Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • “Ons waardeer die bejaardes”
    Die Wagtoring – 1986 | Februarie 1
    • “Ons waardeer die bejaardes”

      “DIE grysaards is wysheid, en in lengte van dae is verstand”, het Job gesê (Job 12:12). Salomo het eweneens opgemerk: “Grysheid is ’n sierlike kroon; dit word gevind op die weg van geregtigheid” (Spreuke 16:31). Hierdie woorde is geuiter op ’n tyd toe ouer persone hoog geag en gerespekteer is. En die Bybel toon herhaaldelik hoe jongeres in daardie dae daarby baat gevind het deur met die bejaardes om te gaan.

      Rut het byvoorbeeld jare lank die geleentheid gehad om die voorbeeld van haar skoonmoeder, Naomi, dop te hou en daaroor te peins. Hierdie omgang het blykbaar ’n begeerte by Rut laat ontstaan om Jehovah te dien. Toe sy dus die geleentheid gebied is om van Naomi afskeid te neem en na haar land met sy afgodedienaars terug te keer, het Rut lojaal gesê: “Waar u gaan, sal ek gaan; en waar u vertoef, sal ek vertoef; u volk is my volk, en u God is my God” (Rut 1:16, 17). Ja, as gevolg van haar vriendskap met Naomi het Rut “’n deugsame vrou” geword.​—Rut 3:11.

      Timotheüs was nog iemand wat baat gevind het by sy omgang met ’n ouer persoon. Hy het jare lank saam met die apostel Paulus rondgereis. En selfs toe hulle deur die tronk geskei is, het Timotheüs briewe van Paulus ontvang wat hom aangespoor het om ‘die genadegawe wat God hom gegee het soos ’n vuur aan te blaas’ (2 Timotheüs 1: 6-8, NAV). Timotheüs het so deeglik van Paulus geleer dat toe Paulus aan die Filippense geskryf het hy verduidelik het dat hy ‘niemand van dieselfde gesindheid [as die van Timotheüs] gehad het wat hulle belange opreg sou behartig nie’.​—Filippense 2:20.

      Maar respek vir bejaardes het vandag in sommige lande feitlik heeltemal verdwyn. Is dit egter die geval onder Christene? Glad nie. Ware Christene vandag besef nog steeds dat die bejaardes ’n groot bydrae kan lewer vanweë hulle geloof, toegewydheid en lewensondervinding. Een suster skryf byvoorbeeld: “Wanneer ek voel dat die stelsel vir my te veel word, kyk ek om my rond na die ouer persone in die gemeente en put ek moed uit hulle standvastigheid.” ’n Jong broer, 34 jaar oud, het eweneens van die getroue bejaardes gesê: “Hulle het my op alle lewensterreine gehelp. Ek moes byvoorbeeld leer hoe om gebalanseerd te wees. Wel, ’n 72-jarige broer het vir my gesê: ‘Maak seker dat jy eers doen wat Jehovah wil hê jy moet doen. Dit is ’n voortdurende stryd. Maar balans kom wanneer jy eers die Koninkryk soek.’”

      In ’n ander geval het ’n 87-jarige broer ernstig siek geword. ’n Ouere man, tesame met ’n onbedrywige broer, het hom besoek. Die onbedrywige broer het in trane gesê: “Jy was ’n goeie vriend. Ek sal jou mis.” Die bejaarde man het hierop geantwoord: “Ek sal jou ook mis.” Die onbedrywige broer het steeds in trane gesê: “Ek sal jou in die Nuwe Orde sien​—as dit kom.” Hoewel hy swak was, het ons bejaarde broer met moeite orent gesit en ferm geantwoord: “Dit sal kom.” Hoewel die onbedrywige persoon nie op hierdie bemoediging gereageer het nie, het die ou man se geloof die hart van die ouere man wat dit waargeneem het, geraak. “Sy geloof het my baie gehelp”, sê hy.

