moet jy reageer wanneer ’n deur tot vermeerderde Koninkryksdiens vir jou oopgaan?

[Prent op bladsy 18]

Toe Paulus die ‘Macedoniese oproep’ ontvang het, het hy en sy metgeselle hulleself beskikbaar gestel vir diens tot lof van Jehovah

[Prent op bladsy 20]

Gileadskool se eerste graduerende klas, Julie 1943. Hierdie hardwerkende pioniers het hulleself beskikbaar gestel vir vermeerderde Koninkryksdiens

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel