Wagtoring – AANLYN BIBLIOTEEK
Wagtoring
AANLYN BIBLIOTEEK
Afrikaans
  • BYBEL
  • PUBLIKASIES
  • VERGADERINGE
  • Jongmense—Wat gaan julle met julle lewe doen?
    Die Wagtoring – 1987 | Augustus 15
    • Jongmense—Wat gaan julle met julle lewe doen?

      “Sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het.”—2 KORINTHIËRS 5:15.

      1. Watter dank het mense betuig, en waarom?

      ‘DANKIE! Ek is my lewe aan jou verskuldig!’ Mense wat uit ’n brandende huis of van verdrinking gered is, het dit al vir hulle redders gesê. En waarderende jong Christene het dit vir hulle ouers gesê. Hulle het nie bloot van die fisiese lewe wat hulle van hulle ouers ontvang het, gepraat nie, maar veral van die liefdevolle sorg en opleiding wat dit vir die jongmense moontlik gemaak het om “die belofte wat Hy ons beloof het, naamlik die ewige lewe”, te ontvang.—1 Johannes 2:25.

      2. In die lig van watter informasie moet jy aandag skenk aan die vraag: Wat gaan jy met jou lewe doen?

      2 Dit was liefde wat Jehovah God beweeg het om die ewige lewe, “die ware lewe”, aan elkeen van ons beskikbaar te stel. “Hierin is die liefde: . . . dat Hy ons liefgehad het en sy Seun gestuur het as ’n versoening vir ons sondes” (1 Timotheüs 6:19, NAV; 1 Johannes 4:10). Dink ook aan die liefde wat sy Seun Jesus getoon het deur ’n pynlike dood te sterf sodat ons die ewige lewe kan verkry! (Johannes 15:13). Wat gaan jy, in die lig van die voorgaande, met jou lewe doen?

      3. Wat bepaal dikwels wat mense met hulle lewe doen?

      3 Hierdie vraag word dikwels in die een of ander vorm aan jongmense gestel deur raadgewers by die skool of ander wat in hulle toekoms belangstel. Wat gaan jou antwoord bepaal? Sal dit bloot deur persoonlike voorkeur bepaal word? Sal die beslissende faktor die raad wees van diegene wat wil hê dat jy ’n veilige posisie in die sekulêre wêreld moet bereik? Of gaan hoër oorwegings bepaal wat jy met jou lewe doen? Die geïnspireerde herinnering sê: “Hy het vir almal gesterwe, sodat die wat lewe, nie meer vir hulself moet lewe nie, maar vir Hom wat vir hulle gesterf het en opgewek is” (2 Korinthiërs 5:15). Ja, hoe goed is dit tog wanneer die wyse waarop ons ons lewens gebruik waardering toon vir wat Jesus Christus en sy hemelse Vader vir ons gedoen het!

      Gewilde rolmodelle

      4. Wie is vandag die gewildste rolmodelle?

      4 Wie is vandag egter die gewildste figure, dié wat jongmense gewoonlik hulle rolmodelle maak? Is dit nie die wêreld se rykes en beroemdes, ongeag hulle sedelike standaarde nie? Wie se prente sien jy teen die mure wanneer jy in talle jongmense se kamers inkyk? Dit is dikwels dié van musikante, rolprentsterre en atlete. Jongmense droom dikwels daarvan om eendag soortgelyke wêreldlike sukses te behaal of moontlik te trou met iemand met die fisiese eienskappe van hierdie persone. Wat van jou? Wat wil jy uit die lewe kry?

      5, 6. (a) Waarom kan daar gesê word dat wêreldlike sukses nie ware vergenoegdheid verskaf nie? (b) Wat is die bron van ware vergenoegdheid?

      5 Sal jy werklik gelukkig en tevrede wees as jy die wêreldlike sukses behaal het van beroemde persone wat bewonder word? Een van Hollywood se suksesvolste aktrises het gesê: “Ek het rykdom en al die materiële dinge gesmaak. Dit beteken niks. Daar is net soveel psigiaters as swembaddens hier, om nie eens te praat van egskeidings en kinders wat hulle ouers haat nie.”—Prediker 5:9; 1 Timotheüs 6:10.

      6 ’n Buitengewone skoolatleet, die wenner van die vroueafdeling van ’n groot tienkilometerwedloop in New York in 1981, was so ontnugter dat sy probeer selfmoord pleeg het. “Ek het die afgelope paar maande talle waarhede oor die lewe geleer”, het sy later geskryf. “Een is dat ware vergenoegdheid nie verkry word op die maniere waarop soveel mense na volmaaktheid en sukses streef nie. Ek het nie vergenoegdheid verkry deur met lof te slaag, deur ’n staatskampioenskaphardloper te wees of omdat ek ’n mooi liggaam het nie.” Ja, mense moet leer dat ware vergenoegdheid slegs gepaard gaan met ’n persoonlike verhouding met God, die enigste Een wat ware vrede en geluk kan gee.—Psalm 23:1, 6; 16:11.

      7. Hoe belangrik is ’n universiteitsopleiding en wêreldlike sukses om ware tevredenheid te verkry?

      7 Dit is dus duidelik dat jy nie diegene moet navolg wat sukkel om bloot aansien en rykdom te verkry nie. Selfs sekulêre skrywers meld dat wêreldlike sukses nie ware tevredenheid kan verskaf nie. Rubriekskrywer Bill Reel het geskryf: “Julle verlaat die universiteit met drome oor die toekoms. Ongelukkig sal die meeste van julle verwagtinge nie verwesenlik word nie. Ek wil julle nie ontmoedig nie, maar julle kan net sowel die waarheid hoor: Wanneer julle die besittings verkry wat julle begeer, indien julle dit verkry, en wanneer julle die sukses behaal wat julle nastreef, indien julle dit behaal, sal dit julle nie bevredig nie. Inteendeel, op daardie oomblikke wanneer julle sou verwag om julle in triomf te verlustig, sal julle leeg eerder as vergenoeg, terneergedruk eerder as opgetoë, ontsteld eerder as kalm voel.”—New York Daily News, 26 Mei 1983.

      8. Watter sterk rede is daar om nie ’n wêreldlike loopbaan te volg nie?

      8 Maar vir ons wat bewus is van die betekenis van wêreldgebeure in die lig van Bybelprofesie bestaan daar baie sterker redes waarom ons nie ’n wêreldlike loopbaan eerste in die lewe sal stel nie (Mattheüs 24:3-14). Ons kan onsself vergelyk met ’n persoon wat ’n gebou sien met die teken: “Hierdie maatskappy is besig om toe te maak.” Sal ons daar werk soek? Natuurlik nie! En as ons vir so ’n maatskappy gewerk het, sou ons wyslik elders werk soek. Wel, die teken is oral op hierdie wêreld se instellings duidelik: “Besig om toe te maak—einde naby!” Ja, “die wêreld gaan verby”, verseker die Bybel ons (1 Johannes 2:17). Ons sal dus wyslik nie diegene wat diep daarby betrokke is as rolmodelle aanneem nie.

      Watter raad gevolg moet word

      9. Watter wêreldlike raad kan diegene gee wat oënskynlik jou belange op die hart dra?

      9 Dit is nie net diegene vir wie jy agting het wat jou lewe vorm nie, maar dikwels ook familielede en vriende wat, soos hulle dit stel, ‘jou belange op die hart dra’. ‘Jy moet ’n bestaan maak’, sê hulle dalk. Daarom raai hulle jou moontlik aan om ’n kollege- of universiteitsopleiding te kry om jou vir ’n goed besoldigde beroep voor te berei. ‘Die Bybelskrywer Lukas was ’n geneesheer’, sê hulle miskien, ‘en die apostel Paulus is deur Wetsleraar Gamaliël onderrig’ (Kolossense 4:14; Handelinge 5:34; 22:3). Maar ontleed sulke raad sorgvuldig.

      10. Watter raad het Lukas en Paulus gegee, en wat kan oor hulle voorchristelike aktiwiteit gesê word?

      10 Die geneesheer Lukas het Christene nooit aangespoor om sy voormalige loopbaan as voorbeeld te volg deur ’n dokter te word nie; Lukas het eerder die lewe van Jesus en sy apostels as voorbeeld voorgehou. Lukas het klaarblyklik ’n geneesheer geword voordat hy van Christus geleer het, maar daarna die voorkeur aan sy Christelike bediening gegee. Paulus se situasie was soortgelyk. In plaas van ander aan te spoor om hom na te volg soos hy Gamaliël nagevolg het, het Paulus geskryf: “Wees my navolgers, soos ek dit ook van Christus is.” Paulus het die kennis van Christus so hoog aangeslaan dat hy gesê het dat hy sy vorige strewes in vergelyking daarmee “as drek” beskou het.—1 Korinthiërs 11:1; Filippense 3:8.

      11. (a) Wat het Petrus vir Jesus gesê, en waarom? (b) Hoe het Jesus gereageer?

      11 Onthou, sentiment kan selfs diegene wat jou liefhet vir jou slegte advies laat gee. Toe Jesus byvoorbeeld gepraat het van wat gedurende sy bediening in Jerusalem op hom gewag het, het die apostel Petrus geantwoord: “Mag God dit verhoed, [“Wees goed vir uself”, NW] Here, dit sal U nooit oorkom nie!” Petrus het Jesus liefgehad en wou nie hê dat hy moes ly nie. Maar Jesus het Petrus bestraf omdat Hy besef het dat Hy moes ly sowel as deur sy teenstanders om die lewe gebring moes word sodat God se wil kon geskied.—Mattheüs 16:21-23.

      12. Watter raad kan welmenende persone aan jongmense gee, en waarom?

      12 Sommige ouers of vriende kan jou eweneens afraai om ’n selfopofferende weg in te slaan. Weens onbesonne sentiment huiwer hulle dalk om jou aan te spoor om ’n toewysing in die voltydse pionierbediening te aanvaar, om as ’n sendeling te dien of om vrywilligerwerk by ’n takkantoor van Jehovah se Getuies te doen. Hulle sê moontlik: ‘Hoekom trou jy nie liewer en dan kom woon julle hier naby ons nie?’ Of: ‘Jy weet, by Bethel moet ’n mens hard werk. Miskien moet jy liewer by ons bly.’ Met ander woorde, soos Petrus dit gestel het: ‘Wees goed vir jouself.’

      13. (a) Watter gewysigde beskouing het Petrus later uitgespreek? (b) Wat behels dit om ’n ware Christen te wees?

      13 Selfs Jehovah se knegte moet soms hulle denke wysig. Petrus moes, en met ’n gewysigde beskouing het hy geskryf: “Hiertoe is julle geroep, omdat Christus ook vir julle gely het en julle ’n voorbeeld nagelaat het, sodat julle sy voetstappe kan navolg” (1 Petrus 2:21). ’n Ware Christenlewe behels selfopoffering, ja, selfs lyding. Dit is nie ’n maklike weg nie, maar dit is die een waartoe ons as Christene geroep is. As ons dit aanvaar, beteken dit dat ons ‘nie meer vir onsself lewe nie, maar vir Hom wat vir ons gesterf het’ (2 Korinthiërs 5:15). As ons goeie rolmodelle voor oë hou, sal dit ons help om ons lewe op hierdie selfopofferende wyse te gebruik.

      Rolmodelle om voor oë te hou

      14. Watter voorbeeld het Jesus gestel?

      14 Die model wat jy veral voor oë moet hou, is die een wat Jesus nagelaat het. As ’n volmaakte persoon kon hy die grootste atleet, musikus, geneesheer of regsgeleerde geword het wat die wêreld ooit sou sien. Maar sy doel was om sy hemelse Vader te behaag, selfs toe Jesus nog jonk was (Lukas 2:42-49). Hy het later gesê: “Ek moet . . . die evangelie van die koninkryk van God bring, want daarvoor is Ek gestuur” (Lukas 4:43). Verlede winter het ’n brief in die kerkblad Ministry verduidelik: “Ons Verlosser het daarvan gehou om van die menigte af weg te kom, en dan het Hy van huis tot huis gegaan—op soek na siele. Hy het gehou van ’n gehoor wat uit een siel bestaan het. Dan kon Hy die waarheid—die liefde tot God—daar uitgiet.”—Lukas 10:1-16.

      15. (a) Waarom is die predikingswerk van huis tot huis ’n uitdaging? (b) Wat toon dat jongmense se bediening van huis tot huis doeltreffend is?

      15 Die prediking van huis tot huis is weliswaar nie maklik nie. Dit verg ywerige studie om die goeie nuus van die Koninkryk te verstaan en baie werk om sinvolle aanbiedings voor te berei. Hierdie diens verg ook moed, aangesien die meeste huisbewoners nie belangstel nie, en sommige selfs vyandig is. Tog het julle jongmense se bediening van huis tot huis ’n wonderlike uitwerking, soos gemeld in die Italiaanse gemeenteblad La Voce. Die skrywer het gesê: “Ek hou persoonlik van Jehovah se Getuies”, wat, so het hy verduidelik, “jou tuis kom besoek.” Hy het gesê: “Dié wat ek ken se maniere is onberispelik en hulle is sagaardig; hulle is boonop pragtige mense en meestal jonk. Skoonheid en jeug is uiters oorredend wanneer dit vertoon word.”

      16. (a) Vir watter bedrywigheid moet jongmense geprys word? (b) Hoe vergelyk die organisasie van Jehovah se Getuies met die kerke waar dit kom by die uitvoering van die allerbelangrikste werk op aarde?

      16 Julle jongmense wat Christus as julle model aanneem, moet beslis geprys word! Meer as 12 000 jongmense, 25 jaar oud en jonger, is in die pionierdiens in die Verenigde State, en daar is nog tienduisende jongmense elders in die pionierdiens (Psalm 110:3). Julle kan daarvan seker wees dat geen ander werk wat julle kan doen belangriker is nie! Selfs die skrywer in die voormelde kerkblad het gesê: “God sê die allerbelangrikste werk is huisbesoek—die soektog na siele”, maar hy het bygevoeg: “Wat dink jy hiervan? Hoeveel besoeke lê ek en jy af? Ek het nog nie veel melding van hierdie soort werk in MINISTRY gesien nie.” Kan ons nie dankbaar wees dat ons verbonde is aan ’n organisasie wat beklemtoon dat dit nodig is om Jesus se voorbeeld in die predikingswerk te volg nie?

      17. Wat het Timotheüs gedoen terwyl hy moontlik nog ’n tienderjarige was, en wat toon dat hy op daardie tydstip moontlik so jonk was?

      17 Aangesien diegene wat jy bewonder ’n groot invloed gaan hê op wat jy met jou lewe gaan doen, moet jy ook leer om die model wat deur jong Timotheüs nagelaat is, te bewonder. Timotheüs, wat gebore is kort voor Jesus se dood, het sy familie as ’n jongman verlaat en hom by die apostel Paulus op dié se tweede sendingreis aangesluit. ’n Paar maande later het ’n gepeupel Paulus en Silas gedwing om uit Thessalonika te vlug, maar hulle het toe reeds enkele dissipels gemaak (Handelinge 16:1-3; 17:1-10, 13-15). Kort daarna het Paulus Timotheüs in daardie gevaarlike gebied ingestuur om hierdie dissipels in hulle beproewinge te vertroos (1 Thessalonicense 3:1-3). Timotheüs was destyds moontlik in sy laat tienderjare, aangesien Paulus sowat 12 tot 14 jaar later nog steeds van sy “jonkheid” gepraat het (1 Timotheüs 4:12). Bewonder jy nie so ’n moedige, selfopofferende jong persoon nie?

      18. Waarom was Paulus van voorneme om Timotheüs na die Korinthiërs te stuur?

      18 Vyf jaar na Timotheüs se toewysing om die broers in Thessalonika te versterk, het Paulus uit Efese aan die Korinthiërs geskryf: “Word my navolgers. Daarom het ek Timotheüs . . . na julle gestuur. Hy sal julle herinner aan my handelwyse in Christus, soos ek oral in elke gemeente leer” (1 Korinthiërs 4:16, 17). Jong Timotheüs, wat reeds vyf jaar lank saam met Paulus gearbei het, was goed vertroud met Paulus se onderrigmetodes. Hy het geweet hoe Paulus die boodskap vir die Efesiërs aangebied het, onder meer hoe hy hulle “in die openbaar en van huis tot huis” geleer het (Handelinge 20:20, 21, NW). Watter groot hulp kon Timotheüs tog vir die gemeentes wees daar hy goed in sulke predikingsmetodes onderlê was!

      19. Wat het Paulus oor Timotheüs gesê meer as tien jaar nadat hulle saam begin dien het?

      19 Nog vyf of ses jaar verstryk, en Paulus is in die gevangenis in Rome. Timotheüs, wat self kort tevore uit die gevangenis vrygelaat is, is by hom (Hebreërs 13:23). Stel jou die toneel voor: Paulus is besig om ’n brief aan die Filippense te dikteer, moontlik met Timotheüs as sy sekretaris. Stadig en duidelik gaan Paulus voort: “Ek hoop in die Here Jesus om Timotheüs gou na julle te stuur . . . Want Ek het niemand van dieselfde gesindheid wat julle belange opreg sal behartig nie . . . Maar julle ken sy beproefdheid, dat hy, soos ’n kind teenoor sy vader, saam met my in die evangelie gedien het.”—Filippense 1:1; 2:19-22.

      20. Wat maak Timotheüs so ’n uitmuntende rolmodel vir jongmense?

      20 Jong Timotheüs is beslis ’n uitmuntende voorbeeld! Hy was so ’n betroubare, getroue metgesel vir Paulus wat deur dik en dun by hom gebly het, hom in die predikingswerk ondersteun het en bereid was om te dien waar hy ook al gestuur is. Hy het ’n sogenaamd normale lewe tuis prysgegee, maar watter vergenoegdheid en tevredenheid het sy lewe in God se diens hom tog verskaf! Timotheüs het inderdaad ‘nie meer vir homself gelewe nie, maar vir Christus wat vir hom gesterf het’ (2 Korinthiërs 5:15). Word jy beweeg om sy voorbeeld te volg?

      Lewe vir God se nuwe wêreld

      21. Waarom kan ons sê dat Timotheüs geestelik gesind was?

      21 Timotheüs het in werklikheid vir God se nuwe wêreld gelewe. Hy het nie bloot aan die hede gedink nie, maar wou sy lewe gebruik op ’n wyse wat blywende voordele sou meebring (Mattheüs 6:19-21). Aangesien Timotheüs se vader ’n Griek en skynbaar ’n ongelowige was, het hy Timotheüs moontlik aangespoor om verder te leer en ’n wêreldlike loopbaan te volg. Maar as gevolg van sy moeder en grootmoeder se godvrugtige onderrig was Timotheüs se lewe ten nouste by die Christengemeente betrokke. Hy het geestelike belange nagestreef, blykbaar ten minste ’n ruk lank ongetroud gebly en aan die vereistes voldoen om saam met die apostel Paulus te dien.—2 Timotheüs 1:5.

      22. Hoe beklemtoon die Skool-brosjure ’n lewensweg soos die van Timotheüs vir vandag se jongmense?

      22 Wat van jou? Gaan jy jou jeug gebruik soos Timotheüs dit gebruik het? Die brosjure Die skool en Jehovah se Getuies het na so ’n lewensweg verwys toe dit van jong Getuies gesê het: “Hule hoofdoel in die lewe is om effektief as bedienaars van God te dien, en hulle waardeer skoolopleiding as ’n middel tot daardie doel. Hulle kies dus gewoonlik vakke wat hulle help om hulleself in die hedendaagse wêreld te onderhou. Daarom volg baie van hulle handelskursusse of gaan hulle na ’n vakskool. Wanneer hulle die skool verlaat, soek hulle werk wat hulle sal toelaat om op hulle hoofwerk, die Christelike bediening, te konsentreer.”

      23. Waarom behoort dit nie vir jong Christene moeilik te wees om die vraag: Wat gaan ek met my lewe doen? te beantwoord nie?

      23 Vir julle wat werklik waardeer wat Jehovah God en sy Seun vir julle gedoen het, behoort dit nie moeilik te wees om die vraag: Wat gaan ek met my lewe doen? te beantwoord nie. In plaas van vir jouself en persoonlike genot te lewe, sal jy jou lewe gebruik om God se wil te doen. Net soos Timotheüs sal jy as ’n geestelike persoon lewe.

  • Jongmense—Is julle geestelik progressief?
    Die Wagtoring – 1987 | Augustus 15
    • Jongmense—Is julle geestelik progressief?

      “Wees vlytig in hierdie dinge, leef daarin, sodat jou vooruitgang vir almal duidelik kan wees.”—1 TIMOTHEÜS 4:15.

      1, 2. Wat beteken dit om geestelik progressief te wees, en wat beteken dit nie?

      WAT beteken dit om geestelik progressief te wees? Dit beteken om soos jong Jesus en Timotheüs te wees wat geestelike belange eerste in hulle lewe gestel het. As jy geestelik progressief is, sal jy weet wat jy met jou lewe wil doen. Jy sal nie sê: ‘Ek sal dit ernstig oorweeg om Jehovah te dien wanneer ek ouer is’ nie. Nee, jy sal hom nou dien!

      2 As ’n mens geestelik progressief is, beteken dit andersyds nie dat jy monnikagtig is, godsdienstige skyn wek of selfs ’n boekwurm word nie; dit beteken ook nie dat ’n mens somber en ernstig is en nooit gesellig met ander omgaan nie (Johannes 2:1-10). Jehovah is ’n gelukkige God, en hy wil hê dat sy aardse kinders gelukkig moet wees. Die matige deelname aan sport en ander ontspanningsbedrywighede dra dus God se goedkeuring weg.—1 Timotheüs 1:11, NW; 4:8.

      Doop is ’n bewys

      3. Wanneer is Timotheüs heel waarskynlik gedoop?

      3 Voorbereiding vir doop en doop self is bewyse dat ’n jong persoon geestelik progressief is. Indien Timotheüs, soos beweer is, nog ’n tienderjarige was toe hy die apostel Paulus se reisgesel geword het, is Timotheüs waarskynlik gedoop toe hy in sy middel- of vroeë tienderjare was. Hy is van kleins af in die Skrif onderrig, en nadat hy met voldoende kennis en waardering toegerus is, het hy nie geaarsel om gedoop te word nie.—2 Timotheüs 3:15.

      4. Watter vraag is aan Filippus gestel, en waarom het Filippus sy versoek toegestaan al het die vraer pas tevore van Christus geleer?

      4 Wat van julle tienderjariges wat in die Skrif onderrig is? Het julle al die vraag oorweeg: “Wat verhinder my om gedoop te word?” In die eerste eeu is daardie vraag gestel deur ’n man wat ’n deeglike kennis van die Skrif gehad het maar wat pas tevore verneem het wie die Christus is. Die man het weliswaar nie alles geweet wat daar van God se voornemens af te wete is nie, maar hy is aangedryf deur diepe waardering vir wat hy wel geweet het! Die dissipel Filippus het dus geen gegronde rede gehad om hom nie te doop nie.—Handelinge 8:26-39.

      5. Wat word van jou vereis as jy gedoop wil word?

      5 Wat verhinder jou om gedoop te word? Om aan die vereistes te voldoen, moet jy natuurlik verstaan wat by die saak betrokke is. Jy moet waarlik begeer om Jehovah te dien omdat jy hom liefhet. Jy moet jou ook in die gebed persoonlik aan hom toewy. Jy moet daarbenewens God se morele vereistes nakom en genoeg ondervinding hê van hoe om jou geloof aan ander te verkondig. Wanneer jy aan hierdie vereistes voldoen, is dit noodsaaklik dat jy verder gaan en jou laat doop.—Mattheüs 28:19; Handelinge 2:38.

      6. Waarmee kan doop vergelyk word, en wat moet daarop volg?

      6 Hoewel jou doop ’n bewys is dat jy geestelik progressief is, moet jy onthou dat doop net ’n eerste stap is. Wanneer jy jou aan Jehovah toewy, word jy ’n vreemdeling in hierdie ou wêreld waaroor Satan regeer. Toewyding kan gevolglik vergelyk word met ’n aansoek om die ewige lewe in God se nuwe stelsel, en die formele doopplegtigheid is in werklikheid ’n demonstrasie voor getuies wat hierdie feit bevestig (Johannes 12:31; Hebreërs 11:13). Daarna moet jy jou toewyding getrou gestand doen om God se gawe, die ewige lewe, te ontvang.—Romeine 6:23.

      Getoon deur gedrag

      7. Hoe hou jou gesindheid teenoor dinge van die wêreld verband met jou geestelike progressiwiteit?

      7 Nog iets wat sal toon of jy progressief is of nie, is jou gesindheid teenoor dinge van die wêreld. Watter dinge? Dit sluit in ’n ongebonde lewenswyse, dwelms, seksuele vryheid, onsedelike rolprente, suggestiewe musiek, vuil praatjies, sinlike danse, rasse- en volkstrots, ensovoorts (1 Johannes 2:16; Efesiërs 5:3-5). Jongmense in die besonder moet op hulle hoede wees. Onthou, jou gedrag ten opsigte van sulke dinge sal openbaar of jy geestelik gesond is of nie.—Spreuke 20:11.

      8. Waarom huiwer sommige jongmense om hulle te laat doop?

      8 Satan sorg dat die wêreld se onsedelike weë baie aantreklik lyk. Trouens, ’n 15-jarige het gesê: “Hoe meer ons seks en dwelms op die TV sien, des te normaler lyk dit in die samelewing.” Jongmense wat nie meedoen aan die weë van die wêreld nie, kry die indruk dat hulle sonderling is en dat hulle pret mis. Voel jy ooit so? Sommige wat aan die gemeente verbonde is, voel wel so, en hulle is besluiteloos. Toe daar vir een jong persoon gevra is of hy hom wil laat doop, het hy gesê: ‘Ek wil nie nou gedoop word nie, want ek doen dalk iets waarvoor ek uitgesit sal word.’ Maar jy kan nie op die draad sit of op twee gedagtes hink nie. God se profeet het eenkeer gesê: “As die HERE God is, volg Hom na; en as Baäl dit is, volg hom na!”—1 Konings 18:21.

      9. Watter beskerming geniet ’n mens as jy geestelik progressief is?

      9 Al wat jy mis wanneer jy die wêreld se onsedelike weë vermy, is in werklikheid net ’n klomp moeilikheid. “’n Heftige afkeer van en berou oor die lewe wat ek gelei het, het my oorweldig”, het een vrou bely. “Ek het myself en die kind wat ek ontvang het goedkoop gemaak en bedrieg.” Ja, die oënskynlike betowering en glans van die Duiwel se wêreld is net ’n illusie, sinsbedrog. Dit bevat niks waardevols nie. Die wêreld se weë lei tot buite-egtelike swangerskappe, ontwrigte gesinne, seksueel oordraagbare siektes en matelose frustrasie en ellende. Luister dus na raad, wees geestelik progressief. “Bly weg van die kwaad af en doen wat goed is.”—1 Petrus 3:11, NAV.

      10. Op watter vermaning en op wie se voorbeelde sal ’n jong persoon wat geestelik progressief is ag slaan?

      10 ’n Jong persoon wat geestelik progressief is, sal ag slaan op die vermaning van die apostel Paulus: “Wees kinders in die boosheid en wees volwassenes in die verstand” (1 Korinthiërs 14:20). Jong Timotheüs het beslis hierdie raad toegepas. Kan jy jou voorstel dat hy die geselskap van losbandige, wêreldse jongmense van sy dag opgesoek het? Glad nie! Sy metgeselle was ook knegte van God (Spreuke 13:20). Volg sy voorbeeld. Voordat jy enigiets verdags doen, kan jy jou afvra: Sou Timotheüs of Jesus dit gedoen het?

      Getoon deur Bybelstudie

      11. Watter gesig het jongmense van die wêreld nie, en hoe word dit verkry en behou?

      11 ’n Artikel uit Italië wat in World Press Review gepubliseer is, het gesê: “Jongmense se ontnugtering en wanhoop neem daagliks toe, en niemand kan hulle ’n bemoedigende toekoms bied nie.” Die verblinde oë van diegene in Satan se wêreld het geen gesig van God se beloofde nuwe wêreld en van die heerlike toekoms wat wag op diegene wat voldoen aan die vereistes vir die lewe aldaar nie (2 Korinthiërs 4:4; Spreuke 29:18, NW; 2 Petrus 3:13). Maar jongmense wat geestelik progressief is, het so ’n gesig wat deur middel van gereelde Bybelstudie helder en duidelik gehou word.

      12. (a) Hoe moet ons te werk gaan om kennis van God te verkry? (b) Waarom is hierdie kennis die moeite werd?

      12 Is God se nuwe wêreld vir jou werklik? Dit kan wees, maar dit verg groot inspanning van jou kant om daar te kom. Jy moet ’n goeie aptyt vir Bybelbegrip ontwikkel sodat “jy daarna soek soos na silwer en dit naspeur soos verborge skatte” (Spreuke 2:1-6). Wat laat ’n skatsoeker soms jare lank aanhou soek en grawe? Hy begeer die rykdom wat die skat hom sal bring vuriglik. Maar kennis is soveel kosbaarder as stoflike skatte. “Dit beteken die ewige lewe”, het Jesus gesê, “dat hulle voortdurend kennis in hulle opneem van u, die enige ware God, en van die een wat u uitgestuur het, Jesus Christus” (Johannes 17:3, NW). As jy werklik glo wat Jesus daar gesê het, sal Bybelstudie iets word wat jy gretig najaag en wat jou sal beloon met iets wat kosbaarder as juwele van onskatbare waarde is.—Spreuke 3:13-18.

      13. Watter wenke in verband met studie sal geestelik progressiewe jongmense toepas?

      13 Jy sal vind dat hoe meer jy studeer, des te groter jou aptyt na geestelike voedsel sal wees. Leer goeie studiemetodes aan. Moenie net antwoorde onderstreep nie, maar slaan Bybelteksverwysings na en volg dan verwante tekste deur middel van die kruisverwysings in die Bybel. Jy kan ook bykomende navorsing doen deur indekse, soos die Watch Tower Publications Index 1930-1985, te gebruik. Ontleed hoe die materiaal van toepassing is en hoe dit gebruik kan word. Praat met ander oor wat jy bestudeer. Dit sal gedagtes by jou verstand inskerp en ander aanspoor om ook navorsing te doen. Deur jou werklik daarop toe te lê, sal jy ag slaan op die raad wat aan jong Timotheüs gegee is: “Lê jou op hierdie dinge toe, leef daarin, sodat almal jou vordering kan sien.”—1 Timotheüs 4:15, NAV; 2 Timotheüs 2:15.

