Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • kl hfst. 4 bl. 32-42
  • Jesus Christus–die sleutel tot die kennis van God

Video nie beskikbaar nie.

Jammer, die video kon nie laai nie.

  • Jesus Christus–die sleutel tot die kennis van God
  • Kennis wat tot die ewige lewe lei
  • Onderhofies
  • Soortgelyke materiaal
  • DIE BELOOFDE MESSIAS
  • BEWYSE DAT JESUS DIE MESSIAS WAS
  • JESUS SE VOORMENSLIKE BESTAAN
  • JESUS SE LEWE OP DIE AARDE
  • JESUS VANDAG
  • SY VROEË LEWE
  • SY BEDIENING
  • VERRAAD EN SY DOOD
  • “Ons het die Messias gevind”!
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—1992
  • Wie is Jesus Christus?
    Wat kan die Bybel ons leer?
  • Wie is Jesus Christus?
    Wat leer die Bybel werklik?
  • Hulle het vir die Messias gewag
    Die Wagtoring kondig Jehovah se Koninkryk aan—2011
Sien nog
Kennis wat tot die ewige lewe lei
kl hfst. 4 bl. 32-42

Hoofstuk 4

Jesus Christus–die sleutel tot die kennis van God

1, 2. Hoe het die wêreld se godsdienste met die sleutel tot die kennis van God gepeuter?

JY STAAN by die deur en sukkel met jou sleutels. Dit is koud en donker, en jy wil graag binnekant kom​—⁠maar die sleutel werk nie. Dit lyk soos die regte sleutel, maar die slot wil nie draai nie. Hoe frustrerend tog! Jy kyk weer na jou sleutels. Gebruik jy die regte sleutel? Het iemand die sleutel beskadig?

2 Dit is ’n gepaste beeld van wat hierdie wêreld se godsdiensverwarring met die kennis van God gedoen het. Talle het in werklikheid gepeuter met die sleutel wat daardie kennis vir ons begrip ontsluit—Jesus Christus. Party godsdienste het die sleutel verwyder deur Jesus heeltemal te ignoreer. Ander het Jesus se rol verdraai en aanbid hom as God die Almagtige. Hoe dit ook al sy, die kennis van God is vir ons geslote sonder ’n juiste begrip van hierdie hooffiguur, Jesus Christus.

3. Waarom kan Jesus die sleutel tot die kennis van God genoem word?

3 Jy onthou dalk dat Jesus gesê het: “Dít beteken die ewige lewe, dat hulle kennis inneem van u, die enigste ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3). Jesus het dit nie gesê om te spog nie. Die Skrif beklemtoon herhaaldelik dat juiste kennis van Christus nodig is (Efesiërs 4:13; Kolossense 2:2; 2 Petrus 1:8; 2:20). “Van [Jesus Christus] getuig al die profete”, het die apostel Petrus gesê (Handelinge 10:43). En die apostel Paulus het geskryf: “In [Jesus] is al die skatte van wysheid en van kennis sorgvuldig verborge” (Kolossense 2:3). Paulus het selfs gesê dat al Jehovah se beloftes as gevolg van Jesus vervul word (2 Korintiërs 1:20). Jesus Christus is dus die sleutel tot die kennis van God. Ons kennis van Jesus moet vry wees van enige verdraaiings ten opsigte van sy natuur en sy rol in God se reëling. Maar waarom beskou Jesus se volgelinge hom as fundamenteel tot God se voornemens?

DIE BELOOFDE MESSIAS

4, 5. Watter verwagtinge sou deur die Messias vervul word, en hoe het Jesus se dissipels hom beskou?

4 God se knegte het sedert die dae van die getroue man Abel gretig uitgesien na die Saad wat deur Jehovah God self voorspel is (Genesis 3:15; 4:1-8; Hebreërs 11:4). Daar is geopenbaar dat die Saad die rol van die Messias, wat “Gesalfde” beteken, in God se voorneme sou speel. Hy sou ‘aan sondes ’n einde maak’, en die glorieryke aspekte van sy Koninkryk is in die psalms voorspel (Daniël 9:24-26, vgl. NW; Psalm 72:1-20). Wie sou die Messias wees?

5 Stel jou voor hoe opgewonde ’n jong Jood met die naam Andreas moes gewees het toe hy na die woorde van Jesus van Nasaret geluister het. Andreas het hom na sy broer Simon Petrus gehaas en vir hom gesê: “Ons het die Messias gevind” (Johannes 1:41). Jesus se dissipels was daarvan oortuig dat hy die beloofde Messias was (Matteus 16:16). En ware Christene was nog altyd bereid om hulle lewe op die spel te plaas in die oortuiging dat Jesus inderdaad die voorspelde Messias, of Christus, was. Watter bewyse het hulle gehad? Kom ons kyk na drie bewysgronde.

