Maak jehovah se naam in die openbaar bekend
“Laat ons ... altyd aan God ’n lofofferande bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak.”—HEBREËRS 13:15, NW.
1. Wat het die profeet Hosea mede-Israeliete aangespoor om te doen?
JEHOVAH se profeet Hosea het ’n lewensbelangrike boodskap vir sy mede-Israeliete gehad. In die agtste eeu voor die Gewone Jaartelling het hy sy weerspannige tydgenote vermaan om tot inkeer te kom. Hy het hulle aangespoor: “Neem woorde met julle, en bekeer julle tot die HERE; sê aan Hom: Vergeef alle ongeregtigheid, en neem aan wat goed is; dan sal ons as offerdiere ons lippe aanbied” (Hosea 14:3). Deur die volk aan te spoor om die ‘offerdiere van hulle lippe’ vir Jehovah aan te bied, het Hosea se profesie die Israeliete aangemoedig om tot inkeer te kom en offerandes van opregte lof aan God te bring.
2. Watter soort offerande het die apostel Paulus Christene aangemoedig om te bring?
2 Getuies van Jehovah bied vandag die ‘offerdiere van hulle lippe’ aan. Hulle slaan ook ag op die vermaning van die apostel Paulus, wat indirek na hierdie woorde van Hosea se profesie verwys het toe hy geskryf het: “Laat ons deur [Jesus Christus] altyd aan God ’n lofofferande bring, dit wil sê die vrug van die lippe wat sy naam in die openbaar bekend maak” (Hebreërs 13:15, NW). God se knegte loof Jehovah dus met vreugde deur middel van hulle Koninkrykspredikingswerk.—Mattheüs 24:14.
3. Hoe kan ons aan Jehovah “’n lofofferande” bring, en wie se bedrywighede gaan ons nou ondersoek?
3 Dit is vir onvolmaakte mense ’n onverdiende voorreg om Jehovah se naam in die openbaar bekend te maak. Hoe gelukkig maak dit ons tog om met ander oor ons God te praat, en sodoende bring ons aan Jehovah “’n lofofferande”, die “offerdiere [van] ons lippe”! Kom ons kyk wat die Bybel ons van God se profete en ander knegte van Jehovah vertel om ons aan te moedig terwyl ons in ons dag die goeie nuus van die Koninkryk in die openbaar bekend maak. Ons kan baie uit hulle lewenswandel leer wat ons sal help om ons predikingswerk te geniet.—Romeine 15:4.
Die rol van die profete
4, 5. (a) Wat is die grondbetekenis van die woorde wat met “profeet” vertaal word in die Bybel se oorspronklike tale? (b) Wat dui daarop dat die profete ’n merkwaardige rol in God se reëling gespeel het?
4 Jehovah se profete was bevoorreg om sy boodskap in die openbaar te verkondig. Daar is nie sekerheid oor wat die etimologie van die Hebreeuse woord vir “profeet” (na·viʼʹ) is nie, maar die gebruik daarvan in die Bybel toon dat ware profete woordvoerders vir Jehovah was, manne van God met geïnspireerde boodskappe. Die Griekse woord wat met “profeet” (pro·pheʹtes) vertaal word, beteken letterlik “iemand wat spreek”, om iets “voor” iemand te sê. ’n Profeet is iemand wat boodskappe verkondig wat aan ’n Goddelike oorsprong toegeskryf word. God se ware profete het dikwels, maar nie altyd nie, toekomstige gebeure voorspel.
5 M’Clintock en Strong’s se Cyclopædia sê die volgende aangaande die merkwaardige rol wat die profete in God se reëling gespeel het: “Soms is hulle raad gevra ... Maar meer dikwels is hulle beweeg om uit hulle eie met die volk te praat sonder dat hulle raad gevra is, en hulle was nie bang om na vore te kom op plekke waar hulle teenwoordigheid verontwaardiging en vrees tot gevolg kon hê nie” (Deel VIII, bladsy 640). Beskou ’n paar van die voorbeelde van dinge wat die profete beweeg het om so ’n moedige standpunt in te neem.