      Getoon by vergaderinge en in die diens

      14. Wat help om Christenvergaderinge ’n groter genot te maak, en hoe kan jy ander aanmoedig terwyl jy sulke vergaderinge bywoon?

      14 Wanneer jy Bybelstudie geniet en goed voorberei het, word Christenvergaderinge ’n groter genot (Psalm 122:1; Hebreërs 2:12). Jy sien dan selfs nog meer daarna uit om deel te neem aan dele met gehoordeelname en om toesprake in die Teokratiese Bedieningskooi te hou. Maar wanneer ons vergaderinge bywoon, is daar ander maniere om uitvoering te gee aan die bevel ‘om mekaar aan te moedig’ en “aan te spoor tot liefde en goeie dade” (Hebreërs 10:24, 25, NAV). Neem jy byvoorbeeld die inisiatief om met ander te praat? ’n Vriendelike: “Hallo, ek is bly om jou te sien!” of ’n opregte navraag: “Hoe gaan dit?” kan baie bemoedigend wees, veral as dit van ’n jong persoon kom.

      15. Hoe kan jy jou beskikbaar stel om nodige dienste te verrig, en waarom is dit goed om Christus se voorbeeld in gedagte te hou?

      15 Die werksaamhede van ’n gemeente verg baie werk. Kan jy help? Jong Timotheüs het waarskynlik talle nuttige dienste vir Paulus verrig—boodskappe gedra, voorrade gekry, ensovoorts. Indien jy dit nog nie gedoen het nie, kan jy gerus vir die ouere manne meld dat jy bereid is om te help. Jy sal moontlik gevra word om vergaderingtoewysings uit te gee, die saal skoon te hou of ’n ander nodige diens te verrig. Onthou, Christus het sy dissipels se voete gewas, en daarom is geen werk benede die waardigheid van iemand wat geestelik progressief is nie.—Johannes 13:4, 5.

      16. Watter bedrywigheid het ’n Katolieke tydskrif erken is ’n Christelike verantwoordelikheid?

      16 Wanneer ons na ander godsdienste kyk, kan ons voorwaar dankbaar wees vir die opleiding wat ons by ons vergaderinge vir die uiters belangrike predikingswerk ontvang. Kenneth Guentert het verlede September in U.S. Catholic geskryf: “Ek het grootgeword in die dae toe Katolieke nie veronderstel was om die Bybel te lees nie omdat hulle vreemde idees sou kry—soos dat Christene aan deure moet gaan klop in ’n poging om mense te bekeer. Toe is die Tweede Vatikaanse Konsilie gehou, en ek het begin om die Bybel te lees. En jou waarlik; nou dink ek dat Christene aan deure moet gaan klop om mense te probeer bekeer.” Hy het bygevoeg: “Jy moet begryp dat dit nie is omdat die gedagte my juis geval nie; maar as jy die Nuwe Testament lees, is dit feitlik onmoontlik om hierdie gevolgtrekking te vermy.”—Mattheüs 10:11-13; Lukas 10:1-6; Handelinge 20:20, 21.

      17. Hoe kan die bediening vir jou aangenamer word?

      17 Ja, die vroeë Christene was bedrywig in die predikingswerk van huis tot huis, en jeugdiges soos Timotheüs was klaarblyklik saam met ouer persone daar in die bediening. Maar vir sommige is dit vandag weliswaar nie die aangenaamste werk nie. Waarom nie? Bedrewenheid is ’n faktor. Byvoorbeeld, is dit nie waar dat jy ’n spel of sport meer geniet as jy goed daarin vaar nie? So ook met die bediening. As jy die Bybel vaardiger kan gebruik en Bybelonderwerpe op bekwamer wyse kan bespreek, sal die bediening ’n bron van genot word, veral wanneer jy iemand vind aan wie jy lewegewende kennis kan oordra. Wees dus geestelik progressief! Oefen die aanbiedings wat jy van deur tot deur gebruik. Kry wenke by ander. Smeek Jehovah om hulp.—Lukas 11:13.

      Deur verhoudinge met ouer persone

      18. Watter soort verhouding het Jesus en Timotheüs met ouer persone gehad?

      18 Toe Jesus ’n seun van net 12 was, het hy dit geniet om geestelike dinge met ouer persone te bespreek. Sy ouers het hom eenkeer “in die tempel gevind, terwyl Hy in die midde van die leraars sit en na hulle luister en hulle uitvra” (Lukas 2:46). Dit was dieselfde geval met Timotheüs. Toe die apostel Paulus en sy metgeselle Listre besoek het, het Timotheüs klaarblyklik hulle geselskap geniet en met groot aandag na hulle leer geluister. Daar was ’n rapport tussen hom en die plaaslike broers wat hom hoog aanbeveel het.—Handelinge 16:1-3.

      19. Veral waarom het Paulus Timotheüs as reisgesel gekies, en hoe was Timotheüs van hulp?

      19 Hoewel Timotheüs gewillig fisiese dienste vir ander verrig het, het Paulus hom as ’n reisgesel gekies hoofsaaklik vanweë sy vermoë om in mense se geestelike behoeftes te voorsien. In die lig daarvan het Paulus, nadat ’n gepeupel hom gedwing het om Thessalonika te verlaat, jong Timotheüs gestuur om die nuwe dissipels te vertroos en te versterk. Timotheüs was dus nie alleen gretig om by ouer persone te leer en hulle geselskap te geniet nie; hy was ook vir hulle van groot geestelike hulp.—Handelinge 17:1-10; 1 Thessalonicense 3:1-3.

