Verkwik jou familielede met waters van waarheid
“KOUE water op ’n vermoeide siel, so is ’n goeie tyding uit ’n ver land”, het Salomo gesê (Spreuke 25:25). Wat ’n verkwikkende ondervinding is dit tog vir ’n moeë siel om na jou goeie tyding van ewige lewe in die komende Paradys te luister! Só word jou mond “’n fontein van lewe”.—Spreuke 10:11; Jesaja 52:7.
Water deurweek die grond en veroorsaak groei, terwyl ’n vloed rampspoedig kan wees. Water in die vorm van ’n verkoelde drankie is insgelyks verfrissend, maar wie hou daarvan om in ’n sneeu- of ’n haelstorm vasgevang te wees? Aangesien dít wat by ons mond uitborrel al met water vergelyk is, moet ons noukeurig aandag skenk aan ons leer (1 Timotheüs 4:16). Ons moet veral bewus wees van die verskillende uitwerkinge wat hierdie “water” het wanneer ons vir familielede getuig.
“Laaf” jou familielede
In die ou tyd het Ragab die weg vir haar familie se behoud geopen, en Cornelius het ’n getuienis voor sy familielede gegee (Josua 2:13; 6:23; Handelinge 10:24, 30-33). Petrus se broer Andreas het hom gehelp om ’n dissipel van Jesus te word (Johannes 1:40-42). En vandag laat baie van Jehovah se Getuies Bybelwaarhede uitborrel ten behoewe van hulle familielede. Spreuke 11:25 belowe: “Hy wat laaf, word self ook gelaaf.”
’n Vrou in Europa wou haar ouers, broers en susters wat in die Filippyne woon van haar nuutgevonde geloof vertel. Sy skryf: “Ek het dit in elke brief wat ek geskryf het, gedoen. Voordat ek gedoop is, het ek ook boeke aan hulle gestuur en gevra of hulle wou hê dat Jehovah se Getuies hulle moet besoek.” Tot haar groot vreugde het hulle tot ’n besoek ingestem, en nou aanbid agt van hulle Jehovah. Party Getuies het ook goeie resultate behaal deur geskenkintekeninge van Die Wagtoring en Ontwaak! aan hulle familielede te stuur.
Maar gestel gesinslede toon geen belangstelling nie? Jesus het met so ’n situasie te kampe gehad, want vroeër ‘het sy broers ook nie in Hom geglo nie’. Later het hulle egter “eendragtig” saam met die apostels in gebed volhard (Johannes 7:5; Handelinge 1:14). Waarom het hulle tot inkeer gekom? Jesus het sy familielede klaarblyklik voor sy hemelvaart gehelp. Hoe so? Hy het hulle gehelp om geloof te verkry deur aan sy halfbroer Jakobus te verskyn (1 Korinthiërs 15:7). Moet dus nie ophou om jou familielede te probeer help nie. Baie Getuies kon met ongelowige familielede oor Bybelwaarhede praat nadat hulle geduldig vir die regte oomblik gewag het.
Om jou familielede te “laaf” beteken egter nie dat jy hulle met woorde verdrink nie. ’n Joego-Slawiese egpaar sê: “Daar is altyd die gevaar om te veel vir hulle te getuig.” ’n Reisende opsiener merk op: “Die broers gaan dikwels te ver en openbaar ’n onbedagte ywer.” Ludwig onthou die tyd toe hy begin het om die Bybel te bestudeer: “Ek het my moeder toe ure lank oorlaai met verduidelikings oor feitlik alles wat ek uit die Bybel geleer het, en dit het dikwels argumente veroorsaak, veral met my vader.”
Wees ’n “fontein van wysheid”
Ons lees dat “die tong van die wyse getuig van grondige kennis, maar die mond van die dwase laat sotheid uitborrel” en “die hart van die regverdige dink ná om te antwoord” (Spreuke 15:2, 28). Gesonde verstand, wysheid en goeie oordeel is dus nodig om ons woorde verkwikkend en opbouend te maak. Wanneer ons praat, wat ons sê en hoeveel ons sê, is belangrik.
Hoe verkwikkend is ’n beker koue water op ’n warm dag tog nie vir ’n dorstige nie! (Mattheüs 10:42). Maar niemand sal ooit daaraan dink om ’n emmer vol water oor sy kop uit te giet nie! Die kringopsiener wat hierbo aangehaal is, sê: “Diegene wat hulle familielede se nuuskierigheid prikkel deur in klein dosisse te getuig, behaal die beste resultate.” Wanneer ’n opponerende familielid dors word, om dit so uit te druk, en begin vrae vra, lei dit dikwels tot vrugbare Bybelbesprekings.
Huriye, ’n Turkse Getuie, het dit by die huis gedoen deur Bybelpublikasies te laat ooplê by artikels wat haar ongelowige man moontlik sou interesseer. Sy het Bybelverhale vir die kinders gelees en—as hy geluister het—verduidelikings gegee wat vir hom van nut was. Partykeer het sy net gevra: “Ek het vandag dié en dié in my studie geleer. Wat dink jy daarvan?” Sy meld ook die gedragsreëls wat sy in gedagte gehou het: “Bly kalm, moenie kwaad word of aanstoot neem nie. Moenie ’n beterweter wees nie. Wees net nederig en bly op die agtergrond.” Haar man het uiteindelik die Koninkrykswaarheid aanvaar en is nou ’n voltydse bedienaar.