Gevoelens en beweegredes
6, 7. Wat het Jehovah sy profeet Esegiël laat eet, en watter uitwerking het dit op hom gehad?
6 Voor die vernietiging van Jerusalem in 607 v.G.J. het Jehovah deur sy profeet Esegiël met die Joodse bannelinge in Babilon gespreek. Jehovah het vir hom gesê: “Mensekind, eet op wat jy vind; eet hierdie rol op, en gaan spreek met die huis van Israel.” Esegiël was gehoorsaam. Hy het gesê: “Toe het ek my mond oopgemaak, en Hy het my dié rol laat eet en vir my gesê: Mensekind, laat jou buik eet, en vul jou ingewande met hierdie rol wat Ek jou gee. En ek het dit geëet, en dit was in my mond soos heuning so soet.”—Esegiël 3:1-3.
7 Ons liggaam neem voedingstowwe op uit die voedsel wat ons eet, en in sekere sin word hierdie voedingstowwe ’n deel van ons. Net so sou die “rol” wat Esegiël geëet het—Jehovah se boodskap wat die profeet moes bekend maak—’n deel van hom word, dit sou ’n uitwerking op sy emosies hê. God se woorde het Esegiël se diepste gevoelens so opgewek dat dit vir hom ’n genot was om dit in die openbaar bekend te maak. Indien jy ’n Getuie van Jehovah is, kan jy jou afvra of jy genot daaruit put om God se boodskap in die openbaar bekend te maak.
8, 9. Wat het Amos beweeg om te profeteer?
8 Neem ook die voorbeeld van die profeet Amos. Hy het in die negende eeu v.G.J. geleef en was onder die eerste Hebreeuse profete wat ’n Bybelboek geskryf het wat na hom vernoem is. Soos Esegiël, was Amos ’n vreeslose verkondiger van Jehovah se woord. Trouens, die uitdrukking “so sê die HERE” word herhaaldelik gebruik in die boek wat sy naam dra! (Amos 1:3, 6, 9, 11, 13; 2:1, 4, 6, 11; 3:12; 5:3, 4, 16; 7:17). Dit was vir Amos belangrik om God se woorde in die openbaar bekend te maak.
9 As God se profeet het Amos onmiddellik gereageer wanneer hy Goddelike verklarings ontvang het. God het deur Amos gesê: “Die leeu het gebrul, wie sal nie vrees nie? Die Here HERE het gespreek, wie sal nie profeteer nie?” (Amos 3:8). Die profeet het ’n onweerstaanbare drang gehad om Jehovah se boodskap bekend te maak.
10. Hoe reageer Jehovah se hedendaagse knegte wanneer hulle predikingswerk teëgestaan word?
10 Soos die gebrul van ’n leeu word Jehovah se oordeelsboodskappe aan die huidige goddelose wêreldstelsel bekend gemaak. Jehovah se hedendaagse knegte besef dat hulle, soos Amos, die verpligting het om God se woorde in die openbaar bekend te maak. Selfs wanneer hulle deur teenstanders bedreig word, volg hulle die voorbeeld van die apostels Petrus en Johannes, wat ferm gesê het: “Vir ons is dit onmoontlik om nie te spreek oor wat ons gesien en gehoor het nie.” Die apostels het ook so gevoel: “Ons moet aan God meer gehoorsaam wees as aan die mense” (Handelinge 4:20; 5:29). Wat dan van ons? Dit is goed as ons ons gevoelens oor die openbare bekendmaking van Jehovah se naam ondersoek.
“Uit die oorvloed van die hart”
11. Wat moet ons beweeg om aan te hou om Jehovah se naam in die openbaar bekend te maak?
11 Daar bestaan geen twyfel nie dat Jehovah se profete dankbaar was oor hulle voorregte. Soortgelyke dankbaarheid teenoor Jehovah moet ons beweeg om sy naam in die openbaar bekend te maak. Psalm 145:1, 2 sê: “o My God, o Koning, ek wil U verhoog en u Naam loof vir ewig en altyd. Elke dag wil ek U loof en u Naam prys vir ewig en altyd.” Weerspieël daardie woorde jou gesindheid? Gereelde Bybelstudie help ons om ons waardering te vergroot vir wat Jehovah vir ons gedoen het, steeds doen en nog gaan doen. En vind ons nie wanneer ons die Bybel as ’n gesin saam bestudeer dat God se Woord krag uitoefen en ons beweeg om oor hom en sy voornemens te wil praat nie? (Hebreërs 4:12). As ons Jehovah se naam met welslae in die openbaar bekend wil maak, moet ons ook ten volle gebruik maak van die Christelike publikasies wat Jehovah God deur die gesalfde “getroue en verstandige dienskneg” voorsien.—Mattheüs 24:45-47.
12. Hoe kan die Christelike vergaderinge sowel as bepeinsing ons help om die openbare predikingswerk te doen?
12 As ons Jehovah uit ’n dankbare hart wil loof, moet ons die Christelike vergaderinge gereeld bywoon. Jehovah se hele volk moet op die apostel Paulus se vermaning ag slaan: “Laat ons op mekaar ag gee om tot liefde en goeie werke aan te spoor; en laat ons ons onderlinge byeenkoms nie versuim soos sommige die gewoonte het nie, maar laat ons mekaar vermaan, en dit des te meer namate julle die dag sien nader kom” (Hebreërs 10:24, 25). Woon jy die Christelike vergaderinge gereeld by? Praat jy dikwels oor die skriftuurlike waarhede, die goeie ondervindinge en die opwindende nuus van teokratiese uitbreiding wat jy by die vergaderinge van God se volk hoor? As jy huiwerig is om oor Jehovah en sy voornemens te praat, moet jy tyd inruim om oor sy Woord te peins sodat sy gedagtes diep in jou hart kan insink (Psalm 77:13; 143:5). Ja, die Christelike vergaderinge, sowel as gereelde bepeinsing oor God se Woord, sal jou help om die wonderlike voorreg te waardeer om Jehovah se naam in die openbaar bekend te maak.
13. Hoe kan ons ‘die goeie uit ons hart te voorskyn bring’?
13 Met ’n hart vol dankbaarheid teenoor Jehovah bring ons goeie dinge te voorskyn. “Die goeie mens bring uit die goeie skat van sy hart te voorskyn wat goed is”, het Jesus geredeneer, “en die slegte mens bring uit die slegte skat van sy hart te voorskyn wat sleg is; want uit die oorvloed van die hart spreek sy mond” (Lukas 6:45). Watter beter manier kan daar wees om ‘die goeie te voorskyn te bring’ as om Jehovah se naam in die openbaar bekend te maak en met ons bure, ons familielede—trouens, met almal wat ons teëkom—oor sy voornemens te praat?
Resultate van die openbare predikingswerk
14. (a) Wat kan die verkondiger en die hoorder uit die Koninkryksboodskap kry? (b) Wat word deur middel van die Koninkrykspredikingswerk bereik?
14 God se profete het vreugde uit hulle diens geput, en wat hulle gesê het, het ontvanklike hoorders tot voordeel gestrek. Net so verskaf die openbare bekendmaking van die Koninkryksboodskap groot vreugde aan die verkondigers daarvan (Handelinge 20:35). En watter voordele hou dit tog vir waarderende hoorders in! Wanneer mense die goeie nuus aanneem, help dit hulle om depressie te bowe te kom of daarmee saam te leef. Bedroefdes verheug hulle oor die vooruitsig van die opstanding. Verslaafdes breek weg van verslawing aan nikotien, heroïen en ander verslawende middels. Baie word sedelik opgehef en almal wat die Bybelwaarheid aanneem, verkry geestelike vryheid (Johannes 5:28, 29; 8:32). Die verkondiging van die Koninkryk as die mensdom se enigste hoop dien ook as ’n waarskuwing vir die goddelose, terwyl dit opregtes van hart bly maak. Sodoende word mense geskei om “die ewige straf” of “die ewige lewe” te ontvang wanneer Goddelike oordeel aan hierdie goddelose wêreld voltrek word (Mattheüs 24:14; Mattheüs 25:31-46; Esegiël 33:1-9; 1 Timotheüs 2:3, 4). Ons predikingswerk is ’n ongeëwenaarde reddingswerk, ’n werk wat op die omvattendste en intensiefste skaal tot nog toe op die aarde uitgevoer is!