BEWYSE DAT JESUS DIE MESSIAS WAS

6. (a) Deur watter geslagslyn sou die beloofde Saad kom, en hoe weet ons dat Jesus deur daardie geslagslyn gekom het? (b) Waarom sou dit vir enigiemand wat ná 70 G.J. gelewe het onmoontlik wees om ’n bewering dat hy die Messias is te bewys?

6 Jesus se geslagslyn lê die eerste grondslag daarvoor om hom as die beloofde Messias te identifiseer. Jehovah het vir Sy kneg Abraham gesê dat die beloofde Saad deur sy geslagslyn sou kom. Abraham se seun Isak, Isak se seun Jakob en Jakob se seun Juda het almal ’n soortgelyke belofte ontvang (Genesis 22:18; 26:2-5; 28:12-15; 49:10). Die geslagslyn waardeur die Messias sou kom, is eeue later meer spesifiek aangedui toe koning Dawid vertel is dat Hy deur sy geslagslyn sou kom (Psalm 132:11; Jesaja 11:1, 10). Die Evangelieverslae van Matteus en Lukas bevestig dat Jesus deur daardie geslagslyn gekom het (Matteus 1:1-16; Lukas 3:23-38). Hoewel Jesus talle bittere vyande gehad het, het nie een van hulle sy goed gepubliseerde geslagslyn betwis nie (Matteus 21:9, 15). Dit is derhalwe duidelik dat sy geslagslyn onbetwisbaar is. Die Jode se geslagsregisters is egter vernietig toe die Romeine Jerusalem in 70 G.J. verwoes het. Daarna kon niemand wat beweer het dat hy die beloofde Messias is dit ooit bewys nie.

7. (a) Wat is ’n tweede bewysgrond dat Jesus die Messias was? (b) Hoe is Miga 5:1 in verband met Jesus vervul?

7 Vervulde profesieë is ’n tweede bewysgrond. Tientalle profesieë in die Hebreeuse Geskrifte beskryf verskillende aspekte van die Messias se lewe. In die agtste eeu v.G.J. het die profeet Miga voorspel dat hierdie groot heerser in die onbeduidende dorp Betlehem gebore sou word. Daar was twee dorpe in Israel wat Betlehem genoem is, maar hierdie profesie het die spesifieke een genoem: Betlehem Efrata, waar koning Dawid gebore is (Miga 5:1). Jesus se ouers, Josef en Maria, het in Nasaret gewoon, ongeveer 150 kilometer noord van Betlehem. Maar terwyl Maria swanger was, het die Romeinse heerser Caesar Augustus beveel dat al die mense in hulle tuisstede geregistreer moes word.a Josef moes dus sy swanger vrou na Betlehem neem, waar Jesus gebore is.—Lukas 2:1-7.

8. (a) Wanneer en met watter gebeurtenis het die 69 “weke” begin? (b) Hoe lank was die 69 “weke”, en wat het gebeur toe hulle geëindig het?

8 In die sesde eeu v.G.J. het die profeet Daniël voorspel dat die Messias, “’n Gesalfde, ’n Vors”, sou verskyn 69 “sewetalle”, of “weke” (NW), nadat die bevel uitgegaan het om Jerusalem te herstel en te herbou (Daniël 9:24, 25). Elkeen van hierdie “weke” was sewe jaar lank.b Volgens die Bybel en sekulêre geskiedenis is die bevel om Jerusalem te herbou in 455 v.G.J. gegee (Nehemia 2:1-8). Die Messias sou dus 483 (69 maal 7) jaar ná 455 v.G.J. verskyn. Dit bring ons by 29 G.J., dieselfde jaar dat Jehovah Jesus met heilige gees gesalf het. Jesus het sodoende “die Christus” (wat “Gesalfde” beteken), of Messias, geword.—Lukas 3:15, 16, 21, 22.

9. (a) Hoe is Psalm 2:2 vervul? (b) Wat is van die ander profesieë wat in Jesus vervul is? (Sien tabel.)