Marijan het ’n hele paar familielede gehelp om sy geloof aan te neem. “Moenie dinge forseer nie, maar wag vir die regte oomblik”, het hy gemaan. “Ons behoort dit te respekteer wanneer hulle ons vra om nie met hulle oor die waarheid te praat nie. Ons moet geduldig en liefdevol wees.” Prediker 3:7 geld veral wanneer familielede teen die waarheid gekant is. Daar sê dit dat daar ‘’n tyd is om te swyg en ’n tyd om te spreek’. Dit impliseer ’n gewilligheid om geduldig te luister, nie in die rede te val nie en ander beskouings te respekteer. “Dit is sinneloos om kwaad te word wanneer jy met familielede praat”, sê Petar, wat eers baie teen die waarheid gekant was, maar sy standpunt verander het.
Laat goeie gedrag getuig
’n Ongelowige man het jare lank moeilikheid vir sy Christenvrou veroorsaak en haar by tye uitgesluit. Hy het eenkeer so kwaad geword dat hy ’n boek opgeskeur het wat sy vergeet het om weg te sit. Wat het sy houding verander? Hy verduidelik: “Ek het my bly afvra waarom my vrou so standvastig was en aangehou het om op Jehovah te vertrou. Ek kon nie met haar foutvind nie, want sy het goed na die huis omgesien en was ’n goeie vrou en moeder vir ons kinders.” Op ’n dag het die man na goeie materiaal gesoek wat hy tydens ’n seminaar van vyf minute kon aanbied, en toe het sy vrou hom twee nommers van Ontwaak! gegee. Hy het teësinnig daardeur geblaai, en tot sy verbasing het hy ’n nuttige onderwerp oor die vervaardiging van potlode gevind. Op hierdie manier is sy belangstelling in hierdie tydskrifte gewek. Vandag is hierdie gesin verenig in die aanbidding van Jehovah.
Die apostel Petrus se raad dat ’n vrou ’n ongelowige man ‘sonder woorde deur reine, godvresende wandel’ kan win, is ook op ander gesinslede van toepassing (1 Petrus 3:1, 2). Toe ’n egpaar die onskriftuurlike tradisies en godsdiens van hulle Roemeense ouers verlaat het, het hulle familielede verwoede teenstanders geword. Die vrou is selfs deur haar skoonmoeder aangeval, wat haar probeer doodmaak het. “Ons het nie toegelaat dat dit ons ontmoedig of kwaad maak nie. Ons het al ons kommer op Jehovah gewerp”, sê Nikolic. Elf jaar later is sy ouers, albei sy susters en hulle mans gedoopte Getuies. Wat het die ys gebreek? “’n Goeie voorbeeld en Christelike gedrag. Ons het, met ander woorde, nie baie tyd daaraan bestee om met hulle oor die waarheid te praat nie. Ons het dit eerder probeer uitleef.”
Moenie die hoop opgee nie!
Hoewel dit groot vreugde verskaf om te sien hoe familielede die ware God Jehovah begin aanbid, wonder ’n mens wat jy moet doen as party met hulle teenstand aanhou. Hoe moet jy reageer? Jesus het voorsien dat ware godsdiens by tye drastiese verdeeldheid onder familielede sou meebring (Mattheüs 10:34-37). Marica is deur al haar familielede in die steek gelaat toe sy een van Jehovah se Getuies geword het. Hoewel sy nie ’n kompromis ten opsigte van haar aanbidding aangegaan het nie, het sy nogtans erken “dat selfs familielede ’n reg op hulle eie sienswyses en opinies het”. Haar houding het hulle beweeg om haar soos vroeër te respekteer.
Ludwig het besef dat hy onder verpligting staan om sy ouers lief te hê selfs al sou hulle ’n ander lewenswyse kies. Hy het herhaaldelik gedink aan toepaslike Bybelgedeeltes soos: “Eer jou vader en jou moeder”; “Laat julle woord altyd aangenaam wees, met sout besprinkel”; “[Wees] altyd gereed om jou te verdedig . . . met sagmoedigheid en diep eerbied”; en “’n dienskneg van die Here moet nie twis nie” (Efesiërs 6:2; Kolossense 4:6; 1 Petrus 3:15, NW; 2 Timotheüs 2:24). “Elke keer wanneer ek my ouers gebel of besoek het, het ek tot Jehovah gebid om wysheid, en ons verhouding het geleidelik meer ontspanne en vriendeliker geword”, sê hy.
Moenie die hoop opgee dat die saadjies van waarheid uiteindelik in die harte van jou familielede sal ontkiem nie. ’n Man, wat 31 jaar ná sy vrou as een van Jehovah se Getuies gedoop is, sê: “Agterna moet ek erken dat my vrou baie geduld met my gehad het. Ek was ten volle bewus daarvan dat sy dikwels ten behoewe van my tot Jehovah gebid het.”
Mag die woorde wat uit jou mond kom altyd wees soos vars water wat verfris en die dors les! Ja, verkondig “die glorieryke goeie nuus van die gelukkige God” aan alle mense, met inbegrip van jou familielede (1 Timotheüs 1:11, NW; Openbaring 22:17). Dan sal Jesus se woorde van toepassing wees: “Hy wat in My glo, soos die Skrif sê: strome van lewende water sal uit sy binneste vloei.”—Johannes 7:38.