      20. Watter optrede sal verstandig van jou wees, en watter dienste kan jy vir ouer persone verrig?

      20 Jy sal verstandig wees as jy Jesus en Timotheüs navolg en gretig is om by die ondervinding en kennis van ouer persone baat te vind. Soek hulle geselskap op en stel vrae aan hulle. Maar toon ook jou geestelike progressiwiteit deur vir hulle van hulp te wees. Is daar bejaardes of siekes wat dit sal waardeer as jy vir hulle inkopies doen of ander nodige take verrig? Jy kan hulle moontlik net besoek, vir hulle lees en ondervindinge vertel wat jy in die bediening geniet het.

      Die rol van ouers en ander

      21. Hoe belangrik is ouers se rol, en wat kan nie oorbeklemtoon word nie?

      21 Die geestelike gesondheid van jongmense hang grootliks af van die onderrig en voorbeeld van hulle ouers (Spreuke 22:6). Jesus het beslis baat gevind by die leiding wat sy godvresende aardse ouers gegee het (Lukas 2:51, 52). En Timotheüs sou beslis nie die geestelik progressiewe jongeling gewees het wat hy wel was as dit nie vir die opleiding was wat hy van sy moeder en grootmoeder ontvang het nie (2 Timotheüs 1:5; 3:15). Die belangrikheid van gereelde Bybelonderrigting kan nie oorbeklemtoon word nie! Ouers, voorsien julle dit? Of word dit nagelaat?

      22. (a) Hoe word kinders geraak wanneer ouers gesinsbybelstudie as noodsaaklik beskou? (b) Watter leiding moet ouers aan hulle kinders gee?

      22 ’n Jong man by die wêreldhoofkwartier van Jehovah se Getuies verduidelik dat die weeklikse Bybelstudie met die kinders dwarsdeur sy kinderjare ’n gereelde deel van hulle gesinslewe was. “Soms was Pa so moeg as gevolg van sy werk dat hy skaars wakker kon bly, maar die studie is nietemin gehou, en dit het ons gehelp om te besef hoe ernstig dit is.” Ouers, dit is onwaarskynlik dat julle kinders geestelike sake hoog sal aanslaan tensy julle dit doen. Hou die pionierdiens, sendingwerk en Betheldiens as doelwitte aan hulle voor. Help hulle om te besef dat die bediening ’n loopbaan met ’n toekoms is en dat daar geen werklike toekoms in wêreldlike loopbane is nie.—Vergelyk 1 Samuel 1:26-28.

      23. Hoe kan ander in die gemeente jongmense help om geestelik progressief te wees?

      23 Ander kan jongmense ook help om geestelik vordering te maak. Jy kan jou dit ten doel stel om by die vergaderinge met hulle te gesels. Probeer ook om hulle by sommige van jou bedrywighede in te sluit. ’n Ouere man kan reël om ’n jong persoon, met die ouers se toestemming, saam te neem wanneer hy elders ’n toespraak hou of hom insluit wanneer hulle ’n uitstappie maak (Job 31:16-18). Iets wat gering lyk, kan baie beteken. Een reisende opsiener, wat opgemerk het dat ’n seun wat na sy toespraak luister nie ’n Bybel het nie, het daarna vir hom een persent gegee. Die knaap was beïndruk, nie alleen deur die geskenk nie, maar ook deur die belangstelling wat in hom getoon is. Meer as 30 jaar later onthou die seun, wat nou self ’n ouere man is, nog steeds daardie broer se liefdevolle gebaar met innigheid.

      24. Watter wete is aangrypend, en wat moet ons vaste voorneme wees?

      24 Is dit nie aangrypend om te besef dat daar honderdduisende “jong manne net soos doudruppels” is wat die verkwikkende Koninkryksboodskap verkondig en dat daar ten minste net soveel jong vroue is wat ‘’n groot leër’ uitmaak ‘wat die goeie nuus vertel’ nie? Mag hulle hulle almal daarop toelê om geestelik progressief te wees, en mag ons almal hulle daarmee help.—Psalm 110:3, NW; 68:11, NW.

      Hersieningsvrae

      ◻ Wat kan ’n jong persoon help om te besluit wanneer hy gedoop moet word?

      ◻ Hoe is ’n jong persoon se gedrag ’n aanduiding van sy geestelike progressiwiteit?

      ◻ Wat kan jongmense help om vergaderinge en velddiens te geniet?

      ◻ Watter verhouding moet jongmense met ouer persone verkry?

      ◻ Hoe kan ouers en ouer persone jongmense help?

Afrikaanse publikasies (1975-2025)
Meld af
Meld aan
  • Afrikaans
  • Deel
  • Voorkeure
  • Copyright © 2025 Watch Tower Bible and Tract Society of Pennsylvania
  • Gebruiksvoorwaardes
  • Privaatheidsbeleid
  • Privaatheidsinstellings
  • JW.ORG
  • Meld aan
Deel