9 Nie almal het Jesus natuurlik as die beloofde Messias aanvaar nie, en die Skrif het dit voorspel. Soos opgeteken in Psalm 2:2, het koning Dawid onder Goddelike inspirasie voorspel: “Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde.” Hierdie profesie het te kenne gegee dat die leiers van meer as een land sou saamspan om Jehovah se Gesalfde, of Messias, aan te val. En dit is wat gebeur het. Die Joodse godsdiensleiers, koning Herodes en die Romeinse goewerneur Pontius Pilatus het almal deel aan Jesus se dood gehad. Herodes en Pilatus, wat voorheen vyande was, was van toe af hegte vriende (Matteus 27:1, 2; Lukas 23:10-12; Handelinge 4:25-28). Sien asseblief die bygaande tabel met die titel “Enkele uitsonderlike Messiaanse profesieë” vir verdere bewyse dat Jesus die Messias was.

10. Op watter maniere het Jehovah getuig dat Jesus sy beloofde Gesalfde was?

10 Die getuienis van Jehovah God is ’n derde bewysgrond wat Jesus se Messiasskap steun. Jehovah het engele gestuur om mense in te lig dat Jesus die beloofde Messias is (Lukas 2:10-14). Trouens, gedurende Jesus se aardse lewe het Jehovah self vanuit die hemel gespreek en sy goedkeuring van Jesus betuig (Matteus 3:16, 17; 17:1-5). Jehovah God het Jesus die krag gegee om wonderwerke te verrig. Elkeen van hierdie wonderwerke was verdere Goddelike bewys dat Jesus die Messias was, want God sou nooit ’n bedrieër die krag gee om wonderwerke te verrig nie. Jehovah het ook sy heilige gees gebruik om die Evangelieverslae te inspireer, sodat die bewyse van Jesus se Messiasskap deel geword het van die Bybel, die mees algemeen vertaalde en bes verspreide boek in die geskiedenis.—Johannes 4:25, 26.

11. Hoeveel bewyse is daar dat Jesus die Messias was?

11 Saam sluit hierdie kategorieë van bewyse honderde feite in wat Jesus as die beloofde Messias identifiseer. Dit is dan duidelik dat ware Christene hom met goeie rede beskou as ‘die een van wie al die profete getuig het’ en as die sleutel tot die kennis van God (Handelinge 10:43). Maar daar is meer om van Jesus Christus te leer as net die feit dat hy die Messias was. Wat was sy oorsprong? Watter soort persoon was hy?

JESUS SE VOORMENSLIKE BESTAAN

12, 13. (a) Hoe weet ons dat Jesus in die hemel bestaan het voor hy aarde toe gekom het? (b) Wie is “die Woord”, en wat het hy gedoen voor hy ’n mens geword het?

12 Jesus se lewe kan in drie fases verdeel word. Die eerste het begin lank voor hy op die aarde gebore is. Miga 5:1 het gesê dat die Messias se uitgange, of oorsprong, “uit die voortyd, uit die dae van die ewigheid”, is. En Jesus het duidelik gesê dat hy van “die ryke daar bo”, dit wil sê van die hemel, gekom het (Johannes 8:23; 16:28). Hoe lank het hy in die hemel bestaan voor hy aarde toe gekom het?

13 Jesus is God se “enigverwekte Seun” genoem omdat hy regstreeks deur Jehovah geskep is (Johannes 3:16). As “die eersgeborene van die hele skepping” is Jesus toe deur God gebruik om alle ander dinge te skep (Kolossense 1:15; Openbaring 3:14). Johannes 1:1 sê dat “die Woord” (Jesus in sy voormenslike bestaan) “in die begin” by God was. Die Woord was dus by Jehovah toe “die hemel en die aarde” geskep is. God het met die Woord gepraat toe Hy gesê het: “Laat Ons mense maak na ons beeld” (Genesis 1:1, 26). Die Woord moes eweneens God se geliefde “meesterwerker” (NW) gewees het, wat in Spreuke 8:22-31 as die beliggaming van wysheid beskryf word en wat saam met Jehovah gewerk het om alle dinge te maak. Nadat Jehovah hom geskep het, het die Woord eeue saam met God in die hemel deurgebring voor hy as ’n mens aarde toe gekom het.

14. Waarom word Jesus “die beeld van die onsigbare God” genoem?

14 Geen wonder dat Kolossense 1:15 Jesus “die beeld van die onsigbare God” noem nie! Deur ontelbare jare van intieme omgang het die gehoorsame Seun net soos sy Vader, Jehovah, geword. Dit is nog ’n rede waarom Jesus die sleutel tot die lewegewende kennis van God is. Alles wat Jesus gedoen het terwyl hy op die aarde was, is presies wat Jehovah sou gedoen het. As ons Jesus leer ken, beteken dit gevolglik ook dat ons kennis van Jehovah toeneem (Johannes 8:28; 14:8-10). Dit is dus ongetwyfeld lewensbelangrik om meer van Jesus Christus te leer.