      Ouer broers en susters kan dikwels weens hulle ondervinding in die Christelike lewenswyse opbouende en praktiese raad gee. “Tel jou kindertjies op en vertroetel hulle”, raai een bejaarde aan, “want hulle word gou groot. Sien eers na hulle om. Hulle is jou kosbare dissipels.” “Wanneer hierdie stelsel druk op jou uitoefen of wanneer Satan jou beproef”, beveel ’n ander aan, “moet jy nooit die waarheid prysgee nie. Hou aan om dit toe te pas, want dit sal vir jou geluk bring.” Een bejaarde egpaar wat sowat 43 jaar getrou in een deel van Nieu-Seeland gedien het, gee hierdie praktiese raad: “As jy kan, is dit beter om in een plek te bly as om rond te trek. Die waarheid het dan ’n groter impak op die gemeenskap, en dit help jou om dit na te leef en maak jou sodoende sterker.”

      Baie van ons bejaarde broers en susters kan weliswaar nie soos jongeres aan die bediening van huis tot huis deelneem nie. Party is bedlêend. Ander ly aan pynlike kwale. Een bejaarde suster het gesê: “Ek gee nie om om oud te word nie. Dit is wat met die ouderdom gepaard gaan waarvan ek nie hou nie.” Sy slaag nietemin daarin om steeds Christelike ywer te openbaar!

      Staan jy die tyd af om jou ouer broers en susters te leer ken? Probeer jy die eienskappe wat hulle openbaar, eienskappe wat deur die tyd en ondervinding soos goud gelouter is, navolg? Ons ouer Christenbroers en -susters is waarlik ’n waardevolle hulpmiddel as ons maar net die tyd afstaan om hulle waar te neem en met hulle te gesels. Een jong Christen het gesê: “Die getroue bejaardes is vir my voorbeelde in toegewydheid aan die waarheid, opregte liefde, lewende geloof, medelye en ywer vir God se diens. Hulle prag is vir my soos bome in volle bloei, en hulle is soos ’n warm vuur op ’n koue nag.” Ons het gewis rede om ons bejaardes te waardeer!

  • Jehovah se oog ‘het op die ouere manne gebly’
    Die Wagtoring – 1986 | Februarie 1
    • Jehovah se oog ‘het op die ouere manne gebly’

      OUERE MANNE moet vandag dikwels besluite neem wat skynbaar buite die bestek van hulle kennis en ervaring is. Maar beskou ’n situasie waarvoor sommige Joodse ouere manne in die dae van Esra te staan gekom het.

      Na die terugkeer van die Joodse oorblyfsel uit Babilon was daar ’n onbedrywige tydperk van 16 jaar. Die profete Haggai en Sagaria het daarin geslaag om die Jode uit hulle onverskilligheid te wek, en die bouwerk aan Jehovah se tempel is hervat. Maar Persiese amptenare het weldra teen hierdie werk beswaar gemaak. “Wie het julle bevel gegee om hierdie huis te bou?” het die teenstanders gevra.​—Esra 5:1-3.

      Die antwoord op hierdie vraag was van kritieke belang. As die ouere manne hulle laat intimideer het, sou die herstelwerk aan die tempel skielik beëindig word. As die ouere manne hierdie amptenare vyandig gemaak het, sou die werk onmiddellik verbied word. Die ouere manne (ongetwyfeld onder leiding van goewerneur Serubbabel en hoëpriester Josua) het derhalwe ’n taktvolle dog doeltreffende antwoord opgestel. Hulle het die amptenare herinner aan die langvergete bevel van Kores wat die Jode koninklike toestemming gegee het om hierdie werk voort te sit. Hierdie amptenare, wat geweet het van die Persiese beleid om nooit ’n verklaarde wet te herroep nie, het verstandig besluit om nie ’n koninklike bevel teen te gaan nie. Die werk kon dus voortgaan totdat koning Kores later sy amptelike verlof toegestaan het!​—Esra 5:11-17; 6:6-12.

      Was hierdie verstommende uitslag aan menslike wysheid te danke? Inteendeel, Esra se verslag sê dat “die oog van hulle God op die ouere manne van die Jode gebly het” (Esra 5:5, NW). Jehovah het onteenseglik hulle antwoord sowel as die gunstige reaksie van die Persiese koning gerig. Christen- ouere manne kan vandag eweneens op Jehovah vertrou vir leiding wanneer hulle voor moeilike besluite te staan kom of met teenstanders te doen het. Jehovah gee in Psalm 32:8 die versekering: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees.”

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel