Het ons die Bybel nodig?
OXANA, ’n jong Russiese vrou, was verheug toe sy sien dat ’n boekverkoper op straat in Moskou ’n Bybel te koop aanbied. Haar metgesel, John, wat uit ’n land kom waar Bybels geredelik beskikbaar is, was beïndruk deur Oxana se entoesiasme. “Ek—’n ateïs—wou dit vir haar koop”, erken hy. Hoewel Oxana aanvanklik teëgestribbel het, het sy uiteindelik John se geskenk aanvaar.
Baie, soos Oxana, het ’n oorweldigende begeerte om die Bybel te besit. Dit is veral die geval in lande waar dit baie jare lank verbied is. Die uitgewers van hierdie tydskrif werk byvoorbeeld hard om in die vraag na Bybels in die eertydse Sowjetrepublieke, sowel as in ander wêrelddele, te voorsien. Baie mense in hierdie gebiede het vir die eerste keer ’n geleentheid om die Bybel deeglik te ondersoek—en ’n groot aantal word deur die kragtige boodskap daarvan aangetrek.
Kritici en twyfelaars
Daarenteen, veral in Noord-Europa, vergader die Bybel net stof op die boekrak. “Dooie geskiedenis!” sê party en voeg by: “Dit is vir ’n ander tydperk geskryf. Dit het niks met die hedendaagse mens te doen nie.” Selfs vooraanstaande geestelikes het openbare uitlatings gemaak wat die Bybel se geloofwaardigheid in twyfel trek. Die Anglikaanse aartsbiskop Desmond Tutu het in The Star, ’n Suid-Afrikaanse koerant, gesê: “Daar is dele van die Bybel wat geen blywende waarde het nie.” Sulke uitlatings het baie laat wonder presies hoe ernstig hulle die Bybel moet opneem.
Leiding is nodig
Kritici asook gelowiges moet erken dat die wêreld, veral nou, oplossings nodig het wat werk. “Tensy die mens vinnig leer om die tempo te beheer waarteen verandering plaasvind in sy persoonlike aangeleenthede sowel as in die samelewing oor die algemeen”, het Alvin Toffler in sy boek Future Shock geskryf, “is ons tot ’n groot . . . ineenstorting gedoem.” Daardie waarskuwing is meer as 20 jaar gelede gegee. Die ineenstorting waarvan Alvin Toffler gepraat het, vind blykbaar nou plaas.
Namate hierdie eeu tot ’n einde loop, het tegnologiese ontwikkelings en mensefilosofieë nog nie daarin geslaag om wêreldwye stabiliteit tot stand te bring nie. Onlangse vooruitsigte op ’n nuwe wêreldorde het plek gemaak vir ontnugtering, en die lewe van baie het verval in ’n daaglikse stryd om oorlewing.
Statistiek toon dat die ekonomiese grens tussen die rykes en die armes ’n kloof geword het. ’n Onlangse studie toon dat 82,7 persent van die wêreld se rykdom in die hande van slegs 20 persent van sy bevolking is. Is dit enigsins verbasend dat oorlog, hongersnood, siekte, onluste en anargie algemeen in baie lande is? Die druk om die verslegtende lewensgehalte die hoof te bied, veroorsaak baie spanning wat mense se emosies betref. Daarom gaan selfs die samelewing se mees basiese eenheid, die gesin, agteruit.
Hoewel baie, soos Alvin Toffler, sê dat dit die mens se plig is om “splinternuwe maniere te soek om stabiliteit en veiligheid te verseker”, toon die getuienis dat mense nie hulle eie oplossings kan vind nie.
Die enigste alternatief
Die Heilige Bybel, waaraan daar ongeveer 3 500 jaar gelede begin skryf is, het nie deur die eeue heen verander nie. Die beginsels daarin bly dieselfde. Die woorde in Jeremia 10:23 is byvoorbeeld vandag nog van groter toepassing as ooit tevore, naamlik dat ‘aan die mens sy weg nie toebehoort nie; nie aan ’n man om te loop en sy voetstappe te rig nie’. As die mens hom nie op sy eie weg kan lei nie, wie kan dan? Die Bybel toon wat die enigste ware Bron van leiding is: “Ek is die HERE jou God, wat jou leer wat heilsaam is, wat jou lei op die weg wat jy moet gaan.”—Jesaja 48:17.
Jehovah God leer ons deur die bladsye van die Bybel hoe ons onsself kan help. Hulle is gevul met raad wat toon op watter weg ons moet gaan. Die raad daarin is vandag nog net so geldig soos die dag waarop dit neergeskryf is. Die volgende artikel sal die praktiese sin van die Bybel vir ons hedendaagse tyd ondersoek. Jy sal uit verskillende dinge, van gesondheid tot rykdom, die gesinslewe en persoonlike gedrag, sien dat die Bybel werklik ’n rots van stabiliteit in die dryfsand van die hedendaagse wêreld is.
[Prent op bladsy 4]
Die Bybel is ’n anker van stabiliteit in die hedendaagse, onstuimige wêreld