JESUS SE LEWE OP DIE AARDE

15. Hoe het dit gekom dat Jesus as ’n volmaakte baba gebore is?

15 Die tweede fase van Jesus se lewe was hier op die aarde. Hy het hom gewillig onderwerp toe God sy lewe van die hemel na die baarmoeder van ’n getroue Joodse maagd met die naam Maria oorgedra het. Jehovah se kragtige heilige gees, of werkende krag, het Maria “oorskadu” en haar swanger laat word en later aan ’n volmaakte baba geboorte laat gee (Lukas 1:34, 35). Jesus het geen onvolmaaktheid geërf nie, aangesien sy lewe van ’n volmaakte Bron gekom het. Hy is in ’n nederige huis as die aangenome seun van die timmerman Josef grootgemaak en was die eerste van etlike kinders in die gesin.—Jesaja 7:14; Matteus 1:22, 23; Markus 6:3.

16, 17. (a) Waar het Jesus die krag gekry om wonderwerke te verrig, en wat was party daarvan? (b) Wat is party van die eienskappe wat Jesus getoon het?

16 Jesus se hartgrondige toegewydheid aan Jehovah God was reeds duidelik toe hy 12 jaar oud was (Lukas 2:41-49). Nadat hy grootgeword en op die ouderdom van 30 met sy bediening begin het, het Jesus ook sy innige liefde vir sy naaste getoon. Toe God se heilige gees hom die krag gegee het om wonderwerke te verrig, het hy uit medelye die siekes, die kreupeles, die verminktes, die blindes, die dowes en die melaatses genees (Matteus 8:2-4; 15:30). Jesus het duisende hongeriges gevoed (Matteus 15:35-38). Hy het ’n storm stilgemaak wat die veiligheid van sy vriende bedreig het (Markus 4:37-39). Trouens, hy het selfs die dooies opgewek (Johannes 11:43, 44). Hierdie wonderwerke is vasstaande feite van die geskiedenis. Selfs Jesus se vyande het erken dat hy ‘baie tekens gedoen het’.—Johannes 11:47, 48.

17 Jesus het dwarsdeur sy tuisland gereis en mense van God se Koninkryk geleer (Matteus 4:17). Hy het ook ’n uitstekende voorbeeld van geduld en redelikheid gestel. Selfs toe sy dissipels hom in die steek gelaat het, het hy simpatiek gesê: “Die gees is natuurlik gretig, maar die vlees is swak” (Markus 14:37, 38). Tog was Jesus moedig en reguit met diegene wat die waarheid geminag en die hulpeloses verdruk het (Matteus 23:27-33). Bowenal het hy sy Vader se voorbeeld van liefde volmaak nagevolg. Jesus was selfs bereid om te sterf sodat die onvolmaakte mensdom ’n hoop vir die toekoms sou hê. Geen wonder dan dat ons tereg na Jesus kan verwys as die sleutel tot die kennis van God nie! Ja, hy is die lewende sleutel! Maar waarom sê ons ’n lewende sleutel? Dit bring ons by die derde fase van sy lewe.

JESUS VANDAG

18. Hoe moet ons Jesus Christus vandag sien?

18 Hoewel die Bybel van Jesus se dood vertel, lewe hy nou! Trouens, honderde mense wat in die eerste eeu G.J. gelewe het, was ooggetuies van die feit dat hy opgewek is (1 Korintiërs 15:3-8). Soos voorspel is, het hy daarna aan sy Vader se regterhand gaan sit en gewag om koninklike mag in die hemel te ontvang (Psalm 110:1; Hebreërs 10:12, 13). Hoe moet ons Jesus dan vandag sien? Moet ons aan hom dink as ’n hulpelose baba in ’n krip? Of as ’n man wat ly en om die lewe gebring word? Nee. Hy is ’n magtige, heersende Koning! En hy gaan nou binnekort blyk gee van sy heerskappy oor ons veelbewoë aarde.

19. Hoe gaan Jesus in die nabye toekoms optree?

19 Openbaring 19:11-15 gee ’n aanskoulike beskrywing van hoe die Koning Jesus Christus met groot krag kom om die goddeloses te vernietig. Hoe gretig moet hierdie liefdevolle hemelse Heerser tog nie wees om die lyding wat vandag miljoene teister te beëindig nie! En hy is net so gretig om dié te help wat die volmaakte voorbeeld pro–beer volg wat hy gestel het toe hy op die aarde was (1 Petrus 2:21). Hy wil hulle deur die snel naderende “oorlog van die groot dag van God die Almagtige”, wat dikwels Armageddon genoem word, bewaar sodat hulle vir ewig as aardse onderdane van God se hemelse Koninkryk kan lewe.—Openbaring 7:9, 14; 16:14, 16.