15. Wat kan ons doen om mense wat moontlik die goeie nuus waardig is in ons getuienisgebied te help?
15 As Jehovah se hedendaagse Getuies dien ons ons hemelse Vader met vreugde en as gehoorsame slawe (Romeine 12:11, NW). Daarom ruim ons graag tyd in om gereeld deel te neem aan die werk om die goeie nuus in die openbaar en van huis tot huis te verkondig (Handelinge 5:42; 20:20). Verslae uit alle wêrelddele toon dat daar steeds mense in ons verskillende gebiede is wat die goeie nuus waardig is. Namate omstandighede in die wêreld verander, word mense op verskillende maniere daardeur geraak. Baie het onverwags vlugtelinge geword, vreemdelinge in ’n vreemde land. Dalk is daar sulke mense in ons getuienisgebied. Indien wel, moet ons ons bes doen om hulle op geestelike gebied te help terwyl ons in “die heilige werk van die goeie nuus” volhard (Romeine 15:16, NW). Sommige Christene het ’n ander taal geleer sodat hulle die goeie nuus van die Koninkryk onder sulke mense kan bekend maak.
16. Wat kan ons help om aan te hou om Jehovah se naam bekend te maak?
16 Talle van God se profete het baie moeilike toewysings gehad. Dit was nie vir hulle maklik om Goddelike boodskappe aan ’n onontvanklike volk bekend te maak nie. Net so is dit nie vir almal wat aan Jehovah toegewy is maklik om Sy naam in die openbaar bekend te maak nie, veral in die gebiede waar die meeste mense nie luister nie. Maar as ons die vertroue het wat voortspruit uit biddende studie van God se Woord, tesame met die krag wat Jehovah voorsien, kan ons volhard in die bekendmaking van die Koninkryksboodskap (Filippense 4:13; Openbaring 14:6). Wat kan ons nog in hierdie verband by Jehovah se profete en sy ander knegte van die ou tyd leer?
Kameraadskap in die veldbediening
17. Watter skriftuurlike voorbeelde het ons van heilsame kameraadskap in God se diens?
17 God se profeet Moses het aanvanklik die hulp van sy ouer broer, Aäron, gehad om na sy toewysing om te sien. Jehovah het vir Moses gesê: “[Aäron] moet vir jou met die volk spreek, en dan sal hy vir jou ’n mond wees” (Exodus 4:16). Dink ook aan die tyd van die profete Elia en Elisa, toe “die profete-seuns” voorspoedig was. Hierdie profete-seuns was blykbaar groepe van God se knegte wat saam gewerk het en ongetwyfeld aangename kameraadskap geniet het. (2 Konings 2:3-5; 4:38; vergelyk 1 Samuel 10:5, 10.) Moses en Aäron sowel as “die profete-seuns” het natuurlik nie die goeie nuus van die Koninkryk bekend gemaak nie. Nogtans het hulle assosiasie hulle almal tot voordeel gestrek. Eeue later het Jesus Christus 70 dissipels “twee-twee” in die bediening uitgestuur, en hulle het ongetwyfeld baat gevind by die kameraadskap wat sodoende voorsien is.—Lukas 10:1-16; vergelyk Handelinge 17:10, 11; 20:20.
18.. Hoe is kameraadskap in die bediening in ons dag van nut?