20. Wat sal Jesus gedurende sy Duisendjarige Heerskappy vir die mensdom doen?

20 Gedurende Jesus se voorspelde Duisendjarige Heerskappy van vrede sal hy wonderwerke ten behoewe van die hele mensdom verrig (Jesaja 9:5, 6; 11:1-10; Openbaring 20:6). Jesus sal alle siektes genees en ’n einde aan die dood maak. Hy sal miljarde opwek sodat hulle ook die geleentheid kan hê om vir ewig op die aarde te lewe (Johannes 5:28, 29). Jy sal dit opwindend vind om in ’n latere hoofstuk meer van sy Messiaanse Koninkryk te leer. Wees hiervan verseker: Ons kan ons nie eers voorstel hoe wonderlik ons lewe onder die Koninkryksheerskappy sal wees nie. Hoe belangrik is dit tog om Jesus Christus beter te leer ken! Ja, dit is noodsaaklik dat ons Jesus, die lewende sleutel tot die kennis van God wat tot die ewige lewe lei, nooit uit die oog verloor nie.

[Voetnote]

a Hierdie registrasie het die Romeinse Ryk in staat gestel om belasting beter in te vorder. Augustus het dus onwetend gehelp om ’n profesie te vervul oor ’n heerser wat ‘’n geldinsamelaar deur die koninkryk sou laat deurtrek’. Dieselfde profesie het voorspel dat “die vors van die verbond”, of die Messias, in die dae van hierdie heerser se opvolger “verbreek” sou word. Jesus is gedurende die bewind van Augustus se opvolger, Tiberius, om die lewe gebring.—Daniël 11:20-22.

b Die gedagte van weke van jare was nie vir die eertydse Jode iets onbekends nie. Net soos elke sewende dag ’n Sabbatdag was, was elke sewende jaar byvoorbeeld ’n Sabbatsjaar.—Exodus 20:8-11; 23:10, 11.

TOETS JOU KENNIS

Hoe het Jesus se geslagslyn bewys gelewer dat hy wel die Messias was?

Wat is enkele Messiaanse profesieë wat in Jesus vervul is?

Hoe het God regstreeks getoon dat Jesus sy Gesalfde was?

Waarom is Jesus die lewende sleutel tot die kennis van God?

[Tabel op bladsy 37]

ENKELE UITSONDERLIKE MESSIAANSE PROFESIEË

PROFESIE GEBEURTENIS VERVULLING

SY VROEË LEWE

Jesaja 7:14 Gebore uit ’n maagd Matteus 1:18-23

Jeremia 31:15 Kindertjies ná sy geboorte gedood Matteus 2:16-18

SY BEDIENING

Jesaja 61:1, 2 Sy opdrag van God Lukas 4:18-21

Jesaja 8:23–9:1 Bediening het mense Matteus 4:13-16

’n groot lig laat sien

Psalm 69:10 Ywerig vir Jehovah se huis Johannes 2:13-17

Jesaja 53:1 Is nie geglo nie Johannes 12:37, 38

Sagaria 9:9; Intog in Jerusalem op die Matteus 21:1-9

Psalm 118:26 vul van ’n esel; begroet as

koning en die een wat in

Jehovah se naam kom

VERRAAD EN SY DOOD

Psalm 41:10; 109:8 Een apostel ontrou; Handelinge 1:15-20

verraai Jesus en word

later vervang

Sagaria 11:12 Vir 30 silwerstukke Matteus 26:14, 15

verraai

Psalm 27:12 Valse getuies teen Matteus 26:59-61

hom gebruik

Psalm 22:19 Lot oor sy klere gewerp Johannes 19:23, 24

Jesaja 53:12 Onder sondaars getel Matteus 27:38

Psalm 22:8, 9 Gesmaad terwyl hy sterf Markus 15:29-32

Psalm 69:22 Is asyn gegee Markus 15:23, 36

Jesaja 53:5; Deurboor Johannes 19:34, 37

Sagaria 12:10

Jesaja 53:9 By die rykes begrawe Matteus 27:57-60

Psalm 16:8-11 Vóór verderwing opgewek Handelinge 2:25-32;

13:34-37

[Prent op bladsy 35]

God het Jesus die krag gegee om die siekes te genees

    Afrikaanse publikasies (1975-2025)
    Meld af
    Meld aan
    • Afrikaans
    • Deel
    • Voorkeure
    • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
    • Gebruiksvoorwaardes
    • Privaatheidsbeleid
    • Privaatheidsinstellings
    • JW.ORG
    • Meld aan
    Deel