18 In 1953 het Jehovah se Getuies met ’n program begin waarvolgens Koninkryksverkondigers saam in die veldbediening gewerk het. Dit was natuurlik nie net ter wille van die kameraadskap nie. Hierdie opleidingsprogram is bedoel om God se knegte bekwamer onderrigters en verkondigers van die goeie nuus te maak. Met hierdie doel voor oë het meer ervare Koninkryksverkondigers saam met nuwelinge in die bediening gewerk. Hierdie huis-tot-huis-opleidingsprogram was baie voordelig en het Jehovah se volk gehelp om te verbeter wat hulle openbare bekendmaking van sy naam betref (1 Timotheüs 4:16). Vandag is veiligheid nog ’n faktor wat dit vir Christene raadsaam maak om, veral in sekere gebiede, “twee-twee” aan die bediening deel te neem.
19. Wat moet in gedagte gehou word aangaande persoonlike doelwitte in die bediening?
19 Of jy nou saam met ’n medegelowige in die bediening werk of op jou eie na ’n deur toe gaan, jy moet jou inspan om die een of ander persoonlike doelwit of oogmerk te bereik. Dit moet realisties en bereikbaar wees. Het jy hulp nodig om jou inleiding aan te pas sodat jy die belangstelling van die mense in jou gebied kan wek? Indien wel, kan jy dalk saam met ’n pionier—’n voltydse Koninkryksverkondiger—of ’n verkondiger werk wat veral bekwaam is wat die gebruik van goeie inleidings betref. Jou metgesel kan jou dalk help om die inleidings voor te berei en te gebruik wat in Ons Koninkryksbediening of die boek Redenering uit die Skrif uiteengesit word. Luister aandagtig na jou metgesel se aanbiedings wanneer julle saam van huis tot huis getuig. Probeer dan self ’n soortgelyke aanbieding totdat jy in hierdie aspek van jou bediening bedrewe geraak het.
20, 21. Wat kan kameraadskap in die veldbediening veral nuttig maak?
20 Sê nou jy het hulp nodig om doeltreffende herbesoeke te doen met die doel om ’n tuisbybelstudie te begin? Daar kan dalk deur middel van jou Gemeentelike Boekstudiehouer gereël word dat jy saam met ’n Koninkryksverkondiger in die velddiens werk wat al heelwat welslae daarmee behaal het om Bybelstudies te begin. Moenie net stilbly wanneer julle saam herbesoeke doen nie. Nadat jou metgesel jou gewys het hoe hy of sy ’n besoek doen, sal jy dit dalk eerder voordelig vind om ’n soortgelyke aanbieding te probeer wanneer julle die volgende herbesoek doen. Jou metgesel sal daar wees om jou te help en ná die tyd raad te gee.—Vergelyk Galasiërs 6:6.
21 Sulke liefdevolle hulp van ’n velddiensmaat kan jou help om jou doelwitte in die bediening te bereik. Hierdie hulp, en omdat jy innig waardeer dat Jehovah jou in sy liefderyke goedhartigheid die voorreg gee om aan sy werk deel te neem, sal jou in staat stel om jou Koninkrykspredikingswerk selfs beter te doen. En mag jy jou voorreg koester om Jehovah te loof deur altyd goed van hom te praat en gereeld sy naam in die openbaar bekend te maak.—Psalm 145:1, 2, 9-13.
22. Watter vrae sal in ons volgende studie beantwoord word?
22 As Jehovah se Getuies besoek ons mense herhaaldelik gedurende ons huis-tot-huis-bediening. Baie luister met innige waardering na die goeie nuus. Maar sommige is dalk huiwerig om na die Koninkryksboodskap te luister. Wat moet ons onder sulke omstandighede doen? Hoe kan ons volhard in die werk wat Jehovah sy volk gegee het? Watter skriftuurlike voorbeelde kan ons help of rig? Hierdie vrae sal in die volgende artikel beantwoord word.
Het jy hierdie punte gesnap?
◻ Wat het Hosea sowel as die apostel Paulus oor offerandes aan God gesê?
◻ Wat het Esegiël en Amos beweeg om te profeteer?
◻ Hoe moet ons ons Koninkrykspredikingswerk beskou?
◻ Watter voordele kan kameraadskap in die veldbediening inhou?
[Prente op bladsy 13]
Doelgerigte kameraadskap kan ons help om in ons bediening te verbeter